Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 3/22 bl. 3-5
  • Weg in ’n oogwink!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Weg in ’n oogwink!
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Goeie voorbeeld: Brasilië
  • ’n Wêreldwye dilemma
  • Waarom die reënwoude red?
    Ontwaak!—1990
  • Reënwoude—Kan dit gered word?
    Ontwaak!—2003
  • Het die woude ’n toekoms?
    Ontwaak!—1990
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 3/22 bl. 3-5

Weg in ’n oogwink!

JY WANDEL deur ’n groen skemerryk, tussen die dik boomstamme wat tot 15 verdiepings hoog staan. Bokant jou is ’n uitgestrekte wirwar van lewe, die digste, rykste ekosfeer op aarde. Die bome is versier met rankplante wat soms honderde meters lank is en is omstrengel met plante wat hulle oral aan die stamme en takke anker. Welige tropiese bloeisels vul die kalm kweekhuislug met hul geur.

Dit is die tropiese reënwoud. Maar dit is meer as ’n pragtige plek, meer as gewelfde, mistige woudtonnels met ligstrale wat oral deurbreek. Dit is ’n stelsel van ongelooflike kompleksiteit waarvan die dele met gonsende presisie saamwerk.

Lewe is volop hier, ’n verskeidenheid wat sonder gelyke op die landoppervlak van ons planeet is. Die reënwoude beslaan slegs 6 persent van die aarde se grondoppervlakte maar huisves tot die helfte van al die plant- en diersoorte. Hulle produseer ongeveer ’n derde van alle lewende materie op land. Ver bo jou is die wouddak ’n tuiste vir eksotiese insekte en voëls, vir ape en ander soogdiere. Die meeste kom glad nie af grond toe nie. Die bome voed en huisves hulle, en hulle weer bestuif die bome of eet die vrugte daarvan en versprei die sade in hulle uitwerpsels.

Reëns giet daagliks neer, en dit deurweek die woude en voorsien hulle uitgebreide lewensiklus van voedsel. Reën was die blare en afvalstowwe teen die boomstamme af in ’n voedingryke sop wat die plante, genaamd epifiete, wat op die bome groei, voed. Die epifiete weer help die boom om sy hoofvoedsel, stikstof, uit die lug op te neem. Baie epifiete het blaaragtige “waterbakke” wat liters water hou en klein poeletjies hoog in die lug vorm, wat die habitat van boompaddas, salamanders en voëls is.

Enige voedingstowwe wat die woudbodem bereik, word vinnig verteer. Soogdiere, swerms insekte en bakterieë werk saam om neute, dierkarkasse en blare tot afvalstof af te breek. Die grond self neem dit vinnig op. As jy die oorblyfsels by jou voete sou wegvee, sal jy ’n dik, sponsagtige laag wit vesels, ’n netwerk van wortels en fungi, vind. Hierdie fungi help die wortels om die voedingstowwe vinnig te absorbeer vóór die reëns dit wegspoel.

Maar sê nou jou wandeling deur die reënwoud is tot ’n klein gedeelte beperk, ’n gebied ongeveer so groot soos ’n Amerikaanse voetbalveld. Skielik verdwyn daardie hele woudgedeelte. Dit word heeltemal vernietig—in ’n oogwink! En terwyl jy in afgryse toekyk, word die gedeelte langs joune, net so groot, die volgende oomblik uitgewis, en nog een die oomblik daarna, en nog en nog. Uiteindelik staan jy alleen op ’n leë vlakte, op grond hard gebak deur die felle tropiese son.

Volgens sommige skattings is dit hoe vinnig die wêreld se tropiese reënwoude vernietig word. Party sê dat die tempo selfs hoër is. Volgens die tydskrif Newsweek word ’n gebied so groot soos die helfte van Kalifornië elke jaar uitgewis. Die tydskrif Scientific American vir September 1989 gee dit aan as ’n gebied so groot soos Switserland en Nederland tesame.

Maar wat die omvang ook al is, die skade is skrikwekkend. Ontbossing het wêreldwyd furore veroorsaak, en dit is grootliks op ’n enkele land gemik.

’n Goeie voorbeeld: Brasilië

Satellietfoto’s van die Amasone-bekken het in 1987 getoon dat die tempo van ontbossing in hierdie een gebied hoër was as party skattings vir ontbossing van die hele planeet! Wanneer mense dele van die woud gebrand het om dit skoon te maak, het vure by die duisende die nagte verlig. Die rookwolk was so groot soos Indië en so dig dat party lughawens gesluit moes word. Volgens een skatting verloor die Amasone-bekken elke jaar ’n reënwoudoppervlakte so groot soos België.

Brasiliaanse omgewingsbewaarder José Lutzenberger het dit “die grootste slagting in die geskiedenis van lewe” genoem. Dwarsoor die wêreld het omgewingsbewaarders in opstand gekom. Hulle het die reënwoude se toestand in die openbare soeklig gebring. Selfs T-hempies en rock-konserte het verkondig: “Red die reënwoud.” Toe het finansiële druk gevolg.

Brasilië het meer as R260 miljard buitelandse skuld en moet ongeveer 40 persent van sy uitvoerverdienste bestee net om die rente te betaal. Dit is grootliks afhanklik van buitelandse hulp en lenings. Internasionale banke het gevolglik lenings begin terughou wat dalk gebruik sal word om die woude te beskadig. Ontwikkelde nasies het aangebied om van Brasilië se skuld te ruil vir beter bewaring van hulle omgewing. Amerikaanse president Bush het Japan selfs gevra om nie geld aan Brasilië te leen om ’n hoofweg deur ongerepte reënwoude te bou nie.

’n Wêreldwye dilemma

Al hierdie druk ruik vir talle Brasiliane na skynheiligheid. Die ontwikkelde lande het lankal hulle eie woude uitgedun en sou kwalik toegelaat het dat enige buitelandse mag hulle keer om dit te doen. Die Verenigde State is tans besig om die laaste van sy eie reënwoude uit te wis. Hulle is inderdaad nie tropies nie; hulle is die gematigde reënwoude van die Pasifiese Noordweste. Spesies sal ook daar verdwyn.

Ontbossing is dus ’n wêreldwye probleem, nie net ’n Brasiliaanse een nie. Die verlies van tropiese reënwoude is tans die kritiekste. Meer as die helfte van die verliese vind buite Brasilië plaas. Sentraal-Afrika en Suidoos-Asië is die wêreld se ander twee groot reënwoudgebiede, en ook daar verdwyn die woude vinnig.

Ook die gevolge van ontbossing word wêreldwyd ervaar. Dit het honger, dors en die dood onder miljoene tot gevolg. Dit is ’n probleem wat jou lewe raak. Dit raak die kos wat jy eet, die medisyne wat jy gebruik, die weerstoestande waar jy woon—moontlik selfs die mens se toekoms.

Maar jy wonder dalk: ‘Hoe kan hierdie reënwoude sulke verreikende gevolge hê? Veronderstel hulle verdwyn wel in ’n paar dekades, soos party deskundiges beweer. Sal dit werklik so ’n groot tragedie wees?’

Voordat ons daardie vrae kan beantwoord, moet ons eers ’n ander vraag beantwoord: Wat veroorsaak in die eerste plek dat reënwoude vernietig word?

[Diagram/Kaart op bladsy 5]

Verdwynende reënwoude (Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Voor ontbossing

Die huidige omvang

Die jaar 2000 teen vandag se ontbossingstempo

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel