Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Oktober bl. 12-17
  • God se liefde duur vir ewig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se liefde duur vir ewig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DINK AAN JEHOVAH SE LIEFDE AS ’N BASIESE BYBELLERING
  • DINK NA OOR DIE FEIT DAT JEHOVAH ‘LIEF IS VIR JOU’
  • VERSTAAN WAAR TWYFELGEDAGTES VANDAAN KOM
  • KIES OM LOJAAL TE BLY
  • Jehovah is baie lief vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Aanvaar Jehovah se liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Wat beteken Jehovah se lojale liefde vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Hoe om lojaal te bly wanneer ons toetse van geloof ondervind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2026
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Oktober bl. 12-17

STUDIEARTIKEL 41

Lied 108 God se lojale liefde

God se liefde duur vir ewig

“Dank Jehovah, want hy is goed. Sy lojale liefde duur vir ewig.” – PS. 136:1.

FOKUS

Om te verduidelik hoe ’n Bybelse beskouing van Jehovah se liefde ons kan help om teen ontmoediging te veg wanneer ons ’n moeilike tyd deurmaak.

1-2. Watter uitdaging ondervind baie Christene?

STEL jou ’n boot voor wat in die middel van ’n verskriklike storm is. Groot golwe veroorsaak dat die boot op en af beweeg. Daardie boot sal gaan waar ook al die golwe dit neem, tensy iemand ’n anker gebruik. ’n Anker sal die boot stabiliseer en keer dat dit wegdryf terwyl die storm woed.

2 Wanneer jy ’n verskriklik moeilike tyd deurmaak, voel jy dalk soos daardie boot. Jou emosies kan op en af gaan. Een dag is jy oortuig van Jehovah se liefde en ondersteuning; die volgende dag wonder jy of Jehovah eens sien wat jy deurmaak (Ps. 10:1; 13:1). Dalk vertroos ’n vriend jou, en dit laat jou vir ’n rukkie beter voel (Spr. 17:17; 25:11). Maar dan keer die twyfelgedagtes terug. Jy wonder dalk selfs of Jehovah jou afgeskryf het. Hoe kan jy as ’t ware geanker wees terwyl jy ’n moeilike tyd deurmaak? Met ander woorde, hoe kan jy verseker wees – en verseker bly – van Jehovah se liefde en ondersteuning?

3. Wat is die betekenis van “lojale liefde” in Psalm 31:7 en 136:​1, en hoekom kan ons sê dat Jehovah die beste voorbeeld daarvan is? (Sien ook prent.)

3 Een manier hoe jy gedurende ’n moeilike tyd geanker kan wees, is om Jehovah se lojale liefde te onthou. (Lees Psalm 31:7; 136:1.) Die term “lojale liefde” dra die gedagte oor van ’n diep en ewige verbintenis wat een persoon met ’n ander persoon het. Jehovah is die beste voorbeeld van lojale liefde. Om die waarheid te sê, die Bybel beskryf hom as iemand wat “vol lojale liefde” is (Eks. 34:​6, 7). Die Bybel sê ook die volgende van Jehovah: “U is vol lojale liefde vir almal wat u aanroep” (Ps. 86:5). Dink aan wat dit beteken: Jehovah verlaat nooit sy getroue knegte nie! As jy onthou dat Jehovah lojaal is, kan dit jou anker terwyl jy ’n verskriklik moeilike tyd deurmaak. – Ps. 23:4.

’n Seilboot se seeanker wat onder die water is, help om te keer dat die boot wegdryf gedurende ’n storm.

Net soos ’n anker keer dat ’n boot wegdryf gedurende ’n groot storm, sal ons vertroue in Jehovah se liefde ons stabiel hou terwyl ons ’n moeilike tyd deurmaak (Sien paragraaf 3)


DINK AAN JEHOVAH SE LIEFDE AS ’N BASIESE BYBELLERING

4. Gee voorbeelde van basiese Bybelleringe, en verduidelik hoekom ons ferm daarin glo.

4 Nog ’n manier hoe jy gedurende ’n moeilike tyd geanker kan wees, is om te dink aan Jehovah se liefde as ’n basiese Bybellering. Wat beteken die frase “basiese Bybellering” vir jou? Dalk dink jy aan die leringe wat jy uit God se Woord geleer het. Byvoorbeeld, jy het geleer dat God se naam Jehovah is, dat Jesus God se eniggebore Seun is, dat die dooies van niks bewus is nie en dat daar ’n aardse paradys sal wees waarop mense vir ewig sal lewe (Ps. 83:18; Pred. 9:5; Joh. 3:16; Op. 21:​3, 4). Nadat jy daardie leringe aanvaar het, is jy nie maklik oortuig om nie meer daarin te glo nie. Hoekom nie? Omdat jy besef het dat dit op feite gebaseer is. Kom ons kyk hoe dit jou kan help om die gedagte te verwerp dat Jehovah nie omgee oor of raaksien wat jy deurmaak nie as jy Jehovah se liefde as ’n basiese Bybellering beskou.

5. Beskryf hoe valse leringe afgebreek word.

5 Wat het jou gehelp om valse leringe te verwerp toe jy die Bybel begin studeer het? Dit het jou heel moontlik gehelp om wat jou godsdiens jou geleer het, te vergelyk met wat die Bybel leer. Kyk na een voorbeeld: Sê nou jy het geglo dat Jesus God die Almagtige is. Maar terwyl jy die Bybel studeer het, het jy jou afgevra: ‘Is daardie lering regtig waar?’ Nadat jy die Bybelse bewyse ondersoek het, kon jy nee sê. Toe het jy die valse lering met hierdie Bybelwaarheid vervang: Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping,” “die eniggebore Seun van God” (Kol. 1:15; Joh. 3:18). Valse leringe kan natuurlik “soos sterk vestings” wees wat moeilik is om af te breek (2 Kor. 10:​4, 5). Maar toe jy dit kon doen, het jy nie teruggegaan na die leringe wat jy agtergelaat het nie. – Fil. 3:13.

6. Hoekom kan jy oortuig wees dat Jehovah se “lojale liefde . . . vir ewig [duur]”?

6 Jy kan iets soortgelyks doen wanneer dit kom by wat die Bybel oor Jehovah se liefde leer. As jy begin twyfel dat Jehovah jou liefhet wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan, vra jou af: ‘Dink ek reguit?’ Vergelyk jou twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde met die woorde van Psalm 136:1 – die temateks vir hierdie artikel. Hoekom beskryf Jehovah sy liefde as ‘lojaal’? Hoekom word die gedagte “sy lojale liefde duur vir ewig” 26 keer in daardie psalm herhaal? Soos ons gesien het, is Jehovah se liefde vir sy volk ’n fundamentele Bybellering, baie soos ander leringe wat jy maklik uit God se Woord aanvaar het. Die idee dat Jehovah jou nie waardeer of liefhet nie, is ’n leuen. Verwerp daardie idee, net so ferm soos wat jy enige ander valse lering sou verwerp!

7. Gee ’n paar voorbeelde van tekste wat ons verseker van Jehovah se liefde.

7 Die Bybel verseker ons op baie ander plekke van Jehovah se liefde. Byvoorbeeld, Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle is meer werd as baie mossies” (Matt. 10:31). Jehovah het self vir sy volk gesê: “Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help. Ek sal jou stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (Jes. 41:10). Let op hoe duidelik daardie stellings is. Jesus sê nie ‘Julle is dalk meer werd’ nie, en Jehovah sê nie ‘Ek sal jou dalk help’ nie. Hulle sê eerder: “Julle is meer werd” en “Ek sal jou help”. As jy ooit twyfel dat Jehovah jou liefhet terwyl jy ’n moeilike tyd deurmaak, kan sulke tekste jou nie net help om beter te voel nie; dit kan jou ook help om van beter te weet. Dit is op feite gebaseer. As jy daaroor bid en nadink, sal dit jou beweeg om die woorde te sê in 1 Johannes 4:16: “Ons het die liefde wat God vir ons het, leer ken, en ons glo daarin.”a

8. Wat kan jy doen as jy soms twyfel dat Jehovah jou liefhet?

8 Maar wat as jy soms nog steeds twyfel dat Jehovah jou liefhet? Vergelyk wat jy voel met wat jy weet. Gevoelens is nie so betroubaar soos feite nie, maar Jehovah se liefde waarvan ons in die Bybel leer, is ’n feit. As ons nie glo dat Jehovah ons liefhet nie, ignoreer ons die belangrikste deel van sy persoonlikheid – sy liefde. – 1 Joh. 4:8.

DINK NA OOR DIE FEIT DAT JEHOVAH ‘LIEF IS VIR JOU’

9-10. Wat is die konteks van Jesus se woorde “Die Vader self is lief vir julle” in Johannes 16:​26, 27? (Sien ook prent.)

9 Ons kan meer leer oor Jehovah se liefde deur te kyk na Jesus se woorde aan sy volgelinge: “Die Vader self is lief vir julle.” (Lees Johannes 16:​26, 27.) Jesus het nie hierdie woorde gesê net om sy dissipels te laat goed voel nie. Om die waarheid te sê, die konteks wys dat hy op daardie oomblik nie oor hulle gevoelens gepraat het nie. Hy was eerder besig om oor ’n ander saak te praat – gebed.

10 Jesus het kort tevore vir sy dissipels gesê dat hulle deur hom maar nie tot hom moet bid nie (Joh. 16:​23, 24). Dit was belangrik dat hulle dit moet weet. Ná sy opstanding wou die dissipels dalk tot Jesus bid. Hulle het Jesus tog as ’n vriend leer ken. Hulle kon geredeneer het dat sy liefde vir hulle hom sou beweeg om na hulle versoeke te luister en sy Vader te vra om hulle te help. Maar Jesus het gesê dat hulle nie op hierdie manier moet dink nie. Hoekom nie? Want hy het vir hulle gesê: “Die Vader self is lief vir julle.” Daardie feit is deel van die Bybel se basiese lering oor gebed. Dink aan wat dit vir jou beteken: Deur middel van jou studie van die Bybel het jy Jesus leer ken en liefgekry (Joh. 14:21). Maar soos die eerste-eeuse dissipels kan jy met vertroue tot God bid, met die wete dat hy ‘self lief is vir jou’. Jy wys dat jy geloof het in daardie woorde elke keer dat jy tot Jehovah bid. – 1 Joh. 5:14.

Collage: ’n Broer bid met selfvertroue oor drie belangrike sake in sy lewe terwyl hy buite op ’n bankie sit. 1. Sy vrou lê siek in die bed terwyl hy vir haar kos bring. 2. Sy jong dogter geniet haar Bybelstudie saam met hom. 3. Hy hersien ’n stapel finansiële state.

Jy kan met vertroue tot Jehovah bid, met die wete dat hy ‘self lief is vir jou’ (Sien paragraaf 9-10)b


VERSTAAN WAAR TWYFELGEDAGTES VANDAAN KOM

11. Hoekom sal Satan bly wees as ons sou twyfel dat Jehovah ons liefhet?

11 Waar kom twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde vandaan? Jy sê dalk dat dit by Satan ontstaan, en dit is gedeeltelik waar. Die Duiwel wil ons “verslind”, en hy sal bly wees as ons twyfel dat Jehovah ons liefhet (1 Pet. 5:8). Jehovah se liefde het Hom beweeg om die losprys te voorsien, en Satan wil graag hê dat ons moet voel dat ons nie waardig is om daarby baat te vind nie (Heb. 2:9). Maar wie vind daarby baat as ons twyfel dat Jehovah ons liefhet? Dit is Satan. En wie sal bly wees as ons moed opgee wanneer ons ’n moeilike tyd deurmaak? Dit is ook Satan. Dink aan die ironie van Satan se poging om ons te laat twyfel dat Jehovah ons liefhet. Satan is eintlik die een wat Jehovah se liefde verloor het. Maar een van sy ‘slinkste planne’ is om ons te laat voel dat Jehovah ons nie liefhet nie en veroordeel het (Ef. 6:11). Wanneer ons besef wat ons vyand probeer doen, kan ons ons vasbeslotenheid om ‘die Duiwel teë te staan’, versterk. – Jak. 4:7.

12-13. Hoe kan ons oorgeërfde sondige toestand veroorsaak dat ons twyfel dat Jehovah ons liefhet?

12 Twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde kan uit ’n ander bron kom. Wat is dit? Ons oorgeërfde sondige toestand (Ps. 51:5; Rom. 5:12). Sonde het die mens van sy Skepper vervreem. Dit het ook sy verstand, hart en liggaam beskadig.

13 Sonde het emosionele probleme vir ons veroorsaak, wat ons skuldig, angstig, onseker en skaam laat voel. Ons kan daardie gevoelens ondervind wanneer ons ’n sonde pleeg. Maar ons kan ook so voel omdat ons die heeltyd bewus is van ons sondige toestand – ’n toestand wat glad nie in ooreenstemming is met die manier hoe ons geskep is nie (Rom. 8:​20, 21). Net soos ’n voertuig met ’n pap wiel nie so goed kan funksioneer soos dit ontwerp is om te funksioneer nie, kan ons as onvolmaakte mense nie so goed funksioneer soos wat ons ontwerp is om te funksioneer nie. Daarom is dit nie verbasend dat ons soms met twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde sukkel nie. As dit gebeur, moet ons onthou dat Jehovah “die groot en ontsagwekkende God [is] wat lojale liefde betoon aan almal wat [hom] liefhet en [sy] gebooie gehoorsaam”. – Neh. 1:5.

14. Hoe kan dit ons help om op te hou twyfel dat Jehovah ons liefhet as ons nadink oor die losprys? (Romeine 5:8) (Sien ook die venster “Moenie deur ‘die krag van sonde bedrieg’ word nie”.)

14 Dit is so dat ons soms kan voel dat ons nie waardig is om Jehovah se liefde te ontvang nie. En streng gesproke is ons nie waardig om dit te ontvang nie – en dit is wat dit so spesiaal maak. Ons verdien nie Jehovah se liefde as gevolg van iets wat ons doen nie. Maar die losprys bedek ons sondes, en Jehovah het daardie voorsiening gemaak omdat hy ons liefhet (1 Joh. 4:10). Onthou ook dat Jesus gekom het om sondaars te red, nie volmaakte mense nie. (Lees Romeine 5:8.) Nie een van ons kan dinge volmaak doen nie, en Jehovah verwag dit nie van ons nie. Wanneer ons verstaan dat ons sondige toestand kan veroorsaak dat ons twyfel dat Jehovah ons liefhet, kan ons selfs meer vasbeslote word om te veg teen die houvas wat dit op ons denke het. – Rom. 7:​24, 25.

Moenie deur “die krag van sonde bedrieg” word nie

Die Bybel sê dat ons deur “die krag van sonde bedrieg” kan word (Heb. 3:13). Behalwe dat ons sondige toestand ons in die versoeking bring om verkeerde dade te doen, kan dit ook verantwoordelik wees vir aanhoudende twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde. Ons kan beslis deur “die krag van sonde bedrieg” word.

Ons dink dalk dat ons nooit bedrieg kan word nie. Byvoorbeeld, ons glo dalk dat ’n oneerlike persoon ons nooit kan bedrieg en ons geld kan vat nie. Maar as ons nie op ons hoede is vir hierdie soort misdaad nie, kan ons al ons geld verloor.

Net so moet ons oplettend wees wanneer ons sondige toestand ons probeer “bedrieg” om te glo dat Jehovah ons nie liefhet nie. Ons sondige toestand veroorsaak dalk dat ons fokus op ons swakhede en foute. Maar dit is ’n voorbeeld van hoe ons deur “die krag van sonde bedrieg” word, en ons moet dit verwerp.

KIES OM LOJAAL TE BLY

15-16. Waarvan kan ons verseker wees as ons lojaal aan Jehovah bly, en hoekom? (2 Samuel 22:26)

15 Jehovah wil hê dat ons die regte keuse moet maak deur “lojaal aan hom te bly” (Deut. 30:​19, 20). As ons dit doen, kan ons seker wees dat hy lojaal aan ons sal bly. (Lees 2 Samuel 22:26.) Solank ons lojaal aan Jehovah bly, kan ons verseker wees dat hy ons deur enige situasie sal help wat in ons lewe ontstaan.

16 Soos ons bespreek het, het ons alle rede om geanker te bly terwyl ons moeilike tye deurmaak. Ons weet dat Jehovah ons liefhet en ons sal ondersteun. Dit is wat die Bybel ons leer. As ons ooit twyfel dat hy ons liefhet, kan ons nadink oor wat ons weet waar is eerder as oor wat ons voel waar is. Laat ons vas bly glo in die Bybelwaarheid dat Jehovah se lojale liefde vir ewig duur.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe kan ons daarby baat vind as ons Jehovah se liefde as ’n basiese Bybellering beskou?

  • Hoe kan oorgeërfde sonde veroorsaak dat ons twyfel dat Jehovah ons liefhet?

  • Hoe kan ons twyfelgedagtes oor Jehovah se liefde oorkom?

LIED 159 Gee eer aan Jehovah

a Ander voorbeelde sluit Deuteronomium 31:​8, Psalm 94:14 en Jesaja 49:15 in.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer bid vir hulp om vir sy siek vrou te sorg, om sy finansies met praktiese wysheid te bestuur en om sy dogter op te lei om Jehovah lief te hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel