Maak gereed om Jesaja se profesie te bestudeer!
1 “Getroue aanbidders kan seker wees dat Jehovah . . . nie sal toelaat dat Satan se wêreld een dag langer sal staan as wat geregtigheid vereis nie.” Wat ’n bemoedigende stelling is dit tog! Waaruit word dit aangehaal? Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I. Gee die profesie van Jesaja ons rede om tot so ’n bemoedigende gevolgtrekking te kom? Ja! In daardie Bybelboek kom die tema van redding baie duidelik na vore (Jes. 25:9). Dit is waarom dit vir ons baie aanmoedigend sal wees om hierdie gedeelte van God se Woord by die Gemeentelike Boekstudie te bestudeer. Sal ons elke week daar wees om dit te geniet? Waarom moet ons daar wees?
2 In Jesaja 30:20 (NW) word Jehovah ons “Grootse Onderrigter” genoem. Elke Christen moet aandagtig luister terwyl Jehovah met ons praat deur middel van die bladsye van sy Woord en Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matt. 24:45; Jes. 48:17, 18). Dit is beslis die geval met die boek Jesaja se profesie I. Hoe kan jy die meeste baat vind by ’n studie daarvan?
3 Berei voor om deel te neem: Sit elke week genoeg tyd opsy om vir die boekstudie voor te berei. Lees die toegewese materiaal paragraaf vir paragraaf deur. Dink na oor elkeen van die gedrukte vrae. Onderstreep die antwoorde in jou boek. Verse wat uit Jesaja aangehaal is, is in vet letters gedruk. Lees dit sorgvuldig. Soek die ander teksverwysings op om te sien hoe dit met die materiaal verband hou. Peins oor wat jy leer. Dan kan jy dit wat jy gedurende jou voorbereiding geleer het, in die boekstudie uitbring.
4 Die broer wat die boekstudie hou, moet almal in die groep help om die Bybel goed te gebruik en om die praktiese waarde te verstaan van die materiaal wat gedek word. As jy die eerste antwoord gee, moet dit ’n eenvoudige, direkte antwoord wees. As iemand anders dit reeds gedoen het, kan jy uitwei oor die punt onder bespreking. Jy kan miskien toon hoe ’n sleutelteks die tema staaf. Probeer om in jou eie woorde te antwoord, en geniet dit om aan die bespreking deel te neem.
5 Laat ons die waardevolle boodskap in die boek Jesaja ywerig saam ondersoek. Dit sal ons aanmoedig om elke dag in vreugdevolle afwagting van Jehovah se redding te lewe!—Jes. 30:18.