Hoe ons by die Teokratiese Bedieningskool baat vind
1 Jehovah se knegte het die unieke voorreg om teokratiese opleiding te ontvang (Jes. 54:13; Joh. 6:45). Maar tot watter mate ons daarby baat vind, hang grootliks af van die pogings wat ons aanwend. Sien jy die positiewe uitwerking wat die Teokratiese Bedieningskool op jou geestelikheid het?
2 Woorde van waardering: Baie skoolopsieners het opgemerk dat die deeglike studie van spraakhoedanighede hulle gemeente bekwamer in die veldbediening gemaak het. Daarbenewens het een skoolopsiener gevind dat meer by die Bybelleesprogram hou danksy die voorsiening vir gehoordeelname tydens die Bybelglanspunte. Wat toespraak nr. 2 betref, het baie broers gunstige kommentaar gelewer oor die voordele wat dit inhou om op die materiaal te konsentreer sonder om ’n inleiding en slot voor te berei. Diegene wat hierdie deel toegewys word, skenk nou meer aandag daaraan om hulle leesvaardighede te verbeter.—1 Tim. 4:13.
3 Almal kan baat vind: Om by vergaderinge te antwoord, kan genotvol wees (Spr. 15:23). Omdat ons die vrae vir die mondelinge hersiening vooraf kry, kan ons daarvoor voorberei en is dit makliker om deel te neem. Daarbenewens het daar in Die Wagtoring, vanaf die nommer van 1 Januarie 2004, glanspunte van Bybelboeke verskyn wat met ons toegewese leesgedeelte in die Teokratiese Bedieningskool ooreenkom. Hierdie artikels het baie persone gehelp om gedurende die Bybelglanspunte opbouende kommentare te lewer.
4 Almal wat by die skool aangesluit het, het die spesiale voorreg om toewysings voor te berei en aan te bied. Ons almal kan baat vind by die skoolopsiener se positiewe kommentare van die verhoog af. Elke student vind verder baat by die private raad wat hy ná die vergadering vir hulle gee. ’n Verdere hulp is die oefeninge aan die einde van elke hoofstuk in verband met spraakhoedanighede in die boek Vind baat by die opleiding in die Teokratiese Bedieningskool.
5 Wanneer praktiese en skriftuurlike punte gedurende en ná die skool onder jou aandag gebring word, kan jy aantekeninge daarvan in jou Bedieningskool-handboek maak. Dink na oor wat jy geleer het en kyk hoe hierdie aspek van goddelike onderrigting jou geestelikheid versterk.