’n Werk wat deur God gesteun word
1 Onder God se hedendaagse knegte is daar min wat baie geleerd, ryk of vernaam in die huidige stelsel van dinge is. Daarom steur party mense hulle nie veel aan ons bediening nie (Jes. 53:3). Maar ons Bybelonderrigtingswerk het al vertroosting en hoop vir miljoene mense regoor die wêreld gebring. Hoe het gewone mense sulke voortreflike resultate behaal? Slegs deur God se steun (Matt. 28:19, 20; Hand. 1:8). “God het die swak dinge van die wêreld uitgekies”, het die apostel Paulus verduidelik, “sodat hy die sterk dinge kan beskaam.”—1 Kor. 1:26-29.
2 Die meeste van die apostels en ander eerste-eeuse Christene was “ongeleerde en gewone mense” (Hand. 4:13). Tog het hulle hulle opdrag om die goeie nuus te verkondig met vrymoedigheid uitgevoer, en Jehovah het hulle pogings geseën. Ondanks struikelblokke en teenstand “het die woord van Jehovah op ’n magtige wyse bly groei en seëvier”. Niks kon die werk stopsit nie, want dit is deur God gesteun (Hand. 5:38, 39; 19:20). Dit is ook vandag die geval. Nie eens verbete teenstand deur magtige heersers kon keer dat die goeie nuus groei en seëvier nie.—Jes. 54:17.
3 Alle eer aan God: Gee ons begunstigde posisie as God se bedienaars ons rede om te spog? Hoegenaamd nie. Paulus het met verwysing na die Christelike bediening geskryf: “Ons het . . . hierdie skat in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Kor. 4:7). Paulus het besef dat hy sy bediening slegs kon uitvoer deur die krag wat God gee.—Ef. 6:19, 20; Fil. 4:13.
4 Ons erken ook dat die predikingswerk slegs uitgevoer word omdat ons “die hulp [kry] wat van God kom” (Hand. 26:22). Deur hierdie wêreldwye verkondigingswerk gebruik Jehovah ons op ’n magtige wyse om die nasies te skud—’n teken van die vernietigende oordeel wat binnekort gevel sal word (Hag. 2:7). Hoe bevoorreg is ons tog om “God se medewerkers” te wees in die groot geestelike oeswerk!—1 Kor. 3:6-9.