Voorbereiding bring vreugde mee
1 Ons put groot vreugde daaruit om aan die veldbediening deel te neem (Ps. 89:16, 17). Voorbereiding is natuurlik ’n sleutelfaktor om daardie vreugde ten volle te geniet. Hoe beter ons voorberei, hoe meer bereik ons, en hoe meer ons bereik, hoe groter is ons vreugde.
2 Gebruik die hulpmiddels wat voorsien word: Begin jou voorbereiding deur die materiaal in Ons Koninkryksbediening te lees en te ontleed. Dit bevat dikwels weldeurdagte aanbiedings wat bedoel is om jou te help om die Koninkryksboodskap maklik en doeltreffend aan te bied. Jy sal voorbeelde kry van maniere om algemene besware te oorbrug. Spesifieke wenke word gegee oor hoe om ’n doeltreffende herbesoek te doen met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Jy kan hierdie wenke so aanpas dat jy gemaklik voel om hulle te gebruik. Daarbenewens het jy die Redenering-boek, wat ’n wye verskeidenheid inleidings asook antwoorde op gesprekdempers bevat en wat jou gevolglik sal help om baie van die situasies waarin jy jou bevind met groter welslae te hanteer.
3 Blaai deur die publikasie wat jy gaan aanbied, en kies een of twee treffende, interessante punte wat jy vir die huisbewoner kan wys. ’n Gedagteprikkelende nuusberig wat jy gehoor of gelees het, kan jou die geleentheid gee om ’n gesprek te begin. Wees voorbereid op algemene besware wat jy moontlik sal teëkom, en dink aan ’n paar maniere hoe jy daarop kan reageer. Neem dan ’n paar minute om te oefen wat jy by die deure gaan sê.
4 Woon elke Diensvergadering by: Luister aandagtig gedurende die Diensvergadering wanneer die wenke in Ons Koninkryksbediening bespreek, hersien en gedemonstreer word. Let op idees wat jy dink jy in jou aanbieding kan inwerk. Dink aan ’n paar van die algemene situasies wat jy al in die bediening teëgekom het en aan maniere waarop jy doeltreffender kan getuig. Praat voor en ná die vergaderinge met ander verkondigers oor hierdie dinge.
5 As jy “toeberei [is] vir elke goeie werk” kan jy seker wees dat jy met groter vreugde en sukses beloon sal word terwyl jy ander help om die weg na die lewe te vind.—2 Tim. 2:21.