KARL RIETZ | LEWENSVERHAAL
Ek het gesien dat Jehovah se hand nooit kort is nie
Toe my pa, Clarence, in sy laat tienerjare was, het hy vir my oupa gesê: “By die skool leer ek dat een plus een plus een gelyk is aan drie. En dan by die kerk leer ek dat God ’n Drie-eenheid is, wat vir my leer dat een plus een plus een gelyk is aan een. Ek gaan ophou om of skool toe of kerk toe te gaan omdat een van die twee besig is om vir my te lieg.” Toe het my oupa ’n paar van die Lutherse predikante in ons klein dorpie in Wisconsin, VSA, gevra om die Drie-eenheid aan my pa te verduidelik. Hulle het probeer om dit te verduidelik deur sirkels en driehoeke te gebruik, maar kon niks uit die Bybel uit bewys nie. Die volgende dag het my pa gevra dat sy naam van die lys van kerklede afgehaal moet word. My oupa was nie bly hieroor nie, maar hy het toegelaat dat my pa se naam afgehaal word.
Jare later het my pa ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies op daardie stadium genoem was, by ’n familielid se huis ontmoet. My pa het hom reguit gevra: “Kan jy die Drie-eenheid aan my verduidelik sodat ek dit kan verstaan?” Die Bybelstudent het geantwoord: “Nee, ek kan nie.” My pa het toe gesê: “Ek het so gedink, ja.” Die man het verder gesê: “Wag ’n bietjie. Ek kan nie die Drie-eenheid aan jou verduidelik nie, want dit is nie in die Bybel nie.” Hulle het die hele aand lank gepraat, en my pa het die volgende oggend reguit werk toe gegaan sonder dat hy geslaap het.
Toe ek 12 jaar oud was
Nadat my pa die boeke gelees het wat hy by die Bybelstudent gekry het, was hy oortuig dat hy die waarheid gevind het. Met verloop van tyd het my pa getrou, en later is hy en my ma, Kathryn, gedoop. Hulle het my geleer om Jehovah lief te hê, en ek is in 1945 gedoop, net voordat ek nege jaar oud geword het.
Ek volg my ouers se raad
My pa het eenkeer vir my gesê: “Wanneer jy gevra word om iets nuuts in Jehovah se diens te doen, moet jy nooit sê: ‘Ek weet nie hoe om dit te doen nie.’ Sê liewer: ‘Ek is bereid om te leer en ek sal my beste doen.’ Jehovah sal jou help, en sy hand is nooit kort nie” (Numeri 11:23). My ouers het altyd ’n uitstekende voorbeeld gestel deur die bediening hulle prioriteit in die lewe te maak. Byvoorbeeld, ons het na ’n gebied in Oklahoma getrek waar daar ’n behoefte aan verkondigers was. Hulle voorbeeld het my aangemoedig om met die voltydse diens te begin. So in 1956 het ek ’n gewone pionier geword.
My ouers in die 1960’s
Ek het ook my ouers se raad gevolg toe ek na ’n vrou gesoek het. Hulle het my aangemoedig om na iemand te soek wat Jehovah dien. Eendag het my pa vir my gesê: “Wanneer jy met iemand begin uitgaan, laat jou ma haar ontmoet. As sy van die meisie hou, is die kanse goed dat jy gelukkig gaan wees. As sy nie van haar hou nie, moet jy oppas!” My ma het nie gehou van die eerste meisie wat ek na haar toe gebring het nie. Maar sy het van Arlene, die tweede meisie met wie ek uitgegaan het, gehou.
By ons troue
Arlene het weggetrek van die plaas waarop sy grootgeword het sodat sy nader aan die Koninkryksaal kon wees. Om haarself finansieel te ondersteun, het sy by ’n ouetehuis gewerk. Sy het daarop gefokus om Jehovah te dien en het ’n ywerige gewone pionier geword. Ons het in 1959 getrou. My ma en Arlene het goed oor die weg gekom. Om die waarheid te sê, wanneer ek en Arlene nie oor iets saamgestem het nie, was my ma dikwels aan Arlene se kant!
Ek het nog altyd Arlene se gewilligheid waardeer om ter wille van die goeie nuus by nuwe omstandighede aan te pas. Byvoorbeeld, eenkeer toe ek en Arlene in ontoegekende gebied in Kansas gedien het, kon ons nie blyplek vind nie. So ons het in ’n klein tentjie gebly wat net groot genoeg was om in te slaap. Ons het die tent in ’n kampterrein opgeslaan waar jy net vyf dae kon bly. Toe ons aan die kampterrein se bestuurder verduidelik het hoekom ons in Kansas was en watter werk ons besig was om te doen, het hy gesê: “Julle kan hier bly vir solank as wat julle wil.” Ons het hierdie ondervinding baie geniet!
Ons gaan Gilead en Brasilië toe
Eendag het ons twee aansoekvorms vir Gileadskool in die pos gekry. Dit was ’n verrassing, want ons het nie vir die vorms gevra nie. Maar ons het al klaar soos sendelinge gevoel omdat ons in ’n tent gebly het. So dit het sin gemaak om vir Gilead aansoek te doen en regte sendelinge te word! Kort daarna het ons ’n uitnodiging gekry om die 38ste klas van Gilead by te woon, en ons het in November 1963 gegradueer. Ons is na Brasilië aangewys!
Toe ons in 1964 in Brasilië aangekom het, was daar nie baie plek in die sendinghuise nie. So ons is gevra om tydelik by die takkantoor in Rio de Janeiro te bly en as sendelinge in daardie gebied te dien. Ons grootste uitdaging in Brasilië was om die taal te leer. In ons eerste maand het ons meeste van die dae 11 uur lank Portugees geleer. In die tweede maand het ons een helfte van die dag Portugees geleer en die ander helfte velddiens gedoen. Toe ek die taal begin praat het, het ek ’n paar foute gemaak waaroor ek skaam gekry het. Byvoorbeeld, eendag toe ons velddiens gedoen het, het ’n vrou vir ons gesê dat haar man gesterf het, en sy het ’n woord gebruik wat ons nog nie geleer het nie. Ek het vir haar gesê: “Ons is bly om dit te hoor.” Maar die huisbewoner het nie aanstoot geneem nie omdat sy geweet het dat ons uitlanders was wat besig was om Portugees te leer.
Ons het 11 uur ’n dag Portugees geleer
Ons geniet Betheldiens
Nadat ons vir ’n paar maande as veldsendelinge gedien het, was ek gevra om een dag ’n week by die Drukkery in Bethel te werk. Omtrent ’n jaar nadat ons in Brasilië aangekom het, was ons gevra om by Bethel te dien. By Bethel het ek in die werkswinkel gewerk, en Arlene het gehelp om kamers skoon te maak. Ek moet erken dat ek ’n bietjie teleurgesteld was toe ons Bethel toe genooi is. Ons was lief vir die velddiens en ons het gehoop om eendag vir kringwerk te kwalifiseer. Maar ons het die toewysing aanvaar en geleer om lief te word vir Bethel. Ná ’n paar jaar is Bethel na São Paulo verskuif.
Oor die jare heen het ek gesien hoe Jehovah ons pogings geseën het om by te bly met Brasilië se toenemende aanvraag na lektuur. Byvoorbeeld, ek is eenkeer gevra om vir nog ’n drukpers te soek. Ek het ’n tweedehandse platformpers teen ’n baie lae prys gekry en het daarna gaan kyk. Ek het die operateur gevra hoekom hulle dit verkoop. Hy het gesê dat daar ’n probleem was met die gedeelte van die pers waar die papier ingesit word. Ons het dit in elk geval gekoop, aangesien die res van die pers in ’n goeie toestand was. Toe die pers eers in ons drukkery was, het ek van die groter parte uitgehaal en binne-in die pers geklim. Ek het toe gesien dat daar net ’n pypie was wat gebreek het! Ons het die pypie vervang, en die pers het jare lank nog goed gewerk.
Die krag van gebed
Met verloop van tyd moes ons die Drukkery uitbrei omdat die predikingswerk in Brasilië besig was om vinnig te groei. Reg langs een van ons geboue vir die Drukkery was daar ’n oop stuk grond. Maar selfs nadat ons ’n jaar lank na die eienaar gesoek het, kon ons hom nie kry nie. Ons het nie geweet dat hy meer as 1 000 kilometer daarvandaan in ’n plattelandse gebied sonder telefoon- of posdiens gebly het nie.
Ons het aangehou om oor die saak te bid. Toe eendag het ’n man wat Bethel besoek het vir ons gesê dat die bestuurder van ’n winkel daar naby die eienaar van die stuk grond geken het. Ons het die bestuurder gaan sien, wat gesê het: “Sien julle die man wat oorkant die straat voor die kroeg ’n bier sit en drink? Hy is die eienaar.” Ons het onmiddellik met die man gaan praat wat baie bly was om sy stuk grond te verkoop. Daardie dag was die eerste dag in jare wat hy in die dorp was! Ons het gou begin om die Drukkery uit te brei.
Frederick Franz, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ons takkantoor in 1974 besoek
Later het ons onverwags by wêreldhoofkwartier gehoor dat ons twee nuwe rolperse sou kry. Ons het gou besef dat die nuwe perse nie in ons Drukkery sou pas nie. Weereens het ons Jehovah in gebed genader. Die volgende dag het ons gesien hoe een van ons bure, ’n drukker, drukperse uit sy gebou verskuif. Hy was besig om sy toerusting na ’n ander plek te vat en wou die gebou langs ons eiendom verkoop. Die gebou was net die regte grootte vir die nuwe perse!
Teen die middel-1970’s het ons ’n groter takkantoor nodig gehad. Hierdie keer het die Bestuursliggaam vir die Takkomitee gesê om vir grond in die platteland te soek waar dit moontlik sou wees om in die toekoms uit te brei. Ons het besluit om ’n stuk grond naby Cesário Lange te koop, omtrent 150 kilometer van São Paulo af. Ons het toe die bouplanne vir ’n nuwe Drukkery vir die Bestuursliggaam gestuur. Maar hulle het vir ons gesê: “Julle dink nie aan die toekoms nie! Julle moet dit omtrent twee keer groter bou as wat julle beplan het!” Hulle het ook tekeninge vir ’n baie groter Drukkery ingesluit, wat ons gebou het.
Lesse in nederigheid
As ’n lid van die Takkomitee in Brasilië, het ek partykeer gedink dat my opinie oor ’n saak die beste was. Maar nadat ek die saak met ander Takkomiteelede bespreek het, het ek dikwels besef dat my opinie nie die beste een was nie. Ek het gesien dat “baie raadgewers” ’n beter oplossing vind. – Spreuke 15:22.
Eenkeer was ’n broer wie se werk dit was om lektuur af te lewer, daarvan beskuldig dat hy lelik met ander gepraat het. Nadat ek net een kant van die storie gehoor het, het ek voorgestel dat die broer Bethel verlaat. Kort daarna het ek uitgevind dat dinge nie presies gebeur het soos daar vir my gesê is nie. Al was dit moeilik, het ek erken dat ek ’n fout gemaak het. Die broer het teruggekom Bethel toe, waar hy vir ’n hele paar jaar gelukkig gedien het. Dit het my ’n belangrike les geleer! Ek het gesien hoe waar die woorde in Spreuke 18:13 is: “Iemand wat op ’n saak antwoord voordat hy die feite hoor, is dwaas en kom in die skande.”
Toe ek en Arlene in 1964 in Brasilië aangekom het, was daar omtrent 28 000 verkondigers. Op die oomblik is daar meer as 926 000! Dit is lekker om te sien hoe Jehovah die werk bespoedig het! (Jesaja 60:22). Noudat ons in ons 80’s is, is ons dankbaar dat ons as jongmense met voltydse diens begin het en nog altyd bereid was om ons bes te doen. As gevolg hiervan het ons gesien dat Jehovah se hand nooit te kort is nie.