Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 12/15 bl. 28-29
  • Jehovah heers met medelye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah heers met medelye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Volg Jehovah se medelye na
  • Medelye in ’n wrede wêreld
  • Betoon “tere medelye”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wees medelydend soos Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Betoon tere medelye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • “Die genade wat ons God so liefdevol betoon”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 12/15 bl. 28-29

Jehovah heers met medelye

DEUR die geskiedenis heen het baie menseheersers hulle mag op hardvogtige wyse uitgeoefen en nie omgegee of hulle onderdane ly of nie. Jehovah het egter ’n kontras voorsien deur ’n nasie—Israel—te kies en met medelye oor hulle te heers.

Terwyl die Israeliete nog slawe in eertydse Egipte was, het Jehovah hulle hulpgeroep gehoor. “In al hulle benoudheid was Hy benoud, . . . deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos” (Jesaja 63:9). Jehovah het Israel verlos, hulle van wonderdadige voedsel voorsien en hulle in ’n land van hulle eie ingebring.

Jehovah se eienskap van medelye is verder geopenbaar deur die wette wat hy hierdie nasie gegee het. Hy het die Israeliete beveel om wese, weduwees en inwonende vreemdelinge met medelye te behandel. Hulle moes nie die gestremdes op oneerlike wyse uitbuit nie.

Die Wet het vereis dat medelye aan die behoeftiges betoon word. Die armes kon ná die oesinsameling van die oesoorblyfsels optel. Skuld is in die Sabbatsjaar (die sewende jaar) kwytgeskeld. Alle erfgrond wat verkoop is, moes in die Jubeljaar (die 50ste jaar) teruggegee word. Ancient Israel—Its Life and Institutions sê: “In Israel het daar nooit werklik sosiale klasse in die moderne sin bestaan nie.” “In die beginjare van die nedersetting het al die Israeliete min of meer dieselfde lewenstandaard gehad.”—Levitikus 25:10; Deuteronomium 15:12-14; 24:17-22; 27:18.

Volg Jehovah se medelye na

God se knegte word deur sy medelye geïnspireer. Deur die geskiedenis heen het party nuwe konings byvoorbeeld oorblywende lede van die vorige koningshuis doodgemaak. Maar Jehovah se kneg Dawid het dit nie gedoen nie. Ná koning Saul se dood het Dawid Mefiboset, Saul se oorblywende kleinseun en erfgenaam, beskerm. “Die koning het medelye gevoel vir Mefiboset, die seun van Jonatan, die seun van Saul.”—2 Samuel 21:7, NW.

Geen ander mens het Jehovah se medelye soos Jesus nagevolg nie. Baie van sy wonderwerke is deur goddelike medelye gemotiveer. By een geleentheid het ’n melaatse hom gesmeek: “As u net wil, kan u my rein maak.” Jesus is deur medelye ontroer en het hom aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Markus 1:40-42). ’n Ander keer het groot skares Jesus gevolg. Te midde van die lawaai het Jesus aandag geskenk aan twee blinde manne wat uitgeroep het: “‘Here, wees ons barmhartig, Seun van Dawid!’ . . . Ontroer deur medelye het Jesus hulle oë aangeraak, en onmiddellik het hulle gesig ontvang.”—Matteus 20:29-34.

Groot skares het Jesus nie gevoelloos vir ander gemaak nie. Omdat hulle ’n ruk lank nie geëet het nie, het hy by een geleentheid gesê: “Ek voel medelye vir die skare.” Hy het hulle gevolglik wonderdadig gevoed (Markus 8:1-8). Wanneer Jesus rondgereis het, het hy die menigtes nie net onderrig nie, maar hy was ook bewus van hulle behoeftes (Matteus 9:35, 36). Ná een so ’n reis het Jesus en sy dissipels geen vrye tyd gehad om selfs ’n maaltyd te nuttig nie. Die Bybelverslag sê vir ons: “Hulle het dus in die boot na ’n eensame plek vertrek om alleen te wees. Maar mense het hulle sien gaan en baie het dit te wete gekom, en hulle het uit al die stede te voet daarheen saamgestroom en voor hulle daar gekom. Wel, toe hy uitklim, het hy ’n groot skare gesien, maar hy is ontroer deur medelye met hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer.”—Markus 6:31-34.

Wat Jesus ontroer het, was nie net die siekte en armoede van die mense nie, maar hulle geestelike toestand. Hulle leiers het hulle uitgebuit en daarom is Jesus “ontroer deur medelye met hulle”. Die Griekse woord vir “is ontroer deur medelye” beteken “om te voel hoe die ingewande pyn”. Jesus was voorwaar ’n medelydende man!

Medelye in ’n wrede wêreld

Jesus Christus is nou die Koning van Jehovah se hemelse Koninkryk. Net soos God in eertydse Israel gedoen het, heers hy vandag met medelye oor sy volk. “Hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê.”—Maleagi 3:17.

Diegene wat Jehovah se medelye wil ontvang, moet sy weë navolg. Ons lewe weliswaar in ’n wêreld waarin mense meer daarin belangstel om hulle lewenstyl te handhaaf as om behoeftiges te help. Mense in magsposisies jaag dikwels wins na ten koste van die veiligheid van werkers en verbruikers. In 2 Timoteus 3:1-4 gee die Bybel ’n juiste beskrywing van die sedelike klimaat van ons tyd wat medelye in die harte van soveel mense gesmoor het.

Maar ons kan waarskynlik geleenthede vind om medelye te betoon. Het ons bure hulp nodig? Is daar iemand wat siek is wat ons kan besoek? Kan ons diegene wat terneergedruk is, aanmoedig in ooreenstemming met die raad: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes”?—1 Tessalonisense 5:14.

Medelye sal ons ook help om nie op ’n hardvogtige wyse te reageer wanneer ander foute maak nie. Daar word vir ons gesê: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Efesiërs 4:31, 32.

Medelye sal ons help om die neiging te vermy om mag te misbruik. Die Bybel sê: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Ootmoed maak dit vir ons moontlik om ons in die situasie in te dink van diegene onder ons toesig. Om medelydend te wees, behels dat ons nederig en redelik moet wees eerder as iemand wat moeilik tevrede gestel word. Doeltreffende werkverrigting moet nie ’n verskoning wees om mense as ’n blote masjiendeel te behandel nie. En in die gesin onthou medelydende mans dat hulle vrou ’n swakker vat is (1 Petrus 3:7). As ons oor Jesus se medelydende voorbeeld peins, kan dit ons met al hierdie dinge help.

Aangesien Jesus gedurende sy aardse bediening sulke innige meegevoel vir mense gehad het, kan ons daarvan seker wees dat hy nou ’n medelydende Heerser is en dit ook in die toekoms sal wees. Psalm 72 sê profeties van hom: “Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”—Psalm 72:4, 8, 13.

God se Woord voorspel: “Aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel . . . [en] die goddelose doodmaak.” Nadat die profesie beskryf hoe selfs party wrede, dierlike mense hulle weë sal verander, sê dit verder: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:4-9). Hierdie profesie belowe niks minder nie as ’n aardwye mensegemeenskap wat Jehovah ken en sy medelydende weë navolg!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel