6-12 APRIL 2026
LIED 82 ‘Laat julle lig skyn’
Hoe om ons ongelowige familielede te help
“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie.”– GAL. 6:9.
FOKUS
Hoe om goeie verhoudings met ongelowige familielede te behou en hoe om hulle geestelik te help, as dit moontlik is.
1-2. Wat het dalk ons verhoudings met ons familielede geaffekteer toe ons die waarheid vir die eerste keer geleer het?
JESUS het vir ’n man wat sy volgeling wou word, gesê: “Gaan huis toe na jou familielede, en vertel vir hulle alles wat Jehovah vir jou gedoen het” (Mark. 5:19). Toe hy dit sê, het Jesus ’n natuurlike menslike neiging erken – die begeerte om goeie nuus met ons geliefdes te deel.
2 Onthou jy hoe jy gevoel het toe jy die goeie nuus vir die eerste keer gehoor het? Jy kon dit waarskynlik nie vir jouself hou nie! Maar jou geliefdes het dalk nie positief gereageer nie. Of die manier hoe jy die waarheid aangebied het, het hulle dalk aanstoot gegee. As dit die geval is, hoe kan jy goeie verhoudings met jou familielede behou of herstel sonder om Christelike standaarde prys te gee?
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 In hierdie artikel sal ons sien: (1) Hoe medelye ons kan motiveer om persoonlike belangstelling in ons ongelowige familieledea te toon, al wil hulle nie na die goeie nuus luister nie; (2) hoe om verby negatiewe woorde en dade te kyk; (3) hoe ons geduldige en hoopvolle gesindheid ons familielede kan help om die waarheid te herken; en (4) hoe ons vir hulle kan wys dat ons hulle liefhet.
LAAT MEDELYE JOU MOTIVEER OM HULLE TE HELP
4. Wat het Jesus gedoen wanneer mense nie in sy boodskap belanggestel het nie?
4 Jesus het nie vinnig tou opgegooi met dié wat nie in sy boodskap belanggestel het nie. Hy het homself vergelyk met ’n werker in ’n wingerd wat alles gedoen het wat hy kon om ’n onproduktiewe vyeboom so ver te kry om vrugte te dra (Luk. 13:6-9). Toe Jesus daardie illustrasie vertel, het hy al meer as drie jaar lank probeer om sy mede-Jode te help om geloof in hom te ontwikkel. Hoekom het hy aanhou probeer om hulle te help? Jesus het medelye vir mense gehad, en dit het hom gehelp om geduldig met hulle te wees.
5. Wat het Jesus gemotiveer om medelye aan sy mede-Jode te betoon?
5 Jesus het medelye gevoel vir sy mede-Jode omdat die godsdiensleiers hulle nie gehelp het om ware geloof in God te ontwikkel nie. Jesus het gesien dat die mense “soos skape sonder ’n herder” is (Mark. 6:34). Kort voor sy dood het Jesus selfs oor Jerusalem gehuil omdat hy geweet het dat die meeste van die inwoners hulle lewens sou verloor as gevolg van ’n gebrek aan geloof (Luk. 19:41-44). Wanneer ons ook medelye vir ons familielede ontwikkel, sal ons gemotiveerd wees om hulle te help.
6. Hoekom moet ons geduldig wees met ons ongelowige familielede? (Galasiërs 6:9)
6 Lees Galasiërs 6:9. Al stel ons familielede nog nie in ons oortuigings belang nie, moet ons geduldig wees met hulle en nie ophou “om te doen wat goed is nie”. Ons weet dat dit tyd neem vir ’n persoon om diepgewortelde vooroordeel te oorkom en om geloof op te bou. Was jy op een stadium soos dié wat “geen hoop gehad [het] nie en . . . sonder God in die wêreld” was? (Ef. 2:12). As dit die geval is, het iemand jou beslis gehelp. Word jy nie ook beweeg om jou familie se geestelike behoeftes te help bevredig nie, indien moontlik?
KYK VERBY NEGATIEWE WOORDE EN DADE
7. Wat het dalk gekeer dat Jesus se halfbroers geloof in hom stel?
7 Jesus se halfbroers het waarskynlik gehoor van die wonderwerke wat Jesus in Galilea gedoen het (Luk. 4:14, 22-24). Maar hulle het aan die begin nie geloof in hom gestel nie (Joh. 7:5). Hoekom nie? Die Bybel sê nie. Maar dit openbaar ten minste twee dinge wat party Jode teruggehou het om Jesus se dissipels te word. Party was bang dat hulle deur die gemeenskap verwerp sou word (Joh. 9:18-22). Ander het Jesus van kleins af geken, en dit was vir hulle moeilik om te glo dat hy God se verteenwoordiger is (Mark. 6:1-4). Jesus se halfbroers is dalk ook deur hierdie soort denke beïnvloed. Kan soortgelyke faktore ons geliefdes beïnvloed?
8. Wat veroorsaak dalk dat ons ongelowige familielede dinge sê of doen wat nie liefdevol is nie?
8 Dink aan hoekom hulle sekere dinge sê of doen. Jesus se broers was dalk onder die familielede wat eenkeer gesê het dat hy “van sy kop af geraak” het (Mark. 3:21). Hoekom het hulle dalk tot daardie gevolgtrekking gekom? Die konteks wys dat Jesus so besig was om te preek en om mense te genees dat hy nie eers tyd gehad het om iets te eet nie (Mark. 3:20). Het sy familielede gedink dat hy ongebalanseerd is? Dit is moontlik. Ons familielede dink dalk dat ons ons godsdiens heeltemal te ernstig opneem. As hulle so voel, sal dit goed wees as ons deur ons dade wys hoe redelik ons eintlik is.
9. Wat kan ons familielede help om hulle opinie van ons te verander? (1 Petrus 3:1, 2) (Sien ook prente.)
9 Laat jou gedrag vir jou praat. Ons liefdevolle woorde en dade kan ons familielede beweeg om hulle opinie oor ons te verander. (Lees 1 Petrus 3:1, 2.) ’n Ongelowige man kan maklik eensaam of ontsteld voel wanneer sy vrou vergaderinge bywoon of in die bediening uitgaan. Omdat sy nie wil hê dat hy so moet voel nie, sal sy dalk haar rooster van geestelike aktiwiteite verander sodat sy meer tyd met hom kan spandeer. Sy kan byvoorbeeld velddiens doen wanneer haar man besig is of wanneer hy nie by die huis is nie. Deur aanpasbaar en redelik te wees, kan ’n Christenvrou haar man help om sy opinie van die Getuies te verander.
Ons liefdevolle woorde en dade kan ’n ongelowige maat se opinie oor die Getuies verander (Sien paragraaf 9)g
10. Hoe kan ons Jesus navolg wanneer ons gekritiseer word?
10 Moenie onder druk voel om op elke bietjie kritiek te reageer nie. Toe Jesus valslik daarvan beskuldig is dat hy te veel eet en drink, het hy homself nie probeer verdedig nie. Hy het mense eerder aangemoedig om na die feite te kyk (Matt. 11:19). Hy het ook deur sy voorbeeld gewys dat hy ’n gebalanseerde beskouing van die lewe het. (Vergelyk Johannes 2:2, 6-10.) Net so moet jy nie voel dat jy op elke bietjie kritiek moet reageer nie. Wys eerder vir jou familielede deur jou dade dat jy gebalanseerd en gelukkig is en laat hulle hulle eie gevolgtrekkings maak. Hulle word dalk beweeg om valse inligting te verwerp wat hulle oor ons gehoor het.
BLY GEDULDIG EN HOOPVOL
11. Hoe het Jesus sy ongelowige broers behandel?
11 Die Evangelieverslae wys dat Jesus geduldig met sy broers gebly het. Byvoorbeeld, hulle was blykbaar ook in Kana toe Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het (Joh. 2:11, 12). Soos ons vroeër genoem het, het Jesus se broers nie geloof in hom gestel nie. Maar Jesus het hulle nie afgeskryf nie. Die Bybel wys dat Jesus omtrent drie jaar ná sy eerste wonderwerk in Kana liefdevol met sy broers gepraat het. – Joh. 7:5-8.
12. Wat kan ons help om hoopvol te bly dat party van ons familielede sal verander?
12 Ons duidelike begrip van Jehovah se genade kan ons help om hoopvol te bly. Wanneer valse godsdiens tot ’n einde kom, sal ons familielede dalk onthou wat ons vir hulle oor hierdie gebeurtenis gesê het (Op. 17:16).b Hulle sal dalk selfs by ons aansluit in rein aanbidding nadat die groot verdrukking begin het. En as ons familielede nou moeilike tye deurmaak, sal ons beslis alles doen wat ons kan om daar vir hulle te wees. Dalk sal hulle meer oor Bybelwaarhede wil leer wanneer hulle sien dat ons liefde en goedhartigheid opreg is.
WYS VIR HULLE DAT JY HULLE LIEFHET
13. Al is ons besig in Jehovah se diens, waarvoor moet ons versigtig wees?
13 Al is ons besig in Jehovah se diens, wil ons nie ons familielede die indruk gee dat ons nie tyd vir hulle het of dat ons hulle nie meer liefhet nie (Matt. 7:12). Hoe kan ons vir hulle wys dat ons vir hulle omgee? Kyk na ’n paar maniere.
14-15. Wat is een manier om te wys dat ons ons ongelowige familielede liefhet? Gee ’n voorbeeld.
14 Bly in kontak, en wys vir hulle dat jy hulle liefhet. Ons wys dat ons ons familielede liefhet deur gereeld vir hulle te laat weet hoe dit met ons gaan. Byvoorbeeld, ons kan vir hulle ’n teksboodskap stuur saam met foto’s van iets lekkers wat ons onlangs gedoen het, soos ’n vakansie of ’n kuier saam met vriende. ’n Beskeie geskenk of ’n liefdevolle brief is dalk al wat nodig is om die verhouding te verbeter. Wanneer ons op sulke maniere die inisiatief neem, sê ons vir hulle dat ons hulle liefhet.
15 Kyk na die voorbeeld van Anna, ’n suster in Armenië. Haar familie spandeer baie tyd saam, veral gedurende verjaarsdae en vakansiedae. Toe Anna die waarheid aanvaar het, was haar familielede bekommerd oor hoe haar nuwe geloof hulle verhoudings sou beïnvloed. Hulle was ook bekommerd oor hoe haar besluit om ’n Getuie te word, haar toekoms sou beïnvloed. Wat doen Anna om ’n goeie verhouding met haar familielede te behou? Sy sê: “Wanneer ek vir my familielede gaan kuier, vertel ek hulle van my lewe en praat ek oor wat my besig hou. Ek nooi hulle ook oor, en ek stel hulle aan my vriende voor. As gevolg daarvan ken die meeste van my familielede dié na aan my en voel hulle gemaklik by hulle.” Sy sê verder: “Baie van my familielede het al gesê dat hulle kan sien hoe gelukkig ek is en dat hulle nie meer bekommerd is oor my nie.”
16. Hoe het Jesus persoonlike belangstelling getoon in sy halfbroer Jakobus? (Sien ook voetnoot.)
16 Toon belangstelling in hulle lewens. Nadat Jesus opgewek is, het hy belangstelling getoon in sy broer Jakobus deur persoonlik aan hom te verskyn (1 Kor. 15:7). Kan jy jou indink hoe Jakobus moes gevoel het toe hy besef dat Jesus hom nie afgeskryf het nie? Hierdie reünie het Jakobus heel moontlik oortuig dat Jesus die Messias is. Ná daardie ontmoeting het Jakobus dalk ander lede van sy familie gehelp om tot die regte gevolgtrekking te kom oor Jesus se identiteit.c – Hand. 1:14.
17. Hoe kan ons die beginsel in Romeine 12:15 toepas? (Sien ook prent.)
17 Lees Romeine 12:15. As ons belangstelling toon in ons geliefdes wanneer hulle dit die nodigste het – in goeie sowel as in slegte tye – kan ons hulle help om hulle gesindheid teenoor ons te verander.d Byvoorbeeld, ons kan hulle gelukwens met die geboorte van ’n kind en vir hulle ’n geskenk gee om te wys dat ons saam met hulle bly is. Wanneer familielede ’n geliefde aan die dood verloor, kan ons vertroostend met hulle praat, praktiese hulp aanbied of vir hulle ’n aanmoedigende kaartjie stuur. En ons kan natuurlik gereeld uitvind hoe dit met hulle gaan, veral wanneer hulle moeilike tye deurmaak.
As jy belangstelling toon in jou geliefdes wanneer hulle dit die nodigste het, sal hulle dalk hulle gesindheid teenoor jou en jou geloof verander (Sien paragraaf 17)h
18. Hoe kan ons die dissipel Andreas navolg?
18 Stel hulle aan jou broers en susters voor. Toe die dissipel Andreas Jesus as die Messias geïdentifiseer het, het Andreas sy broer Petrus gretig aan Jesus voorgestel (Joh. 1:40-42). Kan ons iets soortgelyks doen? Kan ons ’n familielid byvoorbeeld nou en dan na ’n vergadering nooi of hom nooi om ’n maaltyd saam met ons vriende te eet? Wanneer ons hom aan ons broers en susters voorstel, sal hy sien dat Getuies normale, ordentlike mense is.
19. Al verstaan ons familielede party van ons oortuigings nie heeltemal nie, hoe moet ons hulle behandel? (1 Petrus 3:15)
19 Lees 1 Petrus 3:15. Ons familielede verstaan dalk nie heeltemal hoekom ons weier om sekere dinge te doen nie, maar hulle sal dit altyd onthou as ons liefdevol teenoor hulle is en hulle met respek behandel. Hulle waardeer dalk ook wat ons doen om op te maak vir die tyd wat ons gedurende sekere geleenthede nie met hulle kan spandeer nie. Byvoorbeeld, ons kan nie aan onskriftuurlike vieringe en gebruike deelneem nie, maar ons kan op ander tye vir hulle gaan kuier, saam met hulle eet en vir hulle geskenke gee.
MOENIE JOU FAMILIELEDE AFSKRYF NIE
20. Hoekom is Jakobus se voorbeeld vir ons aanmoedigend?
20 Jakobus het nie die geleentheid gehad om saam met Jesus in sy bediening te werk nie, maar hy het later ’n dissipel geword (Gal. 1:18, 19; 2:9). Al was hy nie ’n vroeë dissipel nie, is dit duidelik dat Jakobus Jesus se leringe aanvaar het. Byvoorbeeld, hy het onder inspirasie ’n brief geskryf wat na die Bergpredikasie verwys.e
21. Hoekom moet ons nie ons ongelowige familielede afskryf nie?
21 Al probeer ons ook hoe hard, sal ons ongelowige familielede dalk nie in die waarheid belangstel of positief reageer wanneer ons persoonlike belangstelling in hulle toon nie. Hoekom moet ons hulle nie afskryf nie? Omdat ons ons genadige God, Jehovah, en sy Seun, Jesus, sal navolg elke keer dat ons liefdevol teenoor ons familielede is (Luk. 6:33, 36). Met verloop van tyd sal ons liefdevolle gedrag hulle dalk beweeg om te verander hoe hulle oor ons voel. Hulle sal dalk selfs die waarhede wat ons in die verlede met hulle gedeel het, onthou. As ons hulle nie afskryf nie, sal ons dalk die vreugde ondervind om te sien hoe party van ons geliefde familielede by ons in ware aanbidding aansluit!
LIED 60 Dit kan hul red
a WAT DIT BETEKEN: Soos dit in die Bybel gebruik word, verwys die woord “ongelowige” nie noodwendig na iemand wat geen godsdiensoortuigings het of wat nie in God glo nie. (1 Kor. 7:12; sien studienota vir “an unbelieving wife” in nwtsty.) Soos dit in hierdie artikel gebruik word, verwys hierdie woord na iemand wat Jehovah God nie op die manier aanbid soos wat Jehovah se Getuies dit doen nie.
b Sien die artikel “Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?” in Die Wagtoring vir Mei 2024, bl.11, par. 11-13.
c Ten minste twee van Jesus se vleeslike broers, Jakobus en Judas, het die waarheid ná Jesus se dood en opstanding aanvaar.
d Sien die venster “Sal jy ’n troue of ’n begrafnis bywoon?”
f Vir meer inligting oor hoe om sulke sake te hanteer, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2002 en 15 November 2007.
g BESKRYWING VAN PRENT: Voordat ’n suster gaan velddiens doen, maak sy liefdevol vir haar man iets om te eet.
h BESKRYWING VAN PRENT: Dieselfde suster maak ook tyd om vir haar skoonma, wat nie ’n Getuie is nie, te gaan kuier.