Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/1 bl. 26-29
  • Jehovah het my vasberadenheid geseën

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het my vasberadenheid geseën
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons gesin verhuis
  • Ons eerste kennismaking met Bybelwaarheid
  • My grootste wens vervul
  • Nuwe deure van diens gaan oop
  • Ek verdedig Koninkryksbelange
  • Gilead versterk my vasberadenheid
  • Jehovah bewaar ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Volharding lei tot vooruitgang
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Volharding bring vreugde mee
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/1 bl. 26-29

Jehovah het my vasberadenheid geseën

Soos vertel deur Richard Wuttke

“Jy gaan binne drie maande sterf!” “Wat bedoel jy?”

“Dit is wat die dokter wat jy in Assis gaan spreek het vir my gesê het”, het my broer William geantwoord.

MAAR ek wou lewe, nie sterwe nie. Ek het vir die eerste maal tot God om hulp gebid. Ek is bly om 46 jaar later te kan sê dat, al het die dokter nie gesê wat my makeer het nie, sy diagnose verkeerd was. Maar die skrik het my laat nadink oor my doel in die lewe en my laat besef dat ek ons Skepper moet dien.

Ons gesin verhuis

Toe ek op 11 November 1921 gebore is, het my ouers in Grosen, ’n dorpie in die ooste van Duitsland, gewoon. Hulle is in Rusland uit Duitse immigrante gebore. Maar toe die Bolsjewistiese rewolusie in 1917 Kommunisme as regeringsvorm ingelui het, is hulle saam met ander van Duitse oorsprong gedeporteer en het hulle al hulle besittings verloor. Na ’n lang rit in ’n goederetrein het my ouers en hulle kindertjies by die Duitse grens aangekom. Maar hulle is toegang geweier en moes die hele ent na Rusland terugreis. Daar is hulle weer eens toegang geweier, en gevolglik moes hulle na Duitsland teruggaan. Na maande van swaarkry is hulle uiteindelik in die land toegelaat.

Toe ek tien jaar oud was, is my pa oorlede. Twee jaar later, in 1933, het Hitler aan die bewind gekom, en ek was verplig om by die Nazi-jeugbeweging aan te sluit. Gedurende Hitler se regime was daar probleme vir Duitsers wat in ander lande gebore is, en daar was tekens dat Duitsland hom vir nog ’n oorlog voorberei. Daarom het ons besluit om na Brasilië te emigreer, op die aanbeveling van ander wat reeds daarheen verhuis het. Ons het in Mei 1936 in Santos, Brasilië, aangekom.

Nadat ek ’n paar maande op ’n koffieplantasie gewerk het, het ons ’n plasie in ’n vrugbare gebied naby Maracaí in die staat Sao Paulo gekoop. Terwyl ons ons huis gebou het, kon ons in die huis van die Lutherse predikant bly. Hy het ons aangemoedig om sy kerk by te woon, maar toe hy, en later sy opvolger, politiek begin praat het in hulle preke het ons die kerk verlaat.

Ons eerste kennismaking met Bybelwaarheid

Dit was ongeveer op hierdie stadium dat my broer my van die dokter se ontstellende diagnose vertel het. Ek het dus na Sao Paulo gegaan om ’n tweede opinie te kry. Terwyl ek daar was, het die gesin by wie ek gekuier het besoek ontvang van een van hulle vriende, Otto Erbert. Hy was een van Jehovah se Getuies, en hy het vir ons begin getuig. Maar die familie het nie gehou van wat hy gesê het nie, en hulle het die vertrek een-een verlaat en my by hulle besoeker gelaat.

Otto het omtrent twee uur lank met my gepraat oor onderwerpe soos die helse vuur; die onsterflikheid van die siel; die ware God, Jehovah; sy Koninkryk en die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Wat ’n pragtige toekoms het hy nie geskets nie! Hoe het dit tog verskil van wat ek in die Lutherse Kerk geleer het! Uiteindelik het Otto gevra: “Glo jy in die Christendom se valse leerstellings of in die Bybel?”

“In die Bybel”, het ek geantwoord.

“Bestudeer dit dan!” het hy my aangespoor. “As jy meer daarvan wil hoor, kom soek my op.” Ek het hom die volgende dag gaan besoek, want ek het gehou van wat ek gehoor het, veral om vir ewig op aarde te lewe. Die tweede gesprek het my oortuig dat ek die ‘waarheid wat die mensdom vrymaak’, gevind het (Johannes 8:32). Ek is daar weg met ’n boekie, Health and Life, en ’n uitnodiging na ’n Bybelstudie wat in Duits gehou sou word.

My grootste wens vervul

Intussen het ek behoorlike mediese sorg gekry en kon ek terugkeer huis toe. Ek het Otto Erbert saam met my op vakansie geneem. Moeder was baie bly dat ek die Bybel, die boek wat altyd op ons tafel was maar nooit gelees is nie, bestudeer. Nadat Otto na Sao Paulo teruggekeer het, het ek amper elke aand so goed ek kon ’n Bybelstudie met my gesin gehou. Ek was oorstelp van vreugde toe my ma, my broer Robert en my suster Olga almal die boodskap van die waarheid aanvaar het. Ons huis was altyd die middelpunt van sosiale bedrywighede, maar na ons omtrent twee maande lank vir almal getuig het, was dit omtrent leeg. Een van dié wat altyd na ons huis toe gekom het, het gesê: “As julle hiermee aanhou, sal julle in ’n gestig beland!”

Maar my begeerte om Jehovah te dien, het al hoe sterker geword. Ek het meer publikasies gekry om te lees. Ek het tot laat snags gelees. Maar al die lektuur was in Duits, en ek het besef dat ek Portugees sou moes leer praat as ek ander wou leer. Gevolglik het ek in 1945 na Sao Paulo getrek om Portugees te leer. Ek het by Otto Erbert gebly, wat later met my suster Olga getrou het.

Ek het begin om die vergaderinge saam met sowat 50 ander in die enigste Koninkryksaal in Sao Paulo by te woon. Daardie enkele gemeente het gegroei totdat daar nou meer as 510 gemeentes in die groter Sao Paulo is, met meer as 50 000 Koninkryksverkondigers. Op 6 Januarie 1946 is ek gedoop as simbool van my toewyding om God se wil te doen. Daardie selfde jaar het ek my eerste groot byeenkoms, die “Blye Nasies” se Teokratiese Byeenkoms in Sao Paulo, bygewoon. Hoe opwindend was dit tog om 1 700 die Sondag teenwoordig te sien! By hierdie byeenkoms het ek Otto Estelmann ontmoet wat my aangemoedig het met die woorde: “Richard, jy is jonk; jy is gesond; wees dan ’n pionier.”

Ek het die voltydse bediening vroeër oorweeg, maar nou het ek ernstiger daaroor gedink. Ek en twee ander het ’n tyd ses maande later vasgestel wanneer ons sou begin. Toe die tyd aanbreek, het ek gevra: “Is julle gereed?” Hulle was nie een gereed nie. Toe sê ek vir hulle dat ek in elk geval gaan begin. “Jy gaan sukkel”, het hulle gewaarsku. Maar ek het by my besluit gebly. Op 24 Mei 1947 het ek my aanstelling as gewone pionier ontvang.

Nuwe deure van diens gaan oop

My gebied was ontsaglik groot en het woon- en sakegebiede in Sao Paulo ingesluit. Ek het elke maand honderde boeke en boekies versprei. Een oggend het ek by ’n groot vertrek ingegaan waar ’n hele paar mans gewerk het. Ek het die eerste man genader en hom die boek “Die waarheid sal julle vrymaak” aangebied.

“Hoeveel boeke het jy in jou tas?” het hy gevra.

“Omtrent 20”, het ek geantwoord. Hy het hulle almal geneem en vir elke man daar een gegee. Dit was die munisipale kantoor!

Maar my grootste vreugde was om tuisbybelstudies te hou. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat 38 van dié met wie ek gestudeer het binne vier jaar gedoop is. ’n Hele paar het die voltydse bediening betree. Onder hulle was Afonso Grigalhunas, wat meer as tien jaar, tot sy dood in 1988, as hulppionier gedien het—en dit met ’n kunsbeen. Dan was daar die Ciuffa-gesin. Francisco, ’n seun, het jare lank as ’n reisende opsiener gedien, en sy suster, Ângela, doen nog steeds pionierdiens.

In 1951 is ek genooi om ’n reisende opsiener te wees. My toewysing het groot dele van die state Rio Grande do Sul en Santa Catarina ingesluit. Duisende mense van Europese afkoms het daar in die suide van Brasilië gewoon. Die meeste van die besoeke was op afgesonderde persone en groepe, want daar was destyds min gemeentes. Daar was baie riviere maar min brûe, en dit het beteken dat ek die kleiner riviere moes oorsteek met my reistas op my rug en my tikmasjien en briewetas in my hande. Paaie was nie geplavei nie en was vol gate. Ek het ’n ligte oorjas gedra om my klere teen die stof te beskerm. Dit het party mense laat dink dat ek hulle nuwe priester is, en hulle het probeer om my hand te soen.

Ek verdedig Koninkryksbelange

Wanneer ek die regte beskouing van probleme probeer behou het, het ek hierdie beginsel toegepas: As ander so ver van die stede kan woon, op hierdie paadjies kan loop en hierdie riviere kan oorsteek, waarom kan ek nie dieselfde doen nie, veral aangesien ek so ’n belangrike boodskap het om aan hulle oor te dra?

Probleme van ’n ander aard het dikwels in die kleiner dorpe opgeduik. Ons het byvoorbeeld gereël om ’n vergadering in ’n plaaslike skool langs ’n park te hou. Aan die oorkant van die park was ’n kroegie en ’n Katolieke kerk. Toe die onderwyser nie opdaag om die skool oop te sluit nie, het ek besluit om die toespraak in die park te hou. Kort na die toespraak begin het, het ’n stuk of ses mans by die kroeg uitgekom en begin skreeu en gebare maak. Ons het later gehoor dat die priester hulle betaal het om dit te doen.

Ek het harder begin praat en my woorde direk tot hulle gerig. Hulle het opgehou en die een het gesê: “Hy praat oor God. Hoe kan die priester sê dat hy van die Duiwel is?” Toe die priester sien dat die mans nie die vergadering gaan uitmekaarjaag nie, het hy in sy jeep geklim en om die park gery en geskreeu: “Enigiemand wat ’n Katoliek is, moenie hierdie vergadering bywoon nie!” Niemand het geloop nie en die vergadering het vreedsaam voortgegaan.

In Mirante do Paranapanema, Sao Paulo, het ek die polisiehoof besoek om die aard van ons werk te verduidelik en toestemming te vra om ’n saal te gebruik vir ’n openbare toespraak. Hy het gereël dat ons ’n klubsaal kon gebruik. Ons het vir hom gesê dat ons strooibiljette sou voorberei om die toespraak te adverteer. “In watter deel van die stad gaan julle dit versprei?” het hy gevra. Na ons hom gesê het, het hy ’n paar gevra om in ’n ander deel van die stad te versprei. Sondag het hy na die toespraak gekom, saam met twee polisiemanne, om, soos hy gesê het, “die orde te handhaaf”.

“Wil jy hê dat ek jou aan die woord moet stel?” het hy gevra.

“Met plesier”, het ek geantwoord, “maar laat ek verduidelik hoe ons ons sprekers bekend stel.” Nadat hy my aan die woord gestel het, het hy op die verhoog gaan sit en luister. Glo my vry, dit was ’n voorbeeldige gehoor. Met twee polisiemanne by die deur en die hoof wat op die verhoog sit, het ons daar geen moeilikheid gekry nie!

In Maart 1956 is ek as streekopsiener aangestel en het ek byeenkomste oral in Brasilië bedien. Ek moes baie ver reis. Dit het een keer drie dae geduur om van een byeenkoms tot by die volgende te kom. In die noordelike deel van die land het ons soms in ’n stasiewa gereis. Hulle het nie vensters gehad nie, en was gevolglik goed geventileer. Dit was ’n goeie idee, aangesien hoenders en varke saamgery het!

Gilead versterk my vasberadenheid

Wat ’n vreugde was dit tog om in 1958 die Wagtoring- Bybelskool Gilead by te woon! Ons klas het in die noordelike somer van daardie jaar gegradueer gedurende die byeenkoms by die Yankee-Stadion en Poloterrein, waar 253 922 mense uit 123 lande die openbare toespraak bygewoon het. Wat ’n gesig was dit tog! Toe het ek na Brasilië teruggekeer, meer vasberade as ooit om aan te hou om Jehovah se Koninkryk te verkondig.

In 1962 het ek met Ruth Honemann, wat reeds langer as ses jaar ’n sendeling in Brasilië was, getrou. Sedert ons troue het ek steeds verdere diensvoorregte geniet en kursusse in die Koninkryksbedieningskool en die Pionierdiensskool aangebied en ook die leiding geneem om nasionale en internasionale byeenkomste te reël en om Sao Paulo se eerste Byeenkomssaal te bou.

Op die oomblik geniet ons die grootste voorreg van ons teokratiese loopbaan as lede van die Bethelgesin in Brasilië. As ek terugkyk op meer as 40 jaar van voltydse diens, waarvan ek 35 jaar as ’n reisende opsiener deurgebring het, kan ek sê dat hulle vol lonende bedrywighede was wat my gelukkig gemaak het (Spreuke 10:22, NW). Ek het baie by Jehovah se organisasie geleer, onder andere hoe belangrik dit is om empatie te betoon, om ’n vriend te wees en nie ’n baas nie en om nooit te besig te wees om na die behoeftes van ander om te sien nie. Ten slotte wil ek graag veral vir die jongeres sê wat broer Estelmann jare gelede vir my gesê het: “Jy is jonk; jy is gesond; wees dan ’n pionier!”

[Prent op bladsy 29]

Die Bethel in Brasilië, waar ons nou woon

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel