Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/09 bl. 5-7
  • Is jy gereed vir ’n geestelike feesmaal?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy gereed vir ’n geestelike feesmaal?
  • Ons Koninkryksbediening—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geleentheid om geestelik gevoed te word en bly te wees
    Ons Koninkryksbediening—2008
  • Streekbyeenkomste—’n Tyd vir vreugdevolle aanbidding
    Ons Koninkryksbediening—2010
  • Drie dae van geestelike verkwikking
    Ons Koninkryksbediening—2011
  • Volg die Christus deur waardigheid aan die dag te lê
    Ons Koninkryksbediening—2007
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—2009
km 8/09 bl. 5-7

Is jy gereed vir ’n geestelike feesmaal?

1. Watter voorbereiding verg ’n feesmaal?

1 ’n Feesmaal verg baie voorbereiding. Kos moet aangekoop, smaakvol berei en dan voorgesit word. Die maaltyd moet op georganiseerde wyse bedien word. Daarbenewens moet die plek waar die maaltyd geëet sal word, ook gereedgemaak word. Gaste moet ook voorberei, veral as hulle ver moet reis om daar te kom. Al verg dit baie werk, maak die heerlike, heilsame ete wat vriende en familie saam kan geniet, dit alles die moeite werd. Binnekort gaan Jehovah se Getuies regoor die wêreld in groot en klein groepe bymekaarkom om ’n geestelike feesmaal te geniet waarna hulle al lank uitsien—die “Hou aan waak!”-streekbyeenkoms. Baie werk is reeds gedoen ter voorbereiding van die program en alles wat daarmee gepaardgaan. Ons is almal uitgenooi. As ons teenwoordig wil wees en die meeste baat daarby wil vind, moet ons ook persoonlik voorberei.—Spr. 21:5.

2. Wat verg dit van ons om elke gereg van ons geestelike feesmaal te kan geniet?

2 Hoe om die meeste baat te vind: Het jy jou reëlings gefinaliseer sodat jy daar kan wees om elke gereg van hierdie geestelike feesmaal te geniet? Praat met jou werkgewer, indien nodig, om hom in kennis te stel dat jy al die sessies van jou byeenkoms gaan bywoon, insluitende die eerste dag. Het jy jou reëlings vir vervoer en huisvesting gefinaliseer? Ouer manne moet seker maak dat daar na die bejaarde en verswakte broers omgesien word asook ander wat dalk hulp nodig sal hê.—Jer. 23:4; Gal. 6:10.

3. Waarom moet ons nie ’n internasionale byeenkoms bywoon waarheen ons nie genooi is nie?

3 Op party plekke sal internasionale byeenkomste gehou word. Hou in gedagte dat spesifieke gemeentes en buitelandse afgevaardigdes na hierdie byeenkomste genooi is. Toe die takkantoor die reëlings hiervoor getref het, het die broers sorgvuldig bereken hoeveel om te nooi, met inagneming van die aantal sitplekke en hotelkamers wat beskikbaar is. Die byeenkomsterrein kan oorvol raak as verkondigers ’n internasionale byeenkoms bywoon waarheen hulle nie genooi is nie.

4. Watter herinneringe sal ons help om elke dag gereed te wees vir die begin van die program?

4 Reël om elke dag vroeg genoeg by die byeenkoms aan te kom om ’n sitplek te kry voordat die program begin. Gebruik ’n paar minute voordat die sessie begin om deur die gedrukte program te kyk. Dit sal jou help om jou hart voor te berei vir die inligting wat bespreek gaan word (Esra 7:10). Wanneer die sessievoorsitter ’n musiektussenspel inlei, kan jy met genot daarna luister en dan gereed wees vir die openingslied en -gebed.

5. Hoe kan ons gesin die meeste by die program baat vind?

5 As gesinslede gedurende die byeenkoms saam sit, kan ouers seker maak dat hulle kinders aandagtig na die program luister (Deut. 31:12). Almal word aangemoedig om in hulle Bybel te volg terwyl tekste gelees word. As jy kort aantekeninge maak, kan dit jou help om noukeurig aandag te skenk. Later sal jou aantekeninge jou help om die hoofpunte van die toesprake te onthou. Weerstaan die versoeking om onnodig gedurende die sessie te praat of jou sitplek te verlaat. As jy ’n selfoon het, moenie toelaat dat dit jou of enigiemand anders gedurende die program steur nie. Ná elke dag se sessie kan jy gerus die punte wat jy gedurende die program geniet het, met ander bespreek.

6. Wat is ’n uitsonderlike aspek van ons byeenkomste, en hoe kan ons dit ten volle geniet?

6 By die streekbyeenkoms het ons die geleentheid om ’n unieke band met ons broers en susters te geniet wat nie in die wêreld ondervind word nie (Ps. 133:1-3; Mark. 10:29, 30). Stel jou gerus voor aan diegene wat naby jou sit en gesels gedurende die middagpouse met hulle. Dit is een van die voordele daarvan as jy ’n ligte ete saambring en dit by die byeenkomsterrein geniet eerder as om na ’n restaurant toe te gaan. Maak seker dat jy nie so ’n geleentheid vir wedersydse aanmoediging misloop nie.—Rom. 1:11, 12.

7. Watter voorbereidings moet ons in verband met ons kleredrag tref?

7 Kleredrag: Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah die Israeliete beveel het om fraiingrande aan die some van hulle klere te maak, met ’n blou toutjie bo die fraiingrand (Num. 15:37-41). Dit was ’n sigbare herinnering dat hulle ’n volk is wat afgesonder is om Jehovah te aanbid. Vandag onderskei ons waardige, beskeie kleredrag by die byeenkoms ons ook van die wêreld. Dit dien as ’n kragtige getuienis vir buitestanders, selfs as ons ná die program uitgaan vir ete. Dink dus vooraf ernstig na oor wat jy gaan aantrek.

8. Hoe kan ons vir ander getuig terwyl ons in die byeenkomsstad is?

8 Lewer ’n getuienis: Met ’n bietjie beplanning kan ons vir mense getuig terwyl ons in die byeenkomsstad is. ’n Broer het ná die program saam met sy vrou na ’n restaurant gegaan, bloot na sy byeenkomslapelkaart gewys en vir die kelner gevra: “Het jy baie mense gesien wat hierdie lapelkaarte dra?” Die kelner het gesê dat hy hulle gesien het en gewonder het waaroor dit gaan. Dit het tot ’n gesprek gelei, en die broer het die kelner na die byeenkoms genooi.

9. Hoe kan ons waardering vir ons Gasheer, Jehovah, toon?

9 Hoewel dit ons broers is wat die toesprake, onderhoude en demonstrasies gaan aanbied, is dit ons hemelse Vader, Jehovah, wat die liefdevolle Voorsiener van hierdie jaarlikse geestelike feesmaal is (Jes. 65:13, 14). Ons toon waardering vir ons Gasheer deur elke dag teenwoordig te wees en elke brokkie geestelike voedsel wat bedien word, te geniet. Het jy jou reëlings gefinaliseer om dit te doen?

[Venster op bladsy 6]

Streekbyeenkomsherinneringe

◼ Programtye: Die programtye vir die streekbyeenkoms is soos volg: Vrydag 9:00 vm. tot 4:15 nm., Saterdag 9:00 vm. tot 4:30 nm. en Sondag 9:00 vm. tot 3:30 nm. Die programtye vir die internasionale byeenkoms is soos volg: Donderdag 1:20 nm. tot 4:30 nm., Vrydag 9:00 vm. tot 4:40 nm., Saterdag 9:00 vm. tot 4:15 nm. en Sondag 9:00 vm. tot 3:50 nm. Wanneer die inleidende musiek aangekondig word, moet ons almal by ons sitplekke wees sodat die program op ordelike wyse kan begin.

◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons beheer oor die parkeerterreine het, sal die parkering gratis wees; dié wat eerste kom, sal die eerste parkeerplekke ontvang. Aangesien parkering gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers sover moontlik met vol motors ry.

◼ Huisvesting: Kameraansoekvorms is beskikbaar vir verkondigers wat huisvesting nodig het. Die Gemeentelike Dienskomitee moet kyk of die verkondiger hiervoor kwalifiseer deur gebruik te maak van die riglyne op die vorm sowel as die brief van 15 Julie 2009, aan alle liggame van ouer manne. Hierdie voorsiening is slegs vir verkondigers wat ’n goeie naam in die gemeente het, en wie se kinders goed gemanierd is.

◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon.

◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Die heel groot piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.

◼ Bydraes: Ons kan ons waardering vir die byeenkomsreëlings toon deur by ons Koninkryksaal of by die byeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is.

◼ Ongelukke en noodgevalle: Nooddienste ontvang baie selfoonoproepe oor kleinighede. As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief met die naaste saalwagter praat, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.

◼ Skoene: Elke jaar is daar ’n aantal beserings wat met skoene verband hou. Dit is raadsaam om skoene te kies wat beskeie is en goed pas, sodat ’n mens veilig op trappe, traliewerk, ensovoorts kan loop.

◼ Opnames: Opneemtoestelle mag nie aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsel gekoppel word nie, en die toestelle mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.

◼ Kinderwaentjies en opvoustoele: Kinderwaentjies en opvoustoele mag nie in die byeenkomsouditorium ingeneem word nie. Babastoeltjies wat op stoele langs die ouers vasgemaak kan word, is egter toelaatbaar.

◼ Parfuums: Sommige streekbyeenkomste word in geboue gehou waar ons op meganiese lugversorging staatmaak. Dit sal dus liefdevol van ons wees om die gebruik van skerp reukmiddels, naskeermiddels en parfuums te beperk, wat diegene met asemhalings- of verwante probleme kan aantas.—1 Kor. 10:24.

◼ “Volg asseblief op”-vorms: ’n “Volg asseblief op”-vorm (S-43) moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigeen wat belangstelling toon as gevolg van informele getuieniswerk gedurende die byeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms saambring na die byeenkoms. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of kan aan jou gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir April 2005, bl. 5.

◼ Restaurante: Verheerlik Jehovah se naam deur jou goeie gedrag by restaurante. Op baie plekke is dit gebruiklik om na gelang van die diens ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel