Vraebus
◼ Wat moet ouers in ag neem wanneer hulle minderjarige kinders aan die velddiens deelneem?
Christenouers neem gepas hulle kinders saam met hulle in die veldbediening en leer hulle om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander mee te deel. Wanneer hulle dit doen, is dit belangrik dat hulle ’n waaksame oog oor hulle jong kinders hou weens moontlike gevare in die gebied, selfs in die “veiliger” buurte. Kinders word al hoe meer die slagoffers van geweld en mishandeling weens die toename in hebsug en seksuele verdorwenheid in hierdie “kritieke tye” waarin ons leef (2 Tim. 3:1-5). Ouers moet redelike voorsorgmaatreëls tref om hulle kinders te beskerm teen persone wat hulle kwaad kan aandoen. Wat kan hulle doen?
Die Bybel gee ons die wyse raad om versigtig en wakker te wees vir moontlike gevare (Spr. 22:3; Matt. 10:16). Ons oogmerk is nie om reëls neer te lê nie, maar dit sal verstandig van ’n ouer of ’n ander volwassene wees om ’n kind te vergesel wanneer hulle velddiens doen. As twee verantwoordelike jong verkondigers saam werk, is dit raadsaam dat ’n ouer of ’n ander volwassene hulle te alle tye in die oog hou. Namate ’n kind natuurlik ouer en meer verantwoordelik word, kan ouers besluit of hy of sy minder direkte ouerlike toesig nodig het.—Sien ook die Vraebus in Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1992.
Dit is ook verstandig om altyd veiligheidsbewus te wees wanneer julle per motor ry en terwyl julle stap. Behoorlike voorsorg voorkom dikwels ongelukke en die tragiese las van pyn, mediese onkoste en moontlike wetlike aanspreeklikheid in hierdie wêreld waarin mense graag ’n hofsaak aanhangig maak.
Dit is gepas dat kinders “die Naam van die HERE loof” (Ps. 148:12, 13). Hulle innemende woorde en goeie gedrag in die veldbediening is iets wat ander baie beïndruk en Jehovah tot eer strek. Ouers, help gerus julle kinders om gereeld aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem terwyl julle ook altyd op julle hoede bly om hulle teen enige moontlike gevare te beskerm!