Vraebus
◼ In watter mate moet ’n ongedoopte verkondiger die gemeentelike vergaderinge bywoon en aan die bediening deelneem om vir doop goedgekeur te word?
Om gedoop te word, is die belangrikste besluit wat ’n mens ooit sal neem. Daarom moet iemand wat vir doop goedgekeur wil word, ’n redelike begrip hê van wat God van hom vereis. En hy moet reeds bewys lewer van sy vasbeslotenheid om in ooreenstemming met God se vereistes te lewe.
Christene word beveel om nie hulle onderlinge vergaderinge na te laat nie, en daarom moet ’n ongedoopte verkondiger gemeentelike vergaderinge reeds pligsgetrou bywoon (Heb. 10:24, 25). Hy sal gewoonlik ook ’n deelname hê deur kommentaar te lewer. Hy sal waarskynlik op die Teokratiese Bedieningskool wees, maar dit is nie ’n vereiste nie.
En aangesien Christene die opdrag gegee is om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak, moet ’n ongedoopte verkondiger gereeld aan die bediening deelneem voordat hy gedoop word (Matt. 24:14; 28:19, 20). Hoeveel maande moet hy ’n verkondiger wees voordat hy gedoop kan word? Hy moet natuurlik genoeg tyd gegee word om te toon dat hy vasbeslote is om elke maand ’n gereelde en ywerige deelname aan die bediening te hê (Ps. 78:37). Maar daar hoef nie baie tyd verby te gaan vandat hy ’n verkondiger word totdat hy kwalifiseer om gedoop te word nie, miskien net ’n paar maande. Hoeveel velddiens moet hy doen? Daar is geen vaste reëls nie. Die ouer manne moet elke verkondiger se unieke omstandighede in ag neem en redelik en gebalanseerd wees.—Luk. 21:1-4.
Die ouer manne (of bedieningsknegte in gemeentes waar daar baie min ouer manne is) wat met ’n doopkandidaat vergader, moet in gedagte hou dat almal verskillend is, en hulle moet goeie oordeel aan die dag lê om vas te stel of hy vir doop kwalifiseer. Hulle sal verwag dat hy ’n opregte begeerte het om een van Jehovah se Getuies te wees en dat hy waardering toon vir sy voorreg om met Jehovah se organisasie te assosieer en aan die bediening deel te neem. Die ouer manne verstaan dat hy nog nie geestelike volwassenheid bereik het of so bekwaam soos ervare gedoopte verkondigers is nie. As die ouer manne meen dat die kandidaat nie vir doop kwalifiseer nie, moet hulle liefdevol vir hom sê wat die skriftuurlike redes vir hulle besluit is en reël dat hy geestelike hulp ontvang.