Rig studente na die organisasie agter ons naam
1 “Dit is ’n boodskap wat in meer as 200 tale verkondig word. Dit is ’n boodskap wat in meer as 210 lande gehoor word. Dit is ’n boodskap wat persoonlik oorgedra word waar mense ook al gevind kan word. Dit is alles deel van die grootste predikingskampanje wat daar nog in die wêreld was, ’n boodskap wat miljoene regoor die wêreld verenig. Jehovah se Getuies is al meer as honderd jaar georganiseer om hierdie werk te verrig!”
2 So begin die vertelling in die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name. Dit beantwoord dan die vrae: Wie is Jehovah se Getuies werklik? Hoe word hulle bedrywighede georganiseer? Gerig? Gefinansier? Dit laat kykers besef dat “Jehovah se Getuies regoor die wêreld as ’n organisasie opgelei is om hulle naaste te help om geloof in die Bybel op te bou”, en dit spoor hulle aan om self die organisasie agter ons naam te leer ken. Nadat ’n vrou wat besig was om te studeer hierdie video gesien het, het sy in trane van vreugde en waardering uitgebars en gesê: “Hoe kan enigiemand nie sien dat dit wel die organisasie van die ware God, Jehovah, is nie?”—Vergelyk 1 Korintiërs 14:24, 25.
3 ’n Ander vrou het oor ’n lang tydperk die Bybel af en toe bestudeer, maar sy kon nie aanvaar dat die Drie-eenheid ’n valse leerstelling is nie. Toe het sy en haar man na ons video gekyk. Hulle was baie beïndruk deur die aanbieding en het dieselfde aand twee keer daarna gekyk. Tydens hulle volgende studie het die vrou haar begeerte uitgespreek om ’n Getuie te word. Sy het gesê dat sy haar aandag gevestig het op haar geloof in die Drie-eenheid en nagelaat het om na ons organisasie en die mense daarin te kyk. Na aanleiding van die video het sy besef dat sy God se ware organisasie gevind het. Sy wou onmiddellik van huis tot huis begin getuig. Nadat daar aan haar verduidelik is wat die nodige stappe is om ’n ongedoopte verkondiger te word, het sy gesê: “Kom ons begin sommer dadelik.” Sy het uit haar kerk bedank, aan velddiens begin deelneem en bedrewe daarin geraak om die Drie-eenheid te weerlê.
4 Dit is ’n goed bevestigde feit dat Bybelstudente geestelik beter vordering maak en vinniger volwassenheid bereik wanneer hulle Jehovah se organisasie erken en daarmee omgaan. Dit is opmerkenswaardig dat, nadat die 3000 op Pinkster gedoop is, ‘hulle voortgegaan het om hulle toe te lê op die leer van die apostels en op omgang met mekaar’ (Hand. 2:42, voetnoot in naslaanuitgawe). Dit is noodsaaklik dat ons studente help om vandag dieselfde te doen. Hoe kan ons?
5 Neem die verantwoordelikheid op jou: Elke dissipelmaker moet besef dat dit sy verantwoordelikheid is om die Bybelstudent na God se organisasie te rig (1 Tim. 4:16). Elke studiesessie moet beskou word as ’n trapklip na die gelukkige dag wanneer die nuweling sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop sal simboliseer. Een van die vrae wat hy gedurende die doopplegtigheid gevra sal word, is: “Verstaan jy dat jou toewyding en doop jou identifiseer as een van Jehovah se Getuies en dat jy met God se geesgerigte organisasie moet saamwerk?” Dit is derhalwe belangrik dat hy besef dat hy God nie kan dien sonder om daadwerklik met die ware Christengemeente om te gaan nie.—Matt. 24:45-47; Joh. 6:68; 2 Kor. 5:20.
6 Hou aan om die student te onderrig aangaande die plaaslike gemeente en die internasionale organisasie agter Jehovah se Getuies. Doen dit tydens elke Bybelstudiesessie en begin van die eerste sessie af. Nooi die student van die begin af na die vergaderinge toe, en hou aan om hom uit te nooi.—Op. 22:17.
7 Gebruik die instrumente wat voorsien word: Die beste publikasies wat ons kan gebruik om tuisbybelstudies te hou, is die brosjure Wat vereis God van ons? en die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Albei beklemtoon die nodigheid om met die gemeente om te gaan. Die einde van les 5 in die Vereis-brosjure sê: “Jy [moet] voortgaan om aangaande Jehovah te leer en sy vereistes te gehoorsaam. Die bywoning van vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies sal jou help om dit te doen.” Die Kennis-boek spoor studente herhaaldelik aan om by vergaderinge te assosieer. Hoofstuk 5, paragraaf 22, rig hierdie uitnodiging: “Jehovah se Getuies . . . spoor jou hartlik aan om God saam met hulle ‘met gees en waarheid’ te aanbid (Johannes 4:24).” Hoofstuk 12, paragraaf 16, sê: “Namate jy . . . hierdie studie voortsit en dit ’n gewoonte maak om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, sal jou geloof . . . selfs verder versterk word.” Hoofstuk 16, paragraaf 20, sê: “Maak dit . . . jou gewoonte om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon.” Dit voeg by: “Dit sal jou help om die kennis van God te verstaan en dan in jou lewe toe te pas en sal vir jou geluk meebring. As jy ’n deel van die wêreldwye Christenbroederskap is, sal dit jou help om na aan Jehovah te bly.” Hoofstuk 17 bespreek deeglik hoe ’n mens ware veiligheid onder God se volk vind. Terwyl ons met ander studeer, is dit ons verantwoordelikheid om hierdie gedeeltes van die materiaal te beklemtoon.
8 Die brosjure Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd is ’n goeie instrument wat beskikbaar gestel is sodat mense vertroud kan raak met die enigste sigbare organisasie wat Jehovah vandag gebruik om sy wil te volbring. Die uitvoerige inligting wat dit oor ons bediening, vergaderinge en organisasie bevat, sal die leser aanspoor om met ons om te gaan in die aanbidding van God. Sodra ’n Bybelstudie gevestig is, word daar aanbeveel dat ons die student ’n eksemplaar van hierdie brosjure gee om op sy eie te lees. Dit is nie nodig om dit met hom te studeer soos wat in die verlede gedoen is nie.
9 Van die video’s wat die Genootskap vervaardig het, is uitstekende instrumente om studente na die organisasie agter ons naam te rig. Dit sal goed wees as hulle die volgende video’s kan kyk: (1) The New World Society in Action, die oorsig van die 1954-rolprent wat die egalige, bedrewe manier waarop Jehovah se organisasie funksioneer, asook die liefdevolle gees daarin vasgelê het; (2) United by Divine Teaching, wat die vreedsame eenheid ondersoek wat by ons internasionale byeenkomste in Oos-Europa, Suid-Amerika, Afrika en Asië geopenbaar is; (3) To the Ends of the Earth, wat uitgegee is ter herdenking van die 50ste bestaansjaar van die Wagtoring-Bybelskool Gilead en die uitwerking toon wat die sendelinge op die wêreldwye predikingswerk gehad het; (4) Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault, wat die aangrypende verhaal vertel van die Getuies se moed en oorwinning ten spyte van Hitler se wrede vervolging van hulle, en natuurlik (5) Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name.
10 Stel progressiewe doelwitte in verband met vergaderinge: Daar moet aan die studente verduidelik word dat ons die privaat onderrigting nodig het wat by ’n tuisbybelstudie gegee word sowel as die klaskamerbesprekings wat by gemeentelike vergaderinge gehou word (Joh. 6:45). ’n Nuweling moet in gelyke mate in sy begrip van die Skrif sowel as van die organisasie vorder. Met dié doel is daar geen plaasvervanger vir die bywoning van die vergaderinge nie (Heb. 10:23-25). Begin die persoon onmiddellik na die gemeentelike vergaderinge nooi. Party nuwe belangstellendes begin vergaderinge bywoon selfs voordat hulle ’n gereelde tuisbybelstudie het. Ons wil natuurlik self die regte voorbeeld stel deur die vergaderinge gereeld by te woon.—Luk. 6:40; Fil. 3:17.
11 Dra genoeg inligting oor aangaande die vergaderinge en hoe hulle gehou word sodat die student op sy gemak sal voel wanneer hy sy eerste vergadering bywoon. Aangesien party mense baie ongemaklik voel wanneer hulle die eerste keer na nuwe plekke toe gaan, sal dit dalk voordelig wees om die student na die Koninkryksaal te vergesel wanneer hy sy eerste vergadering bywoon. Hy sal meer op sy gemak voel wanneer jy by hom is terwyl hy lede van die gemeente ontmoet. Wees bowenal ’n goeie gasheer vir jou besoeker en laat hom welkom en tuis voel.—Matt. 7:12; Fil. 2:1-4.
12 Spoor die student aan om ’n spesiale byeenkomsdag, kringbyeenkoms of streekbyeenkoms by die eerste geleentheid by te woon. Miskien kan jy hom by jou vervoerreëlings insluit.
13 Boesem hartgrondige waardering in: Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsy 92, verduidelik: “As jou innige waardering vir Jehovah se organisasie uit jou gesprekke met belangstellendes blyk, sal dit vir hulle makliker wees om groter waardering te verkry en sal hulle beweeg word om Jehovah beter te leer ken.” Praat altyd op ’n positiewe manier van jou plaaslike gemeente; moet nooit negatief wees nie (Ps. 84:11; 133:1, 3b). Meld die gemeente in die gebede wat jy by die Bybelstudie doen en hoe belangrik dit is dat die student gereeld daarmee omgaan.—Ef. 1:15-17.
14 Ons wil beslis hê dat nuwelinge hartgrondige waardering moet opbou vir die genotvolle vriendskap en geestelike sekuriteit wat onder God se volk gevind word (1 Tim. 3:15; 1 Pet. 2:17; 5:9). Laat ons, as Jehovah se Getuies, alles in ons vermoë doen om studente van God se Woord na die organisasie agter ons naam te rig.
[Prent op bladsy 3]
Studente vorder geestelik vinniger wanneer hulle self die organisasie leer ken
[Prent op bladsy 4]
Moet nie versuim om studente uit te nooi om vergaderinge by te woon nie