Toon persoonlike belangstelling—Deur goedhartig te wees
1 ’n Vrou wat bevooroordeeld teen Jehovah se Getuies was, het vertel van die eerste keer toe sy een van die Getuies ontmoet het en gesê: “Ek kan regtig nie onthou waaroor ons gesels het nie, maar ek onthou hoe goedhartig sy teenoor my was en hoe gasvry en nederig sy was. Ek het regtig tot haar as mens aangetrokke gevoel.” Hierdie opmerkings beklemtoon hoe belangrik dit is om opregte persoonlike belangstelling te toon in diegene vir wie ons getuig.—Fil. 2:4.
2 Die liefde is goedhartig: Een manier waarop ons liefde aan ander kan betoon, is deur goedhartig te wees (1 Kor. 13:4). ’n Goedhartige mens stel werklik belang in die welsyn van ander en probeer dinge doen om hulle te help. Die predikingswerk op sigself is natuurlik ’n goedhartige daad. Maar ons opregte besorgdheid oor mense word nie net weerspieël deurdat ons vir hulle getuig nie. Alles omtrent die manier waarop ons mense behandel—ons vriendelikheid, ons goeie maniere, hoe ons luister, wat ons sê en hoe ons dit sê, selfs ons gesigsuitdrukking wanneer ons na ander kyk—sal openbaar dat ons werklik omgee.—Matt. 8:2, 3.
3 Liefdevolle besorgdheid oor mense sal ons ook beweeg om praktiese hulp aan te bied. Terwyl ’n pionierbroer van deur tot deur getuig het, het ’n bejaarde weduwee, toe sy uitvind wie hy is, dadelik vir hom gesê dat sy nie belangstel nie. Sy het gemeld dat sy in die kombuis op ’n trapleer gestaan het om ’n gloeilamp te vervang toe hy die deurklokkie gelui het. “Dit is nie veilig vir tannie om dit alleen te doen nie”, het hy gesê. Sy het hom ingenooi. Hy het die gloeilamp vervang en is toe daar weg. Toe die vrou se seun ’n rukkie later inloer om te kyk hoe dit met haar gaan, het sy hom vertel wat gebeur het. Hy was so beïndruk dat hy die broer gaan soek het om sy waardering uit te spreek. ’n Goeie gesprek het gevolg, en dit het daartoe gelei dat die seun ’n Bybelstudie aanvaar het.
4 Wanneer ons goedhartig is, weerspieël ons Jehovah se liefde vir mense en versier ons die Koninkryksboodskap. Laat ons ons dus altyd “as God se bedienaars [aanbeveel] . . . deur goedhartigheid”.—2 Kor. 6:4, 6.