STUDIEARTIKEL 11
LIED 57 Preek vir alle soorte mense
Volg Jesus se ywer vir die predikingswerk na
“Die Here [het] hulle twee-twee voor hom uit gestuur na elke stad en plek waarheen hy self sou gaan.” – LUK. 10:1.
FOKUS
Vier maniere hoe jy Jesus se ywer kan navolg in jou bediening.
1. Wat is een eienskap wat Jehovah se volk anders maak as die wêreld?
EEN ding wat Jehovah se knegte anders maak as naamchristene, is hulle ywera vir die bediening (Tit. 2:14). Maar partykeer vind jy dit dalk moeilik om entoesiasties te voel oor die predikingswerk. Dalk stem jy saam met een hardwerkende ouerman wat gesê het: “Partykeer is ek net nie lus om te preek nie.”
2. Wat kan dit partykeer moeilik maak om ywer vir die bediening te behou?
2 Ons geniet dit dalk meer om ander vorme van heilige diens te doen as om aan die openbare predikingswerk deel te neem. Hoekom? Ons sien dalk onmiddellike resultate en voel dalk dat ons iets bereik wanneer ons teokratiese geboue bou en in stand hou, met noodlenigingswerk help of ons broers aanmoedig. Ons geniet die atmosfeer van vrede en liefde wat ons ondervind wanneer ons saam met ons broers werk, en ons weet dat hulle waardeer wat ons vir hulle doen. Aan die ander kant preek ons dalk al jare lank in dieselfde gebied met min positiewe resultate. Of ons ontmoet dalk mense wat die boodskap verwerp. Ons weet ook dat ons meer teenstand kan verwag soos die einde nader kom (Matt. 10:22). Wat kan ons help om ons ywer te behou en selfs yweriger te word vir die predikingswerk?
3. Hoe illustreer Lukas 13:6-9 Jesus se ywer?
3 Ons kan uit Jesus se voorbeeld leer hoe om ywerig in die predikingswerk te wees. Gedurende sy bediening het hy nooit sy ywer verloor nie. Om die waarheid te sê, met verloop van tyd het hy meer in sy bediening gedoen. (Lees Lukas 13:6-9.) Soos die wingerdarbeider wat drie jaar lank mooi na ’n vyeboom gekyk het wat nie enige vrug gedra het nie, het Jesus omtrent drie jaar lank vir die Jode gepreek, maar die meeste van hulle het nie gunstig daarop gereageer nie. Maar net soos die wingerdarbeider geweier het om hoop op te gee met die vyeboom, het Jesus nie mense afgeskryf of minder begin doen in sy bediening nie. Hy het eerder harder gewerk om hulle hart te bereik.
4. Watter vier aspekte van Jesus se voorbeeld sal ons bespreek?
4 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jesus gewys het dat hy ywerig is, veral gedurende die laaste ses maande van sy bediening. (Sien die studienota “After these things” vir Luk. 10:1 in die Engelse Studiebybel.) Dit sal ons vandag help om ywerig te bly as ons leer uit wat hy ons geleer het en navolg wat hy gedoen het. Kom ons bespreek Jesus se voorbeeld op vier gebiede: (1) Hy het op Jehovah se wil gefokus, (2) hy het aandag geskenk aan Bybelprofesieë, (3) hy het op Jehovah vertrou vir ondersteuning en (4) hy het positief gebly dat party na hom sou luister.
HY HET OP JEHOVAH SE WIL GEFOKUS
5. Hoe het Jesus gewys dat hy daarop gefokus was om God se wil te doen?
5 Jesus het “die goeie nuus van die Koninkryk” ywerig verkondig omdat hy geweet het dat dit die werk is wat God wou hê hy moet doen (Luk. 4:43). Jesus het die bediening sy hooffokus in die lewe gemaak. Selfs gedurende die laaste paar maande van sy bediening het hy “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie” gereis om ander te leer (Luk. 13:22). Hy het ook nog dissipels opgelei om saam met hom as predikers te werk. – Luk. 10:1.
6. Hoe hou die predikingswerk verband met ander toewysings wat ons dalk het? (Sien ook prent.)
6 Die verkondiging van die goeie nuus is vandag ook die belangrikste werk wat Jehovah en Jesus wil hê ons moet doen (Matt. 24:14; 28:19, 20). Daar is ’n direkte verband tussen die predikingswerk en ander teokratiese toewysings. Byvoorbeeld, ons bou teokratiese fasiliteite of dien by Bethel om die behoeftes in die veld te ondersteun. Wanneer daar ’n ramp is, maak ons seker dat ons broers en susters die nodige dinge kry, wat hulle help om weer vergaderinge by te woon en weer te begin preek. Wanneer ons besef hoe belangrik die predikingswerk is en onthou dat dit die belangrikste werk is wat Jehovah wil hê ons moet doen, sal ons gemotiveerd wees om ’n gereelde deelname aan die bediening te hê. János, ’n ouerman in Hongarye, sê: “Ek herinner myself daaraan dat geen teokratiese aktiwiteit die predikingswerk kan vervang nie; dit is ons belangrikste toewysing.”
Die verkondiging van die goeie nuus is vandag die belangrikste werk wat Jehovah en Jesus wil hê ons moet doen (Sien paragraaf 6)
7. Hoekom wil Jehovah hê dat ons moet aanhou preek? (1 Timoteus 2:3, 4)
7 Ons kan ons ywer vir die bediening versterk deur mense te sien soos Jehovah hulle sien. Hy wil hê dat soveel as moontlik die goeie nuus moet hoor en daarop moet reageer. (Lees 1 Timoteus 2:3, 4.) Daarom lei hy ons op sodat ons effektiewer is wanneer ons hierdie lewensreddende boodskap met ander deel. Byvoorbeeld, die brosjure Wees lief vir mense – Maak dissipels voorsien praktiese voorstelle wat ons kan help om gesprekke te begin met die doel om dissipels te maak. Al reageer mense nie nou nie, sal hulle dalk ’n geleentheid hê om dit te doen voor die einde van die groot verdrukking. Wat ons nou vir hulle sê, sal hulle dalk in die toekoms beweeg om te reageer. Maar dit kan net gebeur as ons aanhou preek.
HY HET AANDAG GESKENK AAN BYBELPROFESIEË
8. Hoe het Jesus se kennis oor Bybelprofesieë ’n invloed gehad op die manier hoe hy sy tyd gebruik het?
8 Jesus het verstaan hoe Bybelprofesieë vervul sou word. Hy het geweet dat sy bediening net drie en ’n half jaar lank sou wees (Dan. 9:26, 27). Hy het ook geweet wat geprofeteer is oor wanneer en hoe hy sou sterf (Luk. 18:31-34). Jesus het toegelaat dat wat hy weet, ’n invloed het op hoe hy sy tyd gebruik het. As gevolg daarvan het hy met ywer gepreek om die werk te voltooi wat hy gegee is om te doen.
9. Hoekom motiveer Bybelprofesieë ons om met ywer te preek?
9 Ons begrip van Bybelprofesieë kan ons beweeg om met ywer te preek. Ons weet dat hierdie wêreldstelsel binnekort tot ’n einde sal kom. Ons besef dat huidige gebeure en die gesindheid van vandag se mense weerspieël wat die Bybel voorspel die teken van die laaste dae sou wees. Ons sien hoe die geveg tussen die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag en Rusland en die lande wat hom ondersteun, die profesie oor die koning van die suide en die koning van die noorde “in die tyd van die einde” vervul (Dan. 11:40). Ons verstaan ook dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag verteenwoordig word deur die voete van die beeld wat in Daniël 2:43-45 beskryf word. Ons is oortuig dat God se Koninkryk menseregerings binnekort sal vernietig soos die profesie wys. Al hierdie profesieë wys waar ons in die stroom van tyd is en spoor ons aan om met dringendheid te preek.
10. Op watter ander maniere kan Bybelprofesieë ons aanmoedig om aan te hou preek?
10 Bybelprofesieë gee ons ook ’n boodskap wat ons graag met ander wil deel. “Jehovah se wonderlike beloftes van ’n beter toekoms motiveer my om die waarheid met ander te deel,” sê Carrie, ’n suster wat in die Dominikaanse Republiek dien. Sy voeg by: “Wanneer ek sien wat mense vandag deurmaak, besef ek dat hierdie beloftes nie net vir my is nie, maar ook vir hulle.” Bybelprofesieë moedig ons aan om nie terug te hou nie omdat ons weet dat Jehovah ons predikingswerk ondersteun. Leila, wat in Hongarye bly, sê: “Jesaja 11:6-9 motiveer my om die goeie nuus selfs met dié te deel wat lyk asof hulle dit nie sal aanvaar nie. Ek weet dat enige iemand met Jehovah se hulp kan verander.” En Christopher, ’n broer van Zambië, sê: “Soos Markus 13:10 voorspel, is die goeie nuus besig om regoor die wêreld te versprei, en ek voel geëerd om te help om hierdie profesie te vervul.” Watter Bybelprofesieë motiveer jou om aan te hou preek?
HY HET OP JEHOVAH VERTROU VIR ONDERSTEUNING
11. Hoekom moes Jesus op Jehovah vertrou vir hulp om ywerig te bly preek? (Lukas 12:49, 53)
11 Jesus het op Jehovah vertrou vir ondersteuning om ywerig te bly preek. Al was Jesus taktvol, het hy geweet dat die goeie nuus van die Koninkryk party mense kwaad sou maak en dat baie die boodskap sterk sou teëstaan. (Lees Lukas 12:49, 53.) As gevolg van Jesus se predikingswerk het die godsdiensleiers hom herhaaldelik probeer doodmaak (Joh. 8:59; 10:31, 39). Maar Jesus het aanhou preek omdat hy geweet het dat Jehovah met hom was. Hy het gesê: “Ek [is] nie alleen . . . nie, maar die Vader wat my gestuur het, is met my. . . . Hy het my nie aan myself oorgelaat nie, want ek doen altyd die dinge wat sy hart bly maak.” – Joh. 8:16, 29.
12. Hoe het Jesus sy dissipels voorberei om te bly preek wanneer hulle vervolg word?
12 Jesus het sy dissipels daaraan herinner dat hulle op Jehovah kon vertrou vir ondersteuning. Hy het hulle herhaaldelik verseker dat Jehovah hulle sou help selfs wanneer hulle vervolg word (Matt. 10:18-20; Luk. 12:11, 12). Omdat Jesus geweet het dat baie die goeie nuus sou teëstaan, het hy hulle aangemoedig om versigtig te wees (Matt. 10:16; Luk. 10:3). Hy het hulle beveel om nie hulle boodskap op dié af te dwing wat nie wou luister nie (Luk. 10:10, 11). En hy het vir hulle gesê om te vlug as mense hulle vervolg het (Matt. 10:23). Al was Jesus ywerig en het hy op Jehovah vertrou, het hy homself nie onnodig in gevaar gestel nie. – Joh. 11:53, 54.
13. Hoekom kan jy seker wees dat Jehovah jou sal help?
13 Ons het vandag Jehovah se hulp nodig om ywerig te bly preek wanneer ons teëgestaan word (Op. 12:17). Hoekom kan jy seker wees dat Jehovah jou sal ondersteun? Kyk na Jesus se gebed in Johannes hoofstuk 17. Jesus het Jehovah gevra om oor die apostels te waak, en Jehovah het daardie gebed beantwoord. Die boek Handelinge vertel hoe hy die apostels gehelp het om ywerig te preek ten spyte van vervolging. In sy gebed het Jesus Jehovah ook gevra om oor dié te waak wat geloof sou stel in die apostels se predikingswerk. Dit sluit jou in. Jehovah het nie opgehou om Jesus se gebed te beantwoord nie; Hy sal jou help net soos Hy die apostels gehelp het. – Joh. 17:11, 15, 20.
14. Hoe weet ons dat ons met ywer sal kan aanhou preek? (Sien ook prent.)
14 Al word dit dalk moeiliker om die goeie nuus met ywer te verkondig soos die einde nader kom, sal ons al die ondersteuning ontvang wat ons nodig het (Luk. 21:12-15). Soos Jesus en sy dissipels laat ons mense besluit of hulle wil luister of nie, en ons vermy onnodige konflik. Selfs wanneer ons werk beperk is, kon ons broers aanhou om die goeie nuus te verkondig omdat hulle op Jehovah vertrou en nie op hulle eie krag nie. Net soos Jehovah sy knegte in die eerste eeu krag gegee het, gee hy ons vandag krag sodat “die boodskap ten volle . . . verkondig” kan word totdat Jehovah tevrede is met die mate waarin die werk gedoen is (2 Tim. 4:17). Jy kan seker wees dat jy met ywer sal kan aanhou preek as jy op Jehovah vertrou.
Selfs wanneer ons werk beperk is, soek ywerige verkondigers na maniere om die goeie nuus versigtig met ander te deel (Sien paragraaf 14)b
HY HET POSITIEF GEBLY
15. Wat wys dat Jesus ’n positiewe beskouing van die bediening gehad het?
15 Jesus het ’n positiewe gesindheid behou oor die predikingswerk. Dit het hom gehelp om entoesiasties te bly oor sy bediening. Byvoorbeeld, laat in 30 HJ het Jesus gesien dat baie gereed is om te reageer op sy predikingswerk, en hy het hulle vergelyk met ’n landery wat reg is om geoes te word (Joh. 4:35). Omtrent ’n jaar later het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot” (Matt. 9:37, 38). En later het hy weer beklemtoon: “Die oes is groot . . . Smeek . . . die Meester van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Luk. 10:2). Jesus het vol vertroue gebly dat daar mense sou wees wat na die goeie nuus sou luister, en hy was bly wanneer hulle geluister het. – Luk. 10:21.
16. Hoe het Jesus se illustrasies ’n positiewe beskouing van die bediening oorgedra? (Lukas 13:18-21) (Sien ook prent.)
16 Jesus het sy dissipels geleer om positief te bly oor hulle boodskap, wat hulle sou aanmoedig om hulle ywer te behou. Byvoorbeeld, kyk na twee van sy illustrasies. (Lees Lukas 13:18-21.) Jesus het ’n mosterdsaadjie gebruik om mense te leer dat die Koninkryksboodskap op ’n wonderlike manier sou versprei en dat niks sou keer dat dit gebeur nie. En hy het suurdeeg gebruik om te illustreer hoe die Koninkryksboodskap wyd sou versprei en veranderinge veroorsaak wat dalk nie onmiddellik sigbaar sou wees nie. So Jesus het sy dissipels gehelp om te sien dat die boodskap wat hulle verkondig het, beslis sukses sou hê.
Soos Jesus bly ons positief dat party op die predikingswerk sal reageer (Sien paragraaf 16)
17. Watter redes het ons om positief te bly oor die bediening?
17 Ons word beweeg om ywerig te bly preek deur te dink aan wat vandag wêreldwyd gedoen word. Miljoene belangstellendes woon elke jaar die Gedenkmaal by en studeer die Bybel saam met ons. Honderdduisende word gedoop en sluit by ons aan in die predikingswerk. Ons weet nie hoeveel dalk nog op ons predikingswerk gaan reageer nie, maar ons weet dat Jehovah besig is om ’n groot menigte bymekaar te maak wat die komende groot verdrukking sal oorleef (Op. 7:9, 14). Die Meester van die oes sien nog steeds potensiaal in die veld, so ons het goeie rede om aan te hou preek.
18. Wat wil ons hê moet ander oor ons besef?
18 Jesus se dissipels was nog altyd geïdentifiseer aan hulle ywerige predikingswerk. Toe mense sien hoe moedig die apostels is, het hulle “besef dat hierdie manne voorheen saam met Jesus was” (Hand. 4:13). Wanneer mense sien hoe moedig ons in die bediening is, sal hulle dalk besef dat ons ook Jesus se ywerige voorbeeld navolg.
LIED 58 Op soek na vriende van vrede
a WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel verwys “ywer” na die entoesiasme en gretigheid waarmee Christene Jehovah aanbid.
b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer is versigtig terwyl hy vir ’n man by ’n petrolstasie preek.