INLEIDING
Jy kan jou moed versterk!
1-3. Wat het Jesus se woorde: “Staan op, laat ons gaan”, so moedig gemaak?
“STAAN op, laat ons gaan.” Hierdie is moontlik die moedigste woorde wat iemand al ooit gesê het! Maar jy wonder dalk hoekom ons so sê. Ons vind die antwoord wanneer ons kyk na wie dit gesê het en hoekom hy dit gesê het. – Matt. 26:46.
“Staan op, laat ons gaan.” – Matt. 26:46
2 Jesus Christus het hierdie woorde vir sy getroue volgelinge gesê. Hy het dit al voorheen gesê (Joh. 14:31). Maar hierdie keer was dit baie anders. Hy was in ’n tuin net buite die stad Jerusalem. Dit was laat op ’n helder nag, en Jesus het geweet dat ’n groep gewapende manne na hom toe op pad was. Hy het geweet wat hulle aan hom wou doen. Hy sou binnekort die moeilikste toets deurgaan wat enige mens al ooit deurgegaan het. En hy het geweet dat hy dit alleen sou moes doen.
3 Jesus het nie probeer om die gevaar te vermy nie. Alhoewel hy magtige engele kon roep om hom te beskerm, het hy dit nooit gedoen nie (Matt. 26:53). Hy het eerder eenvoudig gesê: “Staan op, laat ons gaan.” Waarheen was Jesus op pad? Reguit in gevaar, pyn en dood. Hoekom was hy bereid om dit te doen? Want hy was lief vir sy Vader en vir sy volgelinge.
4-5. Watter soort moed het Jesus gewys, en hoekom het ons dit nodig?
4 Jesus Christus was sonder twyfel die moedigste man wat al ooit gelewe het. Is jy een van sy volgelinge? Dan is jy ook moedig. Ware Christene moet moedig wees. Ons lewe vandag in moeilike en gevaarlike tye, so ons het daardie eienskap meer as ooit tevore nodig.
5 Hoe kan ons die soort moed beskryf wat Jesus gewys het? Ware moed beteken nie dat ons nie bang is of onsself in gevaarlike situasies sit nie. Dit beteken ook nie dat ons dink dat niks ons kan seermaak nie. En dit is nie die roekeloosheid van dié wat lief is vir geweld nie (Ps. 11:5). Christelike moed is eerder ’n soort innerlike krag. Dit is die krag wat ons help om voort te gaan en om te doen wat ons weet reg is in God se oë, al is dit moeilik of al is ons bang.
Jy kan Jesus se moed navolg!
6. As ons voel dat ons nie genoeg moed het nie, hoe kan Jesus se voorbeeld ons vertroos?
6 Dalk wonder jy of jy, soos Jesus, moedig kan wees wanneer jy getoets word. As dit die geval is, onthou die volgende: Jesus is redelik. Soos sy Vader, verwag Jesus nooit meer van ons as wat ons kan hanteer nie (Ps. 103:14; Joh. 14:9). Byvoorbeeld, toe Jesus daardie nag saam met sy apostels in die tuin van Getsemane was, het hy hulle gevra om saam met hom wakker te bly, maar hulle het hom teleurgestel. Tog het hy liefdevol vir hulle gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hy het hulle swakhede verstaan, en hy verstaan joune ook.
7-8. Hoe het Jesus sy volgelinge verseker?
7 Jesus het ook gewys dat hy vertroue in sy volgelinge het. Dink net hoe hulle moes gevoel het toe hy hulle met hierdie woorde verseker het: “Moenie bang wees nie! Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:33). Hy het geweet dat hulle in sy voetstappe kan volg – en hulle het. Jesus het uitdrukkings soos “moenie bang wees nie” en “moenie moed verloor nie” ’n hele paar keer gebruik. Hy het dit vir ’n verlamde man gesê voordat hy hom verseker het dat sy sondes vergewe is (Matt. 9:2). Hy het dit vir ’n vrou gesê nadat hy haar van ’n verskriklike siekte genees het (Matt. 9:22). Hy het dit vir sy dissipels gesê toe hulle gedurende ’n windstorm bang was (Matt. 14:27). En hy het dieselfde ding vanuit die hemel vir die apostel Paulus gesê nadat ’n groep woedende manne hom wou doodmaak. – Hand. 23:9-11.
8 Op ’n manier sê jou moedige Koning nou vir jou dieselfde ding. Hy wil hê dat jy moedig moet wees. En hy weet dat jy kan wees. Sy Vader, Jehovah, het vir jou presies gegee wat jy nodig het om dit te doen.
Hoe kan die Bybel ons help om ons moed te versterk?
9. Hoe kan God se Woord ons aanmoedig?
9 In die Bybel het Jehovah vir ons baie voorbeelde gegee wat ons kan help om ons moed te versterk. Daarin vind ons ware stories van baie manne en vroue, jonk en oud, van alle agtergronde. Hulle almal het, net soos die profeet Elia, “gevoelens soos ons s’n” gehad (Jak. 5:17). Soos ons almal was hulle onvolmaakte mense met swakhede, beperkings en foute. En soos ons het hulle alle soorte struikelblokke, uitdagings en selfs gevare ondervind. Maar hulle het dit, net soos Jesus, oorwin. Hulle was moedig en het voorbeelde agtergelaat wat ons vandag nog aanmoedig.
10-11. Wat kan hierdie boek jou help om te doen, en hoe kan jy dit gebruik? (Sien ook die venster “Hoe om hierdie publikasie vir persoonlike studie en gesinsaanbidding te gebruik”.)
10 Hierdie boek is ontwerp om jou te help om jou moed te versterk. In die 54 hoofstukke wat volg, sal jy sien hoe Jehovah onvolmaakte mense net soos jy gehelp het om die moed te hê wat hulle nodig gehad het. So lees elke verhaal, soek dan dieper en studeer elke karakter se agtergrond. Terwyl jy dit doen, sal jy hierdie manne en vroue beter en beter leer ken.
11 Mag hulle voorbeelde jou help om moediger te word sodat jy gedurende hierdie moeilike “laaste dae” kan volhard (2 Tim. 3:1). Laat ons dag ná dag Jehovah se versekering in gedagte hou: “Ek sal jou nooit verlaat nie en jou nooit in die steek laat nie.” Soos Paulus genoem het, kan daardie woorde ons help om “goeie moed [te] hou en [te] sê: ‘Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie.’” – Heb. 13:5, 6.