Hou ontspanning op sy plek
1 In hierdie moeilike dae het ons almal van tyd tot tyd ’n verandering van roetine nodig. Dit is gepas om soms te ontspan. Maar as ’n mens te veel tyd aan ontspanning, vermaak en gesellighede bestee, kan jy geleidelik al hoe minder tyd aan geestelike strewes bestee. Ons moet ontspanning op sy plek hou (Matt. 5:3). Hoe is dit moontlik? Deur die raad te volg wat in Efesiërs 5:15-17 gevind word.
2 Stel perke: Paulus het geskryf dat Christene ‘voortdurend streng moet let’ op hoe wyslik hulle hulle lewe lei. Matigheid en selfbeheersing is nodig om ontspanning te beperk tot wat werklik nodig is. Dit is goed om ernstig na te dink oor die manier waarop ons ons vrye tyd gebruik. Ontspanning moet verkwikkend wees en ons nie laat voel dat ons ons tyd gemors het of ons heeltemal uitput nie. As ons leeg, ontevrede en ietwat skuldig voel nadat ons aan ’n bedrywigheid deelgeneem het, is dit ’n aanduiding dat ons veranderinge moet aanbring in die manier waarop ons ons tyd gebruik.
3 Wees redelik: Paulus het die raad gegee om ‘die geleë tyd uit te koop’ vir die belangriker dinge van die lewe en nie “onredelik” te word nie. Toegewyde Christene kan nie toelaat dat hulle lewe om ontspanning draai nie. Hoewel rus en afleiding ons kan verkwik, is God se werkende krag die bron van geestelike energie (Jes. 40:29-31). Ons ontvang sy gees wanneer ons aan teokratiese bedrywighede deelneem—die Bybel bestudeer, gemeentelike vergaderinge bywoon, aan velddiens deelneem—nie deur ontspanning nie.
4 Stel prioriteite: Paulus het Christene die opdrag gegee om “voort [te gaan] om te begryp wat die wil van Jehovah is”. Jesus het geleer dat ons God se Koninkryk eerste in ons lewe moet stel en dat ons bedrywighede daarom moet draai (Matt. 6:33). Dit is noodsaaklik dat ons eers dié dinge moet doen wat ons sal toelaat om ons toewyding aan Jehovah na te leef. Dan kan ontspanning op sy plek gehou word. Wanneer dit gedoen word, sal dit ’n heilsame uitwerking hê, en ons sal dit meer geniet.—Pred. 5:11.