Wees daarop ingestel om dowe mense in julle gebied te vind
1 Jehovah rig die uitnodiging: “‘Kom!‘ . . . Laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). ’n Groeiende aantal dowe mense is onder diegene wat aan hierdie uitnodiging gehoor gee. Gevolglik is daar gedurende die afgelope paar jaar ten minste ses gebaretaalgroepe in die gebied onder die Suid-Afrikaanse takkantoor gevorm.
2 Hoewel gebaretaalgroepe hulle in hulle predikingswerk daarop toespits om dowe en gehoorgestremde mense in hulle onderskeie gebiede te bereik, is daar baie van hierdie mense in dié land wat nog gevind moet word en vir wie daar nog getuig moet word.
3 Hoe kan jy help? Het jy al in openbare plekke mense gesien wat gebaretaal gebruik? Ken jy iemand by die werk of by die skool wat ’n dowe familielid het? Wees daarop ingestel om te let op dowe mense terwyl jy met jou daaglikse bedrywighede besig is. Maar hoe kan jy seker maak dat hulle ’n getuienis oor die Koninkryk sal ontvang?
4 Hoe om ’n getuienis te gee: Stel die naaste gebaretaalgroep van die dowe persoon se adres in kennis. Daar is tans gebaretaalgroepe in die volgende gemeentes: Assagay, Brixton, Constantia, Eersterus, Katutura-Suid (Windhoek) en Norkem Park. Baie dowes vorder vinniger in die waarheid wanneer hulle met dowe Getuies kan omgaan by gemeentelike vergaderinge wat in gebaretaal gehou word. As daar dus ’n gebaretaalgroep in julle omgewing is, moet die sekretaris in julle gemeente inligting oor alle dowe mense in julle gebied aan die groep stuur. Die ouer manne kan ook aan maniere dink waarop hulle die dowes kan help om vergaderinge by ’n nabygeleë gebaretaalgroep by te woon.
5 Gestel daar is niemand naby julle om dowe mense in julle gemeenskap geestelik te help nie. Hoe kan jy help? Waarom doen jy nie ’n herbesoek en praat met ’n gesinslid wat kan hoor nie? Bied aan om ’n gebaretaalvideo te wys om die belangstelling van die dowe persoon te wek. Party verkondigers het selfs gebaretaal geleer sodat hulle die dowes op ’n doeltreffender manier kan bereik (Hand. 16:9, 10). Die Vereis-brosjure en die Kennis-boek is in Amerikaanse Gebaretaal op video beskikbaar, en die Vereis-brosjure is ook in Britse Gebaretaal beskikbaar. Om Bybelstudies te hou deur van hierdie hulpmiddels gebruik te maak, het reeds baie positiewe resultate gehad.
6 Deur daarop ingestel te wees om dowe mense in julle omgewing te vind, kan jy hulle die geleentheid gee om van die water van die lewe te neem, verniet.—Matt. 10:11.