Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/99 bl. 3-4
  • Het die deur tot die pionierdiens nou vir jou oopgegaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het die deur tot die pionierdiens nou vir jou oopgegaan?
  • Ons Koninkryksbediening—1999
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan ons dit weer doen? Nog ’n oproep om hulppioniers
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Pionierdiens—Is dit vir jou?
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Benodig—10 000 hulppioniers
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1999
km 8/99 bl. 3-4

Het die deur tot die pionierdiens nou vir jou oopgegaan?

1 Ons jaarteks vir 1999 herinner ons daaraan dat ons nog steeds in Jehovah se “dag van redding” is (2 Kor. 6:2). Maar sy dag van redding sal binnekort eindig. Dan sal sy ‘dag van oordeel’ begin (2 Pet. 2:9). Hoe opwindend is dit tog om te sien hoe al hoe meer mense reageer terwyl Jehovah voortgaan om die mensdom die geleentheid te gee om gered te word!

2 Jehovah se volk het die uitdaging aanvaar om belangstellendes te bereik voordat dit te laat is. Gevolglik het baie Koninkryksverkondigers die pionierdiens betree. Het die deur tot die pionierdiens nou vir jou oopgegaan? Waarom vra ons?

3 Betuigings van waardering: Soos in Ons Koninkryksbediening vir Januarie 1999 aangekondig is, is die uurvereiste vir gewone en hulppioniers verminder. Om die nuwe uurvereiste te bereik, moet gewone pioniers elke maand 70 uur in die bediening bestee, wat altesaam 840 uur per diensjaar beteken. Hulppioniers moet elke maand 50 uur aan die bediening bestee. Hier is ’n paar van die talle betuigings van waardering wat as gevolg van hierdie aanpassings ontvang is:

“Wat ’n wonderlike gawe van ons hemelse Vader!”

“Woorde kan nie my vreugde, liefde en dankbaarheid vir hierdie voorsiening uitdruk nie!”

“Dit sal vir ons soveel makliker wees om by ons rooster te hou!”

“Dit is ons bede dat baie meer nou die voltydse bediening sal betree en die seëninge sal geniet wat uitgebreide diens aan Jehovah ons bring.”

4 Terwyl ons die klimaks van God se dag van redding nader, is dit duidelik dat Jehovah wil hê dat sy volk ’n finale, kragtige getuienis moet gee. Die omvang en intensiteit van hierdie boodskap word vergroot (1) deur die bestendige groei in die aantal Koninkryksverkondigers en (2) deurdat elkeen maniere soek om meer in die Koninkrykspredikingswerk te doen. Jehovah, die een “wat dit laat groei”, het sukses in albei opsigte moontlik gemaak deur die gewillige gees van almal wat redding aangeneem het te seën.—1 Kor. 3:6, 7; Ps. 110:3.

5 Moenie die doel daarvan mis nie: Dit was in verband met Jehovah se dag van redding wat Paulus mede-Christene vermaan het: “As sy [Jehovah se] medewerkers versoek ons julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie.” Ons sal nie ‘die doel daarvan mis’ as ons dit as “die besonder aanneemlike tyd” beskou om by elke geleentheid vir die redding van ander te werk nie (2 Kor. 6:1, 2). Vandag is Paulus se woorde selfs dringender. Christene wat Jehovah opreg liefhet, beskou dit as ’n voorreg om soveel moontlik in die bediening te doen wat hy hulle toegewys het. Kan jy nou as ’n gewone pionier ’n groter aandeel aan die bediening hê?

6 Dit is ’n redelike doelwit: In Suid-Afrika is dit ons doelwit om 5 000 gewone pioniers teen 1 September te hê. Ons dink dat dit ’n redelike en bereikbare doelwit is. Waarom is ons so seker daarvan? In Maart 1997 het 7 971 broers en susters hulppionierdiens gedoen, en in April 1998 was daar byna 7 900. Die meeste van hulle het 60 uur gerapporteer—net 10 uur minder as die nuwe uurvereiste vir gewone pioniers! Selfs as net 1 000 van diegene wat hulppionierdiens gedoen het voor die einde van hierdie diensjaar as gewone pioniers inskryf, kan ons in September met 5 000 of meer voltydse pioniers begin!

7 ’n Rooster is nodig: Lyk dit nog steeds buite jou bereik om 70 uur per maand in die velddiens deur te bring? Miskien sal dit help om in terme van 17 uur per week te dink. Probeer om met behulp van die voorbeelde op die volgende bladsy ’n rooster vir gewone pionierdiens op te stel wat by jou persoonlike omstandighede sal pas. Wanneer jy dit opstel, kan jy met ervare pioniers gesels en by hulle hoor hoe hulle ’n balans vind tussen hulle pionierdiens en hulle persoonlike en gesinsverantwoordelikhede. Vra julle kringopsiener hoe pioniers in die kring hulle diens elke week in hulle rooster inpas. Vertrou dan op Jehovah om jou planne te seën om die pionierdiens te betree.—Spr. 16:3.

8 Maak dit ’n gesinsprojek: Het jy al daaraan gedink om die pionierdiens ’n gesinsprojek te maak? Julle kan as ’n gesin gaan sit en bespreek hoe een of twee gesinslede—met noukeurige beplanning en goeie samewerking—aan die pionierdiens kan deelneem. Dit is te verstane dat sommige ná ’n eerlike oorweging van hulle omstandighede sal vind dat hulle nie nou die gewone pionierdiens kan betree nie. Indien dit die geval is, kan jy pionierdiens as ’n doelwit stel vir die toekoms. Maar begin nou stappe doen om teen ’n sekere datum die pionierdiens te betree. Miskien kan jy verskeie kere gedurende die jaar hulppionierdiens doen sodat jy uiteindelik ’n gewone pionier kan wees.

9 Die meer as 4 000 gewone pioniers in Suid-Afrika wat tans op die lys is, het uiteenlopende omstandighede. Nie almal geniet goeie gesondheid nie, en die meeste het gesins- en finansiële verantwoordelikhede. Baie pioniers is oor die 50, en party is al ouer as 65. Daar is heelparty wat ongetroud is en ’n paar wat 20 jaar oud en jonger is. Sommige van die pioniers is broers, en baie van hulle het gesins- en gemeentelike verantwoordelikhede. Hulle almal ‘koop die geleë tyd uit’ om pioniers te wees, wat in baie gevalle beteken dat hulle ’n eenvoudiger en tog ’n meer vergenoegde lewe lei.—Kol. 4:5.

10 Moet jy jou lewe vereenvoudig? As jy jou lewe vereenvoudig, kan dit die sleutel wees wat die deur tot die pionierdiens vir jou sal oopmaak. Is jou lewe soos ’n groot huis met onnodige vertrekke en meubels, wat baie tyd, geld en werk verg om na om te sien? Indien dit die geval is, sal jy miskien die pionierdiens kan betree as jy jou lewe vereenvoudig. Kan jy die hoeveelheid tyd wat jy aan sekulêre werk bestee, verminder? Kan jy tyd van onbelangrike bedrywighede uitkoop of meer gebalanseerd wees in die hoeveelheid tyd wat jy aan ontspanning bestee?

11 In 1 Timoteus 6:8 vermaan die Bybel ons: “As ons dus voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” Om met minder tevrede te wees, is ’n belangrike faktor wat ons gaan help om ons uiterste bes in Jehovah se diens te doen en maak dit makliker om voorkeur aan geestelike belange te gee (Matt. 6:22, 33). Op bladsy 104 van die 1998 Yearbook, in die verslag oor Japan, word verskeie moontlike redes gegee waarom daar so ’n uitstekende pioniergees in daardie land is. Neem een van hierdie redes: “Oor die algemeen is Japannese huise redelik eenvoudig, gevolglik neem huiswerk nie baie tyd in beslag nie, en in die meeste gevalle word die lewe tradisioneel eenvoudig gehou.” Is dit nie die punt wat in 1 Timoteus 6:8 gemaak word nie?

12 God se knegte verkondig die goeie nuus regoor die wêreld met al hoe groter dringendheid voordat Jehovah se dag van redding tot ’n einde kom. Dit is prysenswaardig dat daar verlede jaar ’n gemiddelde van byna 700 000 elke maand aan die een of ander vorm van die pionierdiens deelgeneem het. Kan jy die nodige veranderinge in jou lewe aanbring om by hulle aan te sluit? Ons nooi jou om jou omstandighede noukeurig en biddend te oorweeg wanneer jy die vraag beantwoord: “Het die deur tot die pionierdiens nou vir jou oopgegaan?”

[Lokteks op bladsy 3]

DOELWIT: 5 000 GEWONE PIONIERS!

[Venster op bladsy 4]

Roosters vir gewone pionierdiens

Tyd per week nodig: 17 uur

Een weeksdag en die naweek

Dag Ure

Vrydag 8

Saterdag 6

Sondag 3

Totale ure: 17

Twee weeksdae en Saterdag

Dag Ure

Dinsdag 7

Donderdag 7

Saterdag 3

Totale ure: 17

Drie weeksdae en Sondag

Dag Ure

Maandag 5

Woensdag 5

Vrydag 5

Sondag 2

Totale ure: 17

Twee aande en die naweek

Dag Ure

Maandag 3

Woensdag 3

Saterdag 8

Sondag 3

Totale ure: 17

Stel jou eie rooster vir gewone pionierdiens op

Dag Ure

Maandag

Dinsdag

Woensdag

Donderdag

Vrydag

Saterdag

Sondag

Totale ure: 17

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel