Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w26 Januarie bl. 2-7
  • Hou aan om op Jehovah se leiding te vertrou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om op Jehovah se leiding te vertrou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N VOORBEELD VAN NEDERIGHEID, VOLHARDING EN GELOOF
  • SOOS PETRUS – BLY GEESTELIK GOED GEVOED
  • SOOS PAULUS – BLY GEESTELIK GOED GEKLEE
  • SOOS DAWID – BLY GEESTELIK GOED BESKERM
  • HOU AAN OM OP JEHOVAH TE VERTROU VIR LEIDING
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Volg Jehovah en Jesus na in jou denkwyse
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Ons is nooit alleen nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
w26 Januarie bl. 2-7

2-8 MAART 2026

LIED 97 God se Woord is lewegewend

Hou aan om op Jehovah se leiding te vertrou

ONS JAARTEKS VIR 2026: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het.” – MATT. 5:3.

FOKUS

Hoe Jehovah ons lei deur vir ons geestelike kos, klere en beskerming te voorsien.

1. Wat is party dinge wat mense nodig het? (Matteus 5:3)

JEHOVAH weet wat mense nodig het. Byvoorbeeld, ons het kos nodig, sowel as klere en ’n veilige plek om te bly. As ons, selfs vir ’n kort rukkie, nie een van hierdie noodsaaklike dinge het nie, word die lewe baie moeilik. Maar Jehovah weet dat daar nog iets is wat mense nodig het. Hy het ons geskep met die behoefte om hom te ken en om op hom te vertrou om ons te lei. (Lees Matteus 5:3.) As ons regtig gelukkig wil wees, moet ons besef dat ons sy leiding nodig het en dan op hom bly vertrou.

2. Hoe is ons situasie soos dié van ’n bedelaar?

2 Die oorspronklike uitdrukking wat met “besef dat hulle God nodig het” vertaal is, dra die gedagte oor van ’n bedelaar wat hulp nodig het. Stel jou ’n brandmaer figuur voor wat flenters aanhet en gebukkend op ’n straathoek sit. Hy is swak as gevolg van ’n gebrek aan kos, verwerp as gevolg van sy voorkoms en blootgestel aan die bloedige hitte van die dag en aan die bitter koue van die nag. Die bedelaar is baie bewus van die feit dat hy hulp nodig sal hê as hy sy situasie in die lewe wil verbeter. Net so is dié wat besef dat hulle God nodig het, gretig om sy hulp te vra en om sy leiding te volg.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons eers bespreek wat ons kan leer by ’n Fenisiese vrou wat Jesus gesmeek het om haar te help. Hierdie verslag beklemtoon drie eienskappe wat dié wat besef dat hulle God nodig het, moet ontwikkel. Dan sal ons die voorbeelde bespreek van die apostel Petrus en Paulus sowel as koning Dawid, wat almal geestelike mans was.

’N VOORBEELD VAN NEDERIGHEID, VOLHARDING EN GELOOF

4. Wat wou ’n Fenisiese vrou by Jesus hê?

4 By een geleentheid het ’n Fenisiese vrou na Jesus toe gegaan. Haar dogter ‘het ’n demoon in haar gehad en het verskriklik gely as gevolg daarvan’ (Matt. 15:​21-28). Die vrou het op haar knieë voor Jesus neergeval en hom gesmeek om haar te help. Hierdie Fenisiese vrou het merkwaardige eienskappe geopenbaar toe sy na Jesus toe gegaan het. Kom ons kyk na ’n paar van hulle.

5. Watter eienskappe het die vrou geopenbaar, en hoe het Jesus gereageer? (Sien ook prent.)

5 Die Fenisiese vrou het ware nederigheid geopenbaar. Hoekom kan ons dit sê? Omdat sy nie aanstoot geneem het toe Jesus ’n illustrasie gebruik het wat haar blykbaar met ’n hondjie vergelyk het nie, dalk die soort dier wat ’n troeteldier in ’n nie-Joodse huis was. Hoe sou jy op Jesus se woorde en dade gereageer het? Sou jy beledig gevoel het en opgehou het om Jesus te vra om jou te help? Dit is nie hoe die Fenisiese vrou gereageer het nie. Sy het nie net nederigheid geopenbaar nie maar ook volharding. Dit is duidelik uit die manier hoe sy aangehou het om Jesus te smeek om haar te help. Wat het haar beweeg om dit te doen? Haar geloof in Jesus. Om die waarheid te sê, hierdie vrou se geloof het Jesus so diep geraak dat hy iets wonderliks gedoen het. Al het hy nou net gesê dat hy gestuur is om “die verlore skape van die huis van Israel” te help, het Jesus die onrein gees uit hierdie nie-Joodse vrou se dogter verwyder.

’n Fenisiese vrou is op haar knieë en smeek Jesus om haar te help. Jesus en drie van sy dissipels luister na haar terwyl hulle by ’n tafel sit.

Die Fenisiese vrou het nederigheid, volharding en geloof nodig gehad om die hulp te kry wat sy wou hê (Sien paragraaf 5)


6. Wat leer ons uit die verslag oor die Fenisiese vrou?

6 Om by Jehovah se leiding baat te vind, moet ons dieselfde eienskappe ontwikkel. Ons moet nederig wees en volharding en sterk geloof hê. Net ’n nederige persoon sal God aanhoudend smeek om hom te help. Ons moet ook sterk geloof hê in Christus Jesus en dié vertrou wat hy gebruik om sy dissipels te lei (Matt. 24:​45-47). Jehovah en sy Seun wil graag dié wat hierdie eienskappe openbaar, help en lei. (Vergelyk Jakobus 1:​5-7.) Kom ons kyk nou hoe Jehovah ons lei deur vir ons geestelike kos, klere en beskerming te voorsien. Ons sal sien wat ons moet doen om hierdie noodsaaklike dinge te verkry deur te kyk na die voorbeelde van die apostel Petrus en Paulus sowel as koning Dawid.

SOOS PETRUS – BLY GEESTELIK GOED GEVOED

7. Watter opdrag het Petrus ontvang, maar wat moes hy ook doen? Verduidelik. (Hebreërs 5:14–6:1)

7 Kyk na die apostel Petrus se voorbeeld. Hy was een van die eerste Jode wat besef het dat Jesus die Messias is – die een wat deur Jehovah gebruik is om Sy volk “woorde van die ewige lewe” te voed (Joh. 6:​66-68). Voordat Jesus teruggegaan het hemel toe, het hy Petrus hierdie opdrag gegee: “Voed my skapies” (Joh. 21:17). Petrus het daardie opdrag getrou uitgevoer, en Jehovah het hom selfs gebruik om twee briewe te skryf wat deel van die Bybel geword het. Maar Petrus moes homself ook met geestelike kos voed. Byvoorbeeld, hy het die geïnspireerde briewe bestudeer wat die apostel Paulus vroeër geskryf het. Petrus het erken dat party van die dinge waaroor Paulus geskryf het, “moeilik [is] om te verstaan” (2 Pet. 3:​15, 16). Maar Petrus het natuurlik volhard en geloof gehad dat Jehovah hom sou help om die “vaste voedsel” waaroor die apostel Paulus in sy geïnspireerde briewe geskryf het te verteer, of te verstaan en toe te pas. – Lees Hebreërs 5:14–6:1.

8. Hoe het Petrus gereageer op nuwe lig wat deur God se verteenwoordiger geopenbaar is?

8 Petrus het bewys dat hy geloof in Jehovah het deur gehoorsaam te wees aan die instruksies wat hy ontvang het. Byvoorbeeld, terwyl hy in die hawestad Joppe was, het Petrus ’n visioen gehad waarin God se verteenwoordiger vir hom gesê het om diere te slag en te eet wat volgens die Wet van Moses onrein was. Vir die Jode sou daardie instruksie skokkend wees. Petrus het eers gesê: “Nee, nooit nie, Here, want ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onheilig is nie.” Toe is daar vir hom gesê: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, onrein te noem” (Hand. 10:​9-15). Petrus het die punt gesnap. Hoe weet ons dit? Kort nadat hy die visioen gehad het, het drie mans wat deur die nie-Jood Kornelius gestuur is, daar aangekom en Petrus genooi om met hulle meester te kom praat. Normaalweg sou Petrus nooit ingestem het om na ’n nie-Jood se huis toe te gaan nie. Die Jode het die nie-Jode as onrein beskou (Hand. 10:​28, 29). Maar Petrus het die nuwe lig wat Jehovah aan hom geopenbaar het, dadelik aanvaar (Spr. 4:18). Hy het vir Kornelius en almal in sy huis gepreek en het die vreugde gehad om te sien hoe hulle die waarheid aanvaar, heilige gees ontvang en hulle laat doop. – Hand. 10:​44-48.

9. Wat is twee maniere waarop ons daarby baat vind wanneer ons ’n gesonde aptyt vir vaste geestelike kos ontwikkel?

9 Soos Petrus moet ons ons gereeld voed met die melk, of basiese waarhede, van God se Woord. Ons moet ook ’n aptyt ontwikkel vir vaste geestelike kos – waarhede wat dalk moeiliker is om te verstaan. Ons moet tyd opsysit en bereid wees om die moeite te doen om God se Woord beter te verstaan, maar dit is die moeite werd. Hoekom? Ons vind op ten minste twee maniere daarby baat: Een, ons leer dinge omtrent Jehovah wat ons liefde en respek vir hom vergroot; en twee, ons voel selfs meer gemotiveerd om ander van ons indrukwekkende hemelse Vader te vertel (Rom. 11:33; Op. 4:11). Petrus se voorbeeld leer ons nog ’n les: Wanneer ons aanpassings in ons begrip van God se Woord ontvang, moet ons vinnig wees om ons denke en gedrag aan te pas. Slegs dan sal ons geestelik goed gevoed bly en sal Jehovah ons altyd kan gebruik.

SOOS PAULUS – BLY GEESTELIK GOED GEKLEE

10. Wat behels dit om geestelik goed geklee te wees? (Kolossense 3:​8-10)

10 Om God gelukkig te maak, moet ons goed gebruik maak van nog een van Jehovah se voorsienings: geestelike klere. Wat bedoel ons daarmee? Die apostel Paulus het die volgende geskryf: “Trek die ou persoonlikheid . . . uit, en trek die nuwe persoonlikheid aan.” (Lees Kolossense 3:​8-10.) Om die nuwe persoonlikheid aan te trek, kan ’n aanhoudende uitdaging wees. Kyk na Paulus se eie voorbeeld. Van ’n jong ouderdom af het hy hard gewerk om God se goedkeuring te verkry (Gal. 1:14; Fil. 3:​4, 5). Maar hy het ’n gebrek aan akkurate kennis gehad oor hoe om God op die regte manier te aanbid. En omdat hy nie die waarheid oor Christus se leringe geweet het nie en nie nederig was nie, het dit hom “’n trotse man” gemaak wat baie negatiewe eienskappe gehad het. – 1 Tim. 1:13.

11. Watter swakheid moes Paulus oorkom? Verduidelik.

11 Voordat Paulus ’n Christen geword het, het hy ’n vinnige humeur gehad. ’n Verslag in Handelinge sê dat Paulus so kwaad was vir die dissipels van Jesus dat hy hulle “gedreig het en hulle wou vermoor” (Hand. 9:1). Nadat Paulus ’n Christen geword het, het hy ongetwyfeld hard gewerk om hierdie aspek van sy ou persoonlikheid uit te trek (Ef. 4:​22, 31). Maar toe Paulus en Barnabas nie oor iets saamgestem het nie, het hulle “vir mekaar kwaad geword en begin stry” (Hand. 15:​37-39). Dit was ’n terugslag vir Paulus, maar hy het nie opgegee nie. Hy het aangehou om ‘sy liggaam te straf’ – om teen sy onvolmaakthede te veg – sodat hy Jehovah se goedkeuring kon behou. – 1 Kor. 9:27.

12. Wat het Paulus gehelp om sy persoonlikheid te verander?

12 Paulus kon sy persoonlikheid verander en die nuwe persoonlikheid aantrek omdat hy nie op sy eie krag staatgemaak het nie (Fil. 4:13). Soos Petrus het Paulus staatgemaak op “die krag wat God voorsien” (1 Pet. 4:11). Tog het Paulus soms nog steeds soos ’n mislukking gevoel. Maar wanneer hy mismoedig was, het hy gedink aan die goeie dinge wat sy hemelse Vader vir hom gedoen het, en dit het hom meer vasbeslote gemaak om aan te hou probeer. – Rom. 7:​21-25.

13. Hoe kan ons Paulus navolg?

13 Ons kan Paulus navolg deur te besef dat ons, maak nie saak hoe lank ons Jehovah al dien nie, moet aanhou werk om die ou persoonlikheid uit te trek en die nuwe persoonlikheid aan te trek – die geestelike klere wat God voorsien. As ons ’n terugslag het – soos om ons humeur te verloor of om op ’n lelike manier met iemand te praat – hoef ons nie onsself as ’n mislukking te beskou nie. Ons moet eerder aanhou werk aan ons doel om die manier hoe ons dink en optree, te verander (Rom. 12:​1, 2; Ef. 4:24). Maar terwyl ons dit doen, moet ons ’n belangrike feit onthou: Anders as letterlike klere wat verstel word om vir ons te pas, moet ons onsself verstel, of verander, sodat die geestelike klere wat Jehovah voorsien, vir ons sal pas. Dit is net redelik dat ons verander wie ons is om aan God se vereistes te voldoen.

SOOS DAWID – BLY GEESTELIK GOED BESKERM

14-15. In watter sin voorsien Jehovah geestelike beskerming vir sy volk? (Psalm 27:5) (Sien ook prent.)

14 Om regtig gelukkig te wees, het ons meer as geestelike kos en geestelike klere nodig. Ons het ook geestelike beskerming nodig. Hoe beskerm Jehovah ons, en hoe kan ons seker maak dat ons onder sy beskerming bly?

15 Koning Dawid het gepraat van die geestelike skuilplek wat Jehovah voorsien. (Lees Psalm 27:5.) Jehovah beskerm sy volk teen enige iemand en enige iets wat hulle geloof in Hom permanent kan beskadig. Hoe beskerm Jehovah sy knegte teen eksterne bedreigings? Hy belowe dat geen wapen wat gemaak word om hulle aan te val, enige sukses sal hê nie (Ps. 34:7; Jes. 54:17). Al is Satan en dié onder sy beheer kragtig, kan hulle ons nie enige permanente skade aandoen nie. Al neem hulle ons lewe, sal Jehovah dit vir ons teruggee in die opstanding (1 Kor. 15:​55-57; Op. 21:​3, 4). Jehovah help ons ook om angstighede te hanteer wat die potensiaal het om ons permanente skade aan te doen (Spr. 12:25; Matt. 6:​27-29). En ons liefdevolle Vader gee vir ons ’n geestelike familie van broers en susters wat ons ondersteun, asook ouermanne wat herders vir ons is (Jes. 32:​1, 2). Wanneer ons bymekaarkom, word ons dikwels herinner aan spesifieke maniere hoe ons goed gebruik kan maak van Jehovah se beskerming. – Heb. 10:​24, 25.

’n Suster steek haar hand op om gedurende die “Wagtoring”-studie te antwoord. Ander broers en susters steek ook hulle hande op.

’n Suster soek geestelike hulp deur ’n gemeentelike vergadering by te woon saam met haar broers en susters (Sien paragraaf 14-15)


16. Op watter maniere het Jehovah Dawid beskerm?

16 Wanneer Dawid gehoorsaam was aan Jehovah, is hy beskerm teen die skade wat dié ondervind wat opsetlik sondig. (Vergelyk Spreuke 5:​1, 2.) Maar wanneer Dawid God se standaarde geïgnoreer het, het Jehovah hom nie beskerm teen die gevolge van sy dade nie (2 Sam. 12:​9, 10). Wat van die kere dat Dawid gely het omdat ander hom sleg behandel het? Dawid het sy hart voor Jehovah in gebed uitgestort, en Jehovah het Dawid se angstigheid verlig deur hom te verseker dat Hy hom baie liefhet en vir hom sou sorg. – Ps. 23:​1-6.

17. Hoe kan ons Dawid navolg?

17 Ons kan Dawid navolg deur Jehovah se raad te soek wanneer ons besluite maak. Ons besef ook dat ons dalk soms moeilike tye ondervind, nie omdat Jehovah ons nie beskerm nie, maar omdat ons slegte besluite gemaak het (Gal. 6:​7, 8). En wanneer ons weens ander redes moeilike tye ondervind, stort ons ons hart voor Jehovah in gebed uit met die vertroue dat hy ons harte en ons verstande sal beskerm. – Fil. 4:​6, 7.

HOU AAN OM OP JEHOVAH TE VERTROU VIR LEIDING

18. Watter uitdaging het ons, en wat moet ons doen as ons wil hê dat Jehovah ons moet aanhou lei? (Sien ook prente.)

18 Ons jaarteks vir 2026 sê: “Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het.” Dit is vandag die geval meer as ooit tevore. Hoekom? Omdat ons omring is deur ongelukkige mense wat nie die feit aanvaar dat hulle God en sy leiding nodig het nie. En baie ander glo in God, maar hulle verkies om hom op hulle eie manier te aanbid. Ander vertrou op leiding van mense. Ons moenie toelaat dat hulle gesindheid ons beïnvloed nie. So wat moet ons doen om op Jehovah te bly vertrou? Ons moet onsself voed met die geestelike kos wat Jehovah voorsien, die nuwe persoonlikheid aantrek en skuiling soek in die beskerming wat Jehovah voorsien.

Collage: Die suster in die vorige prentjie hou aan om op Jehovah se leiding te vertrou. 1. Sy studeer ’n “Wagtoring”-studieartikel. 2. Sy neem kos vir ’n paartjie by hulle huis. Die man sit in ’n stoel met sy kop in verbande toegedraai en ’n drup aan sy arm. 3. Sy geniet ’n herdersbesoek van twee broers.

Ons moet op Jehovah bly vertrou om ons te lei, eienskappe openbaar wat hom gelukkig maak en toelaat dat hy ons beskerm (Sien paragraaf 18)a

HOE KAN ONS BAAT VIND BY JEHOVAH SE VOORSIENING VAN GEESTELIKE . . .

  • kos?

  • klere?

  • beskerming?

LIED 162 Bly na aan God

a BESKRYWING VAN PRENT: Die suster in die vorige prentjie voed haar met geestelike kos deur Die Wagtoring te bestudeer, betoon liefde aan ander as deel van haar nuwe persoonlikheid en soek hulp by die ouermanne wat haar liefdevol aanmoedig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel