Waarom die reënwoude red?
’NSKARE kyk na ’n sokkerwedstryd en juig geesdriftig. Hulle wens die spel kan vir ewig aanhou. Maar hulle hou aan om die spelers te skiet. Een vir een word die dooies van die veld gedra. Die skare raak woedend namate die tempo van die spel afneem.
Ontbossing is ongeveer dieselfde. Mense geniet die woude, is trouens daarvan afhanklik. Maar hulle hou aan om die ekwivalent van die spelers dood te maak: die individuele plant- en diersoorte wie se komplekse wisselwerking die woud aan die lewe hou. Dit is egter meer as ’n spel. Ontbossing raak jou. Dit raak die gehalte van jou lewe, al het jy nog nooit ’n reënwoud gesien nie.
Sommige meen dat die ontsaglike verskeidenheid lewende dinge, wat wetenskaplikes biodiversiteit noem, die grootste bate van die reënwoude is. In ’n halwe vierkante kilometer Maleisiese reënwoud kan ongeveer 835 soorte bome groei, meer as in die Verenigde State en Kanada gesamentlik.
Maar hierdie welige samestel van lewe is broos. ’n Wetenskaplike het die individuele spesies met die klinknaels op ’n vliegtuig vergelyk. Hoe meer klinknaels losskiet, hoe meer sal ander onder toenemende druk begin ingee. As daardie vergelyking geldig is, is ons planeet ’n “vliegtuig” wat in groot nood verkeer. Namate die reënwoude krimp, gaan tienduisend plant- en diersoorte volgens sommige se skattings elke jaar tot niet. Hulle reken dat die tempo van uitwissing nou sowat 400 keer vinniger is as wat dit ooit in die geskiedenis van die planeet was.
Wetenskaplikes betreur die volslae verlies van kennis as gevolg van hierdie vermindering in biodiversiteit. Hulle vergelyk dit met ’n biblioteek wat afgebrand word nog voordat die boeke daarin gelees is. Maar daar is ook konkreter verliese. Sowat 25 persent van die geneesmiddels wat in die Verenigde State voorgeskryf word, kom byvoorbeeld van tropiese woudplante. Een sodanige geneesmiddel het die remissietempo van leukemie by kinders van 20 persent in die sestigerjare tot 80 persent in 1985 laat toeneem. Die Wêreldnatuurlewefonds meen dat die reënwoude dus “’n reuse-apteek verteenwoordig”. En tallose plante is nog nie ontdek nie, wat nog te sê van getoets vir hulle moontlike mediese gebruike.
Min van ons besef buitendien hoeveel van ons voedselgewasse afkomstig is van plante wat oorspronklik in die reënwoude aangetref is. (Sien venstertjie op bladsy 11.) Vandag nog versamel wetenskaplikes gene van die geharde variëteite van hierdie plante in die woude en gebruik hulle dit om weerstand teen siektes in hul swakker afstammelinge, die aangeplante gewasse, te versterk. Wetenskaplikes het op daardie manier honderdmiljoene rande se oesverliese voorkom.
Daarbenewens weet ons nie watter reënwoudvoedselsoorte nog as wêreldgunstelinge te voorskyn kan kom nie. Die meeste Noord-Amerikaners weet nie dat hulle voorvaders net honderd jaar gelede die piesang as ’n vreemde, eksotiese vrug beskou het en twee dollar vir een piesang, afsonderlik toegedraai, betaal het nie.
Die situasie wêreldwyd
Die mens self is die uiteindelike slagoffer van ontbossing. Die gevolge vir die omgewing wêreldwyd kring uit totdat hulle die wêreld omsluit. Hoe? Laat ons nog ’n keer na die tipiese reënwoud kyk. Soos die naam te kenne gee, is reën sy uitsonderlike kenmerk. Meer as 200 millimeter kan per dag val, meer as 9 meter per jaar! Die reënwoud is volmaak ontwerp om hierdie stortreën te ontvang.
Die wouddak breek die krag van die druppels sodat hulle die grond nie kan wegspoel nie. Baie blare het langwerpige punte, of druppunte, wat die swaar druppels opbreek. Die gietende reën word dus tot ’n matige gedrup verminder, wat met ’n sagter trefkrag na die grond val. Die punte stel die blare ook in staat om water vinnig af te werp sodat hulle kan voortgaan met transpirasie deur vogtigheid weer in die atmosfeer vry te stel. Die wortelstelsels suig 95 persent van die water op wat die bodem van die woud bereik. Die woud, in sy geheel, absorbeer reën soos ’n reusespons en stel dit dan stadig vry.
Maar met die woud nie meer daar nie, val die reën direk en hard op die onbeskutte grond en spoel dit die grond by die tonne weg. In Côte d’Ivoire, Wes-Afrika, verloor ’n hektaar effens hellende tropiese reënwoud byvoorbeeld net ongeveer drie honderdstes van ’n ton grond per jaar. Dieselfde hektaar verloor 90 ton grond per jaar as dit ’n ontboste, bewerkte stuk grond is; as kaal grond verloor dit 138 ton.
Daardie soort grondverlies doen meer skade as om net die grond vir verbouing of weiding ongeskik te maak. Ironies genoeg word damme, wat ontsaglike ontbossing veroorsaak, self daardeur verwoes. Hulle word oorweldig deur die slik wat deur riviere vanaf ontboste gebiede gevoer word, raak gou verstop en word nutteloos. Kusgebiede en broeigebiede van visse word ook deur die oormaat slik belemmer.
Die uitwerking op reën- en weerpatrone is selfs rampspoediger. Riviere wat uit tropiese reënwoude kom, is oor die algemeen heeljaar vol. Maar sonder die woud wat die vloei van water na die riviere reguleer, oorstroom hulle met skielike reëns en droog dan op. ’n Siklus van oorstromings en droogtes ontstaan. Reënpatrone kan duisende kilometers daarvandaan beïnvloed word, aangesien ’n reënwoud deur middel van transpirasie tot die helfte van die vogtigheid in die plaaslike atmosfeer vrystel. Ontbossing kon gevolglik bygedra het tot die oorstromings in Bangladesj sowel as die droogtes in Ethiopië wat soveel lewens hierdie afgelope dekade geëis het.
Maar ontbossing kan ook die hele planeet se klimaat beïnvloed. Reënwoude is al die aarde se groen long genoem omdat hulle koolstofdioksied uit die lug neem en die koolstof gebruik om stamme, takke en bas te vorm. Wanneer ’n woud afgebrand word, word al daardie koolstof in die atmosfeer geplaas. Die probleem is dat die mens soveel koolstofdioksied in die atmosfeer stort (deur fossielbrandstowwe te verbrand asook deur ontbossing) dat hy moontlik reeds ’n wêreldwye verwarming genaamd die kweekhuiseffek aan die gang gesit het, wat dreig om die planeet se polêre yskappe te smelt en seevlakke te laat opstoot wat kusgebiede sal oorstroom.a
Geen wonder dan dat mense dwarsoor die wêreld by die krisis betrokke raak nie. Help hulle enigsins? Is daar ’n oplossing? Watter hoop is daar in hierdie sombere situasie?
[Voetnoot]
a Sien Ontwaak!, 8 September 1989.
[Venster op bladsy 11]
Gawe van die reënwoude
Is daar op hierdie oomblik ’n tropiese reënwoud naby jou? Dink aan party van die voedselsoorte wat oorspronklik in die reënwoude dwarsoor die wêreld aangetref is: rys, mielies, patats, broodwortel (kassawe, of tapioka), suikerriet, piesangs, lemoene, koffie, tamaties, sjokolade, pynappels, advokado’s, vanielje, pomelo’s, ’n verskeidenheid neute, speserye en tee. Ruim die helfte van die wêreld se voedselgewasse kom van plante wat van reënwoude afkomstig is! En dié is net ’n paar van die voedselsoorte.
Beskou die geneesmiddels: Alkaloïedes van rankplante word as spierverslappers voor ’n operasie gebruik; die aktiewe bestanddele van hidrokortisoon om ontsteking te bestry, kinien om malaria te beveg, digitalis om hartversaking te behandel, diosgenien in geboortebeperkingspille en ipekakuana as braakmiddel kom almal van reënwoudplante. Ander plante lyk belowend vir die bestryding van Vigs en kanker, asook diarree, koors, slangbyt en konjunktivitis en ander oogsiektes. Dit is onbekend watter ander geneesmiddels dalk nog verborge is. Wetenskaplikes het minder as 1 persent van die plantsoorte in reënwoude ondersoek. Een plantkundige het gekla: “Ons vernietig dinge wat ons nie eens weet bestaan nie.”
Maar nog produkte kom van die verdwynende woude: lateks, harpuis, was, sure, alkohol, geurmiddels, versoeters, kleursels, vesels soos dié wat in reddingsbaadjies gebruik word, die gom wat gebruik word om kougom te maak, bamboes en rottang—op sigself die grondslag vir ’n ontsaglike wêreldindustrie.
[Diagram/Prent op bladsy 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die rol wat die woud speel
Woude voeg vogtigheid en suurstof by die atmosfeer
Wouddak beskerm die grond teen gietende reëns
Plantegroei absorbeer en gaar koolstof op
Wortelstelsels help om die vloei van vog na riviere te reguleer
[Prent op bladsy 10]
Gevolge van ontbossing
Minder vogtigheid wat in die atmosfeer vrygestel word, het meer droogtes tot gevolg
Reën verweer die onbeskutte grond. Oorstromings neem toe
Brandende bome stel koolstof vry en dra by tot die kweekhuiseffek