Ons voorneme—Om Jehovah se weg van die lewe na te streef
1 ’n Hoogtepunt van die “God se weg van die lewe”-byeenkomste was die resolusie wat in die slottoespraak aangeneem is. Dit het begin met die verklaring: “Ons . . . stem heelhartig daarmee saam dat God se weg die beste weg is om te volg.” Dink ’n bietjie na oor ’n paar hoogtepunte van daardie resolusie waarop ons “JA!” geantwoord het.
2 Dit is ons voorneme om rein voor Jehovah en sonder vlek van die wêreld te bly. Ons sal voortgaan om God se wil eerste in ons lewe te stel. Deur sy Woord, die Bybel, as ons gids te gebruik, sal ons nie na regs of na links afwyk nie en dit dus bevestig dat God se weg ver verhewe is bo die weë van die wêreld.
3 Oor die algemeen slaan die wêreld geen ag op God se weg van die lewe nie en ly hulle die gevolge (Jer. 10:23). Ons moet dus voortgaan om onderrig te word deur ons Grootse Onderrigter, Jehovah, wat sê: “Dit is die weg, wandel daarop!” (Jes. 30:21). Jehovah se weg van die lewe, soos uiteengesit in die Skrif, is in alle opsigte verhewe. As ons daardie weg wil volg, is dit van die allergrootste belang dat ons ten volle gebruik maak van alles wat Jehovah ons leer.
4 Jehovah se verhewe onderrigtingsprogram: Jehovah leer ons die ware doel van die lewe en hoe ons ons lewe ten beste kan gebruik. Hy leer ons hoe om verstandelik, sedelik en geestelik die gehalte van ons lewe te verbeter. Hy leer ons hoe om in vrede met ons broers, ons gesinslede en ons medemens te lewe. Hy doen dit deur sy handboek, die Bybel, en deur sy organisasie.
5 In hierdie verband is ons gemeentelike vergaderinge van groot belang. Terwyl ons al vyf vergaderinge gereeld bywoon en daaraan deelneem, ontvang ons omvattende opleiding as bedienaars van die goeie nuus, asook ’n goed gebalanseerde opvoeding in die Christelike lewenswyse (2 Tim. 3:16, 17). Verder voorsien ons Grootse Onderrigter teokratiese opvoeding deur kring- en streekbyeenkomste. Ons moet ons dit ten doel stel om nooit ’n vergadering of ’n sessie oor te slaan as ons gesondheid en omstandighede ons toelaat om dit by te woon nie.
6 Mag ons ywerig voortgaan om in die dae wat voorlê God se weg van die lewe na te streef, tot eer van Jehovah en tot ons ewige voordeel!—Jes. 48:17.