Ons bediening—’n Werk wat medelye weerspieël
1 Jesus het gesien dat die menigtes wat na sy boodskap luister, “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” is (Matt. 9:36). Met teerheid en liefde het hy hulle Jehovah se weë geleer, hulle vertroos en medelydend in hulle geestelike behoeftes voorsien. Wanneer ons oor Jesus se weë peins, leer ons om soos hy te dink en te voel, en dan begin ons medelye in ons bediening weerspieël.
2 Dink ’n bietjie aan hoe Jesus gereageer het wanneer mense wat dringend hulp nodig gehad het, hom genader het (Luk. 5:12, 13; 8:43-48). Hy het dié met spesiale behoeftes in ag geneem (Mark. 7:31-35). Hy was bewus van ander se gevoelens en het besorgdheid getoon. Hy het verder as die uiterlike gekyk (Luk. 7:36-40). Ja, Jesus het die tere medelye van ons God volmaak weerspieël.
3 “Ontroer deur innige jammerte”: Jesus het nie sy bediening bloot weens ’n pligsgevoel uitgevoer nie. Hy is “ontroer deur innige jammerte” vir mense (Mark. 6:34). Vandag dra ons ook nie net ’n boodskap oor nie, maar ons streef daarna om kosbare lewens te red. Probeer verstaan waarom mense op ’n sekere manier reageer. Waarom is hulle angstig of te besig om te luister? Word hulle deur die herders van valse godsdiens verwaarloos en verblind? Ons opregte belangstelling in ander kan hulle beweeg om na die goeie nuus te luister.—2 Kor. 6:4, 6.
4 Medelye raak die hart. Ter toeligting: ’n Vrou het haar drie maande oue dogtertjie aan die dood afgestaan. Toe twee Getuies aan haar deur geklop het, het sy hulle ingenooi om hulle redenasies oor waarom God lyding toelaat, verkeerd te bewys. Maar die vrou het later gesê: “Hulle het met groot medelye na my geluister, en toe hulle vertrek, het ek soveel beter gevoel dat ek ingestem het tot nog ’n besoek.” Streef jy daarna om medelye te betoon met almal wat jy in die bediening ontmoet?
5 As ons medelye aankweek, sal dit ons help om ander werklik te vertroos. Sodoende verheerlik ons “die Vader van tere barmhartighede”, Jehovah.—2 Kor. 1:3.