’n Voorsiening vir Christenbedienaars
1. Watter nuwe reëling het in 1938 begin, en waarom?
1 In 1938 het Jehovah se organisasie ’n nuwe reëling begin. Groepe gemeentes is genooi om sonebyeenkomste, wat nou kringbyeenkomste genoem word, by te woon. Waarom? Die Voorligter (nou Ons Koninkryksbediening) vir Januarie 1939 het geantwoord: “Hierdie byeenkomste is deel van Jehovah se Teokratiese Organisasie om sy Koninkryksdiens uit te voer. Die onderrigting wat daar voorsien word, is noodsaaklik vir elkeen om die toegewese werk behoorlik te verrig.” Wanneer ons kyk na die toename in Koninkryksverkondigers van net 58 000 in 1938 tot oor die 7 000 000 in 2009, is dit duidelik dat kringbyeenkomste in hulle doel slaag om bedienaars te help “om die toegewese werk behoorlik te verrig”!
2. Watter inligting sal aangebied word by ons kringbyeenkoms vir die nuwe diensjaar?
2 Tema vir die komende jaar: Ons sien uit na die program wat in September begin en die aanmoediging wat dit sal verskaf. Die tema ‘Julle is geen deel van die wêreld nie’ is uit Johannes 15:19 geneem. Wat is van die toesprake waarby Christenbedienaars beslis sal baat vind? Saterdag sal ons luister na die toespraak “Die voltydse diens beskerm ons—Hoe?” Ons sal ook ’n driedelige simposium geniet met die tema “Voorkom dat jy besmet word deur . . . ” “Die wilde dier”, “Die groot hoer” en “Die reisende koopmanne”. Sondag sal ons na ’n simposium “Wees lief vir Jehovah, nie vir die wêreld nie” luister. Van die ander toesprake is “Hou aan om ‘vreemdelinge en tydelike inwoners’ te wees” en “Skep moed! Jy kan die wêreld oorwin”.
3. Hoe kan ons daarby baat vind om die kringbyeenkoms by te woon?
3 Nadat ’n suster wat traag in die bediening geword het, ’n onlangse kringbyeenkoms bygewoon het, het sy geskryf dat die program haar weer na haar omstandighede laat kyk het en haar vasbeslote gemaak het om “in die bediening uit te gaan en op te hou om verskonings te maak!” Die kringbyeenkomsprogram vir die nuwe diensjaar sal ons almal ongetwyfeld help om lief te wees vir Jehovah en nie vir die wêreld nie (1 Joh. 2:15-17). Maak seker dat jy daar is en aandagtig luister sodat jy ten volle kan baat vind by hierdie liefdevolle voorsiening vir Christenbedienaars!