Vraebus
◼ Watter soort kleredrag is gepas wanneer ’n mens fasiliteite besoek wat vir Jehovah se diens gebruik word?
Regoor die wêreld is Koninkryksale, Byeenkomssale, Bethelhuise en takfasiliteite plekke wat spesiaal aan Jehovah se diens toegewy is. Hulle is beskeie, skoon en goed versorg, wat die waardigheid van hierdie plekke weerspieël. Dit vorm inderdaad ’n baie groot kontras met wat dikwels in Satan se stelsel van dinge gesien word. Diegene wat plekke besoek wat vir Jehovah se diens gebruik word, moet eweneens duidelik herken word as mense wat aan Jehovah behoort, wat sy wil doen.
As Christene “beveel ons ons as God se bedienaars aan” in elke opsig, insluitende ons gepaste, goed versorgde kleredrag en persoonsversorging (2 Kor. 6:3, 4). Daar word ook van ons verwag om ons welvoeglik te gedra. Ons kleredrag en persoonsversorging moet te alle tye van fatsoenlikheid en waardigheid getuig, soos dit knegte van Jehovah God betaam. Dit is veral waar wanneer ons die hoofkwartier in New York besoek, sowel as die takkantore regoor die wêreld.
Waar Georganiseer om Jehovah se wil te doen gepaste kleredrag en persoonsversorging bespreek, lewer dit kommentaar oor die belangrikheid van fisiese reinheid, beskeie kleredrag en goeie persoonsversorging wanneer ons aan die veldbediening deelneem en Christelike vergaderinge bywoon. Dan sê dit, op bladsy 138, paragraaf 3: “Onthou, die naam Bethel beteken ‘Huis van God’. Ons kleredrag, persoonsversorging en gedrag moet dus dieselfde wees as wat van ons verwag word wanneer ons vergaderinge vir aanbidding by die Koninkryksaal bywoon.” Hierdie hoë standaard moet gehandhaaf word deur Koninkryksverkondigers wat van die plaaslike omgewing of van verder afgeleë plekke Bethel kom besoek. Sodoende toon die besoeker gepaste waardering en respek.—Ps. 29:2.
Ons kleredrag moet ons identifiseer as mense “wat bely dat hulle God vereer” (1 Tim. 2:10). Gepaste kleredrag en persoonsversorging het ’n positiewe invloed op die manier waarop ander die ware aanbidding van Jehovah beskou. Maar daar is al opgelet dat ’n paar broers en susters uiters informeel, verslons of onbeskeie aangetrek is, wanneer hulle fasiliteite besoek wat vir Jehovah se diens gebruik word. Sulke klere is nooit vir Christene gepas nie. In hierdie saak, soos in alle ander aspekte van ons Christelike lewe, wil ons graag die hoë standaarde handhaaf wat God se volk van die wêreld onderskei en dus alles tot heerlikheid van God doen.—Rom. 12:2; 1 Kor. 10:31.
Wanneer jy dus die hoofkwartier en takkantoor in die staat New York of ander takfasiliteite besoek, hetsy op ’n beplande besoek of terwyl jy in ’n toeristegebied met vakansie is, vra jou af: ‘Weerspieël my kleredrag en persoonsversorging die beskeidenheid, die reinheid en die waardigheid van die plek wat ek gaan besoek? Strek dit die God wat ek aanbid, tot eer? Sal my voorkoms ander se aandag aftrek of hulle aanstoot gee?’ Mag ons altyd deur middel van ons kleredrag en persoonsversorging “die leer van ons Redder, God, in alles . . . versier”!—Tit. 2:10.