Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Julie bl. 8-13
  • Hoe om raad te gee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om raad te gee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WANNEER ONS GEVRA WORD OM RAAD TE GEE
  • HOE OM RAAD TE GEE SONDER DAT JY GEVRA WORD
  • HOE OM RAAD OP DIE REGTE TYD EN OP DIE REGTE MANIER TE GEE
  • HOU AAN OM RAAD TE GEE EN TE AANVAAR
  • Hoekom moet ons raad soek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Roep die ouermanne
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Maak jou raad ander se “hart bly”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • “Skenk aandag aan die woorde van die wyses”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Julie bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 29

LIED 87 Kom! Word verkwik

Hoe om raad te gee

“Ek sal jou raad gee met my oog op jou.” – PS. 32:8.

FOKUS

Hoe om goeie raad te gee.

1. Wie moet raad gee? Verduidelik.

HOE voel jy daaroor om raad te gee? Party hou daarvan. Ander is huiwerig om raad te gee en voel ongemaklik wanneer hulle dit doen. Wat ook al die geval is, ons almal is verplig om van tyd tot tyd vir ander raad te gee. Hoekom? Omdat Jesus gesê het dat sy ware volgelinge geïdentifiseer word aan die liefde wat hulle aan mekaar betoon (Joh. 13:35). En een manier hoe ons ons liefde bewys, is deur vir ons broers en susters raad te gee wanneer dit nodig is. God se Woord sê dat “vriendskap” groei as gevolg van “opregte raad”. – Spr. 27:9.

2. Wat moet ouermanne kan doen, en hoekom? (Sien ook die venster “Raad by die Lewe en Bediening-vergadering”.)

2 Veral ouermanne moet goeie raad kan gee. Jehovah het hierdie mans deur middel van Jesus aangestel om vir die gemeente te sorg (1 Pet. 5:​2, 3). Een van die maniere waarop hulle dit doen, is deur Bybelse raad in hulle toesprake aan die gemeente te gee. Hulle moet ook raad gee aan individuele skape, insluitende dié wat van die kudde afgedwaal het. Hoe kan ouermanne en ons almal goeie raad gee?

Die voorsitter by ’n vergadering in die week gebruik die “Leer hoe om beter te lees en onderrig”-brosjure om ’n student te prys en raad te gee.

Raad by die Lewe en Bediening-vergadering

Die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering gee goeie raad aan dié wat studentetoewysings doen. Terwyl die student sy deel doen, kyk die voorsitter hoe goed die student die studiepunt toepas.

Ná die toewysing prys die voorsitter die student opreg. As dit nodig is, gee hy ook spesifieke en taktvolle raad oor hoe die student die studiepunt beter kan toepas. Sulke raad help nie net die student nie, maar ook die hele gemeente. – Spr. 27:17.

3. (a) Hoe kan ons leer om ’n goeie raadgewer te wees? (Jesaja 9:6; sien ook die venster “Volg Jesus na wanneer ons ander raad gee”.) (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons kan baie leer oor hoe om ’n goeie raadgewer te wees deur Bybelkarakters, veral Jesus, se voorbeeld te bestudeer. Een van die titels wat hy gegee is, is “Wonderlike Raadgewer”. (Lees Jesaja 9:6.) In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons kan doen wanneer ons gevra word om raad te gee en wat ons kan doen wanneer ons raad moet gee sonder dat ons gevra word. Ons sal ook bespreek hoe belangrik dit is om raad te gee op die regte tyd en op die regte manier.

Volg Jesus na wanneer ons ander raad gee

Kom ons kyk na party van die dinge wat Jesus ’n “Wonderlike Raadgewer” maak, en kyk hoe ons sy voorbeeld kan volg.

  • Jesus het geweet wat om te sê. Hy het altyd geweet wat die regte ding is om te sê omdat hy sy raad op Jehovah se wysheid gebaseer het, nooit op sy eie nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Die dinge wat ek vir julle sê, sê ek nie uit my eie nie.” – Joh. 14:10.

    Die les: Al het ons dalk baie ondervinding en wysheid in die lewe opgebou, moet ons seker maak dat die raad wat ons gee, op God se Woord gebaseer is, nie op ons eie gedagtes nie.

  • Jesus het geweet wanneer om raad te gee. Hy het nie vir sy dissipels op een slag alles vertel wat hulle moes weet nie. Hy het eerder gewag vir die regte tyd om sy dissipels raad te gee, en hy het hulle net soveel vertel as wat hulle kon dra. – Joh. 16:12.

    Die les: Wanneer ons iemand raad gee, moet ons wag totdat dit die regte “tyd [is] om te praat” (Pred. 3:7). As ons die persoon met inligting oorweldig, sal dit hom dalk deurmekaar maak en hom mismoedig maak. So dit sal goed wees as ons net vir hom sê wat hy moet weet om die uitdaging wat hy het, te hanteer.

  • Jesus het geweet hoe om taktvol te wees. Jesus moes sy apostels herhaaldelik raad gee oor hoe om nederig te wees. Maar hy was elke keer kalm en respekvol. – Matt. 18:​1-5.

    Die les: Al moet ons iemand herhaaldelik dieselfde raad gee, is daar ’n groter kans dat hy dit sal aanvaar as ons kalm en respekvol is.

WANNEER ONS GEVRA WORD OM RAAD TE GEE

4-5. Watter vraag moet ons onsself eers afvra wanneer iemand ons vir raad vra? Gee ’n voorbeeld.

4 Wat moet ons eerste reaksie wees wanneer iemand ons vir raad vra? Ons is dalk gevlei en wil onmiddellik help. Maar ons moet onsself eers afvra: ‘Is ek gekwalifiseerd om raad op hierdie gebied te gee?’ Die beste manier hoe ons soms kan help, is deur nie raad te gee nie, maar om eerder die persoon na iemand te verwys wat gekwalifiseerd is om raad oor daardie onderwerp te gee.

5 Dink aan hierdie voorbeeld. Sê nou ’n goeie vriend word ernstig siek. Hy sê vir jou dat hy navorsing begin doen het oor die opsies vir behandeling wat aan hom beskikbaar is, en dan vra hy jou opinie oor watter behandeling jy voel beter is. Jy het dalk sterk persoonlike opinies oor die saak, maar jy het geen mediese kwalifikasies of opleiding in hoe om die siekte te behandel nie. Die beste manier om jou vriend in daardie geval te help, is om hom te help om iemand te vind wat gekwalifiseerd is om die siekte te behandel.

6. Hoekom kies ons dalk om te wag voordat ons raad gee?

6 Selfs al voel ons dat ons gekwalifiseerd is om raad oor ’n spesifieke onderwerp te gee, kies ons dalk om vir ’n kort rukkie te wag voordat ons ’n persoon antwoord wat ons vir raad vra. Hoekom? Spreuke 15:28 sê dat “die regverdige . . . mooi [dink] voordat hy antwoord”. Sê nou ons dink dat ons die antwoord ken? Ons kan nog steeds tyd neem om navorsing te doen, om te bid en om mooi te dink. Dan kan ons meer vertroue hê dat ons antwoord in ooreenstemming is met hoe Jehovah oor die saak voel. Kyk na die voorbeeld van die profeet Natan.

7. Wat leer jy uit die profeet Natan se voorbeeld?

7 Toe koning Dawid met die profeet Natan gepraat het, het hy gesê dat hy ’n tempel vir Jehovah wil bou. Natan het onmiddellik vir hom gesê om dit te doen. Maar Natan moes eers tyd geneem het om Jehovah te raadpleeg. Hoekom? Omdat Jehovah nie wou hê dat Dawid die tempel moes bou nie (1 Kron. 17:​1-4). Soos ons uit hierdie voorbeeld kan sien, is dit wys as ons “stadig [is] om te praat” wanneer ons gevra word om raad te gee. – Jak. 1:19.

8. Wat is nog ’n rede hoekom ons versigtig moet wees wanneer ons raad gee?

8 Kyk na nog ’n rede hoekom ons versigtig moet wees wanneer ons iemand raad gee: Ons kan gedeeltelik verantwoordelik wees as ons raad veroorsaak dat iemand ’n besluit neem wat negatiewe gevolge het. Ons het beslis goeie rede om mooi te dink voordat ons raad gee.

HOE OM RAAD TE GEE SONDER DAT JY GEVRA WORD

9. Waarvan moet ouermanne seker wees voordat hulle iemand raad gee? (Galasiërs 6:1)

9 Van tyd tot tyd moet ouermanne die inisiatief neem om raad te gee vir ’n broer of ’n suster wat “’n verkeerde rigting [begin] inslaan” het. (Lees Galasiërs 6:1.) ’n Persoon maak moontlik party onwyse keuses wat later tot ’n ernstige sonde kan lei. Die ouermanne se doel is om die persoon te help om te bly op die pad wat na die ewige lewe lei (Jak. 5:​19, 20). Maar as hulle wil hê dat hulle raad effektief moet wees, moet hulle eers seker maak dat die persoon regtig ’n verkeerde rigting begin inslaan het. Jehovah laat ons almal toe om besluite te maak wat gebaseer is op ons eie gewete (Rom. 14:​1-4). Maar sê nou ’n broer het wel ’n verkeerde rigting begin inslaan en die ouermanne besluit dat hulle die inisiatief moet neem om hom raad te gee?

10-12. Wat moet ouermanne doen wanneer hulle ongevraagde raad gee? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prente.)

10 Ouermanne wat ongevraagde raad moet gee, het ’n spesifieke uitdaging. Hoekom? Die apostel Paulus het gesê dat ’n persoon dalk ’n verkeerde weg sal begin inslaan voordat hy daarvan bewus is. So die ouermanne moet die persoon eers voorberei om die raad te ontvang.

11 Om ongevraagde raad te gee, kan wees soos om plante in harde grond te probeer plant. Voordat ’n boer begin saai, bewerk hy die grond. Dit maak die grond sag en berei dit voor om die saad te ontvang. Dan plant hy die saad. Laastens gee hy die saad water om dit te help groei. Net so, voordat ’n ouerman ongevraagde raad gee, sal dit goed wees as hy die grond as ’t ware voorberei. Byvoorbeeld, op ’n gepaste tyd om te praat, verseker die ouerman die broer dat hy sy beste belange op die hart dra. As ’n raadgewer die reputasie het dat hy liefdevol is, sal dit vir ander makliker wees om sy raad te aanvaar.

12 Gedurende die bespreking kan die ouerman voortgaan om die grond sag te maak deur te erken dat almal foute maak en van tyd tot tyd raad nodig het (Rom. 3:23). Met ’n kalm stem en met diep respek wys die ouerman duidelik vir hom uit die Bybel hoe hy ’n verkeerde weg begin inslaan het. Sodra die broer erken dat hy ’n fout gemaak het, plant die ouerman die saad deur in eenvoudige woorde aan hom te verduidelik wat hy moet doen om die situasie te probeer regstel. Laastens gee die ouerman die saad water deur die broer opreg te prys en deur saam met hom te bid. – Jak. 5:15.

Tonele wat vergelyk hoe ’n ouerman ’n broer raad gee met ’n boer wat saad in harde grond plant. 1. Berei die grond voor: Die boer bewerk die grond; die ouerman praat liefdevol met die broer. 2. Plant: Die boer sit saad in die bewerkte grond; die ouerman gebruik die Bybel om met die broer te redeneer. 3. Water: Die boer gee die saad wat hy geplant het, water; die ouerman bid saam met die broer.

Ons moet liefdevol en vaardig wees wanneer ons ongevraagde raad gee (Sien paragraaf 10-12)


13. Hoe kan ouermanne seker maak dat die persoon die raad verstaan?

13 Soms is wat die raadgewer sê, en wat die persoon hoor, twee verskillende dinge. Wat kan die ouermanne doen om te keer dat dit gebeur? Hulle kan seker maak dat die persoon die belangrike punte verstaan deur op ’n respekvolle manier taktvolle vrae te vra (Pred. 12:11). Die antwoorde sal die raadgewer help om seker te maak dat die persoon die raad wat hy gegee is, verstaan.

HOE OM RAAD OP DIE REGTE TYD EN OP DIE REGTE MANIER TE GEE

14. Moet ons iemand raad gee wanneer ons kwaad is? Verduidelik.

14 Ons is almal onvolmaak, so soms sal ons dinge doen of sê wat ander ontstel (Kol. 3:13). God se Woord erken dat ons mekaar soms selfs sal kwaad maak (Ef. 4:26). Maar ons moenie iemand raad gee wanneer ons kwaad is nie. Hoekom nie? Want “’n mens se woede lei nie tot God se regverdigheid nie” (Jak. 1:20). As ons iemand raad gee wanneer ons kwaad is, sal ons die situasie heel moontlik erger maak. Dit beteken nie dat ons nooit vir die persoon wat ons kwaad gemaak het, moet sê wat ons dink of hoe ons voel nie. Maar ons kan beter kommunikeer as ons wag totdat ons kalm is. Kyk na die goeie voorbeeld wat Job se getroue raadgewer, Elihu, gestel het.

15. Wat leer ons uit Elihu se voorbeeld? (Sien ook prent.)

15 Elihu het dae lank geluister hoe Job homself verdedig teen die aantygings van sy valse vertroosters. Elihu het jammer gevoel vir Job. Maar Elihu het ook baie kwaad geword omdat Job dinge oor Jehovah gesê het wat nie waar is nie, en te veel op homself gefokus het. Tog het Elihu vir sy beurt gewag en toe op ’n kalm en baie respekvolle manier gepraat toe hy Job raad gegee het (Job 32:2; 33:​1-7). Elihu se voorbeeld leer ons ’n belangrike waarheid: Die beste raad is raad wat op die regte tyd en op die regte manier gegee is – met respek en liefde. – Pred. 3:​1, 7.

Elihu luister met empatie na Job, wat vol sere is.

Al het Elihu vroeër baie kwaad geword, het hy sy raad op ’n kalm en baie respekvolle manier gegee (Sien paragraaf 15)


HOU AAN OM RAAD TE GEE EN TE AANVAAR

16. Watter les leer jy uit Psalm 32:8?

16 Die temateks vir hierdie artikel sê dat ‘Jehovah raad gee met sy oog op ons’. (Lees Psalm 32:8.) Hierdie vers wys dat hy sal aanhou om ons te ondersteun. Hy gee ons nie net raad nie, maar hy help ons ook om dit toe te pas. Dit is ’n baie goeie voorbeeld vir ons! Wanneer ons die voorreg het om ander raad te gee, laat ons Jehovah navolg deur ons oog op hulle te hou en deur hulle op enige manier te ondersteun wat ons kan om hulle te help om suksesvol te wees.

17. Soos wat is ouermanne wanneer hulle spesifieke, Bybelse raad gee? Verduidelik. (Jesaja 32:​1, 2)

17 Ons moet nou meer as ooit tevore goeie raad gee en ontvang (2 Tim. 3:1). Ouermanne wat spesifieke Bybelse raad gee, is “soos waterstrome in ’n waterlose land”. (Lees Jesaja 32:​1, 2.) Vriende wat weet wat ons wil hoor, maar vir ons sê wat ons moet hoor, gee ons ’n geskenk wat so waardevol is soos “goue appels in silwerhouers” (Spr. 25:11). Laat ons almal aanhou om die wysheid te ontwikkel wat ons nodig het om goeie raad te gee en te ontvang.

WAT MOET ONS ONTHOU WANNEER ONS . . .

  • gevra word om raad te gee?

  • ongevraagde raad moet gee?

  • kwaad is?

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel