Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwyp artikel 83
  • Hoe kan ek versoeking weerstaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek versoeking weerstaan?
  • Jongmense vra
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat jy moet weet
  • Wat jy kan doen
  • Hoe om versoeking te weerstaan
    Ontwaak!—2014
  • Hoe om menslike swakheid te oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe kan ek versoeking weerstaan?
    Ontwaak!—2008
  • Hoe kan ek versoeking weerstaan?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Jongmense vra
ijwyp artikel 83
’n Jong man kom in die versoeking wanneer hy ’n romantiese paartjie sien; twee seuns kyk na iets op ’n foon; ’n meisie loop verby

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek versoeking weerstaan?

Die apostel Paulus het geskryf: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Romeine 7:21). Het jy al ooit so gevoel? As jy al so gevoel het, kan hierdie artikel jou help om die versoeking te weerstaan om verkeerde dinge te doen.

  • Wat jy moet weet

  • Wat jy kan doen

  • Wat ander jongmense sê

Wat jy moet weet

Versoeking en groepsdruk gaan baie keer hand aan hand. Die Bybel sê dat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ (1 Korintiërs 15:33). Die druk van ander en ook die media kan begeertes in jou hart laat ontwikkel wat dan veroorsaak dat jy in die versoeking kan kom. Dit kan selfs veroorsaak dat jy agter ander aangaan om slegte dinge te doen. — Eksodus 23:2.

“As jy graag wil hê dat mense van jou moet hou en jou moet aanvaar, kan jy maklik dieselfde dinge doen wat hulle doen net om hulle gelukkig te maak.” — Jeremy.

Iets om oor te dink: Hoekom is dit dalk moeiliker om versoeking te weerstaan as jy te veel omgee oor wat ander van jou dink? — Spreuke 29:25.

Die slotsom: Moenie toelaat dat druk van ander jongmense jou in die versoeking bring om nie by jou standaarde te bly nie.

Wat jy kan doen

Maak seker van wat jy glo. As jy nie seker is van wat jy glo nie, kan jy soos ’n pop word wat deur ander mense beheer word. Dit is baie beter om die Bybel se raad te volg, wat sê: “Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is” (1 Tessalonisense 5:21). Hoe beter jy verstaan wat jy glo, hoe makliker sal dit wees om daarby te bly en om die versoeking te weerstaan om verkeerde dinge te doen.

Iets om oor te dink: Hoekom glo jy dat God se standaarde van reg en verkeerd goed is vir jou?

“Ek het al gesien dat mense my meer respekteer wanneer ek vasstaan vir wat ek glo en versoekings weerstaan.” — Kimberly.

’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Daniël. Toe Daniël heel moontlik nog ’n tiener was, het hy “in sy hart besluit” dat hy God se wette sou gehoorsaam. — Daniël 1:8.

’n Jong man wat met toutjies vasgemaak is en beheer word soos ’n pop

As jy nie seker is van wat jy glo nie, kan jy soos ’n pop word wat deur ander mense beheer word.

Ken jou swakhede. Die Bybel praat van “begeertes wat eie is aan die jeug” — die begeertes wat veral sterk is wanneer jy jonk is (2 Timoteus 2:22). Dit sluit nie net seksuele begeertes in nie, maar ook die begeerte om by ander in te pas en om van jou ouers onafhanklik te wees voordat jy daarvoor gereed is.

Iets om oor te dink: Die Bybel sê dat ‘elkeen beproef word deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word’ (Jakobus 1:14). Met watter verkeerde begeerte sukkel jy die meeste?

“Wees eerlik met jouself oor die versoekings waarmee jy die meeste sukkel. Doen dan navorsing oor hoe om hierdie versoekings te weerstaan, en skryf die punte neer wat jy kan gebruik. Dan sal jy volgende keer weet wat om te doen wanneer jy in die versoeking kom en dit kan weerstaan.” — Sylvia.

’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Dawid. Soms het hy voor die druk van ander en selfs sy eie begeertes ingegee. Maar Dawid het uit sy foute geleer en probeer om beter te doen. Hy het tot Jehovah gebid: “Skep in my ook ’n suiwer hart . . . en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees.” — Psalm 51:10.

Kry beheer. Die Bybel sê: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie” (Romeine 12:21). Dit beteken dat jy nie voor versoeking hoef in te gee nie. Jy kan kies om die regte ding te doen.

Iets om oor te dink: Hoe kan jy in beheer bly en seker maak dat jy die regte ding doen wanneer jy in die versoeking kom om iets verkeerds te doen?

“Ek dink aan hoe ek sal voel as ek voor die versoeking sou ingee. Sal ek beter voel? Miskien, maar net vir ’n klein rukkie. Sal ek later goed daaroor voel? Nee, dit sal my net erger laat voel. Is dit regtig die moeite werd? Nee!” — Sophia.

’n Goeie voorbeeld in die Bybel: Paulus. Hy het erken dat hy slegte neigings gehad het, maar hy het dit onder beheer gehad. Hy het geskryf dat hy sy liggaam streng gedissiplineer het en dit as ’n slaaf gelei het. — 1 Korintiërs 9:27.

Die slotsom: Jy is die een wat besluit hoe jy versoekings gaan hanteer.

Onthou, versoekings is tydelik. Melissa, wat 20 jaar oud is, sê: “Baie dinge wat op hoërskool vir my ’n groot versoeking was, is nou niks nie. Wanneer ek mooi daaroor dink, gee dit my die versekering dat die dinge wat nou vir my ’n versoeking is, ook sal verbygaan en dat ek eendag sal terugkyk en besef dat my lewe baie beter is omdat ek die versoekings weerstaan het.”

Wat ander jongmense sê

Olivia

“Wanneer ek ’n besluit neem en die moed het om daarby te bly, help dit my om versoekings te weerstaan. As ek byvoorbeeld besluit het dat ek iets nie gaan doen nie, bly ek vas by daardie besluit. Ek sal nie my besluit skielik verander of toelaat dat ek deur iemand anders se besluit beïnvloed word nie.” — Olivia.

Jared

“Tieners is onder baie druk om partytjies toe te gaan en om alles te doen wat daar aangaan — om alkohol te drink, dwelms te gebruik en seks te hê. Ek vind dit help my baie as ek openlik oor hierdie dinge met my ouers gesels. En as ek in my vrye tyd besig bly, help dit my om die versoeking te weerstaan om verkeerde dinge te doen.” — Jared.

Mayan

“Een van die moeilikste versoekings om te weerstaan, is om iets te doen wat dalk nie vir ander verkeerd is nie, maar wat vir my verkeerd is. Dit gebeur veral wanneer ek vermaak moet kies. Jy moet seker wees van wat jy glo en hoe om daardie soort druk te vermy, en dit vat tyd en ondervinding.” — Mayan.

Julian

“Wanneer dit by versoeking kom, moet jy eerlik wees met jouself. Jy moet weet op watter dele van die Internet jy heel moontlik verleidelike, seksuele materiaal gaan kry, en jy moet weet hoe jy sal reageer wanneer dit gebeur. Jy moet ’n plan hê sodat jy nie voor die versoeking ingee nie.” — Julian.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel