Koninkryksaalbouwerk—’n belangrike aspek van heilige diens
1. Wat is reeds in verband met Koninkryksaalbouwerk bereik, maar watter behoefte bestaan daar nog?
1 Gedurende die afgelope vyf jaar is 262 Koninkryksale gebou en is talle sale opgeknap in die gebied wat onder die toesig van die Suid-Afrikaanse takkantoor val. Ons waardeer werklik die harde werk van die Streekboukomitees en almal wat hulle gehelp het. Hoewel ’n ontsaglike hoeveelheid werk reeds gedoen is, is daar nog baie wat in verband met Koninkryksaalbouwerk gedoen moet word. Hoe kan almal van ons hierdie belangrike aspek van ons heilige diens aan Jehovah ondersteun?—Op. 7:15.
2. Hoe kan ons die Koninkryksaalbouwerk direk ondersteun?
2 Wees gewillig: As jy ’n gedoopte verkondiger is, word jy genooi om jou beskikbaar te stel om saam met die Streekboukomitee te werk deur ’n Kingdom Hall Volunteer Worker Questionnaire-vorm in te vul (Ps. 110:3). Almal wat hulle dienste aanbied, moet gewillige werkers wees en ’n gees van samewerking hê (Ps. 133:1). Al het jy nie bouvaardighede nie, kan jy nog steeds baie tot die sukses van ’n bouprojek bydra. Jy sal dalk ook opgelei word sodat jy in die toekoms in ’n groter mate gebruik kan word.
3. Op watter ander maniere kan ons toon dat ons hierdie reëling ondersteun?
3 As jy nie jou hulp kan aanbied nie, kan jy jou ondersteuning toon deur ander aan te moedig wat wel aan hierdie werk kan deelneem. Jy kan help om die gemeentelike toewysings te behartig van diegene wat weg is. Deur vooruit te beplan, kan ouer manne seker maak dat daar goed na die gemeente omgesien word wanneer party aan ’n Koninkryksaalbouprojek werk. Dit maak Jehovah ongetwyfeld bly wanneer ons Koninkryksbelange bevorder deur in eenheid saam te werk.—Heb. 13:16.
4. Hoe kan ons diegene aanmoedig wat aan Koninkryksaalbouprojekte deelneem?
4 Wees positief: Dit verg baie tyd en harde werk om plekke van aanbidding te bou. Daarom is dit te verstane dat diegene wat genooi word om met bouprojekte te help, soms nie by hulle tuisgemeente sal wees nie. Laat ons gou wees om vrywillige konstruksiewerkers te prys en aan te moedig vir die opofferings wat hulle maak om na hierdie “nodige aangeleentheid” om te sien.—Hand. 6:3; Rom. 14:19.
5. Hoe kan vrywillige konstruksiewerkers gebalanseerd wees?
5 Wees gebalanseerd: Ons vernaamste teokratiese bedrywigheid is die verkondiging van God se Koninkryk (Mark. 13:10). Met dit in gedagte probeer die Streekboukomitee om projekte so te reël dat vrywilligers nie onnodig van hulle gemeentes hoef weg te wees nie. So ook probeer vrywillige konstruksiewerkers om gebalanseerd te wees wanneer hulle na hulle talle verantwoordelikhede omsien. Hulle neem die inisiatief om seker te maak dat iemand hulle gemeentelike toewysings behartig wanneer hulle nie daar is nie.
6. Wat word bereik wanneer almal in die gemeente saamwerk om ware aanbidding te bevorder?
6 Die apostel Paulus het gesê dat die lede van die gemeente wat in eenheid saamwerk, ‘die groei van die liggaam vir sy eie opbouing in liefde bevorder’ (Ef. 4:16). Ons liefde vir Jehovah en vir ware aanbidding beweeg ons om saam te werk om die goeie nuus te verkondig en die Koninkryksaalbouwerk te ondersteun.