Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ijwhf artikel 28
  • Hoe om ’n goeie pa te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n goeie pa te wees
  • Hulp vir die gesin
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die pa se rol?
  • Wat maak die pa se rol uniek?
  • Pa’s en dogters
  • Hoe kinders ’n huwelik verander
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • Pa’s wat wegloop—Kan hulle regtig wegloop?
    Ontwaak!—2000
  • Wees ’n goeie vader
    Ontwaak!—2013
Sien nog
Hulp vir die gesin
ijwhf artikel 28
’n Pa en sy tienerdogter stap gelukkig saam in die straat af.

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om ’n goeie pa te wees

In hierdie artikel

  • Wat is die pa se rol?

  • Wat maak die pa se rol uniek?

  • Pa’s en dogters

  • Raad vir pa’s

Wat is die pa se rol?

  • Voordat jou kind gebore word. Die soort man wat jy nou is, wys watter soort pa jy later sal wees. Die boek Do Fathers Matter? sê:

    “’n Pa wat sy swanger maat help om te koop wat nodig is, haar na haar doktersbesoeke neem en die fetus sien op ultraklankbeelde of die hartklop hoor, sal meer geneig wees om by sy maat en baba betrokke te wees ná die geboorte.”

    “Ek wou nie hê dat my vrou moes voel dat sy alleen deur die swangerskap gaan nie. So ek het haar gehelp hoe ek ook al kon. Ons het selfs die baba se kamer saam reggekry. Dit was vir ons albei ’n spesiale tyd terwyl ons voorberei het vir die baba om te kom.” – James.

    Bybelwaarheid: “[Moenie] net aan julle eie belange dink nie, maar ook aan die belange van ander.” – Filippense 2:4.

  • Nadat jou kind gebore is. Jy kan ’n band met jou baba opbou deur met hom of haar te speel en vas te hou. Help om vir die baba te sorg. Wat jy as ’n pa doen, het ’n groot invloed op jou kind se ontwikkeling. Die band wat jy opbou, wys dat jou kind vir jou kosbaar is.

    “Wees op dieselfde vlak as jou kind. Speel. Wees laf. Moenie jouself te ernstig opneem nie. Onthou, jou kind se eerste indruk van wat liefde is, kom van jou as ’n ouer.” – Richard.

    ’n Nuwe pa hou sy baba vas.

    Bybelwaarheid: “Kinders is ’n erfdeel van Jehovah, en die vrug van die baarmoeder is ’n beloning.” – Psalm 127:3, voetnoot.

  • Terwyl jou kind grootword. Navorsing wys dat kinders wat na aan hulle pa is, beter op skool doen, minder emosionele probleme het en minder geneig is om dwelms te misbruik of om by misdaad betrokke te raak. Neem die tyd om ’n goeie verhouding met jou kind op te bou.

    “My seun het gesê dat hy die gesprekke wat ons op die lang pad en gedurende etenstyd gehad het, die meeste sal mis wanneer hy uittrek. Party van die belangrikste gesprekke wat ons gehad het, het gebeur toe ek dit die minste verwag het. Ons het hierdie gesprekke gehad omdat ons baie tyd saam spandeer het.” – Dennis.

    ’n Pa en sy tienerseun gesels lekker in ’n boot.

    Bybelwaarheid: “Hou . . . aan om noukeurig te let op hoe julle julle gedra, dat dit nie as onwyse persone is nie, maar as wyse persone, en maak die beste gebruik van julle tyd.” – Efesiërs 5:15, 16.

Wat maak die pa se rol uniek?

Die meeste mense verwag dat pa’s materieel vir hulle gesinne moet sorg en hulle fisies moet beskerm, en hulle verwag dat ma’s vir die gesin se emosionele behoeftes moet sorg (Deuteronomium 1:31; Jesaja 49:15). In party gesinne oorvleuel hierdie rolle tot ’n groot mate. Maar navorsers sê dat ’n pa en ’n ma elkeen ’n unieke bestanddeel bydra tot die resep om ’n ouer te wees.a

Judith Wallerstein, ’n navorser oor gesinne, vertel ’n persoonlike ondervinding wat hierdie punt illustreer. Sy skryf: “Toe my twaalf-jarige dogter deur ’n kar gestamp is, wou sy hê dat haar pa saam met haar in die ambulans moes ry omdat sy meer vertroue in hom gehad het om haar in daardie situasie te beskerm. Later in die hospitaal wou sy hê dat ek heeldag langs haar bed moes sit om haar te vertroos.”b

“’n Pa kan ’n gesin help om veilig en stabiel te voel. ’n Ma kan dalk sukkel om dit op haar eie reg te kry. Maar op dieselfde tyd skep ’n ma ’n liefdevolle atmosfeer terwyl sy met meegevoel luister. Albei werk saam as ’n span.” – Daniel.

Bybelwaarheid: “Luister, my seun, na die dissipline van jou pa, en moenie die onderrigting van jou ma verwerp nie.” – Spreuke 1:8.

Pa’s en dogters

As ’n pa leer jy jou dogter hoe sy deur ander mans behandel moet word. Sy leer hierdie les op die volgende twee maniere:

  • Deur op te let hoe jy haar ma behandel. Wanneer jy jou vrou liefhet en respekteer, sien jou dogter die belangrike eienskappe waarvoor sy moet soek wanneer sy in die toekoms ’n man kies. – 1 Petrus 3:7.

    ’n Tienerdogter glimlag terwyl sy haar ouers by die etenstafel dophou. Haar pa hou haar ma se hand vas terwyl hulle saam lag.
  • Deur op te let hoe jy haar behandel. Wanneer jy jou dogter respekteer, leer jy haar om haarself te respekteer. Sy leer ook dat ander mans haar op hierdie manier moet behandel.

    Maar wanneer ’n pa sy dogter die heeltyd kritiseer, kan dit haar waardeloos laat voel en kan sy vir goedkeuring by ander mans soek. En hierdie mans kan dalk slegte bedoelings hê.

    “’n Dogter wat die liefde en ondersteuning van haar pa het, sal nie sommer verlief raak op iemand wat nie die eienskappe van ’n goeie man het nie.” – Wayne.

a Baie ma’s het hulle kinders suksesvol grootgemaak sonder die hulp van ’n man.

b Uit die boek The Unexpected Legacy of Divorce.

Raad vir pa’s

Gregory; sy dogter, Olivia; en sy vrou, Audrey.

“Wanneer jou dogter ’n tiener word, moet jy selfs meer tyd met haar spandeer en haar laat weet dat jy, as haar pa, haar net soveel liefhet as toe sy jonger was. Dit sal haar help om veilig te voel en haar verseker dat sy na jou toe kan kom om enige onderwerp te bespreek. As jy te besig is, sal sy dit aanvoel en iewers anders aandag soek.” – Gregory, saam met sy dogter, Olivia, en sy vrou, Audrey.

Hersiening: Hoe kan ek ’n goeie pa wees?

● Wees betrokke voordat jou kind gebore word. Die soort man wat jy gedurende jou vrou se swangerskap is, wys watter soort pa jy sal wees nadat jou kind gebore is.

● Behou ’n goeie verhouding terwyl jou kind grootword. Kinders wat na aan hulle pa is, doen beter op skool, het minder emosionele probleme en is minder geneig om alkohol en dwelms te misbruik.

● Wees ’n goeie man. Wanneer jy jou vrou liefhet en respekteer, leer dit dogters hoe hulle deur ander mans behandel moet word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel