Het God se Woord ’n uitwerking op jou daaglikse lewe?
Daaglikse Bybellees kan ons help om “gewortel” en ‘standvastig in die geloof’ te word (Kol. 2:6, 7). Maar as ons wil hê dat Jehovah se Woord ’n uitwerking op ons lewe moet hê, moet ons daaroor nadink en die beginsels daarin toepas (Heb. 4:12; Jak. 1:22-25). Josua 1:8 sit drie stappe uiteen wat ons sal help om meer by ons Bybellees baat te vind: (1) Lees God se Woord “dag en nag”. (2) Lees dit “op gedempte toon”, wat kan beteken dat ’n mens stadig genoeg moet lees om te kan peins en jou die agtergrond en die omstandighede voor te stel. (3) Probeer hard om “alles wat daarin geskrywe staan” toe te pas. As ons hierdie wenke gebruik, sal ons “suksesvol” wees en “wys handel” in ons daaglikse lewe.