Die trefkrag van video’s wat ’n getuienis gee
1 “Selfs nog voordat ons seun kon loop, het hy al na die video gekyk. Hy kyk oor en oor daarna. Hoe wonderlik is dit tog om hulpmiddels te hê wat liefde vir Jehovah by ons kinders inboesem!” Van watter video het hierdie Christenouer gepraat? Die video getiteld Noah—He Walked With God. ’n Vrou wat nie ’n Getuie is nie en wie se seun die video oor Noag by iemand anders gesien het, het ’n bydrae van R670 aan die takkantoor gestuur en gevra of ons enige ander video’s vir kinders het. Die video’s wat deur Jehovah se organisasie uitgegee word, het ’n kragtige uitwerking op jonk en oud.
2 In die gesin: Nadat ’n Getuie-gesin die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault gekyk het, het die ma gesê: “Ek het die heeldag nagedink oor hoe Jehovah gewone mense in staat gestel het om buitengewone dinge te verduur! Deur daaroor na te dink, is ek herinner aan hoe betreklik onbeduidend my eie probleme is. Hierdie video het ons kinders gehelp om duideliker te sien waarom ons op Jehovah moet vertrou. Deur dit agterna met hulle te bespreek, het ons ons dogters gehelp om beter toegerus te wees om die druk en vervolging waarvoor hulle te staan kan kom, die hoof te bied.”
3 By die skool: ’n Tienderjarige Getuie het as deel van sy verslag ’n gedeelte uit die Stand Firm-video aan sy klas vertoon. Die onderwyseres het voorheen gesê dat sy nie van die Getuies hou nie. Nadat sy die video gekyk het, het sy gesê: “Dit het my siening van Jehovah se Getuies heeltemal verander. Ek belowe dat ek na hulle sal luister wanneer hulle weer na my deur toe kom en die Bybel saam met hulle sal studeer!” Wat het haar indruk van ons verander? Sy het gesê dat dit ons “ware liefde en lojaliteit” is.
4 In die bediening: ’n Suster het ’n vrou ontmoet wat huiwerig was om lektuur te neem, hoewel sy vrae oor ons en ons godsdiensoortuigings gehad het. Die suster het teruggegaan met die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name en die vrou en haar man daarna laat kyk. Hulle was altwee baie beïndruk en het ingestem om die Bybel te studeer. As gevolg van die goeie getuienis wat hulle gekry het, het hulle hulle lewe in ooreenstemming met God se wil begin bring.
5 Hoe kan ons ons video’s ten volle benut? Aangesien dit duur is om hierdie video’s te maak, hou party gemeentes ’n stel in die Koninkryksaal se biblioteek sodat die verkondigers dit kan leen. Verkondigers word nie aangemoedig om hierdie video’s te bestel as hulle nie ’n videomasjien het of dit nie gereeld gaan gebruik nie.