’n Geleentheid om geestelik gevoed te word en bly te wees
1. Hoe sien Jehovah om na die geestelike behoeftes van sy knegte?
1 Jehovah sien liefdevol om na die geestelike behoeftes van sy knegte. Terwyl die wêreld oor die algemeen geestelik honger ly, word ons baie goed gevoed (Jes. 65:13). Een manier waarop Jehovah ons geestelik voed, is deur middel van ons jaarlikse streekbyeenkomste. Tref jy voorbereidings om al die sessies van die komende “Gerig deur God se gees”-streekbyeenkoms by te woon? ’n Smaaklike en voedsame geestelike feesmaal is voorberei.
2. Wat behels dit om vir die byeenkoms te beplan?
2 Beplan vooruit: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spr. 21:5). Daarom moet jy, wanneer jy jou planne finaliseer om al drie dae van die byeenkoms by te woon, nie uitstel om met jou werkgewer te praat as jy verlof nodig het nie. Is jou verblyf gereël, indien jy oornagverblyf nodig het? Jy kan ook jou middagetes so beplan dat jy saam met jou broers by die byeenkomsterrein kan eet. Reël om elke dag vroeg genoeg by die byeenkoms te wees sodat jy sitplek kan vind en vir die openingslied en -gebed teenwoordig kan wees.
3. Watter soort kleredrag moet ons beplan om te dra?
3 Ons wil seker maak dat ons kleredrag beskeie en goed versorg is (1 Tim. 2:9, 10). Streekbyeenkomste is vir ons ’n gulde geleentheid om vir die gemeenskap ’n getuienis te gee. As ons voorkoms altyd waardig is wanneer ons in die byeenkomsstad is en ons ons byeenkomslapelkaarte dra, sal ons opvallend anders as ongelowiges wees en ’n goeie indruk skep by dié wat ons sien.
4. Wat sal ons en ons gesinne help om die grootste voordeel uit die program te trek?
4 Luister aandagtig: Ons wil beslis elke krieseltjie wat by hierdie geestelike feesmaal bedien word, inneem! (Spr. 22:17, 18). As ons in ons Bybel volg wanneer tekste gelees word en kort aantekeninge neem, sal dit ons help om op die program te konsentreer en nie afgelei te word nie. Dan kan ons saans ons aantekeninge gebruik om die glanspunte van die program met ander te bespreek. In onlangse jare is daar opgemerk dat sommige jongmense by die byeenkoms saam sit en gedurende die program gesels of SMS’e op hulle selfone stuur. As ons kinders het, insluitende tieners, sal dit dalk beter wees om saam as ’n gesin na die program te sit en luister as om jonges toe te laat om op ’n ander plek saam met ander jongmense te sit.
5. Hoe kan ons die streekbyeenkoms meer geniet?
5 Geniet assosiasie: ’n Smaaklike ete is lekkerder as dit saam met vriende geniet word (Spr. 15:17). Net so geniet ons die byeenkoms meer as ons met ons broers en susters assosieer. Hoe aangenaam is dit tog om voor en ná die program die inisiatief te neem om ander byeenkomsgangers te ontmoet en met hulle te assosieer! (Ps. 133:1). Wanneer die voorsitter ons vriendelik nooi om ons sitplekke in te neem voordat die musiek begin, moet ons ons gesprekke beëindig sodat ons in ons sitplekke kan wees wanneer die program begin.
6. Vertel ’n persoonlike ondervinding wat toon hoe ons vir mense in die byeenkomsstad kan getuig.
6 Wees wakker vir geleenthede om te getuig: Streekbyeenkomste voorsien gewoonlik uitstekende geleenthede om ’n getuienis te gee. Baie byeenkomsgangers wat ná die program na restaurante gaan, word deur kelners en ander gevra oor die tema wat op die lapelkaart verskyn. Dit het tot gesprekke gelei waar ’n goeie getuienis van die waarheid gegee kon word. Sommige wat hieroor gevra het, is dan na die byeenkomsprogram genooi en het dit bygewoon.
7. Waarom moet ons die komende streekbyeenkoms bywoon?
7 Duisende ure is daaraan bestee om die program voor te berei, fasiliteite te reël, byeenkomsafdelings te organiseer en die dele voor te berei. Jehovah se tere sorg vir sy volk kan gesien word in al die liefdevolle werk wat gedoen is om hierdie geestelike feesmaal voor te berei. Mag ons almal dit bywoon en soveel moontlik inneem! Dan sal ons, anders as die wêreld, “met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart”.—Jes. 65:14.
[Venster op bladsy 4]
Streekbyeenkomsherinneringe
◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. Wanneer die inleidende musiek begin, moet ons almal gaan sit sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag en Saterdag om 4:15 nm. en Sondag om 3:20 nm. eindig.
◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons self die parkering reël, sal die parkering kosteloos op ’n “eerste kom, eerste bedien”-grondslag beskikbaar gestel word. Byeenkomslapelkaarte sal as identifikasie vir parkering dien.
◼ Huisvesting: Kameraansoekvorms is beskikbaar vir verkondigers wat vir huisvesting aansoek moet doen. Die Gemeentelike Dienskomitee moet kyk of die verkondiger hiervoor kwalifiseer deur gebruik te maak van die riglyne op die vorm sowel as in die brief van 15 Julie 2008, wat aan alle liggame van ouer manne gestuur is. Hierdie voorsiening is slegs vir verkondigers wat ’n goeie reputasie het, tesame met hulle goedgemanierde kinders.
◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of in dieselfde huis woon.
◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder jou sitplek pas, kan gebruik word. Ons moet die saalwagters se instruksies volg oor waar groot gesinsgrootte piekniekkoelhouers gehou moet word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.
◼ Bydraes: Ons kan ons waardering toon vir die byeenkomsreëlings deur by ons Koninkryksaal of by die streekbyeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee seker maak wat die naam van die rekening is.
◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief ’n saalwagter daar naby roep, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.
◼ Kinderwaentjies en tuinstoele: Kinderwaentjies en tuinstoele moenie in die saal ingebring word nie. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers sal pas en vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar.
◼ Parfuums: Sommige streekbyeenkomste word in geboue gehou waar ons op meganiese lugversorging staatmaak. Dit sal dus liefdevol van ons wees om die gebruik van sterk reukmiddels, naskeermiddels en parfuums te beperk, wat ’n nadelige uitwerking kan hê op diegene wat asemhalings- of verwante probleme het.—1 Kor. 10:24.
◼ “Volg asseblief op”-vorms: ’n “Volg asseblief op”-vorm (S-43) moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigeen wat belangstelling toon as gevolg van ons informele getuieniswerk gedurende die streekbyeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms na die streekbyeenkoms saambring. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of kan aan jou gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir April 2005, bl. 5.
◼ Restaurante: Verheerlik Jehovah se naam deur jou goeie gedrag by restaurante. In baie plekke is dit gebruiklik om na gelang van die diens ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.
◼ Liedere: Gemeentes sal dalk die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen.
Liedere vir Vrydag: 190, 79, 42, 57, 157 en 191.
Liedere vir Saterdag: 215, 123, 207, 46, 3 en 10.
Liedere vir Sondag: 163, 209, 4, 98, 8 en 212.