Nuwe program vir die spesiale byeenkomsdag
Die tema van die program vir die spesiale byeenkomsdag vir die nuwe diensjaar het ’n stewige skriftuurlike grondslag: “Onderwerp julle aan God—Staan die Duiwel teë” (Jak. 4:7). Dit is betroubare leiding vir hierdie moeilike tye! As ons God se gebooie gehoorsaam, bring dit ons in vyandskap met Satan. Die program sal ons leer hoe om vas te staan teen die Duiwel se geloofvernietigende, bose planne. Wat is van die geestelike skatte wat ons by hierdie byeenkoms gaan ontvang?
In die toespraak “Openbaar godvrugtige onderdanigheid as gesinslede” gaan die kringopsiener toon hoe hierdie onderdanigheid gesinne versterk om die wêreld se druk te weerstaan. Die besoekende spreker se eerste toespraak van die dag, “Wat dit beteken om die Duiwel teë te staan”, sal verduidelik waarom en hoe ons Satan se strewes om ons geestelikheid te vernietig, daadwerklik moet teëstaan. Twee dele is spesiaal vir jongmense voorberei, wat ook op hulle hoede moet wees vir die Duiwel se planne. Baie Christene wat nou volwassenes is, het geweier om die wêreld se begeertes na te volg toe hulle jonk was. Ons sal dit geniet om na van hulle persoonlike ondervindinge te luister.
Onderdanigheid aan gesag word van almal vereis wat deel uitmaak van die mensegemeenskap. Die besoekende spreker se slottoespraak sal dus vier gebiede beklemtoon waarop ons godvrugtige onderdanigheid moet openbaar: (1) aan regerings, (2) in die gemeente, (3) in sekulêre beroepe en (4) in die gesinskring. Wat ’n praktiese program!
Diegene wat op hierdie spesiale byeenkomsdag gedoop wil word, moet die presiderende opsiener so gou as moontlik daarvan in kennis stel. Ons almal moet die datum op ons kalender skryf en beplan om die hele byeenkomsprogram by te woon. Die seëninge wat ons ontvang, sal ewigdurend wees terwyl ons ons vir ewig aan Jehovah onderwerp.