STUDIEARTIKEL 28
LIED 88 Maak u weë aan my bekend
Hoekom moet ons raad soek?
“Wysheid behoort aan dié wat raad soek.” – SPR. 13:10.
FOKUS
Wat ons moet doen om ten volle baat te vind by die raad wat ons ontvang.
1. Hoe kan ons wyse besluite maak wat daartoe sal lei dat ons planne suksesvol is? (Spreuke 13:10; 15:22)
ONS almal wil wyse besluite maak. En ons almal wil hê dat ons planne suksesvol moet wees. God se Woord sê vir ons hoe ons albei hierdie doelwitte kan bereik. – Lees Spreuke 13:10; 15:22.
2. Wat belowe Jehovah om vir ons te doen?
2 Ons Vader, Jehovah, is natuurlik die beste Persoon na wie ons kan gaan vir wysheid en raad. Hy belowe om ons te help en sê: “Ek sal jou raad gee met my oog op jou” (Ps. 32:8). Hierdie woorde wys dat Jehovah meer doen as om ons net raad te gee – hy stel persoonlik in ons belang en help ons om sy raad toe te pas.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 In hierdie artikel sal ons God se Woord gebruik om vier vrae te beantwoord: (1) Watter eienskappe moet ek hê as ek by goeie raad wil baat vind? (2) Wie kan vir my goeie raad gee? (3) Hoe kan ek wys dat ek regtig raad wil hê? (4) Hoekom moet ek ander nie vra om besluite vir my te maak nie?
WATTER EIENSKAPPE MOET EK HÊ?
4. Watter eienskappe moet ons hê as ons by goeie raad wil baat vind?
4 Ons moet nederig en beskeie wees as ons by goeie raad wil baat vind. Ons moet besef dat ons dalk nie die ondervinding of die kennis het om op ons eie ’n wyse keuse te maak nie. As ons nie nederig en beskeie is nie, sal Jehovah ons nie kan help nie. Gevolglik sal enige raad wat ons wel ontvang wanneer ons God se Woord lees, dalk vir ons soos water op ’n eend se rug wees (Miga 6:8; 1 Pet. 5:5). Maar as ons nederig en beskeie is, sal ons vinnig wees om die Bybelse raad wat ons hoor, te absorbeer en om daarby baat te vind.
5. Watter prestasies kon veroorsaak het dat koning Dawid trots word?
5 Kyk na wat ons kan leer uit die voorbeeld van koning Dawid. Sy prestasies kon veroorsaak het dat hy trots word. Lank voordat hy koning geword het, was hy beroemd vir sy vermoë as ’n musikant. Hy is selfs gevra om vir die koning te speel (1 Sam. 16:18, 19). Nadat Jehovah Dawid as die volgende koning gesalf het, het Hy hom krag gegee deur middel van Sy heilige gees (1 Sam. 16:11-13). Hy was gewild onder sy volk omdat hy hulle vyande doodgemaak het, insluitende die Filistynse reus Goliat (1 Sam. 17:37, 50; 18:7). ’n Trotse man wat sulke groot dinge bereik het, kon gedink het dat hy nie na die raad van ander hoef te luister nie. Maar nie Dawid nie.
6. Hoe weet ons dat Dawid gewillig was om na raad te luister? (Sien ook prent.)
6 Nadat Dawid koning geword het, het hy vriende gekies wat vir hom raad kon gee (1 Kron. 27:32-34). Om die waarheid te sê, selfs voordat Dawid koning geword het, was hy altyd gewillig om te luister wanneer ander vir hom goeie raad gegee het. Hy het nie net raad van mans aanvaar nie, maar ook van ’n vrou met die naam Abigail. Sy was die vrou van die disrespekvolle, ondankbare en egotistiese man Nabal. Dawid het haar goeie raad nederig toegepas, en as gevolg daarvan het hy dit vermy om ’n verskriklike fout te maak. – 1 Sam. 25:2, 3, 21-25, 32-34.
Koning Dawid het Abigail se raad nederig aanvaar en toegepas (Sien paragraaf 6)
7. Watter lesse kan ons uit Dawid se voorbeeld leer? (Prediker 4:13) (Sien ook prente.)
7 Ons kan ’n paar lesse by Dawid leer. Byvoorbeeld, ons is dalk talentvol of het dalk ’n mate van gesag. Al is dit die geval, moet ons nooit dink dat ons alles weet en nie raad nodig het nie. En soos Dawid moet ons gewillig wees om na goeie raad te luister, maak nie saak wie dit gee nie. (Lees Prediker 4:13.) As ons dit doen, sal ons heel moontlik nie groot foute maak wat probleme vir ons en vir ander kan veroorsaak nie.
Ons moet gewillig wees om na goeie raad te luister maak nie saak wie dit vir ons gee nie (Sien paragraaf 7)c
WIE KAN VIR MY GOEIE RAAD GEE?
8. Hoekom kon Jonatan vir Dawid goeie raad gee?
8 Kyk na nog ’n les wat ons uit Dawid se voorbeeld kan leer. Hy het geluister na die raad wat hy gekry het by mense wat ’n goeie verhouding met Jehovah gehad het en die spesifieke uitdaging wat hy deurgemaak het, goed verstaan het. Byvoorbeeld, toe hy wou weet of hy sy verhouding met koning Saul kon herstel, het Dawid geluister na die raad van Jonatan, Saul se seun. Hoekom kon Jonatan vir hom goeie raad gee? Omdat Jonatan nie net ’n goeie verhouding met Jehovah gehad het nie, maar ook ondervinding gehad het in hoe om Saul te hanteer (1 Sam. 20:9-13). Hoe kan ons daardie les toepas?
9. Wie moet ons vra wanneer ons raad nodig het? Verduidelik. (Spreuke 13:20)
9 Wanneer ons raad nodig het, sal dit goed wees om iemand te vra wat ’n goeie verhouding het met Jehovah en ondervinding het in die saak waarmee ons hulp nodig het.a (Lees Spreuke 13:20.) Byvoorbeeld, sê nou ’n jong broer stel daarin belang om ’n geskikte huweliksmaat te vind. Wie kan vir hom goeie raad gee? ’n Ongetroude vriend kan dalk help as hy sy raad op Bybelbeginsels baseer. Maar die jong broer sal heel moontlik raad kry wat spesifieker en praktieser is as hy ’n geestelik volwasse paartjie vra wat hom goed ken en wat al ’n ruk lank gelukkig getroud is.
10. Wat sal ons nou bespreek?
10 Ons het twee eienskappe bespreek wat ons moet hê, sowel as wie vir ons goeie raad kan gee. Kom ons kyk nou hoekom ons moet wys dat ons regtig raad wil hê en of ons ander moet vra om besluite vir ons te maak.
HOE KAN EK WYS DAT EK REGTIG RAAD WIL HÊ?
11-12. (a) Wat moet ons nie doen nie? (b) Wat het koning Rehabeam gedoen toe hy ’n belangrike besluit moes maak?
11 Soms lyk dit dalk asof ’n persoon raad soek, maar in werklikheid wil hy net by ander bevestiging hê oor ’n besluit wat hy reeds gemaak het. As dit die geval is, wil hy nie regtig raad hê nie. Hy moet leer uit wat met koning Rehabeam gebeur het.
12 Rehabeam het koning Salomo as heerser van Israel opgevolg. Toe Rehabeam koning word, was die nasie voorspoedig, maar die volk het gevoel dat Salomo te veel van hulle verwag het. Die volk het na Rehabeam gegaan en hom gesmeek om hulle las ligter te maak. Rehabeam het hulle gevra om hom tyd te gee om te dink oor die besluit wat hy sou maak. Hy het goed begin deur raad te vra by die ouer mans wat Salomo gehelp het (1 Kon. 12:2-7). Maar hy het die raad wat hierdie ouer mans gegee het, verwerp. Hoekom het hy dit gedoen? Het Rehabeam reeds besluit wat hy gaan doen en het hy net iemand gesoek om met hom saam te stem? As dit die geval is, het hy daardie bevestiging gevind in die raad wat hy by sy jonger vriende ontvang het (1 Kon. 12:8-14). Rehabeam het die volk geantwoord in ooreenstemming met daardie raad. As gevolg daarvan het baie van die mense gerebelleer en ’n ander koning gekies, en van toe af het Rehabeam heeltyd probleme gehad. – 1 Kon. 12:16-19.
13. Hoe kan ons weet of ons regtig raad wil hê?
13 Wat kan ons uit Rehabeam se voorbeeld leer? Wanneer ons raad vra, moet ons regtig raad wil hê. Hoe kan ons weet of dit die geval is? Ons kan ons afvra: ‘Vra ek raad en verwerp ek dit dan onmiddellik omdat dit nie is wat ek wil hoor nie?’ Kyk na ’n voorbeeld.
14. Wat moet ons onthou wanneer ons raad ontvang? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)
14 Stel jou voor dat ’n broer ’n goed betaalde werksaanbod ontvang het. Voordat hy dit aanvaar, vra hy ’n ouerman vir raad. Die broer noem dat die werk sou vereis dat hy vir lang periodes weg van sy gesin moet wees. Die ouerman herinner die broer aan die Bybelbeginsel dat sy hoofverantwoordelikheid is om in sy gesin se geestelike behoeftes te voorsien (Ef. 6:4; 1 Tim. 5:8). Sê nou die broer vind onmiddellik fout met die ouerman se woorde en vra ander broers oor die saak totdat iemand vir hom sê wat hy wil hoor. Soek die broer regtig raad of het hy reeds besluit wat om te doen en soek hy net iemand om met hom saam te stem? Ons moet onthou dat ons hart bedrieglik is (Jer. 17:9). Soms is die raad wat ons die meeste nodig het, die raad wat ons die minste wil hoor.
Soek ons regtig goeie raad of soek ons net iemand om met ons saam te stem? (Sien paragraaf 14)
MOET EK ANDER VRA OM BESLUITE VIR MY TE MAAK?
15. Wat moet ons nie doen nie, en hoekom nie?
15 Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om sy of haar eie besluite te maak (Gal. 6:4, 5). Soos ons bespreek het, sal ’n wyse persoon raad soek in God se Woord en by volwasse Christene voordat hy besluit wat om te doen. Maar ons moenie ander vra om besluite vir ons te maak nie. Party doen dit dalk direk deur iemand wat hulle respekteer, te vra: “Wat sou jy doen as jy in my situasie was?” Ander doen dit dalk op ’n subtieler manier deur te doen wat iemand anders doen sonder om self mooi oor die saak te dink.
16. Watter situasie het in Korinte ontstaan in verband met vleis wat aan afgode geoffer is, en wie se verantwoordelikheid was dit om te besluit of sulke vleis geëet kon word? (1 Korintiërs 8:7; 10:25, 26)
16 Kyk na die situasie wat onder die eerste-eeuse gemeente in Korinte ontstaan het in verband met vleis wat dalk aan afgode geoffer is. Paulus het aan daardie Christene geskryf en gesê: “Ons weet dat ’n afgod niks in die wêreld is nie en dat daar net een God is” (1 Kor. 8:4). Met dit in gedagte het party in die gemeente besluit dat hulle vleis kon eet wat dalk aan ’n afgod geoffer is en later by ’n vleismark verkoop is. Ander het besluit dat hulle nie sulke vleis kon eet sonder dat dit hulle gewete pla nie. (Lees 1 Korintiërs 8:7; 10:25, 26.) Dit was ’n persoonlike besluit. Paulus het die Korintiërs nooit aangemoedig om besluite vir ander te maak of om te doen wat ander gedoen het nie. Elkeen van hulle sou deur ‘God geoordeel word volgens sy eie dade’. – Rom. 14:10-12.
17. Wat kan gebeur as ons net doen wat ander doen? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prente.)
17 Hoe kan ’n soortgelyke situasie vandag ontstaan? Kyk na die kwessie van bloedfraksies. Elke Christen moet self besluit of hy of sy hierdie fraksies gaan aanvaar of verwerp.b Ons vind dit dalk moeilik om hierdie kwessie ten volle te verstaan, maar om sulke besluite te maak, is deel van die vrag wat elkeen van ons moet dra (Rom. 14:4). As ons net sou doen wat iemand anders besluit het om te doen, kan ons ons eie gewete verswak. Ons kan ons gewete net oplei en verbeter as ons dit gebruik (Heb. 5:14). So wanneer moet ons ’n volwasse Christen vir raad vra? Nadat ons ons eie navorsing gedoen het, maar nog steeds hulp nodig het om te verstaan hoe Bybelbeginsels met ons situasie verband hou.
Ons moet raad soek slegs nadat ons ons eie navorsing gedoen het (Sien paragraaf 17)
HOU AAN OM RAAD TE SOEK
18. Wat het Jehovah vir ons gedoen?
18 Jehovah het gewys dat hy baie vertroue in ons het deur ons toe te laat om ons eie besluite te maak. Hy gee ons sy Woord, die Bybel. En hy gee ons wyse vriende, wat ons kan help om oor Bybelbeginsels te redeneer. Hy het sy verantwoordelikheid as ons Vader nagekom (Spr. 3:21-23). Wat kan ons doen om vir hom te wys dat ons dankbaar is?
19. Hoe kan ons aanhou om Jehovah gelukkig te maak?
19 Dink aan hierdie feit: Dit maak ouers baie gelukkig wanneer hulle sien hoe hulle kinders grootword en bedagsame, wyse en behulpsame knegte van Jehovah word. Net so is Jehovah gelukkig wanneer hy sien dat ons aanhou om geestelik te groei, raad te soek en besluite te maak wat hom eer.
LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees
a Christene sal dalk soms wyslik raad in verband met finansiële, mediese of ander sake vra by mense wat Jehovah nie dien nie.
b Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp sien die Geniet die lewe vir ewig!-boek, les 39 punt 5 en die “Leer meer”-deel.
c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman gee ’n mede-ouerman raad oor die manier hoe hy by ’n onlangse vergadering gepraat het.