Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Mei bl. 14-19
  • Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MOET JY ADDISIONELE OPVOEDING KRY?
  • ONDERSOEK JOU MOTIEWE
  • DINK OOR DIE VOORDELE EN NADELE VAN DIE OPVOEDING
  • Bly geestelik sterk terwyl jy addisionele opvoeding kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Is die Bybel teen geleerdheid gekant?
    Ontwaak!—1998
  • Opvoeding—Gebruik dit om Jehovah te loof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Geleerdheid—Wat dit kos, wat dit bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Mei bl. 14-19

20-26 JULIE 2026

LIED 133 Aanbid Jehovah in jou jeug

Maak wyse besluite wanneer dit by addisionele opvoeding kom

“Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – SPR. 14:15.

FOKUS

Faktore en Bybelbeginsels om te oorweeg wanneer jy besluit of jy addisionele opvoeding gaan kry.

1-2. (a) Watter besluite moet jongmense maak? (b) Wat beteken die term “addisionele opvoeding”? (Sien “Wat dit beteken”.)

“WAT wil jy graag doen wanneer jy groot is?” As jy jonk is, het jy hierdie vraag sekerlik al baie keer gehoor. Die beste loopbaan wat jy kan kies, is ’n loopbaan in die voltydse diens. Maar jy sal jouself ook finansieel moet onderhou (2 Tess. 3:10). Jy het sekerlik al gedink aan watter sekulêre werk jy in die toekoms kan doen.

2 Om werk te vind, kies party jongmense – gewoonlik onder hulle ouers se leiding – om addisionele opvoeding te kry nadat hulle die vereiste opvoeding waar hulle woon, voltooi het.a Miskien het jy al gewonder of jy addisionele opvoeding moet kry. Indien wel, watter soort? Hierdie artikel sal Bybelbeginsels bespreek wat jou kan help om wyslik oor jou opvoeding te dink. Wyse denke lei tot wyse besluite. Al is hierdie artikel hoofsaaklik vir jongmense, kan dit enige Christen help wat addisionele opvoeding oorweeg. Die beginsels kan ook ouers help om hulle kinders te lei.

MOET JY ADDISIONELE OPVOEDING KRY?

3. Hoekom oorweeg party Christene dit dalk om addisionele opvoeding te kry?

3 In party plekke kan ’n persoon genoeg geld verdien sonder verdere opvoeding. In ander plekke kan addisionele opvoeding ’n persoon help om werk te vind wat beter betaal of wat beter ure het. Dit kan ’n Christen in staat stel om meer tyd in die predikingswerk of in ander teokratiese aktiwiteite te spandeer. Maar addisionele opvoeding vereis opofferinge en kan sekere uitdagings vir ’n Christen inhou.

4. Wie moet besluit of ’n Christen addisionele opvoeding sal kry? (Sien ook voetnoot.)

4 Die Bybel sê dat elke persoon verantwoordelikheid moet neem vir sy eie besluite (Gal. 6:5). So elke volwasse Christen moet self besluit of hy of sy addisionele opvoeding gaan kry.b Ouers is ook verantwoordelik vir besluite oor hulle jong kind se opvoeding (Ef. 6:1). En hulle leiding kan hulle kind voorberei om wyse besluite te maak oor opvoeding wanneer hy ’n volwassene is. – Spr. 22:6.

5. Wanneer moet ’n persoon begin dink aan addisionele opvoeding, en hoekom? (Sien ook prent.)

5 Jongmense moet dikwels besluit of hulle addisionele opvoeding sal kry voordat hulle hulle vereiste opvoeding voltooi. Dit is natuurlik wys vir ’n jong persoon om hierdie onderwerp met sy ouers te bespreek lank voordat hy ’n besluit moet maak. Dit sal hulle tyd gee om saam navorsing te doen oor verskillende opsies. Hulle sal dalk vakke by die skool kan kies wat hom sal voorberei vir sy toekomstige opvoeding of werk. Moet hulle ’n besluit maak voordat die jong persoon sy vereiste opvoeding voltooi? Nie noodwendig nie (Spr. 21:5). Party jongmense het gekies om skool klaar te maak, werk te vind en te begin pionier terwyl hulle besluit of hulle addisionele opvoeding sal kry. Selfs later in die lewe kan ’n persoon so ’n besluit oorweeg.

’n Tienersuster en haar ouers bespreek haar opsies vir addisionele opvoeding. Hulle raadpleeg ’n hele paar skoolbrosjures, ’n JW Broadcasting-video en die Bybel.

Christenouers help hulle kind om wyse besluite oor addisionele opvoeding te maak (Sien paragraaf 5)


6. Wat kan iemand help om ’n wyse besluit te maak oor addisionele opvoeding?

6 Wat kan jou help om ’n wyse besluit te maak oor addisionele opvoeding? Sorg dat jy oor die saak bid (Jak. 1:5). En oorweeg dit om die volgende stappe te neem. Eerstens, ondersoek jou motiewe eerlik (Ps. 26:2). Tweedens, dink mooi oor die voordele en nadele van die opvoeding wat jy oorweeg (Spr. 14:15). Kom ons bespreek hierdie stappe een vir een.

ONDERSOEK JOU MOTIEWE

7. Waarvoor moet Christene versigtig wees wanneer hulle dit oorweeg om addisionele opvoeding te kry?

7 As jy daaraan dink om verdere opvoeding te kry, moet jy jouself hierdie belangrike vraag vra: ‘Hoekom wil ek hierdie soort opvoeding kry?’ Baie mense kry opvoeding sodat hulle ’n werk kan vind wat hulle sal geniet of een wat beter betaal. Is hierdie motiewe verkeerd? Nie noodwendig nie (1 Tim. 5:8). Maar die Bybel sê dat dit gevaarlik is om materialisties te wees en om sekuriteit in hierdie wêreld te soek (Spr. 23:​4, 5; 1 Tim. 6:​8-10; 1 Joh. 2:17). As dit jou motief is om rykdom of aansien te verkry, sal jy dalk nie net leeg voel nie, maar jy kan ook van Jehovah af wegdryf.

8-9. (a) Hoe moet Christene opvoeding beskou? (Matteus 6:33) (b) Wat leer jy uit die kommentare van Josefina, Morine en Iris?

8 Hoe moet jy dan jou opvoeding beskou? Niks moet vir ons belangriker wees as om Jehovah te dien nie (Matt. 22:​37, 38; Fil. 3:8). So beskou opvoeding as ’n manier om jou te help om jouself te onderhou terwyl jy jou lewe daarop fokus om Jehovah heelhartig te dien. – Lees Matteus 6:33.

9 Let op wat party Christene gehelp het om die regte beskouing van addisionele opvoeding te behou. Josefina, van Chili, sê: “Sekulêre studies was ’n manier om my te help om soveel as moontlik in Jehovah se diens te doen. My opvoedingsprogram moes om my geestelike doelwitte draai, nie andersom nie.” ’n Suster met die naam Morine het ’n jaar lange kursus om ’n haarkapper te word, gekies. Hoekom? Sy sê: “My doelwit was om te dien waar daar meer verkondigers nodig is. So ek het ’n kursus gesoek wat my sou help om daardie doelwit te bereik. Toe ek met die kursus klaar was, het ek gebruik wat ek geleer het om as ’n haarkapper te werk sodat ek geld kon spaar om te trek. En nadat ek getrek het na waar daar meer verkondigers nodig is, het my opvoeding my gehelp om werk te vind.” Iris, wat ’n langer kursus voltooi het om ’n tandarts te word, sê: “Addisionele opvoeding het dalk sekere voordele, maar dit sal jou nooit ware sukses en bevrediging gee nie. Die formule is eenvoudig: As Jehovah die middelpunt van jou lewe is, is bevrediging en sukses gewaarborg.” Ja, wanneer ons vriendskap met Jehovah die belangrikste ding in ons lewe is, sal ons besluite maak wat tot ewige geluk lei.

DINK OOR DIE VOORDELE EN NADELE VAN DIE OPVOEDING

10. Hoe kan die beginsel in Deuteronomium 32:29 toegepas word wanneer jy besluit of jy addisionele opvoeding moet kry of nie?

10 Jy het dalk ’n spesifieke kursus of opleidingsprogram in gedagte. Maar dit is ook goed om ander moontlikhede te oorweeg – of in dieselfde veld of in ander velde. (Vergelyk Spreuke 18:17.) Vandag is daar opsies om opvoeding te kry wat nie in die verlede bestaan het nie, soos aanlyn kursusse. En moenie vergeet om te kyk of jy jouself kan onderhou sonder verdere opvoeding nie. Johanna, van Finland, het byvoorbeeld nie enige addisionele opvoeding gekry nie. Sy sê: “Nadat ek skool klaargemaak het, het ek ’n deeltydse werk gekry en begin pionier. Ek het ’n verskeidenheid werke gehad, en ek het gesien hoe Jehovah altyd sy belofte hou om te voorsien wat ons nodig het.” Onthou dat alle besluite oor addisionele opvoeding – of ons dit moet kry en watter soort om te kry – voordele en nadele het. So vra jouself: ‘Is die voordele die nadele werd?’ (Lees Deuteronomium 32:29; 1 Kor. 10:23.) Kom ons kyk na ’n paar faktore wat jou sal help om daardie vraag te beantwoord.

11. Hoekom is dit belangrik om te dink aan die rooster van die opvoeding of opleiding? (Sien ook prente.)

11 Die rooster. Dink aan hoeveel ure jy elke week sal spandeer om klasse by te woon, opleiding te kry en huiswerk te doen. Sal jy nog tyd hê vir jou geestelike roetine en gesinsverantwoordelikhede? (Fil. 1:10). Kan jou sekulêre studies jou verstandelik te moeg laat voel om vir vergaderinge voor te berei of persoonlike studie te doen? Dit is wat met Jeroz, van Indië, gebeur het. Hy sê: “Ek het gesukkel om op geestelike aktiwiteite te fokus. Ek het soms nie by vergaderinge uitgekom nie. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat die kursus nie die tyd en energie werd was nie.” Maar party kursusse verg nie so baie tyd nie; party is deeltyds, ander vereis min huiswerk. Rabeca, van Mosambiek, is byvoorbeeld gelukkig met haar keuse van opvoeding. Sy sê: “Die kursus was net twee uur per dag. Dit het my in staat gestel om aan te hou om ’n gewone pionier te wees.”

Collage: ’n Broer oorweeg of hy addisionele opvoeding met al sy ander verantwoordelikhede kan balanseer. 1. Hy kom sy toewysing na om die mikrofoon by die vergadering te dra. 2. Hy neem deel aan die deur-tot-deur-bediening. 3. Hy werk as ’n barista. 4. Hy woon ’n klas by ’n skool by.

As jy dit oorweeg om addisionele opvoeding te kry, maak seker dat jy tyd sal hê vir al jou belangrike verantwoordelikhede (Sien paragraaf 11)


12. Hoe kan ’n persoon die beste gebruik van sy tyd maak wanneer dit by opvoeding kom? (Prediker 12:1)

12 Die lengte. Dink aan hoeveel maande of jare dit sal neem om die opvoedingsprogram te voltooi. Sal dit die beste gebruik van jou tyd wees om daardie opvoeding te kry? (Ef. 5:​15-17). As jy jonk is, sal die opvoedingsprogram jou in staat stel om Jehovah gedurende jou jeug jou beste te gee, dalk in die voltydse bediening? (Lees Prediker 12:1.) Is daar korter opsies in dieselfde veld? Byvoorbeeld, beroepsopleiding en ambagskole kan jou praktiese vaardighede leer in minder tyd en vir goedkoper as universiteite. Mario, van Chili, sê: “Ek het ’n twee jaar lange tegniese kursus gekies wat goedkoper was as ’n universiteitskursus. Ek het net vier dae ’n week klasse gehad, en daarom kon ek pionier terwyl ek die kursus gedoen het.”

13. Watter uitwerking kan waar ’n persoon bly terwyl hy addisionele opvoeding kry, op hom hê?

13 Die plek. Jy vind dalk ’n opvoedingsprogram wat naby die huis is. Maar wat as jy ’n program in ’n ander stad vind? Of wat as die opvoedingsprogram vereis dat jy op kampus bly? Wees bewus van die feit dat dit ’n ernstige geestelike gevaar inhou om van jou gesin af weg te trek, veral as jy saam met mense gaan bly wat nie dieselfde dinge glo wat jy glo nie (Spr. 22:3; 1 Kor. 15:33). Matias, van Mosambiek, het ’n goedkoop jaar lange kursus voltooi. Maar hy is spyt oor sy besluit. Hoekom? Hy sê: “Ek moes die heeltyd op ’n koshuis bly. Ek was elke dag versoek om verkeerde dinge te doen. Ek beveel ’n kursus aan wat jou nie van jou gesin af sal wegneem nie.” ’n Suster van Rusland sê: “Ek het gevare en versoekings vermy deur by my ouers te bly in plaas daarvan om op kampus of op ’n koshuis te bly.” Jy kan dalk selfs ’n aanlyn kursus vind.

14. Hoe kan die beginsel in Lukas 14:28 jou help wanneer jy dit oorweeg om addisionele opvoeding te kry?

14 Die finansiële koste. Party kursusse is goedkoop of word dalk deur die regering gedek. In sulke gevalle kan addisionele opvoeding ’n bekostigbare manier wees om kennis en vaardighede te verkry wat jou sal help om werk te vind. Maar in ander gevalle is addisionele opvoeding duur. Daar is dalk ook indirekte koste, soos privaat of ekstra klasse om jou te help om te kwalifiseer om aanvaar te word. Party kursusse laat studente met baie jare se skuld. Adilson, van Mosambiek, is spyt oor sy keuse van opvoeding. Hy sê: “My gesin het kos en ander basiese benodigdhede opgeoffer om vir my vier jaar lange kursus te betaal.” Terwyl jy ’n kursus of opleidingsprogram oorweeg, vra jouself: ‘Hoeveel sal dit kos? Kan ek of my gesin dit bekostig? Is daar ’n goedkoper opsie?’ (Lees Lukas 14:28.) ‘As ek skuld maak, hoe lank sal dit my neem om dit af te betaal? Sal my toekomstige werk genoeg betaal om my te onderhou en die lening af te betaal?’ – Spr. 22:7.

15. Hoekom moet jy dink aan die werksgeleenthede voordat jy op ’n spesifieke soort opvoeding besluit?

15 Die werksgeleenthede. Dink aan die soort werke wat nodig is waar jy bly of waar jy wil bly. Sal die opvoeding jou regtig help om ’n werk te vind? Party kursusse bied min praktiese opleiding. Hulle is eerder meestal teoreties, of hulle fokus eerder op intellektuele, akademiese of filosofiese onderwerpe (Kol. 2:8). ’n Suster van Indië sê: “My kursus het my nie gehelp om die praktiese vaardighede te ontwikkel wat werkgewers vereis nie. As gevolg daarvan kon ek nie werk vind in die veld wat ek studeer het nie.” Ander opvoeding is dalk in ’n veld met min werksgeleenthede. Sublime, van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, het ’n kursus om lugversorgers reg te maak, voltooi. Maar hy sê: “Waar ek bly, herstel die meeste mense self dinge, so dit kan moeilik wees om werk te vind.”

16. Hoekom is dit goed om te dink aan die soort werk wat jy sal doen nadat jy jou opvoeding voltooi het?

16 Dink ook aan die soort werk wat jy heel moontlik sal vind. Sal jy dit geniet? (Pred. 3:​12, 13). Hoe sal die werksomgewing wees? Is dit ’n industrie wat daarvoor bekend is dat dit onveilig, kompeterend of stresvol is? Hoeveel geld betaal daardie soort werk oor die algemeen? Sal dit genoeg wees om jouself te onderhou? Sal jy verdere opvoeding moet kry om die werk te behou? Die belangrikste van alles, sal dit jou toelaat om Koninkryksbelange eerste te stel? (Pred. 12:13). Wanneer werk skaars is, kan ons natuurlik nie te kieskeurig wees nie. Maar die keuse wat jy oor opvoeding maak, kan jou werksgeleenthede in die toekoms affekteer. Tabitha, van Indië, het ’n ses maande lange naaldwerkkursus gekies. Sy sê: “Ek het geredeneer dat dit my sou help om te pionier as ek as ’n kleremaker werk. Dit is ’n werk wat altyd in aanvraag is, my ’n aanpasbare rooster gee en nie ’n groot belegging vereis nie.” Die kursus het Tabitha gehelp om werk te vind om haar in die pionierdiens te onderhou.

17. (a) Hoe kan ’n Christen die inligting kry wat hy nodig het om ’n wyse besluit oor opvoeding te maak? (b) Watter Bybelbeginsels help met hierdie besluit? (Sien die venster “Bybelbeginsels om te oorweeg”.)

17 Ons het verskeie faktore bespreek om te oorweeg in verband met addisionele opvoeding. Hoe kan jy die inligting kry wat jy nodig het om ’n wyse besluit te maak? Doen navorsing oor potensiële kursusse deur die instituut of sy webwerf te besoek. Kyk hoeveel werke daar in daardie veld beskikbaar is. Jy kan ook praat met dié wat soortgelyke opleiding voltooi het of wat in daardie veld werk (Spr. 13:10). Vra hulle: “Wat is die voordele en nadele van daardie opvoeding of werk?” Praat met ander wat Jehovah gelukkig dien (Spr. 15:22). Watter opvoeding en werk stel hulle voor? Hulle noem dalk selfs ’n soort werk wat jy nie oorweeg het nie.

Bybelbeginsels om te oorweeg

  • Wat is my motiewe om addisionele opvoeding te kry? (Matt. 6:33; 1 Tim. 6:​8-10)

  • Hoeveel tyd sal ek elke week aan klasse en huiswerk spandeer? (Fil. 1:10)

  • Hoeveel jare sal die opvoeding neem om te voltooi? (Ef. 5:​15-17)

  • Waar sal ek bly? (1 Kor. 15:33)

  • Hoeveel sal die opvoeding kos? (Luk. 14:28)

  • Sal die opvoeding my help om werk te vind wat my kan onderhou en help om my geestelike doelwitte na te streef? (Pred. 12:13)

18. Wat moet ons onthou?

18 Soos ons gesien het, het addisionele opvoeding voordele en nadele. So bid en dink oor jou opsies. Onthou, verdere opvoeding kan ’n mate van materiële stabiliteit voorsien, maar die enigste manier om werklik gelukkig te wees, is om ’n sterk vriendskap met Jehovah te hê (Ps. 16:​9, 11). Jehovah sal altyd vir sy volk sorg, ongeag watter sekulêre opvoeding hulle het (Heb. 13:5). Maar sê nou jy het besluit om addisionele opvoeding te kry? Wat kan jou help om na aan Jehovah te bly gedurende jou studies? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe is Galasiërs 6:5 van toepassing op besluite oor addisionele opvoeding?

  • Hoe moet Christene verdere opvoeding beskou?

  • Watter faktore moet ’n Christen oorweeg wanneer hy besluit of hy addisionele opvoeding gaan kry?

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

a WAT DIT BETEKEN: In hierdie en die volgende artikel verwys “addisionele opvoeding” na enige sekulêre opvoeding of opleiding buiten die basiese opvoeding wat deur die regering voorsien word, insluitende universiteite, vakleerlingskappe, ambagskole, tegniese skole, beroepsopleiding, kort kursusse en voortgesette opvoeding.

b In die verlede het ons publikasies Christene ontmoedig om sekere soorte addisionele opvoeding te kry. Die artikel “Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?” in Die Wagtoring van 1 Oktober 2005 het byvoorbeeld die gevare genoem wat met hoër onderwys gepaardgaan. Al bestaan hierdie gevare nog, is die besluit om addisionele opvoeding te kry ’n persoonlike saak. Elke Christen – en in die geval van jong kinders, elke gesinshoof – moet Bybelbeginsels en die unieke faktore wat met ’n sekere opvoedingsprogram gepaardgaan, biddend oorweeg voordat hy ’n besluit maak. Geen Christen – insluitende ouermanne – moet ’n ander Christen se persoonlike besluit oor hierdie saak oordeel nie. – Jak. 4:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel