Jehovah’s Witnesses—Organized to Share the Good News
Jehovah se Getuies is al meer as 100 jaar lank georganiseer om ander van die goeie nuus te vertel. Ons verkondig hierdie boodskap in honderde tale en in meer as 230 lande in die grootste predikingskampanje wat die wêreld nog gesien het (Matt. 24:14). Waarom is hierdie werk nodig? Hoe word dit wêreldwyd gedoen? Die video Jehovah’s Witnesses—Organized to Share the Good News beantwoord hierdie vrae deur van naderby te kyk na al die fasette van ons internasionale bedrywighede. Nadat jy na die video gekyk het, kan jy oor die volgende vrae dink.
Hoe het hierdie video jou waardering vergroot vir (1) die poging wat Jehovah se organisasie aanwend om die goeie nuus te verkondig? (2 Tim. 4:2) (2) die Bethelgesinne oor die hele wêreld? (3) die opleiding wat sendelinge en opsieners ontvang? (2 Tim. 2:2) (4) die belangrikheid daarvan om elke dag met ’n bespreking van ’n Bybelteks te begin en elke week vir gemeentelike vergaderinge voor te berei? (Hand. 17:11) (5) die voordele wat dit inhou om ons Christelike samekomste by te woon? (Heb. 10:24, 25) (6) die seëninge wat jy sal ontvang wanneer die Paradys op aarde herstel is? (Jes. 11:9) (7) die voorreg wat jy het om ’n aandeel aan die oeswerk te hê?—Joh. 4:35.
Hierdie video is ’n uitstekende hulpmiddel om belangstellendes vertroud te maak met die wêreldwye werk wat Jehovah se Getuies doen. (8) Wanneer sal dit goed wees om die video vir ons Bybelstudente, familielede en ander te wys? (9) Watter gunstige reaksie het jy al gesien toe jy dit vir ander gewys het?
Wanneer ons nadink oor wat Jehovah vandag vermag, laat dit ons saamstem met die psalmis wat gesê het: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons; niemand kan met u vergelyk word nie” (Ps. 40:5). Laat ons goeie gebruik maak van hierdie video om ander te help om waardering vir Jehovah en sy organisasie op te bou!