Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lfs artikel 9
  • ’n Gelukkige lewe as ’n sendeling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Gelukkige lewe as ’n sendeling
  • Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons eerste kontak met Bybelwaarheid
  • Ek stel ’n doelwit in my lewe
  • Ek bereik my doelwit
  • Dien as sendeling in moeilike tye
  • Gedeporteer!
  • Dien in Honduras
  • Om geestelike doelwitte te bereik bring ware geluk
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Sendingywer—’n kenmerk van ware Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • “Die hand van Jehovah was met hulle”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Dag in die lewe van ’n sendeling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Lewensverhale van Jehovah se Getuies
lfs artikel 9
Elfriede Urban.

ELFRIEDE URBAN | LEWENSVERHAAL

’n Gelukkige lewe as ’n sendeling

Gedurende die eerste paar jaar van my lewe het daar baie slegte dinge gebeur. Ek is op 11 Desember 1939 in Tsjeggo-Slowakye gebore, net drie maande nadat die Tweede Wêreldoorlog begin het. My ma is twee weke later dood as gevolg van komplikasies by my geboorte. Voor dit het my pa Duitsland toe getrek om daar te gaan werk. Gelukkig het my ma se ouers my gevat om by hulle te bly. Op daardie stadium het hulle nog my ma se drie jonger susters, my tannies, grootgemaak.

Saam met my oupa en ouma

Die oorlog het in 1945 geëindig, maar die lewe ná die oorlog was nog baie swaar. Ons was Duitsers, en daarom is ons uit Tsjeggo-Slowakye verban en na Duitsland teruggestuur. Die stede was verwoes, en baie mense was baie arm. Partykeer moes my tannies regdeur die nag in ’n ry staan net om ’n bietjie kos te kry. Ander kere het ons in die woud bessies en sampioene gepluk wat ons dan vir brood verruil het. Dit was so moeilik om kos te kry dat mense troeteldiere vir kos gesteel het. Ons het baie keer honger gaan slaap.

Ons eerste kontak met Bybelwaarheid

My oupa en ouma was Katoliek, maar ons het nie ’n Bybel gehad nie. Die plaaslike priester het geweier om een aan my oupa te verkoop en het gesê dat dit genoeg vir kerklede was om net na die mis te luister. As gevolg hiervan het my oupa baie vrae oor God gehad wat nie beantwoord is nie.

Ek was sewe jaar oud toe twee Getuies van Jehovah na ons huis toe gekom het. Hulle het die Bybel gebruik om my oupa se vrae oor onderwerpe soos die Drie-eenheid, die helse vuur en die toestand van die dooies te beantwoord. My oupa het gevoel dat die Bybel se antwoorde duidelik en bevredigend was. Hy was oortuig dat hy die waarheid gevind het. Daarna het ons hele familie gereeld die Bybel met ’n Getuiepaartjie studeer.

Ek stel ’n doelwit in my lewe

Selfs toe ek ’n klein dogtertjie was, was ek lief vir Jehovah. Ek het dit geniet om artikels te lees van sendelinge wat Jehovah in verafgeleë lande gedien het. Ek het gewonder: ‘Hoe lewe hulle? Hoe voel dit om vir mense te preek wat nog nooit Jehovah se naam gehoor het nie?’

’n Jong Elfriede sit by haar lessenaar by die skool.

Kort voordat ek sendingdiens as ’n doelwit gestel het

Toe ek 12 jaar oud was, het ek besluit om ’n sendeling te word. Ek het dinge begin doen om daardie doelwit te bereik. Heel eerste het ek daarna gestreef om ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus te word. Toe, op 12 Desember 1954, is ek gedoop en later het ek ’n pionier geword. Ek het nader aan my doelwit gekom!

Ek het geweet dat ek Engels moes praat as ek Gileadskool vir sendelinge toe wou gaan, en daarom het ek hard daaraan gewerk om die taal te leer. Ek het gedink ek kon oefen deur met die Amerikaanse soldate wat toe nog in Duitsland was, te praat. Eendag het ek na ’n soldaat toe gegaan en vir hom gesê: “Ek is Christus.” Hy het na my gekyk en vriendelik gesê: “Ek dink jy bedoel ‘Ek is ’n Christen’.” Ek was nie so vlot in Engels soos wat ek gedink het nie!

Toe ek in my vroeë 20’s was, het ek na Engeland toe getrek, waar ek in die oggende by ’n Getuie-gesin as ’n kinderoppasser gewerk het. In die middae het ek in die deur-tot-deur-bediening uitgegaan, wat vir my ’n uitstekende geleentheid was om Engels te praat. Ná ’n jaar in Engeland het my Engels baie verbeter.

Ek het na Duitsland teruggegaan, en in Oktober 1966 was ek genooi om as ’n spesiale pionier in Mechernich te dien. Maar die mense in die gebied het koud gestaan teenoor ons boodskap, net so koud soos die weer. Hulle het ons nooit ingenooi nie, al was dit baie, baie koud. Ek het Jehovah dikwels in gebed gesmeek: “As ek eendag as ’n sendeling kan dien, stuur my asseblief na ’n land waar dit warm is.”

Ek bereik my doelwit

Nadat ek net ’n paar maande as ’n spesiale pionier gedien het, het Jehovah my die begeerte van my hart gegee! Ek is genooi na die 44ste klas van Gileadskool vir sendelinge, waar ek op 10 September 1967 gegradueer het. Waarheen was ek gestuur om te dien? Na die pragtige tropiese land van Nicaragua, in Sentraal-Amerika! Die sendelinge wat reeds daar was, het my en my drie metgeselle met ope arms verwelkom. Ek het soos die apostel Paulus gevoel, wat “God gedank en nuwe moed gekry” het toe die broers hom kom ontmoet het. – Handelinge 28:15.

Elfriede saam met ander Gileadstudente kyk na ’n aardbol.

By Gileadskool (ek staan links) saam met mede-studente Francis en Margaret Shipley

Ek is toegewys na die vreedsame dorpie León, waar ek my voorgeneem het om so gou as moontlik Spaans te leer praat. Dit was vir my moeilik om die taal te leer, al het ek die eerste twee maande 11 ure per dag die taal gestudeer!

Ek onthou dat ’n huisbewoner eendag vir my ’n fresco aangebied het, soos die inwoners van Nicaragua ’n vrugtedrankie genoem het. Ek het gedink dat ek vir haar gesê het dat ek net “gefiltreerde water” kan drink. Maar die vrou het baie verward gelyk. ’n Paar dae later het ek uitgevind dat ek in my gebroke Spaans vir haar gesê het dat ek net “heilige water” kan drink! Gelukkig het my Spaans met tyd verbeter.

Elfriede en Marguerite wat perdry.

Saam met Marguerite, my sendelingmaat van 17 jaar

Ek het dikwels die Bybel met gesinne studeer. Omdat ek veilig gevoel het in León, was ek lief om Bybelstudies in die aande te hou, soms tot tienuur in die aand. Ek het amper almal se naam in die dorp geken. Op pad huis toe het ek die vriendelike bure wat buite hulle huise gesit het en die koel nagbriesie geniet het, gegroet en met hulle gesels.

Ek het ’n hele paar mense in León gehelp om die waarheid te leer. Een van hulle was Nubia, die ma van agt klein seuntjies. Ek het die studie gehou totdat ek in 1976 na Managua gestuur was. Ek het 18 jaar lank geen kontak met Nubia of haar kinders gehad nie, totdat ek teruggegaan het na León om ’n streekbyeenkoms by te woon. Gedurende die middagpouse het ’n groep jong mans my omring – Nubia se kinders! Ek was so bly om te sien dat Nubia haar seuns suksesvol in die waarheid grootgemaak het.

Dien as sendeling in moeilike tye

In die laat 1970’s het wydverspreide maatskaplike en politiese probleme in Nicaragua begin. Ons het aangehou preek soveel as wat ons kon. In die gebied waar ek gedien het – Masaya, net suid van die hoofstad – was daar dikwels oproerige betogings en gewapende optogte. Een aand by ’n vergadering moes ons op die vloer van die Koninkryksaal lê as gevolg van ’n skietery tussen Sandinista-vegters en regeringswagte.a

Op ’n ander dag het ek ’n gemaskerde Sandinista teëgekom wat besig was om op ’n wag te skiet. Ek het probeer vlug, maar meer gemaskerde mans het daar aangekom. Ek het om die hoek gehardloop, maar daar was nêrens veilig om heen te gaan nie. Koeëls het uit regeringshelikopters gereën. Skielik het ’n man die deur van sy huis oopgemaak en my ingetrek. Ek het gevoel dat Jehovah my gered het!

Gedeporteer!

Ek het in Masaya tot 20 Maart 1982 gedien, ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Vroeg daardie dag, terwyl ek en vyf sendelinge besig was om ontbyt te eet, het ons ’n groep Sandinista-soldate met masjiengewere in die tuin van die sendinghuis gesien. Hulle het skielik in die eetkamer ingebars en een het ons ernstig beveel: “Julle het ’n uur om een tas te pak en saam met ons te kom.”

Die soldate het ons na ’n plaas geneem, waar ons ’n paar uur aangehou was. Hulle het vier van ons toe met ’n klein bussie na die grens van Costa Rica geneem, waar ons uit die land gesit is. Met tyd was daar altesaam 21 sendelinge wat gedeporteer is.

Die broers in Costa Rica het vir ons blyplek gegee, en die volgende dag het ons na die takkantoor in San José gegaan. Ons het nie lank daar gebly nie. Omtrent tien dae later was agt van ons op pad na ons nuwe sendingtoewysing in Honduras.

Dien in Honduras

In Honduras was ek na Tegucigalpa gestuur. Gedurende die 33 jaar wat ek in daardie stad gedien het, het een gemeente tot agt vermeerder. Ongelukkig het gewelddadige misdaad oor die jare in Tegucigalpa toegeneem. Daar was baie diewe, en ek was ’n paar keer beroof. Daar was ook bendelede wat my vir geld, of “oorlogsbelasting” soos hulle dit genoem het, gevra het. Ek het vir hulle gesê: “Ek het iets wat baie waardevoller is as geld”, en dan het ek vir hulle ’n pamflet of ’n tydskrif gegee. Hulle het my altyd laat gaan!

Die meeste mense in Tegucigalpa was vreedsaam en vriendelik, en ek het party van hulle gehelp om die waarheid te leer. Byvoorbeeld, ek onthou vir Betty, ’n Bybelstudent wat gelyk het asof sy goeie vordering gemaak het totdat sy eendag vir my gesê het dat sy by ’n evangeliese kerk gaan aansluit. Ek was teleurgesteld, maar dit het verander toe Betty twee jaar later die kerk verlaat het en weer die Bybel saam met my begin studeer het. Hoekom het sy teruggekom? Betty het die opregte liefde wat sy in die gemeente gevoel het, gemis (Johannes 13:34, 35). Sy het vir my gesê: “Julle verwelkom almal hartlik by julle vergaderinge, of hulle nou ryk of arm is. Julle is anders.” Mettertyd is Betty gedoop.

In 2014 is die sendinghuis in Tegucigalpa toegemaak, en daarna is ek na Panama gestuur. Ek bly nou in ’n sendinghuis saam met vier ander persone wat al lank as sendelinge dien.

’n Kaart van Sentraal-Amerika wat wys waar Elfriede gebly en gepreek het: Tegucigalpa, Honduras; León en Masaya, Nicaragua; Costa Rica; en Panama.

Om geestelike doelwitte te bereik bring ware geluk

Ek dien nou omtrent al 55 jaar lank as ’n sendeling. As gevolg van gesondheidsprobleme kan ek nou nie meer so baie doen soos vroeër nie. Jehovah het my gehelp om aan te hou om ander van hom te leer.

Kon ek daarop gefokus het om iets anders met my lewe te doen? Ja, natuurlik. Maar ek sou nie so baie seëninge gehad het nie! Ek het meer as 50 mense gehelp om die waarheid te leer, en hulle is soos my seuns en dogters, en ek het ook baie vriende. Behalwe vir my “groot familie”, het ek ook die liefde en ondersteuning van my dierbare tannie Steffi, wat in Duitsland bly.

Alhoewel ek nooit getrou het nie, het ek nooit alleen gevoel nie. Jehovah was altyd saam met my. Ek het ook wonderlike vriende gemaak, soos Marguerite Foster, wat 17 jaar lank my sendelingmaat was. Ons het baie ondervindinge saam gehad, en ons is goeie vriende tot vandag toe. – Spreuke 18:24.

My grootste vreugde is om te weet dat ek my lewe op die beste manier moontlik gebruik het – om Jehovah ten volle te dien. Ek het my kinderdroom bewaarheid, en as gevolg daarvan het ek baie opwindende ondervindinge gehad! Ek was regtig gelukkig, en ek sien uit daarna om Jehovah tot in ewigheid te dien.

a In die laat 1970’s het die Sandinista Nasionale Vryheidsfront gewild geword in Nicaragua en uiteindelik die familie wat meer as 40 jaar lank oor die land regeer het, omvergewerp.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel