FPG/The Image Bank via Getty Images
HOU AAN WAAK!
Politikusse waarsku dat Armageddon binnekort sal begin – Wat sê die Bybel?
Op Maandagoggend, 10 Oktober 2022, het Russiese missiele stede regoor Oekraïne getref in reaksie op ’n massiewe ontploffing wat twee dae tevore ’n belangrike brug tussen die Krim en Rusland beskadig het. Hierdie dinge het gebeur kort nadat politikusse gewaarsku het dat Armageddon dalk binnekort sal begin.
“Ons was nog nooit so na aan Armageddon sedert die tyd van [die Amerikaanse president John F.] Kennedy en die Kubaanse missielkrisis nie. . . . Ek dink nie dit is moontlik om ’n kernwapen te gebruik sonder om Armageddon te veroorsaak nie.” – Amerikaanse president Joe Biden, 6 Oktober 2022.
“Ek stem saam dat dit Armageddon is. Dit is ’n gevaar vir die hele planeet.” – Oekraïense president Volodymyr Zelensky, toe hy gevra is oor die gevolge van die gebruik van kernwapens, BBC News, 8 Oktober 2022.
Sal die moontlike gebruik van kernwapens Armageddon veroorsaak? Wat sê die Bybel?
Sal kernwapens Armageddon veroorsaak?
Nee. Die woord “Armageddon” kom net een keer in die Bybel in Openbaring 16:16 voor. Dit verwys nie na ’n oorlog tussen nasies nie, maar na ’n oorlog tussen God en “die konings van die hele aarde” (Openbaring 16:14). God sal die oorlog van Armageddon gebruik om ’n einde aan menseregerings te maak. – Daniël 2:44.
Om meer uit te vind oor wat Armageddon vir die aarde sal beteken, lees die artikel Wat is die oorlog van Armageddon?
Sal die aarde en sy inwoners deur kernoorlog vernietig word?
Nee. Hoewel mense wat oor die aarde regeer, dalk kernwapens in die toekoms sal gebruik, sal God nie toelaat dat die aarde vernietig word nie. Die Bybel sê:
“Die aarde bestaan vir ewig.” – Prediker 1:4.
“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe.” – Psalm 37:29.
Maar Bybelprofesieë en huidige gebeure wys dat daar binnekort groot veranderinge op die aarde sal wees (Matteus 24:3-7; 2 Timoteus 3:1-5). Vind uit wat die Bybel oor die toekoms sê deur middel van ons gratis Bybelstudieprogram.