April—’n Tyd om ‘hard te werk en ons in te span’
1 Die weke voor en ná die Gedenkmaal is vir Jehovah se volk ’n tyd van nadenke. Dit is ’n tyd om na te dink oor wat Christus se dood bewerkstellig het en om te peins oor ons godgegewe hoop wat deur Jesus se vergote bloed moontlik gemaak is. Wat kom in jou gedagtes op as jy terugdink aan die 19de April van verlede jaar? Kan jy die gesigte onthou wat jy daardie aand gesien het? die warm, geestelike atmosfeer by die Gedenkmaal? die ernstige Bybelbespreking en opregte gebede? Dalk het jy jou voorgeneem om groter waardering te openbaar vir die liefde wat Jehovah en Jesus aan jou betoon het. Watter uitwerking het sulke bepeinsing nou op jou?
2 Dit is duidelik dat die dankbaarheid wat Jehovah se volk toon veel verder as woorde strek (Kol. 3:15, 17). Ons het ons veral verlede April ingespan om ons waardering te toon vir Jehovah se voorsienings vir redding deur ons bes te doen in die Christelike bediening. Daar was duisende hulppioniers, en die vorige hoogtepunt in Suid-Afrika is met 27 persent oortref. Party lande onder die Suid-Afrikaanse takkantoor het ook nuwe hoogtepunte in die aantal hulppioniers gerapporteer. Hulle pogings, saam met dié van alle ander Koninkryksverkondigers, het tot nuwe hoogtepunte in ure, tydskrifte en herbesoeke gelei. Dit het ons vreugde vergroot om te sien hoe duisende Bybelstudies begin word en baie die Gedenkmaal bywoon!
3 Ons gewisse hoop beweeg ons inderdaad tot optrede. Dit is net soos die apostel Paulus geskryf het: “Want met dié doel werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues.”—1 Tim. 4:10.
4 Hoe gaan jy hierdie Gedenkmaalseisoen jou geloof in Jehovah se voorsienings vir lewe toon? Verlede April het die grootste aantal Koninkryksverkondigers tot nog toe in Suid-Afrika gerapporteer. Kan ons hierdie April daardie getal oortref? Dit is wel moontlik. Maar dan sal elke verkondiger, gedoop en ongedoop, ’n deelname moet hê. Talle nuwelinge sal dalk ook kwalifiseer om deel te neem. Terwyl jy dus reëlings tref om hierdie April hard te werk en jou in te span, moet jy aan maniere dink om ander, onder andere nuwer en minder ervare verkondigers, aan te spoor om saam met jou te gaan.
5 Help party om hulle bedrywighede te hervat: As jy van iemand weet wat ’n maand of twee nie in die velddiens uitgegaan het nie, kan jy hulle aanmoedig en hulle nooi om saam met jou velddiens te doen. As party in die gemeente onbedrywig geword het, sal die ouer manne ’n spesiale poging aanwend om hulle te besoek en hulle aanmoedig om in April weer te begin.
6 Ons almal moet aanhou vra dat Jehovah se gees ons in sy diens versterk (Luk. 11:13). Wat moet ons doen om daardie gees te ontvang? Lees God se geïnspireerde Woord (2 Tim. 3:16, 17). Ons moet ook “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” deur al vyf weeklikse vergaderinge by te woon (Op. 3:6). Dit is nou ’n geleë tyd om ongereelde en onbedrywige verkondigers te help om hulle studiegewoontes te verbeter en vergaderingbywoning ’n gewoonte te maak (Ps. 50:23, NW). Ons doen dit terwyl ons ook noukeurig op ons eie geestelike welsyn let. Maar iets anders is ook nodig.
7 Die apostel Petrus het verduidelik dat God sy heilige gees ‘aan dié gee wat hom as heerser gehoorsaam’ (Hand. 5:32). Sulke gehoorsaamheid behels dat ons ag slaan op die opdrag om vir mense “te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Hand. 1:8; 10:42). Hoewel dit dus waar is dat ons God se gees nodig het vir krag om te getuig, is dit ook waar dat Jehovah ons selfs meer help namate ons wys dat ons hom wil behaag. Mag ons nooit vergeet hoe belangrik daardie aanvanklike stappe van gewillige gehoorsaamheid is nie!
8 Help die jonges: Ouers, sien julle bewyse dat julle kinders met ander oor die waarheid wil praat? Gaan hulle saam met julle in die velddiens uit? Is hulle voorbeeldig? Indien wel, waarom huiwer julle? Nader een van die lede van die Gemeentelike Dienskomitee en vind uit of julle kind kwalifiseer om hierdie April as ’n verkondiger getel te word. (Sien Ons bediening-boek, bladsye 99-100.) Julle moet besef dat julle kinders hierdie Gedenkmaalseisoen grootliks tot die lof van Jehovah kan bydra.—Matt. 21:15, 16.
9 ’n Christenmoeder in Georgia, VSA, het altyd haar dogtertjie aangemoedig om met ander oor Jehovah te praat. Verlede jaar, terwyl die dogtertjie saam met haar moeder aan die bediening deelgeneem het, het sy ’n Vereis-brosjure vir ’n man aangebied en kortliks vir hom die inhoudsopgawe gewys. Hy het vir haar gevra: “Hoe oud is jy?” Sy het gesê: “Sewe.” Die man was verbaas dat sy so ’n sinvolle aanbieding kon doen. Hy het toevallig in sy kinderjare met die waarheid in aanraking gekom, maar het dit nooit as ’n lewenswyse ernstig opgeneem nie. Weldra is ’n Bybelstudie met die man, sy vrou en sy dogter gehou.
10 Baie kinders is reeds verkondigers, en ons geniet hulle geselskap wanneer hulle saam met ons velddiens doen. Hierdie jongmense kan ander van hulle eie ouderdom motiveer en aanmoedig. Maar April is ook ’n gepaste tyd vir individuele gesinne om hulle gesinsbande te versterk en die gesin geestelik op te bou deur saam heilige diens te verrig. Gesinshoofde moet hierin die leiding neem.—Spr. 24:27, NW.
11 Help nuwelinge: Wat van nuwelinge met wie jy die Bybel studeer? Kan hulle hierdie April ’n bydrae tot die spesiale poging lewer? Dalk het hulle die begeerte uitgespreek om ander te vertel wat hulle leer toe julle hoofstuk 2, paragraaf 22, of hoofstuk 11, paragraaf 14, in die Kennis-boek gedek het. As julle die einde van die boek nader, moet julle voorberei om hierdie saak openhartig te bespreek wanneer julle hoofstuk 18, paragraaf 8, dek wat sê: “Jy is waarskynlik gretig om jou familielede, vriende en ander te vertel wat jy leer. Trouens, jy het dit dalk reeds gedoen, net soos Jesus ook by informele geleenthede die goeie nuus aan ander verkondig het (Lukas 10:38, 39; Johannes 4:6-15). Nou wil jy miskien meer doen.” Is dit waar in die geval van diegene met wie jy studeer?
12 Glo jou student in die Woord van God? Pas hy Bybelbeginsels toe? Het hy sy lewe in harmonie met God se standaarde gebring? Woon hy gemeentelike vergaderinge by? Wil hy Jehovah God dien? Waarom moedig jy hom dan nie aan om met die ouer manne te praat sodat hulle kan vasstel of hy kwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger te word en hy saam met jou in April kan werk nie? (Sien Ons bediening-boek, bladsye 97-9.) Op hierdie manier kan hy self begin ervaar hoe Jehovah se organisasie hom ondersteun in sy pogings om Jehovah te dien.
13 Dit is wel so dat sommige studente vinniger as ander vorder. In ooreenstemming met die riglyne in Ons Koninkryksbediening vir Junie 2000, bladsy 4, paragrawe 5-6, studeer baie dus ’n tweede boek met mense wat aanvanklik belangstelling getoon het, maar wat bykomende hulp nodig het om wel by ons aan te sluit. Ons gee nooit moed op dat hierdie opregtes van hart ware dissipels van Christus sal word nie, “hetsy in ’n kort tydjie of in ’n lang tyd” (Hand. 26:29). Maar as die aantal maande wat jy met hierdie individue studeer al as “’n lang tyd” beskryf kan word, is hierdie Gedenkmaalseisoen dan nie miskien ’n goeie geleentheid vir jou student om die diepte van sy waardering vir Christus se losprys te begin toon nie?
14 Hoe om hulle te help om deel te neem: Ons leer baie oor hoe om diegene wat kwalifiseer, te help om vir die eerste keer in die bediening uit te gaan deur te kyk hoe Jesus ander opgelei het. Hy het nie net ’n skare gevind en vir sy apostels gesê om te begin praat nie. Hy het eers beklemtoon hoe belangrik die predikingswerk is, hulle aangemoedig om ’n biddende gesindheid te hê en hulle toe drie basiese voorsienings gegee: ’n metgesel, ’n gebiedstoewysing en ’n boodskap (Matt. 9:35-38; 10:5-7; Mark. 6:7; Luk. 9:2, 6). Jy kan dieselfde doen. Hetsy jy hulp verleen aan jou eie kind, ’n nuwe student of iemand wat ’n tyd lank geen velddiens gerapporteer het nie, dit sal gepas wees om ’n spesiale poging aan te wend om die volgende doelwitte voor oë te hou.
15 Beklemtoon hoe belangrik dit is: Toon vir die persoon hoe belangrik die predikingswerk is. Wees positief daaroor. Vertel ondervindinge om te toon wat die gemeente in die bediening bereik. Openbaar die gees wat Jesus in Matteus 9:36-38 getoon het. Moedig die toekomstige verkondiger of die onbedrywige persoon aan om sy persoonlike deelname aan die bediening sowel as die vordering van die werk oor die wêreld ’n saak van gebed te maak.
16 Laat die persoon dink oor die baie geleenthede wat daar is om te getuig: Meld die moontlikheid dat hy saam met die boekstudiegroep bymekaar kan kom om van huis tot huis te getuig. Noem dat hy met familielede en kennisse kan praat of dat hy met werks- of skoolmaats gedurende etenstye kan gesels. Wanneer ’n mens met openbare vervoer ry, kan jy dikwels ’n gesprek aanknoop bloot deur persoonlike belangstelling in medepassasiers te toon. Wanneer ons die inisiatief neem, skep dit dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee. Daar is werklik baie geleenthede om ander “van dag tot dag” van ons hoop te vertel.—Ps. 96:2, 3.
17 Dit sal egter verkiesliker wees as jy en die nuwe verkondiger so gou as moontlik saam van huis tot huis werk. As jy jou dit ten doel gestel het om gedurende April ’n groter deelname aan die bediening te hê, kan jy die gebiedskneg vra of daar geskikte gebied beskikbaar is. Indien wel, sal dit jou die geleentheid gee om die gebied deeglik te dek. As jy byvoorbeeld klaar velddiens gedoen het of na die vergaderinge of ander plekke op pad is, sien jy dalk iemand by ’n huis waar daar voorheen niemand tuis was nie of waar belangstelling getoon is. Indien dit gepas is, is dit nou die beste tyd om ’n kort besoek te doen. Dit sal jou daarenteen laat voel dat jy iets in die bediening bereik en jou ook vreugde verskaf.
18 Berei ’n treffende boodskap voor: Dit is een ding vir iemand om die Koninkryksboodskap te wil verkondig, maar dit is iets heel anders om die vertroue te hê dat hy dit kan oordra, veral as hy nuut is of lank nie in die diens uitgegaan het nie. Om nuwelinge en onbedrywiges te help om voor te berei, is die moeite werd. By Diens- en velddiensvergaderinge kan ’n mens nuttige idees kry, maar daar is geen plaasvervanger vir persoonlike voorbereiding nie.
19 Hoe kan jy nuwelinge help om vir velddiens voor te berei? Begin met ’n tydskrifaanbieding en hou dit eenvoudig en kort! Vra hulle om aan nuusgebeure te dink wat van belang sal wees vir diegene in die gebied, en soek dan ’n punt in een van die jongste tydskrifte wat daarby aansluit. Oefen die aanbieding saam en gebruik dit so gou as moontlik in die bediening.
20 Ontwikkel die potensiaal vir toekomstige groei: Verlede jaar het meer as 14,8 miljoen oor die wêreld die Gedenkmaal bygewoon. Die aantal verkondigers wat gerapporteer het, was net oor die sesmiljoen. Dit beteken dat ongeveer 8,8 miljoen mense genoeg belangstelling getoon het om hierdie spesiale program by te woon waar hulle gehoor het hoe een van die Bybel se vernaamste leerstellings verduidelik word. Hulle het party van ons persoonlik leer ken, wat waarskynlik ’n goeie indruk op hulle gemaak het. Baie van hulle praat met respek van ons, dra tot ons wêreldwye werk by en verdedig ons voor ander. Hierdie groot groep verteenwoordig ’n potensiaal vir toekomstige groei. Wat kan ons doen om hulle te help om verder vooruitgang te maak?
21 Die meeste nuwelinge wat die Gedenkmaal bywoon, doen dit omdat een van ons hulle persoonlik genooi het. Dit beteken gewoonlik dat hulle ten minste een persoon in die gehoor ken. As iemand teenwoordig is omdat ons hom genooi het, het ons ’n verantwoordelikheid om hom welkom te laat voel en hom te help om ten volle by die program baat te vind. Aangesien die saal vol gaan wees, moet jy hom help om ’n sitplek te vind. Leen vir hom ’n Bybel en nooi hom om saam uit jou liedereboek te sing. Beantwoord enige vrae wat hy dalk het. Jou hartlike persoonlike aandag kan ’n vername faktor wees om sy belangstelling lewendig te hou. Almal van ons het natuurlik hierdie verantwoordelikheid—as ons ’n onbekende gesig sien, moet ons hom hartlik verwelkom en ’n bietjie met hom gesels om hom te leer ken.
22 Om by die Gedenkmaal teenwoordig te wees, kan ’n groot uitwerking op ’n persoon se denke hê. Die feit dat hy na die vergadering toe gekom het, kan ’n aanduiding wees dat hy elders nie gevind het waarna hy soek nie en dat ons iets aanbied wat hy voel hy verder moet ondersoek. Die verduideliking van die wonderlike losprysvoorsiening is dalk ’n groot openbaring vir iemand wat geen begrip van Jehovah se onbeperkte liefde het nie. Dit is dalk vir hom duidelik dat ons anders is—opreg, vriendelik, liefdevol en beleef. Ons saal kom glad nie ooreen met wat hy moontlik in die kerke gesien het waar beelde en sinlose rituele gebruik word nie. Nuwelinge sal ongetwyfeld sien dat daar alle soorte mense in die gehoor is en dat geen kollektes opgeneem word nie. Hierdie blootstelling kan ’n kragtige aansporing wees sodat hulle weer sal kom.
23 Ná die Gedenkmaal moet ons wakker wees om elke nuwe persoon wat teenwoordig was verder te help. As jy nuwelinge genooi het, het jy ’n spesiale verantwoordelikheid. Voordat hulle vertrek, moet jy seker maak dat hulle weet van die ander vergaderinge by die Koninkryksaal. Meld die tema van die volgende openbare toespraak. Sê vir hulle waar en wanneer die Gemeentelike Boekstudie naaste aan hulle huis gehou gaan word. Gee later vir hulle ’n eksemplaar van die Skepper-boek en sê vir hulle dat die bespreking vir die week van 30 April is: “Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?”
24 Reël om ’n vriendelike besoek by hulle huis af te lê. Maak seker dat hulle die Vereis-brosjure en die Kennis-boek het, waarin hulle die basiese leerstellings van die Bybel kan vind. As hulle nie reeds studeer nie, moet jy vir hulle ’n Bybelstudie aanbied. Stel voor dat hulle die Jehovah se Getuies-brosjure lees, wat ’n duidelike prentjie skep van hoe ons as ’n organisasie funksioneer. Nooi hulle om na ons video’s, soos Our Whole Association of Brothers, te kyk. Tref reëlings dat hulle ander in die gemeente kan leer ken. Behou in die komende maande kontak met nuwelinge; nooi hulle om die vergaderinge by te woon wanneer die kringopsiener besoek aflê of wanneer julle ’n kringbyeenkoms of spesiale byeenkomsdag het. Gee hulle die geleentheid om te toon dat hulle “die regte gesindheid vir die ewige lewe . . . het”.—Hand. 13:48.
25 Wat die ouer manne kan doen: Die sukses van ons groter deelname aan die bediening hierdie April sal in groot mate van die ouer manne afhang. As jy ’n boekstudiehouer is, moet jy ’n lys opstel van hoe jy elkeen in jou boekstudiegroep kan help om aan die spesiale bedrywighede deel te neem. Is daar enigeen in jou groep wat jonk, nuut, ongereeld of onbedrywig is? Vind uit of die ouers, pioniers of ander verkondigers die inisiatief geneem het om hulle te help. Voorsien enige persoonlike hulp wat jy kan aanbied. Een suster wat twee jaar lank ongereeld in die veldbediening was, het verlede April meer as 50 uur in die bediening bestee. Wat het vir haar die verskil gemaak? Sy het gesê dat dit die ouer manne se opbouende herdersbesoeke was.
26 Ouer manne en bedieningsknegte moet saamwerk om seker te maak dat daar genoeg gebied, tydskrifte en lektuur vir die komende maand is. Kan bykomende velddiensvergaderinge gereël word? Indien wel, moet die spesiale reëlings aangekondig word. Vra bowenal Jehovah se seën in julle openbare en persoonlike gebede op ons maand van groter Koninkryksbedrywighede.—Rom. 15:30, 31; 2 Tess. 3:1.
27 Verlede April het die ouer manne in ’n gemeente in Noord-Carolina die verkondigers werklik aangemoedig om hulle bediening uit te brei. Elke week by die vergaderinge het hulle die verkondigers genooi om biddend die moontlikheid te oorweeg om hulppioniers te wees. Die hele liggaam van knegte het by elke geleentheid geesdriftig daaroor gepraat om April die heel beste maand te maak. Gevolglik het 58 persent van die verkondigers, insluitende al die ouer manne en bedieningsknegte, daardie maand aan die pionierdiens deelgeneem!
28 Die vreugde om ’n volle deelname te hê: Watter seëninge sal dit voortbring as ‘ons hard werk en ons inspan’? (1 Tim. 4:10). Die bogemelde ouer manne het aangaande hulle gemeente se ywerige bedrywigheid verlede April geskryf: “Die broers en susters sê dikwels dat hulle soveel liewer vir mekaar is en soveel nader aan mekaar voel sedert hulle meer in die veldbediening begin werk het.”
29 ’n Jong broer met beperkte beweeglikheid het daarna gesmag om verlede April aan die spesiale bedrywighede deel te neem. Deur noukeurige beplanning en met die hulp van sy moeder en geestelike broers en susters het hy ’n produktiewe maand as ’n hulppionier geniet. Hoe het hy oor die ondervinding gevoel? Hy het gesê: “Vir die eerste keer in my lewe het dit gevoel of ek sonder ’n gebrek is.”
30 Daar is geen twyfel dat Jehovah diegene ryklik seën wat groot waarde heg aan hulle voorreg om oor sy koningskap te praat nie (Ps. 145:11, 12). Wanneer ons ons Here se dood herdenk, besef ons dat die seëninge van godvrugtige toegewydheid in die toekoms selfs oorvloediger sal wees. Die apostel Paulus het met afwagting uitgesien na die beloning van die ewige lewe. Maar hy het geweet dat dit nie iets was waarvoor hy net kon sit en wag nie. Hy het geskryf: “Met dié doel werk ek inderdaad hard en span ek my in ooreenkomstig sy werking, wat met krag in my aan die werk is” (Kol. 1:29). Jehovah het Paulus, deur Jesus, kragtig gemaak om ’n lewensreddende bediening te vervul, en Hy kan vandag dieselfde vir ons doen. Sal jý dit hierdie April ervaar?
[Venster op bladsy 3]
Wie kan jy aanmoedig om in April te getuig?
Jou kind?
’n Bybelstudent?
Iemand wat onbedrywig geword het?