Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 3/08 bl. 3-6
  • Kan jy jou beskikbaar stel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy jou beskikbaar stel?
  • Ons Koninkryksbediening—2008
Ons Koninkryksbediening—2008
km 3/08 bl. 3-6

Kan jy jou beskikbaar stel?

1 ’n Buitengewone gebeurtenis vind in die jaar 778 v.G.J. plaas. In ’n visioen sien die profeet Jesaja “Jehovah op ’n hoë en verhewe troon . . . sit”. Dan hoor Jesaja hoe die serafs die aandag op Jehovah se heerlikheid vestig deur te sê: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërs.” Hoe ontsagwekkend moes dit tog gewees het! Teen daardie agtergrond vra Jehovah ’n vraag wat ’n uitdaging gebied het: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Geen verduideliking word gegee oor die aard van die toewysing en of die persoon wat hom vrywillig aanbied, daaruit voordeel sal trek nie. En tog reageer Jesaja sonder aarseling: “Hier is ek! Stuur my.”—Jes. 6:1, 3, 8.

2 Hierdie gees van gewilligheid om te doen wat Jehovah ook al vra, is ’n kenmerk van sy volk (Ps. 110:3). En nou word ’n spesiale uitnodiging gerig aan diegene wat hulle beskikbaar kan stel. Is jy bereid om met ’n gewillige gees, soos dié van Jesaja, te reageer?

3 Daar is ’n voortdurende behoefte aan broers om by Bethel te dien. Dit vereis dat hulle ’n sterk begeerte het om Koninkryksbelange eerste te stel en gewillig is om enigiets te doen wat nodig is om die wêreldwye predikingswerk te ondersteun (Matt. 6:33). Trouens, om as ’n lid van die Bethelgesin te dien, gee ’n mens ’n unieke geleentheid om Jehovah heelhartig te dien. Hoe so?

4 Die werk wat by Bethel gedoen word: Dink aan al die werk wat gereeld by die Suid-Afrikaanse Bethel gedoen word. Die ongeveer 700 broers en susters waaruit die Bethelgesin bestaan, het die voorreg om “die getroue en verstandige slaaf”-klas en sy Bestuursliggaam ten nouste te ondersteun in die produksie van Bybels en Bybellektuur wat vir verspreiding in Suider-Afrika en in persoonlike studie gebruik word (Matt. 24:45). Die afgelope diensjaar is daar byvoorbeeld 7 491 648 boekies en brosjures, 58 065- 866 tydskrifte en 8 030 370 eksemplare van Ons Koninkryksbediening gedruk en versend, danksy die gesamentlike pogings van die Suid-Afrikaanse Bethelgesin. Die verandering na die vereenvoudigde reëling vir lektuurverspreiding het die produksie van tydskrifte en lektuur grootliks laat toeneem. Tans word daar byvoorbeeld vyfmiljoen tydskrifte per maand gedruk. Die Versendingsafdeling stuur nou elke maand meer as negemiljoen stukke lektuur uit na gemeentes in Suid-Afrika en in Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe, vir wie ons lektuur berg. Alles dui daarop dat die werk in die toekoms sal bly vermeerder. Leiding word ook gegee aan die meer as 1 800 gemeentes onder ons tak. Daarbenewens help ons takkantore in Afrika met die ingenieurswerk aan en die bou van bykomende Bethelhuise en Byeenkomssale en die byna 3 000 Koninkryksale wat tans nodig is in Afrikalande met beperkte middele. Ons het honderde gewillige werkers nodig om na die druk en versending van lektuur, skoonmaakwerk, instandhouding, voedselvoorbereiding, aankope, gesondheidsorg en baie ander werksaamhede in Bethel om te sien.

5 Dit is ’n enorme maar tog geestelik bevredigende taak om al hierdie werk te doen. Die wete dat al ons krag en energie gebruik word om die predikings- en onderrigtingswerk te ondersteun, het groot vreugde tot gevolg. Betheldiens help ons om Jehovah se organisasie in baie fyner besonderhede te leer ken. Dit laat ons dink aan hoe die psalmis die Israeliete aangemoedig het om die aardse sentrum van teokratiese heerskappy in hulle dag beter te leer ken.—Ps. 48:12, 13.

6 Seëninge van Betheldiens: Hoe voel diegene wat by Bethel dien oor hulle diensvoorregte? Let op die volgende kommentare van jonger sowel as ouer lede van die Bethelgesin. Een Bethelgesinslid wat al drie jaar by Bethel dien, sê: “Om in Bethel te wees, het my verhouding met Jehovah versterk. Hoe langer ek hier dien en hoe beter ek Bethelwerksaamhede verstaan, hoe meer leer dit my van Jehovah se persoonlikheid. Betheldiens het my ook laat besef dat Jehovah mense—allerhande mense—gebruik. En jy hoef nie volmaak te wees om vir hom aanvaarbaar te wees nie.”

7 Een jong broer sê: “Ek onthou dat ek by myself gedink het: ‘Hoe goed sal dit tog wees om in die nuwe wêreld te kom en vir die getroue manne van die ou tyd te vertel dat ek jare lank in Bethel gedien het en nie in die wêreld gewerk het om geld te maak nie.’”

8 ’n Jong broer sê die volgende oor die opleiding wat hy ontvang het: “Om myself te leer ken en uit te vind waarop ek moet werk en om dan daardie eienskappe aan te kweek, is ’n groot seëning. Ek voel dat ek Jehovah nou beter kan dien. Ek vind dat ek ’n bietjie geduldiger is, ’n bietjie meer selfbeheersing het en liefde in ’n groter mate kan betoon.”

9 ’n Suster dink na oor die seëninge wat sy tot dusver ontvang het: “Die geestelike programme wat ons hier het, het my meer omtrent Jehovah geleer, asook hoe ek hom in my denke, gevoelens en optrede beter kan navolg. En omdat ons voortdurend opleiding ontvang, is dit ’n voortdurende seën.”

10 ’n Broer wat al altesaam 59 jaar in die voltydse bediening is, en meer as 43 jaar in Bethel, het gesê: “Bethel is nie soos ’n klooster, soos sommige dalk dink nie. Ons rig baie uit as gevolg van ons georganiseerde lewenswyse. . . . Ek het nog nie ’n enkele dag werk toe gekom en nie geniet wat ek doen nie. Waarom nie? Omdat ons, wanneer ons heelhartig van onsself aan Jehovah gee, die bevrediging het om te weet dat ‘ons gedoen het wat ons behoort te gedoen het’.”—Luk. 17:10.

11 ’n Ander broer wat al 62 jaar in Bethel dien, het gesê: “Ek glo vas dat Bethel die beste plek op aarde duskant die komende aardse Paradys is. Ek was nog nooit ’n oomblik spyt dat ek voltydse diens my loopbaan gemaak het nie. Wat ’n vreugde was dit tog om die groot toename in Jehovah se aardse organisasie te sien en ’n aandeel daaraan te hê! Ek is vasbeslote om Bethel, met Jehovah se hulp, steeds my tuiste te maak en my heelhartig op die bevordering van Koninkryksbelange toe te lê.”

12 Hierdie Bethelgesinslede het net ’n paar van die talle seëninge gemeld wat jy kan geniet as jy jou vir Betheldiens beskikbaar stel. Maar soos met enige diensvoorreg, moet jy eers aan die vereistes voldoen. Wat is van die vereistes om as ’n lid van die Bethelgesin te dien?

13 Vereistes vir Betheldiens: Die basiese vereistes vir diegene wat vir Betheldiens aansoek doen, word in die bygaande venster uiteengesit. Dit is ook belangrik dat hulle gewillig moet wees om hard te werk en dat hulle nie “liefhebbers van genot” is nie (2 Tim. 3:4; 1 Kor. 13:11). Bethelgesinslede moet geestelike manne en vroue wees wat goeie persoonlike studiegewoontes aangeleer het en wat hulle waarnemingsvermoëns geoefen het om te “onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Heb. 5:14). Hulle moes reeds hulle Christelike volwassenheid bewys het op alle lewensterreine, insluitende hulle kleredrag, persoonsversorging en keuse van musiek en vermaak. Gewillige Bethelgesinslede dien waar hulle ook al nodig is. Jonger lede word gewoonlik toewysings gegee wat fisiese werk behels, insluitende werk in die drukkery, voorbereiding en versending van lektuur, instandhouding, skoonmaakwerk, werk in die wassery en voedselvoorbereiding (Spr. 20:29). Maar anders as sekulêre werk verskaf elke toewysing groot tevredenheid omdat dit heilige diens is wat Jehovah verheerlik.—Kol. 3:23.

14 Die minimum verblyftyd vir diegene wat vir Betheldiens genooi word, is ’n jaar. Dit stel hulle in staat om opgelei te word om produktiewe werkers te word. Daar word gehoop dat hulle Bethel hulle tuiste sal kan maak. Dit is liefde vir Jehovah wat Bethelgesinslede beweeg om die Koninkrykswerk bo persoonlike belange te stel, en dit behaag Jehovah.—Matt. 16:24.

15 Huidige behoeftes: Weens die aard van die werk wat by Bethel gedoen word, het ons op die oomblik hoofsaaklik ongetroude broers nodig. Hoewel dit nie ’n vereiste is nie, word daar voorkeur gegee aan dié wat gewone pioniers is, aangesien hulle reeds in die voltydse werk is. Soms is daar geleenthede vir ongetroude susters en egpare tussen 19 en 35 jaar wat moontlik sekere vaardighede het wat by Bethel nodig is. Daarbenewens word party broers en susters wat dalk ’n bietjie ouer as 35 is en gespesialiseerde vaardighede en opleiding het wat by Bethel gebruik kan word, aangemoedig om aansoek te doen. Hulle sluit die volgende in: dokters, tandartse, fisioterapeute, geoktrooieerde rekenmeesters, ingenieurs, geregistreerde verpleegsters, petrol- en dieselwerktuigkundiges of elektroniese tegnici, om maar net ’n paar te meld. Daar is ’n dringende behoefte aan vertalers in al die plaaslike tale wat in ons tak se gebied gepraat word. Maar ons moedig nie individue aan om gespesialiseerde opleiding te kry met die idee dat dit hulle kanse sal vergroot om by Bethel aanvaar te word nie. Diegene wat reeds gespesialiseerde opleiding ontvang het, moontlik voordat hulle in die waarheid gekom het, kan ’n volledige CV saamstel en dit aan die Bethelaansoekvorm heg.

16 As jy aansoek doen en nie genooi word om by Bethel te dien nie, moet jy nie ontmoedig raak nie. Jy kan dit oorweeg om jou aansoek een keer per jaar te hernieu. Party broers wat spesiale opleiding en vaardighede het wat moontlik by Bethel nodig is, het hulle vir tydelike vrywillige diens beskikbaar gestel. Hulle kan aansoek doen om tydelik by Bethel te dien en kan twee, drie of vier weke, of tot drie maande lank, daar gaan werk. As jy in hierdie voorsiening belangstel, kan jy gerus aan die takkantoor skryf.

17 Om Jehovah ten nouste saam met mede-Christene te dien, is ’n wonderlike voorreg vir diegene wat by Bethel werk. Die Bestuursliggaam waardeer die selfopofferende gees van almal wat hulle beskikbaar stel om na die behoeftes van ons wêreldwye broederskap om te sien.—Fil. 2:20-22; 2 Tim. 4:11.

18 Jongmense—Berei julle nou voor vir Betheldiens: Voorbereiding vir Betheldiens begin lank voordat die minimum vereiste van 19 jaar bereik word. Wat kan jongmense doen om hulle vir Betheldiens voor te berei? Jesus het gesê: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken . . . nie?” (Luk. 14:28). Aangesien voorbereiding en beplanning noodsaaklik is vir die sukses van enige bouprojek, moet jongmense noukeurig aandag skenk aan hoe hulle vir hulle ’n toekoms in Jehovah se diens bou! ’n Stewige grondslag moet vroeg in hulle lewe gelê word sodat hulle geestelike doelwitte kan bereik. Hoe goed lê jy jou grondslag as ’n jongmens? As jy graag by Bethel wil dien, sal dit goed wees om die volgende punte noukeurig te oorweeg.

19 ‘Maak plek’ vir hierdie spesiale diensvoorreg: Soos in Matteus 19:12 opgeteken is, het Jesus sy dissipels aangespoor om ‘plek te maak’ vir die ongetroude lewe. Waarom? Nie om persoonlike redes nie, maar “weens die koninkryk van die hemele”. Paulus het ander ook aangespoor om ’n weg te volg wat “volgehoue diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word” (1 Kor. 7:32-35). Ongelukkig verbeur ’n hele paar die voorreg om as ongetroude mans by Bethel te dien omdat hulle al op ’n vroeë ouderdom wil trou. Ons wil ons jonger broers aanspoor om hulle energie te gebruik om die voltydse bediening na te streef terwyl hulle nog nie gesinsverantwoordelikhede het nie. As hulle dan ná ’n tyd besluit om te trou, sal hulle baie beter eggenote wees omdat hulle meer ondervinding in die lewe en in die Christelike bediening opgedoen het. Nadat party ’n hele paar jaar by Bethel gedien het, het hulle getrou en kon hulle as ’n egpaar voortgaan om daar te dien. As hulle later ander voorregte ontvang, soos om in die reisende werk of as sendelinge te dien, is hulle beslis nie spyt oor die tyd wat hulle opsygesit het om vir Betheldiens plek te maak nie.

20 Moenie toelaat dat materiële strewes jou aandag aftrek nie: Elke jongmens kan hom gerus afvra: ‘Is dit my doelwit om, nadat ek klaar is met hoërskool, ’n voltydse sekulêre loopbaan na te streef, of is dit om Jehovah voltyds te dien?’ Om laasgenoemde weg te volg, sal weliswaar opofferings verg. Maar dieselfde geld vir ’n sekulêre loopbaan! Watter weg sal op die ou end waarlik blywende en voordelige resultate hê? Jesus het die vraag duidelik beantwoord. Volgens Matteus 6:19-21 het hy gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot of roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” Mag ons hart ons nooit lei om ’n wêreldse loopbaan of materiële dinge pleks van heelhartige diens aan Jehovah na te streef nie. Ons almal moet besef dat die enigste skat wat die moeite werd is om na te streef, ’n goeie verhouding met Jehovah is, waardeur ons sy hart kan bly maak (Spr. 27:11). As ons Jehovah eerste in ons lewe stel terwyl ons jonk is, toon ons wat ons waardes is en hoe belangrik die Koninkryk vir ons is. Onthou: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie” (Spr. 10:22). Jongmense het ’n uitstekende geleentheid om te toon wat in hulle hart is deur iets goeds aan Jehovah terug te gee vir alles wat hy hulle gegee het. Betheldiens gee diegene wat aan die vereistes voldoen, die wonderlike geleentheid om juis dit te doen.

21 Diegene wat by Bethel dien, moet sedelik rein wees: Die psalmis het gevra: “Hoe sal ’n jong man sy pad reinig?” Hy het geantwoord: “Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig [Jehovah se] woord” (Ps. 119:9). Dit sal insluit dat ons enigiets vermy wat met die sedelike verdorwenheid van Satan se stelsel van dinge te doen het. Internetpornografie, ongepaste gedrag teenoor die ander geslag, verderflike musiek, verdorwe vermaak en die gebruik van drank deur minderjariges, is net ’n paar van die strikke wat Satan gebruik om te keer dat ons jongmense geestelike doelwitte bereik. ’n Sterk vasbeslotenheid is nodig om hierdie taktieke te weerstaan. As jy, as ’n jongmens, vind dat jy by enige van hierdie dinge betrokke raak, moet jy met die ouer manne in julle gemeente praat en hierdie kwessies oplos voordat jy vir Betheldiens aansoek doen. ’n Skoon gewete is noodsaaklik om Jehovah in volle mate te dien.—1 Tim. 1:5.

22 Leer om met ander oor die weg te kom: ’n Belangrike vereiste om ’n sukses van jou Betheldiens te maak, is om te leer om met ander oor die weg te kom. Die Bethelgesin in Suid-Afrika bestaan uit ongeveer 700 broers en susters uit alle agtergronde. Hoewel hierdie verskeidenheid van persoonlikhede onder die dinge tel wat Bethel ’n pragtige plek maak, kan dit soms ook uitdagings bied. As jy Betheldiens oorweeg, kan jy jou gerus afvra: ‘Neem ek maklik aanstoot wanneer ander nie met my saamstem nie? Is dit vir ander maklik om met my oor die weg te kom?’ As jy op hierdie gebiede moet verbeter, moet jy nou daaraan begin werk. As jy dit doen, sal dit jou help om makliker daarby aan te pas om saam met ander lede van die Bethelgesin te lewe en te werk.

23 Werk hard daaraan om ’n geestelike persoon te wees deur ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou. Ontwikkel ’n goeie program van persoonlike studie, wat daaglikse Bybellees insluit. Verkondig die goeie nuus ywerig aan ander. As jy hierdie dinge toepas, sal jou geestelike vooruitgang duidelik wees (1 Tim. 4:15). Watter wonderlike vooruitsigte het diegene tog wat hulle nou vir ’n loopbaan in die voltydse diens voorberei!

24 Ouers, lei julle kinders op: Wat kan ouers doen om jongmense aan te moedig om die voltydse bediening na te streef? Jesus het gesê: “Elkeen wat volmaak onderrig is, sal soos sy leermeester wees” (Luk. 6:40). ’n Deeglik opgeleide leerling kan nie anders as om die goeie eienskappe van sy toegewyde leermeester te openbaar nie. Hierdie beginsel behoort Christenouers tot nadenke te stem terwyl hulle hard werk om hulle kinders “met godvrugtige toegewydheid as [hulle] doel” op te lei (1 Tim. 4:7). Aangesien kinders geneig is om hulle ouers se gesindheid teenoor geestelike dinge te weerspieël, sal dit goed wees as ouers hulle afvra: ‘Waardeer ons persoonlik die werk wat by Bethel gedoen word om die belange van Jehovah se ware aanbidding te bevorder? Kan ons sien hoe Jehovah die Bethelreëling seën? Glo ons dat ’n lewe in Jehovah se diens die beste loopbaankeuse is wat ons kinders kan maak?’ Ons hartgrondige waardering vir Betheldiens en die werk wat daar gedoen word, sal ons help om ’n soortgelyke waardering by ons kinders in te boesem.

25 Elkana en Hanna het diepe waardering vir ware aanbidding gehad. Hulle het ’n noemenswaardige voorbeeld gestel vir Christenouers van vandag. In eertydse Israel is daar slegs van Israelitiese mans vereis om drie keer per jaar by die tabernakel “voor die aangesig van die ware Heer, Jehovah, [te] verskyn”. Elkana het nietemin “van jaar tot jaar” sowat 30 kilometer, heel waarskynlik te voet, saam met sy hele gesin gereis om by hierdie sentrum vir Jehovah se aanbidding ’n offerande te bring (Eks. 23:17; 1 Sam. 1:3, 4, 9, 19; 2:19). Hierdie gesinshoof wou klaarblyklik hê dat sy hele gesin dieselfde waarde as hy aan geestelike dinge moes heg.

26 Hanna het haar man se belangstelling in ware aanbidding gedeel. Sy het ’n sterk verpligting gevoel om by te dra tot die ondersteuning van ware aanbidding by die tabernakel. Hanna het ’n gelofte gedoen dat, indien Jehovah haar ’n seun gee, sy hom beskikbaar sou stel vir tabernakeldiens (1 Sam. 1:11). Die Mosaïese Wet het ’n man die reg gegee om ’n ongepaste gelofte van sy vrou nietig te verklaar (Num. 30:6-8). Maar Elkana het blykbaar Hanna se gelofte goedgekeur, wat getoon het dat hy ook daardie daad van ware aanbidding ondersteun het!—1 Sam. 1:22, 23.

27 Is hulle seun Samuel positief beïnvloed deur die waardering en goeie gees wat sy ouers geopenbaar het? Ja, beslis. As ’n jong seun het Samuel gewillig en getrou omgesien na die take wat aan hom opgedra is, en hy is opgelei vir verdere kosbare voorregte in God se diens. Elkana en Hanna het nie opgehou om belangstelling te toon in Samuel se diens by die tabernakel toe hy sy pligte daar begin uitvoer het nie. Hulle het hom nog steeds gereeld besoek om hom aan te moedig en te ondersteun terwyl hy die voltydse diens nagestreef het.—1 Sam. 2:18, 19.

28 Wat ’n uitstekende voorbeeld het Elkana en Hanna tog vir Christenouers van vandag gestel! Wanneer ons kinders hoor hoe ons opreg waardering uitspreek vir die voorreg van Betheldiens en sien hoe ons selfopoffering aan die dag lê wanneer ons Koninkryksbelange bevorder, sal hulle ook ’n hart verkry wat ander wil dien. Baie ouers is besig om hierdie heilsame begeerte suksesvol by hulle kinders in te boesem. Een sewejarige het geskryf: “Wanneer ek groot is, wil ek Bethel toe gaan, en daar is ’n paar dinge wat ek daar wil doen. (1) Ek wil Die Wagtoring en Ontwaak! intik, (2) in julle kunsafdeling werk, (3) die wasgoed opvou. Enigeen van die drie. Dit maak nie saak nie.” Hoe hartverblydend is dit tog om te sien hoe so ’n gewillige gees in die hart van ons kinders ontwikkel!

29 Jongmense, onthou: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). Hou aan om geestelike doelwitte na te streef, insluitende die spesiale voorreg van Betheldiens. Ouers, volg die voorbeeld na van getroue mense van die verlede wat hulle kinders aangemoedig het om godvrugtige toegewydheid aan te kweek (2 Pet. 3:11). En mag ons almal ons deel bydra om ons jong broers en susters te help om ons Grootse Skepper in die grootste mate moontlik te dien, aangesien dit “belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe”.—1 Tim. 4:8; Pred. 12:1.

[Venster op bladsy 4]

Basiese vereistes vir Betheldiens

● Ten minste ’n jaar gedoop

● ’n Geestelike persoon met ’n innige liefde vir Jehovah en sy organisasie

● Geestelik, verstandelik, emosioneel en fisies gesond

● Suid-Afrikaanse burger of wettige permanente inwoner

● Moet Engels goed kan lees, skryf en praat

● 19-35 jaar oud

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel