10-16 AUGUSTUS 2026
LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!
Hoe om lojaal te bly wanneer ons toetse van geloof ondervind
“Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.” – JOH. 6:68.
FOKUS
Ons bly lojaal aan Jehovah maak nie saak watter toetse van geloof ons dalk ondervind nie.
1-2. Wat het gebeur terwyl Jesus in Kapernaum onderrig het?
“HIERDIE woorde is skokkend! Wie kan daarna luister?” (Joh. 6:60). Dit is hoe baie van Jesus se dissipels gereageer het op wat Jesus gesê het terwyl hy in Kapernaum onderrig het. Jesus het gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” En hy het verder gesê: “Enigiemand wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en ek sal hom op die laaste dag opwek.” – Joh. 6:53, 54.
2 Jesus se woorde het party erg aanstoot gegee, en hulle het opgehou om hom te volg. Het hulle glad nie geloof in hom gehad nie? Om die waarheid te sê, voor hierdie voorval was party – insluitende Jesus se dissipels – so beïndruk deur wat Jesus gedoen het dat hulle gesê het: “Dit is beslis die Profeet wat in die wêreld sou inkom” (Joh. 6:14). So dit is duidelik dat daardie dissipels ’n mate van geloof in Jesus gehad het. Maar toe hulle geloof getoets is, het hulle nie lojaal aan hom gebly nie.
3. Hoe het die apostels op Jesus se woorde gereageer, en hoekom? (Sien ook prent.)
3 Die apostels het anders op Jesus se woorde gereageer. Toe Jesus hulle gevra het of hulle hom ook wil verlaat, het Petrus geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe. Ons het geglo en weet dat u die Heilige van God is” (Joh. 6:68, 69). Let op dat Petrus nie gesê het dat hy en die ander apostels heeltemal verstaan het wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat hulle sy vlees moet eet en sy bloed moet drink nie. Ongeag wat hulle op daardie oomblik verstaan het, hulle het gekies om lojaal aan Jesus te bly. Hoekom? Omdat hulle geloof op ’n onbetwisbare waarheid gebaseer was – Jesus was “die Christus van God”. – Luk. 9:20, 35.
Al het baie dissipels Jesus verlaat, het Petrus en die ander apostels by hom gebly (Sien paragraaf 3)
4. Watter toetse ondervind ons dalk?
4 Ons lojaliteit aan Jehovah kan op ’n hele paar maniere getoets word. Byvoorbeeld, hoe reageer ons wanneer ons hoor van ’n aanpassing in ons begrip van ’n Bybelvers of van ’n verandering in die manier hoe die dissipelmaakwerk georganiseer word? Of hoe reageer ons wanneer ons dit moeilik vind om te verstaan hoekom Jehovah toelaat dat ons die een of ander tragedie deurmaak? Ons geloof kan ook getoets word as ’n goeie Christenvriend ons seermaak of as iemand vir wie ons respek het, ons op ’n manier behandel wat onregverdig lyk.
5. Illustreer hoekom ons geloof op ’n sterk fondament gebou moet wees. (Kolossense 1:23)
5 Om te illustreer hoekom dit belangrik is om ’n sterk fondament vir ons geloof te hê, dink aan ’n gebou wat in ’n gebied opgerig is waar aardbewings dikwels plaasvind. So ’n gebou het ’n sterk fondament nodig om staande te bly. Net so het ons geloof ’n goeie fondament nodig as ons toetse van geloof soos dié wat in die vorige paragraaf genoem word, wil oorleef. As ons die fondament van ons geloof bly versterk, sal ons standvastige, lojale knegte van Jehovah bly wanneer ons moeilike tye deurmaak. – 1 Kor. 15:58; lees Kolossense 1:23.
6. Wat het die apostels gehelp om lojaal aan Jesus te bly?
6 Wat het die apostels gehelp om lojaal aan Jesus te bly toe baie ander hom verlaat het? Die apostels was oortuig dat Jehovah ons aanbidding waardig is omdat hy die Maker van alle dinge is; dat Jesus God se Seun is, wat “woorde van die ewige lewe” het; en dat Jesus Jehovah se volle ondersteuning het. So eerder as om te kyk na die baie spesifieke maniere hoe ons geloof getoets kan word, kom ons fokus nou op drie waarhede wat ons kan help om standvastig te bly ongeag watter toetse ons dalk ondervind. Dit is: (1) Jehovah is die Skepper van alle dinge. (2) Jehovah het die Bybel geïnspireer. (3) Jehovah ondersteun sy volk vandag. As ons heeltemal oortuig is van hierdie drie waarhede, sal ons lojaal bly wanneer ons toetse van geloof ondervind.
JEHOVAH IS DIE SKEPPER
7. Waaraan herinner Openbaring 4:11 ons, maar wat kan dalk gebeur wanneer ons toetse van geloof deurmaak?
7 Lees Openbaring 4:11. Hierdie vers herinner ons aan die feit dat Jehovah alle dinge geskep het. Dit alleen beteken dat hy waardig is om ons aanbidding te ontvang. En wanneer ons oor sy ontsagwekkende krag nadink, oortuig dit ons dat hy ons uit al ons moeilike tye kan red. Maar Satan het hierdie wêreld met propaganda gevul wat ontwerp is om mense te laat twyfel dat God bestaan. Wetenskaplikes beweer dalk selfs dat lewe vanself ontstaan het. As ons nie vas oortuig is dat Jehovah die Skepper is en dat hy ons liefhet nie, begin ons dalk twyfel dat dit wel die geval is en dat hy ons sal help wanneer ons toetse van geloof deurmaak. – Heb. 11:6.
8-9. Wat moet jy doen as jy begin twyfel dat Jehovah die Skepper is? (Sien ook prent.)
8 As jy begin twyfel dat Jehovah die Skepper is, tree onmiddellik op. Doen deeglik navorsing in ons publikasies vir inligting in verband met die oorweldigende bewyse dat Jehovah alle dinge geskep het. Jy kan ’n oorvloed geloofversterkende inligting oor hierdie onderwerp vind in die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe. Addisionele bewyse wat dit bevestig, word in die reeks “Is dit ontwerp?” op jw.org bespreek. Jessica, ’n jong suster in die Verenigde State, sê: “Nadat ek die Oorsprong van lewe-brosjure gelees het, was ek oortuig dat die feite wys dat daar ’n intelligente Ontwerper is. Ek het dit reeds geweet, maar nadat ek die redenasie in daardie brosjure hersien het, het ek dit sonder enige twyfel aan myself bewys.” Baie het ook baat gevind by ’n hersiening van die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? Jy het hierdie inligting dalk reeds gelees. Maar hoekom lees jy dit nie weer nie?
9 Vir jou volgende persoonlike studieprojek kan jy na die feite kyk wat bewys dat God bestaan. Jou navorsing sal jou nie net help om jou geloof in Jehovah se bestaan te versterk nie maar sal jou ook help om hom beter te leer ken (Rom. 1:20). Jy sal ook wat jy leer, kan gebruik om ander te help wat dalk twyfel dat God bestaan. Die hoofgedagte: Jehovah het ons ’n oorvloed bewyse gegee dat hy ons Skepper is.
Newelwolk: IAC/RGO/David Malin Images; vis en kar: Mercedes-Benz USA; vliegtuig: Kristen Bartlett/University of Florida
Jy het dalk reeds die brosjure Is lewe geskep? gelees. Hoekom lees jy dit nie weer nie? (Sien paragraaf 8)
JEHOVAH HET DIE BYBEL GEÏNSPIREER
10. Hoe beskou ons die Bybel? (2 Timoteus 3:16, 17)
10 Lees 2 Timoteus 3:16, 17. Die Bybel is ’n boodskap van Jehovah aan mense. Dit beantwoord die lewe se belangrike vrae en sê vir ons wat Jehovah se wil is en wat hy wil hê ons moet doen. Ons glo dat Jehovah die Skrywer van die Bybel is, wat die Bybel die belangrikste boek in ons lewe maak. Ons wil sorg dat ons sy Woord verstaan en ons heel bes doen om dit toe te pas.
11. Wat oortuig jou dat die Bybel deur God geïnspireer is?
11 Hoekom is ons oortuig dat Jehovah die Bybel geïnspireer het? Daar is baie redes. God se Woord is geskiedkundig akkuraat (Luk. 3:1, 2). Dit is ook akkuraat wanneer dit dinge omtrent die natuur bespreek (Job 26:7). Die Bybel is die wyds verspreide boek van alle tye ten spyte van Satan se tallose pogings om dit te vernietig. Die Bybel is deur omtrent 40 verskillende mans oor ’n tydperk van omtrent 1 600 jaar geskryf; tog is hulle boodskap harmonieus. Dit bevat tydlose raad wat miljoene mense al in hulle daaglikse lewe gehelp het (Spr. 13:20; 15:21; Matt. 7:12). En baie Bybelprofesieë is al vervul, wat verdere bewyse is dat die Bybel betroubaar is (Jos. 23:14). Ja, die Bybel is beslis deur God geïnspireer!
12. Wat moet ons doen as ons begin twyfel dat die Bybel deur God geïnspireer is?
12 Wat moet ons doen as ons begin twyfel dat die Bybel deur God geïnspireer is? Ons moet dit ’n saak van gebed maak en in ooreenstemming met ons gebede optree. Kyk wat ’n jong broer met die naam Jordan, wat as ’n Getuie grootgemaak is, sê: “Ek glo nie outomaties alles wat ek hoor nie. Ek moet self mooi oor dinge dink. Om eerlik te wees, ek het nog steeds elke nou en dan twyfelgedagtes. Maar wanneer dit gebeur, probeer ek my bes om navorsing in ons publikasies te doen om antwoorde op my vrae te kry en my twyfelgedagtes te oorkom.” As ons ons oortuiging dat Jehovah die Bybel geïnspireer het, bly versterk, sal ons die fondament van ons geloof versterk. – 1 Kor. 3:12, 13.
JEHOVAH ONDERSTEUN SY VOLK VANDAG
13. Wat moet ons doen as ons begin twyfel oor wie God se volk vandag is?
13 As ons ooit begin twyfel dat Jehovah se Getuies die volk is wat God vandag ondersteun, moet ons nie toelaat dat sulke twyfelgedagtes erger word nie. Ons kan eerder ons twyfelgedagtes oorkom deur onsself vrae te vra soos: ‘Wie doen regtig hulle bes om volgens die Bybel se standaarde te lewe? Wie baseer hulle oortuigings slegs op wat die Bybel sê?’ (2 Tim. 4:3, 4). ‘Wie doen Jehovah se wil vandag?’ – Matt. 7:20, 21.
14. Hoe word Jehovah se Getuies gebruik om Matteus 24:14 te vervul?
14 In verband met wie God se wil vandag doen, kan ons onsself vra: ‘Wie doen die predikingswerk wat Jesus voorspel het gedurende die laaste dae sou plaasvind?’ (Matt. 24:14). Die antwoord is so duidelik soos daglig. God gebruik sy volk – Jehovah se Getuies – om die predikingswerk te doen. Net ons verkondig die goeie nuus van God se Koninkryk in meer as 240 lande. Ons doen hierdie werk al meer as 100 jaar onder Koninkryksheerskappy. Ja, ons het gefokus gebly op ons allerbelangrikste predikings- en onderrigtingswerk. – Matt. 28:19, 20.
15. Hoe dra Jehovah se Getuies vandag by tot die heiliging van God se naam? (Matteus 6:9; Jesaja 43:10)
15 Lees Matteus 6:9 en Jesaja 43:10. Ons word deur God se persoonlike naam, Jehovah, geïdentifiseer, en ons is trots om Jehovah se Getuies genoem te word. Op ’n tyd dat die meeste mense in die wêreld nie God se naam ken nie, het ons dit op sy regmatige plek in die Bybel herstel. Dit verskyn meer as 7 000 keer in die hoofteks van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel.
16. Hoekom kan ons sê dat Jehovah se Getuies die gebod in Johannes 13:34, 35 gehoorsaam? (Sien ook prent.)
16 Lees Johannes 13:34, 35. Ons broederskap is ’n hedendaagse wonderwerk van liefde en eenheid, wat uitstaan in ’n vyandige en verdeelde wêreld. Ons kom uit alle dele van die wêreld en het verskillende agtergronde en is verskillend grootgemaak; tog doen ons ons bes om vrede en liefde onder mekaar te hê. Het jy al ooit ’n ander gemeente besoek terwyl jy gereis het? Wanneer jy dit weer doen, dink oor die liefde en eenheid onder ons broers en susters. Dit sal duidelik wys dat Jehovah beslis sy Getuies gebruik om sy wil vandag te bereik. As ons dit in gedagte hou, kan dit ons help om gedurende enige toetse van geloof lojaal aan Jehovah te bly.
Ons broederskap is ’n hedendaagse wonderwerk van liefde en eenheid (Sien paragraaf 16)a
MOENIE JEHOVAH OOIT VERLAAT NIE
17-18. Watter moeilike situasies ondervind ons dalk, maar wat kan ons met vertroue sê?
17 Ons lewe in swaar tye wat moeilik is om deur te kom, so hierdie laaste dae sal vir ons almal moeilik wees (2 Tim. 3:1, 13). Ons ondervind miskien ander moeilike situasies. God se organisasie maak dalk besluite wat ons nie heeltemal verstaan nie. Of ons voel miskien dat ’n broer of ’n suster ons nie verstaan nie of hulle doen dalk iets wat ons seermaak. Ons weet dalk nie hoe om ons probleem op te los nie, of ons verstaan dalk nog steeds nie hoekom iets gebeur nie.
18 Al kan hierdie situasies dalk veroorsaak dat ons hartseer en angstig voel, kan ons altyd lojaal aan Jehovah wees as ons oortuig is dat hy die Skepper is, dat die Bybel sy Woord is en dat Jehovah se Getuies sy volk is. Soos Petrus vir Jesus gesê het, kan ons ook vir Jehovah sê: “Na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.”
LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde
a BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ma en dogter wat met ’n bus ry, is bly om ander Getuies te sien velddiens doen.