Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Maart bl. 8-13
  • Volg Jehovah en Jesus na in jou denkwyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg Jehovah en Jesus na in jou denkwyse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VOLG JEHOVAH SE DENKWYSE NA
  • WEES NEDERIG
  • WEES “GESOND VAN VERSTAND”
  • “Ek is ’n sondige man”
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • Hy het ’n rots geword
    Wees moedig en maak God gelukkig
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
  • Volg Jehovah se nederigheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Maart bl. 8-13

STUDIEARTIKEL 10

LIED 31 O, wandel met Jehovah God!

Volg Jehovah en Jesus na in jou denkwyse

“Omdat Christus dan as ’n mens gely het, moet julle julle ook met dieselfde denkwyse bewapen.” – 1 PET. 4:1.

FOKUS

Hoe die apostel Petrus uit Jesus se denkwyse geleer het en hoe ons dit ook kan doen.

1-2. Wat sluit ons liefde vir Jehovah in, en hoe het Jesus gewys dat hy Jehovah met sy hele verstand liefgehad het?

“JY MOET Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand” (Luk. 10:27). Jesus het dit duidelik gemaak dat dit die belangrikste gebod in die Wet van Moses is. Let op dat ons hart, wat ons begeertes, gevoelens en emosies insluit, betrokke is by ons liefde vir Jehovah. Dit sluit ook ons heelhartige toegewydheid en ons krag in – insluitende ons energie. Maar ons verstand, wat die manier insluit hoe ons oor sake dink, is ook betrokke by ons liefde vir Jehovah. Ons kan Jehovah se denke natuurlik nooit ten volle verstaan nie. Maar ons kan God se denke beter verstaan deur “die denke van Christus” te bestudeer omdat Jesus sy Vader se denke volmaak weerspieël. – 1 Kor. 2:16 en die studienota vir “we do have the mind of Christ” in die Engelse Studiebybel.

2 Jesus het Jehovah met sy hele verstand liefgehad. Hy het geweet wat God se wil vir hom is en was vasbeslote om in ooreenstemming daarmee op te tree, al het dit beteken dat hy sou moes ly ter wille van wat reg is. Omdat Jesus daarop gefokus het om sy Vader se wil te doen, het hy nie toegelaat dat enige iets sy aandag van daardie doelwit aflei nie.

3. Wat het die apostel Petrus by Jesus geleer, en wat het Petrus mede-Christene aangemoedig om te doen? (1 Petrus 4:1)

3 Petrus en sy mede-apostels was bevoorreg om tyd met Jesus te spandeer en om eerstehands te leer hoe hy gedink het. Toe Petrus sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, het hy Christene aangemoedig om hulle te bewapen met dieselfde denkwyse as dié van Christus. (Lees 1 Petrus 4:1.) Petrus het ’n militêre uitdrukking gebruik toe hy gesê het dat hulle hulle moet “bewapen”. So as Christene Jesus se denkwyse navolg, sal hulle toegerus wees met ’n kragtige wapen in hulle oorlog teen sondige neigings en teen ’n wêreld wat onder Satan se beheer is. – 2 Kor. 10:​3-5; Ef. 6:12.

4. Hoe kan hierdie artikel ons help om Petrus se raad te volg?

4 Ons sal Jesus se denkwyse ondersoek en kyk hoe ons dit kan navolg. Ons sal uitvind hoe ons (1) Jehovah se denkwyse kan navolg, wat ons sal help om almal verenig te wees in ons denke, (2) nederig kan wees en (3) gesond van verstand kan wees deur in gebed op Jehovah te vertrou.

VOLG JEHOVAH SE DENKWYSE NA

5. Hoe het Petrus by een geleentheid nie soos Jehovah gedink nie?

5 Kyk na een geleentheid toe Petrus nie soos Jehovah oor sake gedink het nie. Jesus het vir sy apostels gesê dat hy na Jerusalem moes gaan, waar die godsdiensleiers hom sou arresteer en hy gemartel en doodgemaak sou word (Matt. 16:21). Dit was dalk vir Petrus moeilik om te aanvaar dat Jehovah sou toelaat dat Jesus – Israel se hoop en die beloofde Messias – doodgemaak word (Matt. 16:16). Daarom het Petrus Jesus eenkant geneem en vir hom gesê: “Wees goed vir uself, Here. Dit sal glad nie met u gebeur nie” (Matt. 16:22). Omdat Petrus nie soos Jehovah oor die saak gedink het nie, was sy denke nie in ooreenstemming met Jesus s’n nie.

6. Hoe het Jesus gewys dat sy denke in lyn is met Jehovah s’n?

6 Jesus se denke was heeltemal in lyn met sy hemelse Vader s’n. Jesus het vir Petrus gesê: “Gaan agter my, Satan! Jy is vir my ’n struikelblok, want jou gedagtes is nie God se gedagtes nie, maar dié van mense” (Matt. 16:23). Petrus het dalk goeie bedoelings gehad, maar Jesus het Petrus se raad verwerp. Daar is ’n les vir ons. Om sy eie behoeftes eerste te stel, was nie Jehovah se wil vir Jesus nie. By daardie geleentheid het Petrus ’n waardevolle les geleer oor die belangrikheid daarvan om God se gedagtes sy gedagtes te maak.

7. Hoe het Petrus later gewys dat hy sy denke in ooreenstemming met Jehovah s’n wou bring? (Sien prent.)

7 Later het Petrus gewys dat hy wou leer om soos Jehovah te dink. Die tyd het aangebreek vir onbesnede nie-Jode om deel van God se volk te word. God het Petrus die toewysing gegee om vir Kornelius te preek, wat een van die eerste nie-Jode was wat ’n Christen geword het. Jode het nie baie met nie-Jode te doen gehad nie, so dit is nie verbasend dat Petrus hulp nodig gehad het om vir sy toewysing voor te berei nie. Toe Petrus besef wat God se wil in hierdie saak is, het hy sy beskouing verander. As gevolg daarvan het hy, toe hy gestuur is, gegaan “sonder om beswaar te maak” (Hand. 10:​28, 29). Hy het vir Kornelius en sy huisgesin gepreek, en hulle het hulle laat doop. – Hand. 10:​21-23, 34, 35, 44-48.

Petrus en sy metgeselle word deur Kornelius gelei na ’n bokamer in sy huis.

Petrus gaan Kornelius se huis binne (Sien paragraaf 7)


8. Hoe kan ons wys dat ons denke in lyn is met Jehovah se denke? (1 Petrus 3:8)

8 Jare later het Petrus mede-Christene aangemoedig om “verenig [te] wees in [hulle] denke”. (Lees 1 Petrus 3:8.) As Jehovah se volk kan ons verenig wees in ons denke deur Jehovah se denke te weerspieël, waarvan ons in die Bybel leer. Byvoorbeeld, Jesus het sy volgelinge aangemoedig om die Koninkryk eerste in hulle lewe te stel (Matt. 6:33). So, ’n verkondiger in jou gemeente besluit dalk om met die een of ander vorm van voltydse diens te begin. Eerder as om te sê dat hy goed moet wees vir homself, moet ons positiewe dinge oor sy doelwit sê en aanbied om hom te help.

WEES NEDERIG

9-10. Hoe het Jesus buitengewone nederigheid geopenbaar?

9 Op die aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy Petrus en die ander apostels ’n belangrike les in nederigheid geleer. Vroeër het Jesus Petrus en Johannes gestuur om dinge gereed te kry vir die laaste maaltyd wat Jesus as ’n mens met hulle sou hê. Deel van hulle voorbereidingswerk was waarskynlik dat hulle moes seker maak dat daar ’n kom en handdoeke is sodat die gaste se voete gewas kon word voor die maaltyd. Maar wie sou hierdie nederige taak doen wanneer die tyd daarvoor gekom het?

10 Sonder om twee keer te dink, het Jesus buitengewone nederigheid geopenbaar. Die apostels was seker verbaas om te sien dat Jesus iets doen wat knegte gewoonlik gedoen het. Jesus het sy bo-klere uitgetrek, ’n handdoek om sy middel vasgebind, water in die kom gegooi en hulle voete begin was (Joh. 13:​4, 5). Dit het seker ’n ruk geneem om die voete te was van al 12 apostels – insluitende Judas, wat hom sou verraai. Maar Jesus het die taak nederig voltooi. Toe het Jesus geduldig verduidelik: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? Julle noem my ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle is reg, want dit is wat ek is. As ek, die Here en Leermeester, julle voete gewas het, dan behoort julle ook mekaar se voete te was.” – Joh. 13:​12-14.

Ware nederigheid . . . sluit ons diepste gedagtes in

11. Hoe het Petrus gewys dat hy geleer het om nederig te wees? (1 Petrus 5:5) (Sien ook prent.)

11 Petrus het geleer uit Jesus se nederigheid. Nadat Jesus na die hemel teruggekeer het, het Petrus ’n wonderwerk gedoen deur ’n man te genees wat van geboorte af verlam was (Hand. 1:​8, 9; 3:​2, 6-8). Hierdie wonderlike gebeurtenis het natuurlik die aandag van ’n groot skare getrek (Hand. 3:11). Het Petrus die aandag geniet aangesien hy uit ’n agtergrond gekom het waar vernaamheid en posisie baie klem gekry het? Nee, hy was eerder nederig en het gesê dat hulle Jehovah en Jesus moet loof toe hy gesê het: “Deur [Jesus se] naam en deur ons geloof in sy naam is hierdie man wat julle sien en ken, sterk gemaak” (Hand. 3:​12-16). Die woorde wat Petrus gebruik het in ’n brief aan die Christene oor die belangrikheid daarvan om nederigheid te ontwikkel, herinner ons dalk aan die keer toe Jesus ’n handdoek om sy middel vasgebind het en die voete van die apostels gewas het. – Lees 1 Petrus 5:5.

Petrus en Johannes staan in die tempel. Petrus wys na die hemel terwyl ’n man wat van geboorte af verlam was, nou genees is en langs hulle staan.

Nadat Petrus ’n wonderwerk gedoen het, het hy Jehovah en Jesus nederig die eer gegee. Ons kan ook wys dat ons nederig is deur goeie dinge te doen sonder om erkenning of ’n beloning te verwag (Sien paragraaf 11-12)


12. Hoe kan ons, soos Petrus, aanhou om nederigheid te ontwikkel?

12 Ons kan Petrus se voorbeeld volg deur nederigheid te ontwikkel. Onthou dat ware nederigheid meer insluit as om net die regte woorde te sê. Die term wat Petrus vir nederigheid gebruik het, sluit ons diepste gedagtes in – “nederigheid van verstand”. Ons doen dinge vir ander omdat ons Jehovah liefhet en mense liefhet, nie omdat ons graag wil hê dat ander ons moet bewonder nie. Ons wys dat ons regtig nederig is as ons Jehovah en ons broers ywerig dien, al word die dinge wat ons doen, nie raakgesien nie. – Matt. 6:​1-4.

WEES “GESOND VAN VERSTAND”

13. Verduidelik wat dit behels om “gesond van verstand” te wees.

13 Wat behels dit om “gesond van verstand” te wees? (1 Pet. 4:​7, vtn.). ’n Christen wat gesond van verstand is, doen sy bes om goeie besluite te maak wat Jehovah se denke weerspieël. So ’n Christen weet dat niks in die lewe belangriker is as sy verhouding met Jehovah nie. Hy het ’n gebalanseerde beskouing van homself, en hy weet dat hy nie al die antwoorde het nie. En hy wys dat hy op God vertrou deur dikwels nederig tot Jehovah te bid.a

14. Hoe het Petrus by een geleentheid nie op Jehovah vertrou nie?

14 Op die laaste aand voor sy dood het Jesus sy dissipels gewaarsku: “Vanaand sal julle almal struikel as gevolg van my.” Petrus het vol vertroue gesê: “Al struikel al die ander as gevolg van u, sal ek nooit struikel nie!” Daardie aand het Jesus party van sy dissipels gewaarsku: “Hou aan waak en bid aanhoudend” (Matt. 26:​31, 33, 41). As Petrus vroeër daardie raad gevolg het, sou hy dalk die moed gehad het om te erken dat hy ’n dissipel van Jesus was. Petrus het eerder gesê dat hy Jesus nie ken nie en het toe baie spyt gevoel daaroor. – Matt. 26:​69-75.

15. Hoe het Jesus gesond van verstand gebly gedurende sy laaste aand as ’n mens?

15 Jesus het heeltemal op Jehovah vertrou. Al was Jesus volmaak, het hy herhaaldelik gebid. Dit het hom die moed gegee om in lyn met Jehovah se wil vir hom op te tree (Matt. 26:​39, 42, 44; Joh. 18:​4, 5). Die feit dat Petrus gesien het hoe baie Jesus bid, het sekerlik ’n lewenslange indruk op hom gemaak.

16. Hoe het Petrus gewys dat hy geleer het om gesond van verstand te wees? (1 Petrus 4:7)

16 Met verloop van tyd het Petrus geleer om meer in gebed op Jehovah te vertrou. Nadat Jesus opgewek is, het hy Petrus en die ander apostels verseker dat hulle heilige gees sou ontvang sodat hulle hulle opdrag om te preek, kon uitvoer. Maar Jesus het hulle gevra om in Jerusalem te wag totdat dit gebeur (Luk. 24:49; Hand. 1:​4, 5). Wat het Petrus gedoen terwyl hy gewag het? Petrus en sy mede-Christene het “aanhou bid” (Hand. 1:​13, 14). Later, in sy eerste brief, het Petrus sy mede-Christene aangemoedig om gesond van verstand te wees en om in gebed op Jehovah te vertrou. (Lees 1 Petrus 4:7.) Petrus het geleer om op Jehovah te vertrou en het ’n pilaar in die gemeente geword. – Gal. 2:9.

17. Wat moet ons aanhou doen, maak nie saak watter natuurlike vermoëns ons dalk het nie? (Sien ook prent.)

17 Om gesond van verstand te wees, moet ons gereeld tot Jehovah bid. Ons besef dat ons moet aanhou om tot Jehovah te bid, maak nie saak watter natuurlike vermoëns ons dalk het nie. Daarom, veral wanneer ons belangrike besluite moet maak, bid ons vir Jehovah se leiding, met die vertroue dat hy weet wat die beste vir ons is.

Petrus het geleer om in gebed op Jehovah te vertrou. Ons kan ook gesond van verstand wees deur vir Jehovah se hulp te bid, veral wanneer ons belangrike besluite moet maak (Sien paragraaf 17)b


18. Hoe kan ons leer om meer soos Jehovah te dink?

18 Ons is so dankbaar dat Jehovah ons op so ’n manier gemaak het dat ons sy eienskappe kan weerspieël (Gen. 1:26). Ons kan Jehovah natuurlik nie volmaak navolg nie (Jes. 55:9). Maar soos Petrus kan ons leer om meer soos Jehovah te dink. Laat ons dit doen deur aan te hou om God se denkwyse na te volg, nederig te wees en gesond van verstand te wees.

HOE KAN ONS . . .

  • Jehovah se denkwyse navolg?

  • nederig wees?

  • “gesond van verstand” wees?

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

a Vir meer inligting oor wat bedoel word met ’n gesonde verstand, of om geestelik gesond te wees, sien op jw.org of in die JW Library®-app die “Verduidelikings van Bybelverse”-artikel “Verduideliking van 2 Timoteus 1:7 – ‘God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie’” onder “Gesonde verstand.”

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster doen ’n stille gebed terwyl sy wag om ’n werksonderhoud te doen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel