Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Januarie bl. 8-13
  • Jy kan suksesvol teen negatiewe gevoelens veg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan suksesvol teen negatiewe gevoelens veg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE OORSAAK VAN PAULUS SE NEGATIEWE GEVOELENS
  • HOE PAULUS NEGATIEWE GEVOELENS HANTEER HET
  • HOE ONS TEEN NEGATIEWE GEVOELENS KAN VEG
  • KYK MET VERTROUE NA DIE TOEKOMS
  • Negatiewe emosies—Hoe kan jy dit te bowe kom?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan jy stry teen negatiewe gevoelens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoe om die bediening meer te geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Januarie bl. 8-13

9-15 MAART 2026

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

Jy kan suksesvol teen negatiewe gevoelens veg

“Patetiese mens wat ek is!” – ROM. 7:24.

FOKUS

Hoe om ons negatiewe gedagtes en gevoelens te hanteer.

1-2. Hoe het die apostel Paulus soms gevoel, en hoekom kan ons verstaan wat hy oor homself geskryf het? (Romeine 7:​21-24)

WAT kom by jou op wanneer jy aan die apostel Paulus dink? Dink jy aan ’n moedige sendeling, ’n vaardige onderrigter of ’n produktiewe Bybelskrywer? Daardie beskrywings is beslis akkuraat. Maar Paulus was ook ’n man met diep emosies. Soos baie van ons het hy soms teen negatiewe gevoelens geveg.

2 Lees Romeine 7:​21-24. In sy brief aan die Romeine het Paulus gepraat oor gevoelens wat baie van ons ook ondervind. Al was hy ’n getroue Christen, het hy ’n innerlike stryd gehad – ’n geveg tussen sy opregte begeerte om God se wil te doen en sy neiging om op verkeerde begeertes te reageer. Buiten hierdie innerlike stryd het Paulus ook soms gesukkel met negatiewe gevoelens oor sy verlede en oor ’n aanhoudende probleem wat hy ondervind het.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien ook “Wat dit beteken”.)

3 Ten spyte van sy innerlike stryd het Paulus nie toegelaat dat sy negatiewe gevoelensa sy denke oorheers nie. In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Wat het veroorsaak dat Paulus soms mismoedig voel? Hoe het hy negatiewe gevoelens hanteer? En hoe kan ons suksesvol teen ons eie negatiewe gevoelens veg?

DIE OORSAAK VAN PAULUS SE NEGATIEWE GEVOELENS

4. Wat was die oorsaak van Paulus se negatiewe gevoelens?

4 Dinge wat hy in die verlede gedoen het. Voordat Paulus, vroeër bekend as Saulus, ’n Christen geword het, het hy dinge gedoen waaroor hy later spyt sou wees. Byvoorbeeld, hy het met goedkeuring toegekyk terwyl getroue Stefanus met klippe doodgegooi is (Hand. 7:58; 8:1). En Saulus het die leiding daarin geneem om Christene wreed te vervolg. – Hand. 8:3; 26:​9-11.

5. Watter uitwerking het die dinge wat Paulus in die verlede gedoen het op hom gehad?

5 Nadat hy ’n Christen geword het, het die apostel Paulus soms skuldig gevoel oor die dinge wat hy in die verlede gedoen het. Sy vorige dade as ’n wrede vervolger van Christene het hom dalk selfs meer gepla soos die jare verbygegaan het. Byvoorbeeld, toe hy in omtrent 55 HJ sy eerste brief aan die Korintiërs geskryf het, het hy gesê: “Ek is dit nie waardig om ’n apostel genoem te word nie omdat ek die gemeente van God vervolg het” (1 Kor. 15:9). Omtrent vyf jaar later, in sy brief aan die Efesiërs, het hy homself beskryf as iemand “wat die onbelangrikste van al die heiliges is” (Ef. 3:8). Toe Paulus aan Timoteus geskryf het, het hy gesê dat hy vroeër “’n lasteraar en ’n vervolger en ’n trotse man” was (1 Tim. 1:13). Kan jy jou voorstel hoe Paulus moes gevoel het wanneer hy ’n gemeente besoek het en dié wat hy vervolg het of hulle familielede ontmoet het?

6. Wat anders het Paulus baie angstig gemaak? (Sien ook voetnoot.)

6 ’n Doring in die vlees. Paulus het iets wat hom baie angstig gemaak het, vergelyk met “’n doring in die vlees” (2 Kor. 12:7). Die apostel het nie die oorsaak genoem nie, maar die illustrasie wat hy gebruik het, wys dat iets – of dit nou ’n fisiese probleem, ’n emosionele probleem of iets anders was – vir hom baie pyn veroorsaak het.b

7. Watter uitwerking het Paulus se onvolmaakthede op hom gehad? (Romeine 7:​18, 19)

7 Sy onvolmaakthede. Paulus het met sy onvolmaakthede gesukkel. (Lees Romeine 7:​18, 19.) Al wou hy doen wat reg is, het sy onvolmaakte vlees sy vasbeslotenheid om dit te doen, negatief beïnvloed. Hy het erken dat daar ’n aanhoudende stryd is tussen sy vleeslike neigings en die begeerte om te doen wat reg is. Maar Paulus het baie hard gewerk om te verbeter (1 Kor. 9:27). Hy was sekerlik baie gefrustreerd wanneer sy slegte eienskappe weer kop uitgesteek het!

HOE PAULUS NEGATIEWE GEVOELENS HANTEER HET

8. Hoe het Paulus sy onvolmaakthede hanteer, soos ons uit sy briewe kan sien?

8 Soos sy briewe wys, het Paulus nagedink oor hoe hy en sy medegelowiges met die hulp van God se gees teen sondige neigings kon veg en dit kon oorkom (Rom. 8:13; Gal. 5:​16, 17). Paulus het dikwels na ongewenste eienskappe en begeertes verwys waarteen Christene moet veg (Gal. 5:​19-21, 26). Paulus het sekerlik oor sy eie swakhede nagedink, na raad in die Skrif gesoek en spesifieke stappe geïdentifiseer om sy onvolmaakthede te hanteer. Ons kan daarvan seker wees dat hy die raad wat hy vir ander gegee het, toegepas het.

9-10. Wat het Paulus gehelp om teen negatiewe emosies te veg? (Efesiërs 1:7) (Sien ook prent.)

9 Al het Paulus soms mismoedig gevoel, kon hy positief bly. Byvoorbeeld, hy het dit geniet om goeie verslae van sy reisende metgeselle te ontvang (2 Kor. 7:​6, 7). Sy vriendskappe met medegelowiges het hom vreugdevol gemaak (2 Tim. 1:4). En hy het geweet dat hy Jehovah se goedkeuring het. Ja, Paulus was baie bly omdat hy God “met ’n skoon gewete” kon dien (2 Tim. 1:3). Selfs toe hy in Rome in die tronk was, het Paulus sy medegelowiges aangemoedig om “bly [te wees] in die Here” (Fil. 4:4). Sy woorde het beslis nie geklink soos dié van iemand wat deur negatiewe gedagtes oorweldig is nie. Dit is duidelik dat Paulus, wanneer negatiewe gedagtes by hom opgekom het, dit kon oorkom sodat hy weer positief kon wees.

10 Paulus kon ook suksesvol teen negatiewe emosies veg omdat hy geglo het dat die losprys ’n persoonlike geskenk aan hom is. (Gal. 2:20; lees Efesiërs 1:7.) As gevolg daarvan kon hy volle vertroue hê in Jehovah se vergifnis deur middel van Jesus Christus (Rom. 7:​24, 25). Ten spyte van sy vorige foute en sy onvolmaakthede kon Paulus “heilige diens” met vreugde vir God doen. – Heb. 9:​12-14.

Collage: 1. Die apostel Paulus dink na. 2. Hy dink aan iets wat jare tevore gebeur het toe hy ’n offisier beveel het om ’n Christenman uit sy huis te sleep. 3. Hy dink na oor Jesus se dood aan ’n folterpaal.

Al het Paulus soms skuldig gevoel oor die dinge wat hy in die verlede gedoen het, het hy teen negatiewe emosies geveg deur oor die losprys na te dink (Sien paragraaf 9-10)


11. Hoekom is Paulus se voorbeeld vir ons aanmoedigend?

11 Soos Paulus voel ons dalk dat daar altyd ’n geveg binne-in ons is. Dit is dalk oor wat ons dink, wat ons doen of wat ons sê. Ons wil dalk ook sê: ‘Patetiese mens wat ek is!’ ’n Suster in haar 20’s met die naam Elizac sê die volgende oor haar persoonlike stryd: “Dit is vir my aanmoedigend om aan Paulus se situasie te dink. Ek is verlig dat ek nie die enigste een is wat so voel nie. Dit is nog ’n herinnering dat Jehovah weet wat sy volk deurmaak.” Wat kan ons doen sodat ons, soos Paulus, ’n skoon gewete kan hê en vreugdevol kan wees ten spyte van negatiewe gevoelens?

HOE ONS TEEN NEGATIEWE GEVOELENS KAN VEG

12. Hoe help ’n goeie geestelike roetine ons om teen ons negatiewe gevoelens te veg?

12 Bly by ’n goeie geestelike roetine. Wanneer ons ’n goeie geestelike roetine ontwikkel, is dit vir ons makliker om op die positiewe te fokus. Ons kan so ’n roetine vergelyk met gesonde gewoontes wat bydrae tot ons algehele fisiese gesondheid. Wanneer ons gesond eet, gereeld oefen en genoeg slaap kry, voel ons gewoonlik beter. Net so het ons almal al ondervind hoe goed ons voel wanneer ons God se Woord gereeld lees; vir ons vergaderinge voorberei, dit bywoon en daaraan deelneem; en velddiens doen. Sulke opbouende aktiwiteite help ons om ons negatiewe gedagtes te hanteer. – Rom. 12:​11, 12.

13-14. Hoe het party getroue Christene by ’n goeie geestelike roetine baat gevind?

13 Kyk na die voorbeeld van John, wat op die ouderdom van 39 met ’n seldsame vorm van kanker gediagnoseer is. Aan die begin het hy met negatiewe gevoelens gesukkel. ‘Hoe kon ek op so ’n jong ouderdom siek word?’ het hy gewonder. Op daardie stadium was sy seun net drie jaar oud. Wat het John gehelp om sy negatiewe emosies te hanteer? “Al was ek verskriklik moeg, het ek seker gemaak dat ons gesin by ’n gereelde geestelike roetine bly,” sê hy. “Ons het al die vergaderinge bygewoon, elke week aan die bediening deelgeneem en gereeld gesinsaanbidding gehou selfs wanneer dit moeilik was om tyd daarvoor te vind.” John kyk terug en sê verder: “Wanneer die aanvanklike skok verdwyn, sal die negatiewe gedagtes deur Jehovah se krag en liefde vervang word. Jehovah kan jou sterk maak, net soos hy my sterk gemaak het.”

14 Eliza, wat vroeër aangehaal is, sê: “Elke keer dat ek Christelike vergaderinge bywoon en my persoonlike studie doen, word ek herinner aan die feit dat Jehovah my hoor en my regtig liefhet. Dit maak my gelukkig.” Nolan, ’n kringopsiener in Afrika, praat vir homself en sy vrou, Diane, wanneer hy sê: “Ons bly by ons geestelike roetine selfs wanneer ons mismoedig voel. Jehovah maak dit altyd duidelik dat hy besig is om ons te help om die regte gesindheid te hê. Ons probeer om te onthou dat Jehovah ons sal help en ons sal seën; ons weet nie hoe nie, maar ons weet dat hy dit sal doen.”

15. Wat moet ons dalk doen om negatiewe gedagtes te oorkom? Illustreer.

15 Ons moet dalk meer as net die basiese dinge doen as ons negatiewe gedagtes wil oorkom. Om te illustreer, stel jou voor dat jy rugpyn ontwikkel het. Om daarvan ontslae te raak, sal jy dalk meer moet doen as om net elke dag te gaan stap. Om die oorsaak van die pyn te identifiseer, moet jy dalk navorsing doen en selfs met ’n dokter praat. Net so moet ons dalk in die Bybel en in ons publikasies navorsing doen en selfs met ’n volwasse Christen praat om te leer hoe om negatiewe gevoelens te hanteer wat gereeld opkom. Kyk na nog ’n paar voorstelle wat kan help.

16. Wat kan jou help om die oorsaak van jou negatiewe gedagtes te identifiseer? (Psalm 139:​1-4, 23, 24)

16 Bid en ontleed jou persoonlike behoeftes. Koning Dawid het geweet dat Jehovah hom goed ken. Daarom het Dawid Jehovah gevra om hom te help om die oorsaak van sy “angstige gedagtes” te identifiseer. (Lees Psalm 139:​1-4, 23, 24.) Jy kan Jehovah ook vra om jou te help om die oorsaak van jou negatiewe gedagtes te identifiseer en om te verstaan hoe om dit te oorkom. Jy kan jouself ook ’n paar vrae afvra soos: ‘Wat is moontlik die hoofoorsaak van my angstige gedagtes? Is daar iets wat veroorsaak dat ek op ’n negatiewe manier begin dink? Is ek geneig om oor negatiewe gedagtes te tob eerder as om op te hou om daaraan te dink?’

17. Watter onderwerpe vir persoonlike studie kan jou help om op opbouende gedagtes te fokus? (Sien ook prent.)

17 Pas jou persoonlike Bybelstudie by jou behoeftes aan. Van tyd tot tyd sal dit dalk goed wees om ’n studie te maak van party aspekte van Jehovah se persoonlikheid. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het grootliks daarby baat gevind wanneer hy oor die losprys en oor Jehovah se vergifnis nagedink het. Jy kan dieselfde doen. Gebruik die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies of ander Bybelstudiehulpe wat in jou taal beskikbaar is, om navorsing te doen oor onderwerpe soos God se genade, vergifnis en lojale liefde. Sodra jy artikels gevind het wat jou sal help, maak ’n lys daarvan. Sit die lys waar jy dit kan sien, en studeer die artikels op jou lys wanneer jy angstig begin voel. Probeer om dit wat jy lees, op jou eie omstandighede toe te pas. – Fil. 4:8.

’n Jong broer gebruik die Bybel, ’n tablet en ’n notaboek om sy persoonlike studie te doen. Hy skryf ’n nota in sy Bybel.

Kies studieonderwerpe wat jou sal help om negatiewe gedagtes te oorkom (Sien paragraaf 17)


18. Watter soort studieprojekte het party Christene gehelp?

18 Eliza, wat vroeër aangehaal is, het ’n persoonlike studieprojek oor die Bybelkarakter Job gedoen. Sy sê: “Ek voel baie soos Job. Hy het die een moeilike tyd ná die ander ondervind. Maar toe Job op sy laagste punt was, het hy nooit opgehou om op Jehovah te vertrou nie – al het hy nie geweet hoekom daardie dinge met hom gebeur het nie” (Job 42:​1-6). Diane, wat vroeër genoem is, sê: “Ek en my man is besig om ’n studieprojek te doen, en ons gebruik die boek Kom nader aan Jehovah. Ons waardeer die feit dat Jehovah ons vorm soos ’n pottebakker klei vorm. Eerder as om te fokus op hoe teleurgesteld ons in onsself is, probeer ons ons voorstel hoe Jehovah ons vorm en ons beter mense probeer maak. Dit bring ons nader aan hom.” – Jes. 64:8.

KYK MET VERTROUE NA DIE TOEKOMS

19. Wat kan ons realisties verwag?

19 Al het ons ’n goeie geestelike roetine en ’n goeie studieprogram wat by ons behoeftes pas, kan ons nie verwag dat ons negatiewe gedagtes en gevoelens heeltemal sal verdwyn nie. Ons sal dalk nog steeds dae hê dat ons baie mismoedig voel. Maar met Jehovah se hulp kan ons negatiewe gevoelens verminder wanneer dit by ons opkom. Ons kan die vertroue hê dat ons op die meeste dae ’n skoon gewete sal hê en alle rede sal hê om ons lewe en ons diens aan Jehovah te geniet.

20. Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Laat ons vasbeslote wees om nie toe te laat dat negatiewe gevoelens oor ons verlede, ons probleme of ons onvolmaakthede ons beheer nie. Met Jehovah se hulp kan ons negatiewe gevoelens onder beheer hou (Ps. 143:10). Ons kan uitsien na die dag wanneer dit nie meer moeilik sal wees om op ’n positiewe manier te dink nie. Ons sal eerder elke oggend kan wakker word sonder enige angstige gedagtes en gelukkig wees om ons liefdevolle God, Jehovah, te dien!

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat kon veroorsaak het dat die apostel Paulus soms baie mismoedig gevoel het?

  • Hoe het Paulus ’n skoon gewete en ’n positiewe gesindheid behou ten spyte van sy negatiewe gevoelens?

  • Wat kan ons doen om teen negatiewe gevoelens te veg?

LIED 34 Ek sal lojaal bly

a WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel verwys “negatiewe gevoelens” na die tye wanneer ons dalk soms hartseer en buierig voel. Dit verwys nie na kroniese depressie, wat ’n ernstige mediese toestand is, nie.

b Paulus se geskrifte wys dat hy nie goed kon sien nie, wat dit vir hom moeilik sou gemaak het om briewe te skryf en om sy bediening uit te voer (Gal. 4:15; 6:11). Of Paulus het dalk na die angstigheid verwys wat party valse onderrigters vir hom veroorsaak het (2 Kor. 10:10; 11:​5, 13). Ongeag wat die oorsaak van sy bekommernis was, dit het Paulus baie ontstel.

c Party name is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel