STUDIEARTIKEL 27
LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer
Wees moedig soos Sadok
“Sadok [was] ’n sterk en dapper jong man.” – 1 KRON. 12:28.
DOEL
Hoe Sadok se voorbeeld ons kan help om moedig te wees.
1-2. Wie was Sadok? (1 Kronieke 12:22, 26-28)
STEL jou die toneel voor. ’n Skare van meer as 340 000 mans het bymekaargekom om Dawid koning oor die hele Israel te maak. Die geluide van lewendige gesprekke, vreugdevolle lofliedere en lighartige gelag kon drie dae lank regdeur die heuwelagtige gebied naby Hebron gehoor word (1 Kron. 12:39). ’n Jong man met die naam Sadok sou heel waarskynlik nie in daardie groot skare uitgestaan het nie. Maar Jehovah het seker gemaak dat ons sou weet dat Sadok daar was. (Lees 1 Kronieke 12:22, 26-28.) Wie was Sadok?
2 Sadok was ’n priester wat saam met hoëpriester Abjatar gewerk het. Sadok was ook ’n siener wat die vermoë gehad het om God se wil te verstaan en wat buitengewone insig gehad het (2 Sam. 15:27). Mense het na Sadok gegaan wanneer hulle wyse raad nodig gehad het. Hy was ook ’n moedige man. In hierdie artikel sal ons op hierdie aspek van sy persoonlikheid fokus.
3. (a) Hoekom moet Jehovah se aanbidders moedig wees? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Gedurende hierdie laaste dae val Satan God se volk meer as ooit tevore aan (1 Pet. 5:8). Ons moet moedig wees terwyl ons op Jehovah wag om ’n einde te maak aan Satan en sy goddelose wêreld (Ps. 31:24). Kom ons kyk na drie maniere hoe ons Sadok se moed kan navolg.
ONDERSTEUN GOD SE KONINKRYK
4. Hoekom het Jehovah se volk moed nodig om God se Koninkryk te ondersteun? (Sien ook prent.)
4 As Jehovah se volk ondersteun ons God se Koninkryk heelhartig, maar ons het dikwels moed nodig om dit te doen (Matt. 6:33). Byvoorbeeld, in hierdie goddelose wêreld het ons moed nodig om volgens Jehovah se standaarde te lewe en om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (1 Tess. 2:2). En ons het dikwels moed nodig om polities neutraal te bly in hierdie wêreld, wat al hoe meer verdeeld word (Joh. 18:36). Baie van Jehovah se knegte het al ekonomiese probleme gehad, is al fisies mishandel of is al in die tronk gegooi omdat hulle geweier het om aan politieke of militêre aktiwiteite deel te neem.
Wat sal jy doen wanneer ander kant kies in die politiek? (Sien paragraaf 4)
5. Hoekom het Sadok moed nodig gehad om Dawid te ondersteun?
5 Sadok het nie na Hebron gegaan net om Dawid se koningskap te vier nie. Hy het wapens saamgeneem en was gereed om te veg (1 Kron. 12:38). Hy was gewillig om saam met Dawid te veg en om Israel teen sy vyande te verdedig. Sadok het dalk nie baie ondervinding as ’n vegter gehad nie, maar sy moed het daarvoor opgemaak.
6. Hoe het Dawid vir Sadok ’n goeie voorbeeld van moed gestel? (Psalm 138:3)
6 Waar het ’n priester soos Sadok geleer om so moedig te wees? Hy was omring deur mans wat sterk en moedig was. Hy het beslis geleer uit hulle voorbeeld. Byvoorbeeld, omdat Dawid moedig was en “Israel in hulle gevegte gelei” het, het dit die hele Israel gemotiveer om hom heelhartig te ondersteun (1 Kron. 11:1, 2). Dawid het altyd op Jehovah vertrou vir hulp teen sy vyande. (Ps. 28:7; lees Psalm 138:3.) Sadok het ander inspirerende voorbeelde aan sy sy gehad – mans soos Jojada en sy vegterseun Benaja sowel as die 22 ander stamhoofde wat Dawid ondersteun het (1 Kron. 11:22-25; 12:26-28). Hierdie mans was almal vasbeslote om Dawid se koningskap te ondersteun.
7. (a) Uit watter hedendaagse voorbeelde van moed kan ons leer? (b) Wat leer jy uit broer Nsilu se voorbeeld, soos ons in die video kan sien?
7 Dit versterk ons en gee ons moed wanneer ons kyk na die voorbeelde van dié wat Jehovah se heerskappy moedig ondersteun het. Ons Koning, Christus Jesus, het druk om by Satan se politieke wêreldstelsel betrokke te raak, ferm weerstaan (Matt. 4:8-11; Joh. 6:14, 15). Hy het altyd op Jehovah vertrou vir krag. Ons het ook baie hedendaagse voorbeelde van jong mans wat geweier het om by die weermag aan te sluit of om aan politieke aktiwiteite deel te neem. Hoekom lees jy nie party van hulle ondervindinge op jw.org nie?a
HELP JOU BROERS
8. Wanneer het ouermanne dalk moed nodig om hulle broers op praktiese maniere te help?
8 Jehovah se volk is lief daarvoor om mekaar te help (2 Kor. 8:4). Maar soms verg dit moed om dit te doen. Byvoorbeeld, wanneer ’n oorlog uitbreek, besef die plaaslike ouermanne dat hulle broers en susters aanmoediging nodig het, sowel as ondersteuning en dalk geestelike of fisiese voorsienings. Omdat ouermanne die skape liefhet, stel hulle hulle eie veiligheid in gevaar om te voorsien wat nodig is (Joh. 15:12, 13). Op hierdie manier volg hulle Sadok se moedige voorbeeld.
9. Wat het Dawid vir Sadok gesê om te doen volgens 2 Samuel 15:27-29? (Sien ook prent.)
9 Dawid se lewe was in gevaar. Sy seun Absalom was vasbeslote om die koninkryk by hom te steel (2 Sam. 15:12, 13). Dawid moes Jerusalem onmiddellik verlaat! Hy het vir sy knegte gesê: “Staan op, en laat ons vlug, want nie een van ons sal van Absalom ontsnap nie!” (2 Sam. 15:14). Terwyl die knegte op pad was, het Dawid besef dat iemand agter moes bly om hom op hoogte te hou van Absalom se planne. Daarom het hy Sadok en ander priesters terug na die stad gestuur om spioene te wees. (Lees 2 Samuel 15:27-29.) Hulle moes baie versigtig wees. Wat Dawid vir daardie priesters gesê het om te doen, was baie gevaarlik, en hulle kon selfs doodgemaak word. Dink net wat Absalom – ’n egotistiese, wraaksugtige en bedrieglike man – aan Sadok en die ander priesters sou doen as hy uitgevind het dat hulle op hom spioeneer om Dawid te beskerm!
Dawid het Sadok ’n gevaarlike opdrag gegee (Sien paragraaf 9)
10. Hoe het Sadok en dié saam met hom Dawid beskerm?
10 Dawid het aan ’n plan gedink wat Sadok ingesluit het, sowel as Husai, nog ’n lojale vriend van Dawid (2 Sam. 15:32-37). Husai het die plan uitgevoer en Absalom se vertroue gewen en ’n militêre strategie voorgestel wat Dawid tyd sou gee om vir ’n aanval voor te berei. Toe het Husai vir Sadok en Abjatar van die plan vertel (2 Sam. 17:8-16). Die twee mans kon toe ’n boodskap vir Dawid stuur (2 Sam. 17:17). Met Jehovah se hulp het Sadok en sy medepriesters ’n belangrike rol daarin gespeel om Dawid se lewe te beskerm. – 2 Sam. 17:21, 22.
11. Hoe kan ons Sadok se moed navolg wanneer ons ons broers help?
11 Hoe kan ons moedig wees soos Sadok as ons gevra word om ons broers gedurende gevaarlike tye te help? (1) Volg riglyne. In sulke omstandighede is dit belangrik dat ons verenig bly. Wees gehoorsaam aan die riglyne van jou plaaslike takkantoor (Heb. 13:17). Ouermanne moet gereeld die instruksies hersien oor hoe om vir ’n ramp voor te berei en wat om te doen wanneer daar ’n ramp is (1 Kor. 14:33, 40). (2) Wees moedig maar versigtig (Spr. 22:3). Dink voordat jy optree. Moenie onnodige risiko’s neem nie. (3) Vertrou op Jehovah. Onthou dat jou veiligheid en jou broers s’n vir Jehovah baie belangrik is. Hy kan jou help om jou broers op ’n veilige manier by te staan.
12-13. Wat leer jy uit die ondervindinge van Viktor en Vitalii? (Sien ook prent.)
12 Kyk na Viktor en Vitalii, twee geestelike broers wat kos en water vir hulle medegelowiges in Oekraïne afgelewer het. “Ons het oral na kos gesoek,” sê Viktor. “Daar was dikwels ’n geskietery rondom ons. Een broer het kos uit sy winkel geskenk. Dit het baie verkondigers gehelp om ’n ruk lank te oorleef. Terwyl ons die items op ons voertuig gelaai het, het daar ’n bom geval omtrent 20 meter van waar ons was. Ek het Jehovah regdeur die dag gesmeek om my die moed te gee wat ek nodig gehad het om die verkondigers te bly help.”
13 “Ons het baie moed nodig gehad,” sê Vitalii. “My eerste rit was 12 uur lank. Ek het heelpad tot Jehovah gebid.” Vitalii was moedig, maar hy was ook versigtig. Hy voeg by: “Ek het Jehovah bly vra vir wysheid en beskeidenheid. Ek het net op die paaie gery wat deur die owerheid goedgekeur is. Ek het daarby baat gevind om eerstehands te sien hoe die broers en susters saamwerk. Hulle het struikelblokke uit die pad verwyder, noodvoorraad bymekaargemaak en op die voertuig gelaai en seker gemaak dat ons kos het, sowel as plekke waar ons op pad soontoe kon rus.”
Gedurende gevaarlike tye moet jy moedig maar versigtig wees wanneer jy jou broers help (Sien paragraaf 12-13)
BLY LOJAAL AAN JEHOVAH
14. Hoe kan dit ons affekteer as iemand vir wie ons lief is, dislojaal aan Jehovah word?
14 Min dinge kan ons so ontmoedig soos wanneer ’n gesinslid of ’n goeie vriend Jehovah verlaat (Ps. 78:40; Spr. 24:10). Hoe sterker ons verhouding met die persoon is, hoe moeiliker kan dit wees om die situasie te aanvaar. As jy al so ’n pynlike ondervinding gehad het, kan Sadok se voorbeeld van lojaliteit jou versterk.
15. Hoekom het Sadok moed nodig gehad om lojaal aan Jehovah te bly? (1 Konings 1:5-8)
15 Sadok het lojaal aan Jehovah gebly toe sy goeie vriend Abjatar gekies het om dislojaal te wees. Dit het aan die einde van Dawid se heerskappy gebeur. Terwyl Dawid op sy doodsbed gelê het, het sy seun Adonia probeer om homself koning te maak, al het Jehovah belowe dat Salomo koning sou word (1 Kron. 22:9, 10). Abjatar het gekies om Adonia te ondersteun. (Lees 1 Konings 1:5-8.) Deur dit te doen, was Abjatar nie net aan Dawid dislojaal nie maar ook aan Jehovah! Kan jy jou indink hoe hartseer en teleurgesteld Sadok gevoel het? Hy en Abjatar het vir meer as 40 jaar saam as priesters gewerk (2 Sam. 8:17). Hulle het saam na “die Ark van die ware God” omgesien (2 Sam. 15:29). Aan die begin het albei mans Dawid se koningskap – en soveel meer – ondersteun. – 2 Sam. 19:11-14.
16. Wat het Sadok dalk gehelp om lojaal te bly?
16 Sadok het lojaal aan Jehovah gebly ten spyte van Abjatar se keuse. Dawid het nooit getwyfel dat Sadok lojaal sou bly nie. Toe Adonia se plan aan die lig gekom het, het Dawid Sadok, Natan en Benaja gekies om Salomo as koning te salf (1 Kon. 1:32-34). Sadok was omring deur lojale aanbidders van Jehovah, soos Natan en ander ondersteuners van koning Dawid, en hulle voorbeelde het hom versterk en aangemoedig (1 Kon. 1:38, 39). Toe Salomo koning geword het, het hy “die priester Sadok in die plek van Abjatar aangestel”. – 1 Kon. 2:35.
17. Hoe kan jy Sadok navolg as iemand na aan jou dislojaal aan Jehovah word?
17 Hoe kan jy Sadok navolg? As iemand na aan jou kies om Jehovah te verlaat, moet jy jou keuse duidelik maak (Jos. 24:15). Jehovah sal jou die krag en die moed gee wat jy nodig het. Vertrou op hom deur middel van gebed en deur na aan ander lojale aanbidders te bly. Jehovah waardeer jou lojaliteit, en hy sal jou daarvoor beloon. – 2 Sam. 22:26.
18. Wat leer jy uit Marco en Sidse se ondervinding?
18 Kyk na die voorbeeld van Marco en sy vrou, Sidse, wie se twee volwasse dogters die waarheid verlaat het. Marco sê: “Van die dag dat jou kinders gebore word, is jy baie lief vir hulle. Jy sal enige iets doen om hulle te beskerm. So wanneer hulle kies om Jehovah te verlaat, breek dit jou hart.” Hy sê verder: “Maar Jehovah was nog altyd aan ons sy. Hy het seker gemaak dat my vrou sterk is wanneer ek swak is en dat ek sterk is wanneer sy swak is.” Sidse voeg by: “Ons sou nie kon volhard as Jehovah nie vir ons die krag gegee het wat ons nodig gehad het nie. Ek was baie hartseer en het gevoel dat dit my skuld is, en ek het toe vir Jehovah gesê hoe ek voel. ’n Rukkie later het ’n suster wat ek jare laas gesien het, na my toe gekom, haar hande op my skouers gesit, my in die oë gekyk en gesê: ‘Onthou, Sidse, dit is nie jou skuld nie!’ Met Jehovah se hulp het ek dit reggekry om my vreugde in sy diens te behou.”
19. Wat is jy vasbeslote om te doen?
19 Jehovah wil hê dat al sy aanbidders so moedig soos Sadok moet wees (2 Tim. 1:7). Maar Hy wil nie hê dat ons op ons eie krag moet staatmaak nie. Hy wil hê dat ons op hom moet staatmaak. So wanneer jy in ’n situasie is waar jy moed nodig het, moet jy op Jehovah vertrou. Jy kan seker wees dat hy jou so moedig soos Sadok sal maak! – 1 Pet. 5:10.
LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam
a Kyk op jw.org na die video Ware Christene het moed nodig – Om neutraal te bly.