Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Junie bl. 8-13
  • Hoe om Christenvriendskappe sterk te hou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om Christenvriendskappe sterk te hou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GODDELIKE EIENSKAPPE HELP ONS OM ONS VRIENDSKAPPE STERK TE HOU
  • WANNEER JULLE NIE SAAMSTEM NIE
  • WANNEER PERSOONLIKHEDE VERSKIL
  • WANNEER ONS BROERS EN SUSTERS LY
  • Behou vriendskappe in ’n liefdelose wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Om nader aan mekaar te kom, is goed vir ons!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Volg Jehovah se nederigheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Junie bl. 8-13

17-23 AUGUSTUS 2026

LIED 90 Bemoedig mekaar

Hoe om Christenvriendskappe sterk te hou

“Julle [moet] die volgende eienskappe betoon: intense medelye, goedhartigheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.” – KOL. 3:12.

FOKUS

Hoe om uitdagings te hanteer wat ons vriendskappe met ander Christene kan bedreig.

1. Waar kan ons ware vriende vind?

“DIS swaar om alleen deur die lewe te stap in hierdie laaste dae. Jehovah weet, so hy gee ons vriende wat by ons staan.” Stem jy saam met hierdie openingswoorde van die Broadcasting-liedjie “Ware vriende”? Wat ’n seën is dit om ware vriende onder Jehovah se volk te vind! (Ps. 119:63). Ons is deel van ’n familie van aanbidders wat deur liefde saamgebind is.

2. Watter soort vriendskappe wil ons met ander Christene opbou?

2 Die vriendskappe wat ons met ons broers en susters wil opbou, is nie oppervlakkig nie. Dit is eerder betekenisvol en diep. Ons is deel van ’n familie van aanbidders wat Jehovah en Jesus liefhet, en hierdie liefde verenig ons (Joh. 13:35). Maar sulke Christenvriendskappe gebeur nie net vanself nie. Dit verg inspanning. En soos enige vriendskap tussen onvolmaakte mense kan hierdie vriendskappe uitdagings hê.

3. Hoekom kan dit ’n uitdaging wees om vriendskappe sterk te hou?

3 Ons voel natuurlik dalk nader aan party as aan ander. Hoekom? Ons het dalk dieselfde belangstellings, of ons het dalk soortgelyke persoonlikhede. Maar ons vind miskien dat dit ’n uitdaging kan wees om Christenvriendskappe met ander broers en susters sterk te hou. Soms stem ons dalk nie saam nie, en dit kan dit moeilik maak om na aan mekaar te bly. Miskien voel ons dat ons, as gevolg van persoonlikheidsverskille, te min in gemeen het om selfs oor die weg te kom. En soms kan ons verhoudings onder druk geplaas word wanneer ons broers en susters ernstig siek is of emosioneel ly. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jesus se voorbeeld ons kan help om vriendskappe sterk te hou wanneer ons uitdagings ondervind. Maar kom ons kyk eers hoe goddelike eienskappe ons kan help om ons Christenvriendskappe sterk te hou.

GODDELIKE EIENSKAPPE HELP ONS OM ONS VRIENDSKAPPE STERK TE HOU

4. Hoe kan ons ons vriendskappe versterk?

4 Om Christenvriendskappe te versterk, moet ons na die goeie in ander soek. As ons tyd met ons broers en susters deurbring, kan dit ons aan hulle goeie eienskappe herinner. Die apostel Paulus wou baie graag by sy broers en susters wees. Hy het aan die Tessalonisense geskryf: “Ons [het] alles in ons vermoë gedoen om julle weer te sien” (1 Tess. 2:17). Baie voel dat daar nie ’n beter manier as in-persoon-gesprekke is om hulle vriendskappe te versterk nie. Ons het baie geleenthede om dit te doen wanneer ons aan die bediening deelneem en vergaderinge en byeenkomste saam bywoon. Maar ons vind dalk dat om net met mekaar te assosieer, nie probleme voorkom wat ons vriendskappe kan bedreig nie.

5. Wat kan ons help om ’n vriendskap wat bedreig word, te beskerm? Illustreer. (Kolossense 3:12)

5 Goddelike eienskappe kan ons help om ’n vriendskap wat bedreig word, te beskerm. (Lees Kolossense 3:12.) As ons nederigheid, geduld, goedhartigheid en medelye aankweek, kan ons die uitdagings oorkom wat dit moeilik maak om vriendskappe sterk te hou. Om te illustreer, net soos olie ’n kar se enjin glad sal laat loop, sal goddelike eienskappe enige wrywing in ons verhoudings verminder. Kom ons bespreek nou drie uitdagings wanneer dit by ons verhoudings met ons broers en susters kom. Terwyl ons dit doen, sal ons bespreek hoe dit ons sal help om ware vriende met ander te bly as ons Jesus se nederigheid, geduld, goedhartigheid en medelye navolg.

WANNEER JULLE NIE SAAMSTEM NIE

6. Hoe kan meningsverskille vriendskappe bedreig?

6 Hoekom is dit ’n uitdaging? Wanneer twee mense nie saamstem nie, is elkeen dalk oortuig dat sy beskouing reg is. Stel jou twee broers voor wat nie saamstem oor wat die beste manier is om reëlings vir hulle velddiensgroep te tref nie. Elkeen is oortuig dat sy manier die beste is. Kan jy sien hoe hulle meningsverskil oor iets kleins groter kan word en hulle verhouding kan bedreig? Hulle laat dalk toe dat trots hulle affekteer. As die saak nie bespreek en opgelos word nie, kan dit veroorsaak dat hulle baie kwaad vir mekaar word. Met verloop van tyd kan hulle verder van mekaar af wegdryf en uiteindelik nie meer vriende wees nie – alles as gevolg van ’n klein meningsverskil.

7. Hoe het Jesus sy dissipels geleer dat nederigheid noodsaaklik is om meningsverskille te oorkom?

7 Leer uit Jesus se nederigheid. Hy het sy dissipels geleer wat noodsaaklik is om meningsverskille te oorkom – nederigheid. Die dissipels het al ’n ruk lank gestry oor wie die belangrikste onder hulle is. Om hulle te help om hulle diepgewortelde gesindheid te verander, het Jesus verduidelik dat hulle ander as hoër as hulleself moet beskou (Matt. 20:​25-28). Ja, hy het hulle geleer hoe om nederig te wees. Selfs op die aand voor sy dood, het Jesus vir hulle “die voorbeeld gestel” deur nederig die werk van ’n kneg te doen – hy het hulle voete gewas (Joh. 13:​3-5, 12-16). Deur dit te doen, het hy vir hulle gewys hoe hulle hulle vriendskap kon beskerm. As hulle ander as hoër as hulleself beskou het, sou hulle meer geneig wees om toe te gee wanneer hulle nie saamstem nie. Dit sou vir hulle makliker wees om goeie vriende te bly selfs wanneer hulle nie saamstem nie.

8. Hoe kan nederigheid jou help om Christenvriendskappe sterk te hou wanneer meningsverskille ontstaan? (Kolossense 3:13) (Sien ook prente.)

8 Hoe kan jy jou vriendskappe sterk hou? Nederigheid kan jou help om klein meningsverskille oor te sien en om ander vryelik te vergewe. (Lees Kolossense 3:13.) As jy nederig is, sal dit jou help om nie op ’n negatiewe manier te reageer wanneer daar meningsverskille is nie en om gevolglik goeie verhoudings te behou (Ps. 4:4). Al is lelike woorde gesê, onthou dat ons almal dinge sê waaroor ons later spyt is (Pred. 7:​21, 22). Vra jouself: ‘Is dit vir my belangriker om daarop aan te dring dat ek reg is, of is ons vriendskap belangriker?’ Jy kan kies om toe te gee en die ander persoon se opinie te aanvaar. Laat jouself toe om aan te beweeg deur nie te bly dink aan die kwessie waaroor julle nie saamgestem het nie en dit ook nie weer op te bring nie.

Collage: ’n Ouer broer volg Jesus se nederigheid na. 1. Jesus was die voete van ’n apostel. 2. ’n Ouer broer luister skepties terwyl ’n jonger broer na hulle gemeente se gebiedskaart wys. 3. Dieselfde broers doen vreugdevol saam velddiens.

Nederigheid kan jou help om klein meningsverskille oor te sien en om ander vryelik te vergewe (Sien paragraaf 8)a


9. Hoe sal nederigheid jou help as dit moeilik is om ’n meningsverskil op te los? (Spreuke 17:9)

9 Nederigheid kan jou ook help wanneer dit moeilik is om ’n meningsverskil op te los. Moenie stry om jou beskouing te regverdig nie. (Lees Spreuke 17:9; 1 Kor. 6:7.) Dit sal goed wees as jy die doelwit stel om jou vriend te behou. Baie het dit reggekry deur vriendelik met die ander persoon te gaan praat om die probleem op te los (Ps. 34:14). Jy kan sê: ‘Ons is al ’n ruk lank vriende. Kan ons praat oor wat gebeur het?’ Wees bereid om te erken dat ’n deel van die meningsverskil jou skuld is, om te sê dat jy weet dat jou vriend seergemaak voel en om dan om verskoning te vra. En as jou broer of suster ook om verskoning vra, aanvaar dit op ’n nederige manier (Luk. 17:​3, 4). Onthou, jou doel is nie om vas te stel wie reg en wie verkeerd is nie, maar om verby die meningsverskil te kom en die vriendskap sterk te hou. – Spr. 18:24.

WANNEER PERSOONLIKHEDE VERSKIL

10. Wat kan dit moeilik maak om vriende te bly?

10 Hoekom is dit ’n uitdaging? Ons vind dit dalk moeilik om goeie vriende te bly met broers en susters wie se persoonlikhede van ons s’n verskil. Party het dalk eienskappe wat ons irriteer. Ander het dalk nie sekere sosiale vaardighede nie omdat hulle in die verlede mishandel is of omdat hulle uit kulture kom wat geneig is om meer teruggetrokke of meer uitgaande te wees. Of ons is dalk net anders – ons is dalk uitgaande terwyl hulle skaam is of andersom.

11. Wat het Jesus gehelp om vriende te bly met dié wie se persoonlikhede van syne verskil het?

11 Leer uit Jesus se geduld. Hy het vriende gebly met dié wie se persoonlikhede van syne verskil het. Byvoorbeeld, die apostel Jakobus en die apostel Johannes het gewys dat hulle ambisieus is toe hulle vir belangrike posisies in die Koninkryk gevra het (Mark. 10:​35-37). In teenstelling hiermee het Jesus sy verhewe hemelse posisie en voorregte nederig agtergelaat om na die aarde toe te kom (Fil. 2:​5-8). Dink aan hoe anders hulle gesindhede was. Maar Jesus was nog steeds geduldig met Jakobus en Johannes en met ander.

12. Wat het Jesus gehelp om geduldig te wees met sy vriende?

12 Jesus het realistiese verwagtinge van sy vriende gehad. Hy het geweet dat Jakobus en Johannes se ambisieuse versoek die kompeterende gees van baie van die dissipels weerspieël het (Mark. 9:34). Jesus het dieselfde godsdiensagtergrond as hulle gehad. In daardie tyd was aansien en posisie baie belangrik, en daarom kon hy hulle denke verstaan. Tog was hy geduldig met hulle en het hy hulle tyd gegee om ontslae te raak van die trots en die ambisie wat hulle oor die jare ontwikkel het. – Mark. 10:​42-45.

13. Hoe sal geduld ons help om ons vriende te behou? (Efesiërs 4:2)

13 Hoe kan jy jou vriendskappe sterk hou? Hou aan om geduld te ontwikkel deur jou bes te doen om ander se eienskappe wat jou irriteer, te verdra (Spr. 14:29). Ons almal het ons eie eienskappe en gewoontes, waarvan baie nie tekortkominge is nie; dit is maar net deel van wie ons is. So ons waardeer dit beslis wanneer ander ons verdra. (Lees Efesiërs 4:2.) Dit is ook belangrik dat ons realisties moet wees deur toegewings vir ander te maak. Aan die een kant, dink aan hoe moeilik dit vir iemand wat stil en skaam is, om met ander te assosieer en te gesels. Aan die ander kant, probeer om nie ongeduldig te word met iemand wat uitgaande is en baie praat nie. Ons kan nie verwag om beste vriende met almal te wees nie, maar ons moet in gedagte hou dat selfs Christene wie se persoonlikhede baie van mekaar verskil, goed kan saamwerk.

14. Waarop sal ons geduld ons help om te fokus?

14 Geduld sal ons help om op die goeie eienskappe van ons broers en susters te fokus. Wanneer ons dit doen, is ons minder geneig om ons verskillende persoonlikhede te sien as ’n struikelblok tot ’n vriendskap. Byvoorbeeld, Jakobus en Johannes was selfsugtig en wou belangrike posisies hê; maar hulle gesindheid het gewys dat die Koninkryk vir hulle ’n werklikheid was. Jesus het hulle geloof raakgesien en waardeer. Wanneer ons na die goeie in ons vriende soek, volg ons Jesus sowel as sy Vader, Jehovah, na.

15. Wie kan ons help om ons vriendskappe sterk te hou met dié wie se persoonlikhede van ons s’n verskil?

15 Die belangrikste van alles, ons kan Jehovah in gebed vra om ons te help om ons vriendskappe sterk te hou met dié wie se persoonlikhede van ons s’n verskil. Probeer potensieel moeilike situasies identifiseer, en bid vooraf om kalm te bly. Onthou dat Jehovah, as ons Skepper, verstaan dat ons almal unieke individue is. So wanneer jy bid, wees verseker dat Jehovah weet wat jy nodig het om te bly volhard. En wanneer jy voel dat jou geduld getoets word, vra Jehovah vir heilige gees om jou te help om jou reaksie te beheer. – Luk. 11:13; Gal. 5:​22, 23.

WANNEER ONS BROERS EN SUSTERS LY

16. Watter uitdagings het ons dalk wanneer ons broers en susters op die een of ander manier ly?

16 Hoekom is dit ’n uitdaging? Wanneer ons broers en susters fisies ly of emosionele probleme ondervind, reageer hulle dalk op maniere wat vir ons moeilik is om te hanteer. Byvoorbeeld, hulle sonder hulle miskien af, of hulle is miskien geïrriteerd of selfs onvoorspelbaar. Dalk sal hulle dinge doen of sê wat ons seermaak (Job 6:​2, 3). Omdat ons moontlik nie bewus is van die uitdagings wat ons broers en susters ondervind nie, verwag ons dalk te veel van hulle.

17. Wat leer jy uit die manier hoe Jesus die blinde man Bartimeus behandel het?

17 Leer uit Jesus se goedhartigheid en medelye. Hy was goedhartig en vol medelye teenoor dié wat gely het, selfs dié wat hy nog nie voorheen ontmoet het nie. Byvoorbeeld, kyk na hoe hy die blinde man Bartimeus behandel het. Toe Bartimeus hoor dat Jesus verbykom, het hy hard uitgeroep om Jesus se aandag te kry. Party in die skare het vir Bartimeus gesê om stil te bly. Maar hy was desperaat en wou hê dat Jesus hom moes genees, en daarom het hy al hoe meer uitgeroep. Was hierdie gedrag vir party in die skare moeilik om te hanteer? Miskien. Maar Jesus het hom “baie jammer” gekry, ’n uitdrukking wat sy intense medelye beskryf (Matt. 20:34; Mark. 10:​46-52). Hy het liefdevol met Bartimeus gepraat en hom vir sy geloof geprys. En Jesus het ’n wonderwerk gedoen en Bartimeus gehelp om weer te sien.

18. Hoe moet jy jou vriende wat ly, behandel? (1 Tessalonisense 5:14)

18 Hoe kan jy jou vriendskappe sterk hou? Wees goedhartig en vol medelye. Hierdie mooi eienskappe sal jou help om ‘vertroostend te praat’ met jou broers en susters wat fisies of emosioneel ly. (Lees 1 Tessalonisense 5:14.) Onthou dat ’n ware vriend gereed is om te help, veral gedurende “moeilike tye” (Spr. 17:17). So ’n vriend simpatiseer nie net met dié wat ly nie, maar doen ook alles wat hy kan om emosionele ondersteuning, woorde van aanmoediging en praktiese hulp te voorsien.

19. Hoe kan ons goedhartigheid en medelye betoon? (Sien ook prente.)

19 Wat is ’n paar praktiese maniere waarop jy goedhartigheid en medelye kan betoon? Jy kan ’n vriend se pyn natuurlik nie genees nie. Maar jy kan na die beste van jou vermoë empatie hê met sy omstandighede (Matt. 7:12; 1 Pet. 3:8). Luister terwyl hy vir jou vertel wat hy deurmaak. As dit gepas is, probeer woorde vind wat hom sal vertroos (Spr. 12:25). Wees versigtig om nie verkeerde gevolgtrekkings te maak nie (Spr. 18:13). Probeer hard om geduldig met hom te wees en om realistiese verwagtinge van hom te hê. – Ef. 4:32.

Collage: ’n Suster vertroos ’n ander suster. 1. Sy luister mooi terwyl haar vriend tranerig sê hoe sy voel. 2. Later bring sy vir haar vriend tuisgemaakte koekies.

Ware vriende voorsien vertroosting deur middel van medelye en goedhartigheid (Sien paragraaf 19)


20. Watter soort vriend wil jy wees?

20 Ons almal waardeer die vriendskappe wat ons met ons Christenbroers en -susters geniet. Maar dit is goed om te onthou dat ons, omdat ons onvolmaak is, soms dinge doen wat ons nie wil doen nie. Baie van ons is deur slegte ondervindinge in die lewe gevorm. As gevolg daarvan waardeer ons veral dié wat hulle Christenvriendskappe sterk hou deur nederig, geduldig en goedhartig te wees en medelye te hê. Mag ons ons bes probeer om daardie soort vriend te wees.

HOE KAN JY CHRISTENVRIENDSKAPPE STERK HOU . . .

  • wanneer daar iets is waaroor julle nie saamstem nie?

  • wanneer julle persoonlikhede verskil?

  • wanneer jou broer of suster ly?

LIED 124 Bly lojaal

a BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouer broer en ’n jonger broer stem nie saam oor hoe om die gebied van die gemeente te organiseer nie. Later is hulle gelukkig terwyl hulle saam velddiens doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel