Vergroot jou aandeel aan die getuieniswerk namate die einde nader kom
1 Oestyd is ’n vreugdevolle tyd. Dit is ook ’n tyd vir harde werk. Die oes móét in ’n beperkte tyd ingesamel word. Die werkers kan nie traag wees in hulle bedrywighede nie.
2 Jesus het “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” figuurlik gesproke as ’n oestyd beskryf (Matt. 13:39). Ons lewe in die voleinding van hierdie stelsel van dinge en net ’n beperkte tyd is oor om ’n getuienis “in die hele bewoonde aarde” te gee (Matt. 24:14). Namate die einde al hoe nader kom, moet ons ons aandeel aan die bediening vergroot. Waarom? Jesus het verduidelik: “Die oes is groot, maar die werkers is min.”—Matt. 9:37, 38; Rom. 12:11.
3 Bly dringend daarmee besig: Toe Jesus sy groot predikingswerk begin het, het hy slegs drie en ’n half jaar gehad om sy toewysing uit te voer. Hy het met ’n gevoel van dringendheid gepreek en gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur.”—Luk. 4:43.
4 Jesus het ’n soortgelyke gevoel van dringendheid by sy dissipels ingeboesem (Mark. 13:32-37). Daarom het hulle “elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Hand. 5:42). Minder belangrike bedrywighede het nie die voorkeur in hulle lewe geniet nie. Al was hulle so min het hulle daarin geslaag om die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is” te verkondig.—Kol. 1:23.
5 Ons het nou selfs groter rede om daardie selfde gevoel van dringendheid aan te kweek, want “die einde van alle dinge het naby gekom” (1 Pet. 4:7). Jehovah het ’n dag en uur vir die einde van hierdie stelsel van dinge vasgestel (Matt. 24:36). Die predikingswerk sal voltooi word in die tyd wat oor is. Daarom verskerp ons voortdurend ons pogings om al hoe meer mense met die goeie nuus te bereik.
6 As ons ons aandeel aan die getuieniswerk vergroot namate die einde nader kom, sal ons die bevrediging hê om, soos Jesus, vir Jehovah te sê: ‘Ons het die werk volbring wat u ons gegee het om te doen.’—Joh. 17:4.