Goeie maniere—’n kenmerk van godvresende mense
1 Goeie maniere is vandag skaars. Waarom? Mense is so haastig dat hulle amper nie eers daaraan dink om hoflik te wees deur woorde te gebruik soos “Asseblief”, “Dankie” of “Verskoon my” nie. God se Woord het voorspel dat maniere in die laaste dae sou versleg toe dit gesê het dat mense ‘liefhebbers van hulleself, aanmatigend, hoogmoedig, ondankbaar, sonder natuurlike geneentheid, sonder selfbeheersing, sonder liefde vir goedheid en eiesinnig’ sou wees (2 Tim. 3:1-4). Al hierdie eienskappe bring slegte maniere voort. As godvresende mense moet Christene oppas dat hulle nie hierdie wêreld se gebrek aan respek vir ander aankweek nie.
2 Wat is maniere? Goeie maniere kan beskryf word as die intense bewustheid van ander se gevoelens, die vermoë om in vrede met ander te lewe. Aspekte van goeie maniere is bedagsaamheid, hoflikheid, goedhartigheid, beleefdheid en takt. Hierdie eienskappe spruit voort uit ’n mens se liefde vir God en jou naaste (Luk. 10:27). Dit kos niks nie, maar is baie waardevol om ons verhoudinge met ander te verbeter.
3 Jesus Christus het die volmaakte voorbeeld gestel. Hy het altyd die Gulde Reël toegepas: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Luk. 6:31). Bewonder ons nie Jesus se bedagsaamheid en die liefdevolle manier waarop hy sy dissipels behandel het nie? (Matt. 11:28-30). Hy het nie goeie maniere geleer deur die reëls in etiketboeke te volg nie. Dit het voortgespruit uit ’n opregte en vrygewige hart. Ons moet sy goeie voorbeeld probeer navolg.
4 Wanneer het Christene goeie maniere nodig? Net by spesiale geleenthede, wanneer hulle graag ’n goeie indruk wil skep? Of is dit slegs nodig wanneer hulle ander probeer beïnvloed? Nee! Ons behoort te alle tye goeie maniere aan die dag te lê. Hoe kan ons veral hierop let in ons omgang met mekaar in die gemeente?
5 By die Koninkryksaal: Die Koninkryksaal is ons plek van aanbidding. Ons is daar op uitnodiging van Jehovah God. In dié sin is ons gaste (Ps. 15:1, NW). Is ons voorbeeldige gaste wanneer ons na die Koninkryksaal toe kom? Gee ons genoeg aandag aan ons kleredrag en persoonsversorging? Ons wil beslis informele drag of uiterstes vermy. Hetsy Jehovah se volk byeenkomste of hulle weeklikse gemeentelike vergaderinge bywoon, hulle is bekend vir hulle goeie voorkoms soos dit mense betaam wat bely dat hulle God vereer (1 Tim. 2:9, 10). Sodoende toon ons die nodige eer en respek vir ons hemelse Gasheer sowel as die ander genooide gaste.
6 Nog ’n manier waarop ons by ons vergaderinge goeie maniere aan die dag kan lê, is deur betyds te wees. Ons moet erken dat dit nie altyd maklik is nie. Party woon dalk ver van die saal af of het dalk ’n groot gesin wat hulle gereed moet kry. In sommige gemeentes is daar egter ’n paar verkondigers wat gereeld ná die openingslied en -gebed opdaag. Dit is ’n ernstige saak. Dit is goed om te onthou dat goeie maniere ook behels dat ons ander se gevoelens in ag neem. Jehovah, ons bedagsame Gasheer, het hierdie geestelike feesmale tot ons voordeel gereël. Ons toon ons waardering en besorgdheid oor sy gevoelens deur betyds te wees. As ons laat by die vergaderinge aankom, is dit ook steurend en toon dit ’n gebrek aan respek vir dié wat reeds daar is.
7 Merk ons dit op wanneer nuwelinge ons vergaderinge bywoon? Om hulle te verwelkom, maak deel uit van goeie maniere (Matt. 5:47; Rom. 15:7). ’n Vriendelike groet, ’n hartlike handdruk, ’n opregte glimlag—alles klein dingetjies, maar dit help om ons as ware Christene te identifiseer (Joh. 13:35). Nadat ’n man vir die eerste keer na ’n Koninkryksaal toe gekom het, het hy gesê: “In een dag het ek meer mense ontmoet, wildvreemdes maar werklik liefdevol, as wat ek ooit ontmoet het in die kerk waarin ek grootgemaak is. Dit was duidelik dat ek die waarheid gevind het.” Hy het gevolglik sy lewenswyse verander en is sewe maande later gedoop. Ja, goeie maniere kan verreikende gevolge hê!
8 As ons goed gemanierd is teenoor vreemdelinge wat ons ontmoet, hoeveel te meer dan teenoor “dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Gal. 6:10). “[Jy moet] die persoon van ’n grysaard eer”, is ook ’n beginsel wat van toepassing is (Lev. 19:32). Laat ons altyd aan hulle aandag gee by ons vergaderinge.
9 Deur noukeurig aandag te skenk: Gedurende gemeentelike vergaderinge wil Christenbedienaars van God ons die een of ander geestelike gawe meedeel om ons op te bou (Rom. 1:11). Dit sal beslis toon dat ons baie slegte maniere het as ons insluimer, kougom kou sodat dit ander steur, herhaaldelik vir iemand naby ons fluister, onnodig toilet toe gaan, onverwante materiaal lees of gedurende die vergadering met ander dinge besig is. Ouer manne moet in hierdie opsig voorbeeldig wees. Goeie Christelike maniere sal ons beweeg om die nodige respek vir die spreker en sy Bybelse boodskap te toon deur hom ons onverdeelde aandag te gee.
10 Daarbenewens moet ons uit bedagsaamheid teenoor die spreker sowel as die gehoor seker maak dat elektroniese roepradio’s en selfone nie ons vergaderinge ontwrig nie.
11 Maniere en kinders: Ouers moet altyd let op die gedrag van hulle kinders. As ’n kind begin huil of rusteloos word gedurende die vergadering en dit vir ander steurend is, is dit beter om die kind so gou as moontlik uit die saal te neem om hom stil te maak. Dit kan soms moeilik wees, maar onthou dit toon dat jy die gevoelens van ander in ag neem. Ouers met klein kindertjies wat heel moontlik rusteloos sal word, verkies dikwels om agter in die saal te sit sodat hulle so min mense moontlik steur as hulle gedurende die vergaderinge moet opstaan. Die res van die gemeente kan natuurlik uit bedagsaamheid teenoor hierdie gesinne die agterste rye oop los sodat hulle daar kan sit as hulle wil.
12 Ouers moet ook bewus wees van hulle kinders se gedrag voor en ná vergaderinge. Kinders moenie in die saal rondhardloop nie, want dit kan ongelukke veroorsaak. Dit kan ook gevaarlik wees om buite die Koninkryksaal rond te hardloop, veral in die aand wanneer ’n mens nie goed kan sien nie. Ons wil ook nie hard praat buite nie, want dit kan die bure steur en ons aanbidding in ’n slegte lig stel. Ouers wat alles in hulle vermoë doen om binne en buite die Koninkryksaal oor hulle kinders toesig te hou, moet geprys word, want dit maak dit aangenamer om met ons broers in eenheid saam te woon.—Ps. 133:1.
13 By die boekstudie: Ons waardeer die gasvryheid van ons broers wat hulle huise oopstel vir gemeentelike vergaderinge. Wanneer ons die vergadering daar bywoon, moet ons bedagsaam wees en hulle eiendom respekteer. Voordat ons ingaan, moet ons ons skoene goed afvee sodat ons nie die vloere of matte vuil trap nie. Ouers moet ’n ogie hou oor hulle kinders en seker maak dat hulle in die deel van die huis bly wat vir die boekstudie gebruik word. Al is die groep klein en die atmosfeer ietwat informeel, moet ons ons nie vryhede veroorloof in die huise van ander nie. As ’n jong kind toilet toe moet gaan, moet een van sy ouers saam met hom gaan. En aangesien die boekstudie ’n gemeentelike vergadering is, moet ons kleredrag dieselfde wees as wanneer ons na die Koninkryksaal gaan.
14 Goeie maniere is noodsaaklik: As ons Christelike maniere aan die dag lê, strek dit nie net ons bediening tot eer nie, maar dit bevorder ook goeie verhoudinge met ander (2 Kor. 6:3, 4, 6). As aanbidders van die gelukkige God behoort dit vir ons maklik te wees om te glimlag, vriendelik te wees en selfs die klein, beleefde dinge te doen wat ander gelukkig maak. Hierdie mooi eienskappe sal ons lewens as godvrugtige mense verryk.