LEER BY JESUS
Daar sal wêreldvrede wees
Almal wil in ’n wêreld bly waar daar vrede is. Regdeur die geskiedenis het wêreldleiers probeer om konflikte te beëindig en vrede te bring. Partykeer kon hulle dit tydelik regkry. Maar ongelukkig vind konflik dikwels weer plaas. Sal daar ooit wêreldvrede wees? Ja! Kyk na wat ons by Jesus kan leer.
Wat Jesus sal doen
Die Bybel wys wat Jesus binnekort sal doen om wêreldvrede te bring.
“[Jesus] sal genoem word . . . Prins van Vrede. Sy heerskappy sal bly uitbrei, en daar sal geen einde aan vrede wees nie” (Jesaja 9:6, 7). As die Heerser van God se Koninkryk sal Jesus wêreldwyd vrede bring wat nooit sal eindig nie.
“Hy sal die arme red wat om hulp roep, en . . . enigiemand wat geen helper het nie” (Psalm 72:12-14). Jesus sal sy gesag gebruik om ware geregtigheid te bring en alle oorloë, geweld en swaarkry te beëindig.
“Nasie sal nie teen nasie die swaard opneem nie, en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Onder Jesus se heerskappy sal alle mense leer hoe om vrede te maak eerder as om oorlog te voer.
Om uit te vind hoe Jesus hierdie vreedsame toekoms sal bring en wat dit vir jou kan beteken, kyk na die kort video Wat is God se Koninkryk?
Wat Jesus ander geleer het
Selfs vandag help Jesus se leringe miljoene mense om in vrede te lewe. In sy bekende Bergpredikasie het Jesus vir ander beginsels geleer wat mense help om in vrede met mekaar te lewe. Kyk na ’n paar voorbeelde.
“Gelukkig is dié wat vrede maak” (Matteus 5:9). Jesus het nie net sy volgelinge aangemoedig om konflik te vermy nie, maar ook om vrede te maak.
“Maak eers vrede met jou broer en kom dan terug en bring jou offer” (Matteus 5:23, 24). Jesus het sy luisteraars aangespoor om meningsverskille gou op te los. Hy het geleer dat ons vrede met ander moet hê sodat ons ’n goeie verhouding met God kan hê.
“Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie” (Matteus 7:1). Jesus het ons gewaarsku om nie ander te oordeel nie of te verwag dat hulle dinge doen wat ons self nie doen nie, want dit kan konflik veroorsaak. Jesus het sy volgelinge geleer om hulle medemens se tekortkominge ‘aan te hou vergewe’, eerder as om fout te vind. – Lukas 6:37.
Mense regoor die wêreld pas Jesus se leringe toe. Selfs in gebiede waar daar baie geweld of konflik is, leer hulle om konflikte sonder woede op te los, om mekaar te vergewe en om liefde te betoon selfs wanneer ander onvriendelik is.
Om te sien hoe Jesus se leringe party gehelp het om vrede te vind, lees die artikel “Hoe om vrede te vind ten spyte van oorlog en gewelddadige konflik”.