‘Beklee jou met die nuwe persoonlikheid’
1 Christene waardeer die feit dat hulle die waarheid ken! Ons het geleer hoe om te lewe sodat ons die weg van diegene in die wêreld kan vermy. Omdat hulle “vervreemd is van die lewe wat tot God behoort”, is hulle “verstandelik in duisternis” (Ef. 4:18). Ons is geleer om wêreldse denke te verwerp en ons verstand te hervorm deur die ou persoonlikheid af te lê en ons met die nuwe persoonlikheid te beklee.—Ef. 4:22-24.
2 Die ou persoonlikheid lei tot ’n lewenswyse wat jou sedelik net al hoe laer laat daal en verontreiniging en die dood tot gevolg het. Daarom doen ons ’n beroep op diegene wat na die Koninkryksboodskap luister om alle gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies te verwerp. Diegene wat graag God se guns wil geniet, moet die ou persoonlikheid ten volle en met vasbeslotenheid aflê—net soos hulle ’n vuil kledingstuk sal uittrek.—Kol. 3:8, 9.
3 ’n Nuwe krag wat die verstand aandryf: As ons ons met die nuwe persoonlikheid wil beklee, moet ons vernuwe word in die krag wat ons verstand aandryf (Ef. 4:23). Hoe maak ’n mens daardie krag, of geestesgesindheid, nuut sodat dit jou in die regte rigting laat neig? Dit word gedoen deur God se Woord gereeld en ywerig te bestudeer en oor die betekenis daarvan te peins. ’n Nuwe denkpatroon ontwikkel dan, en die persoon sien dinge uit God en Christus se oogpunt. ’n Mens se lewe word verander namate jy jou met Christelike eienskappe beklee, onder meer medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde.—Kol. 3:10, 12-14.
4 As ons ons met die nuwe persoonlikheid beklee, sonder ons ons van die wêreld af. Ons lewenswyse maak ons anders. Ons praat die waarheid en gebruik heilsame spraak om ander op te bou. Ons beheers ons toorn, bitterheid, geskreeu, smadende taal en alle slegtheid en vervang dit met regverdige, godvrugtige eienskappe. Wanneer dit by vergifnis kom, gaan ons verder as wat gewoonlik van ons verwag word. Dit alles word geredelik en uit die hart gedoen.—Ef. 4:25-32.
5 Moet nooit die nuwe persoonlikheid aflê nie. Daarsonder kan ons nie Jehovah op ’n aanneemlike wyse dien nie. Ons moet daardeur mense na die waarheid aantrek, en sodoende Jehovah, die Skepper van ons wonderlike nuwe persoonlikheid, verheerlik.—Ef. 4:24.